Saturday, April 28, 2012

Deur trane heen kom genadiglik die liefde. Oor die opstanding.


Johannes Evangelie ken ons as die Evangelie van liefde, geskryf deur die Dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Joh.20:2).

Dit is ‘n boek wat nie net die liefde besing nie, maar wat ook in liefde geskryf is. Hoe liefdevol en versigtig het Johannes in sy Evangelie die volgelinge van Jesus se liefde vir Jesus beskryf!

Dit kom veral na vore in die mees intense oomblikke van hul verhouding met Jesus. Johannes 20 is die heel eerste deel van die opstandingsverhaal, daardie kern-gebeurtenis in die lewe van Jesus se dissipels. En veral hier sien ons hoe intiem die volgeling vir Jesus liefgehad het en hoe hartverskeurend sy dood vir hulle was.

Hulle is duidelik verpletter na Jesus se kruisdood: Met die mees intieme, liefdevolle dade versorg hul Jesus tot aan die einde. Vir oulaas het Josef van Arimatea, bang, maar tog waagaam, sy liggaam gaan haal. En daardie ander geheime volgeling van Jesus, Nikodemus, nog steeds net ‘n stille volgeling, het met ‘n kosbare klomp salf-olie opgedaag. Toe het hulle Jesus se liggaam, teer behandel met geurolie en sorgsaam toegedraai in doeke, in die graf weggelê (Joh. 20:40-41).

Hulle het ook nie daaraan gedink dat Jesus sou opstaan nie, soos Johannes 20:9 skrywe.  

Dit was hulle afskeid. Nie vir ‘n oomblik het hul oor hulself nagedink, gewonder oor hierdie innerlike verlange na Jesus wat hulle nie losgelaat  het nie. Nie vir ‘n oomblik sou hulle die gedagte koester dat God aan die werk was, selfs in hul tye van verdriet en pyn nie.

In die tuin, die simbool van die paradys in Johannes se Evangelie, het hulle Jesus begrawe: dit tuin was vir hulle die plek van herinnering, ‘n simbool van die goeie tye saam met Jesus, die man van Liefde.

Hoe het hulle aan hul herinnering vasgeklou. Weer eens, sonder dat hulle dit self besef het, is hulle, selfs in Jesus se dood, deur hul verhouding met Jesus geïnspireer.

Daar by die kruis sou hulle liefde nie eindig nie. Ook daarna, dae na Jesus se dood, is hulle na die graf aangetrek.

As ‘n mens eers een keer die liefde ontdek het, laat dit jou nooit los nie. Niks, nie eers die dood, kan jou daarvan skei nie. As God ‘n mens een keer in liefde aangeraak het, sal jou hart nooit weer tot bedaring kom nie.

1. Verdieping: die oop graf

Geloof, weet ons wat vandag terugkyk op die dood en opstanding van Jesus, is iets wat ‘n mens se lewe vir altyd ryk en vol maak. Maar geloof beteken nog glad nie dat ‘n mens altyd die bergspitse beklim nie. Soms, soos ons so dikwels in die Bybel as boek van geloofsreise sien, kan ons geloof hom te pletter loop teen die werklikhede van die lewe.

Johannes vertel sy lesers wat vroeg-oggend, toe dit nog donker was, op die derde dag na Jesus se dood by sy graf gebeur het. Maria Magdalena, wat toe beskou is as die voorste vroue-dissipel van Jesus, die een uit wie Jesus sewe duiwels verdryf het (Lk. 8:2) en wat tot aan die einde, met Jesus se kruisdood, getrou aan sy sy was, het, toe dit nog donker was, na die graf gegaan. Die Vrydag nog het sy saam met Jesus se ma langs die kruis gestaan. Nou was sy op pad na sy graf.

Asof die kruis van Jesus nie erg genoeg was nie, asof haar pyn nie seer genoeg was nie, ontdek Maria iets wat haar nog verder sou verpletter :

Die vrou, vroeg in haar lewe reeds verlos van groot donkerte toe Jesus haar duiwels uitgedryf het, daarna ‘n getroue volgeling van Jesus is op weg na die graf. Sy is opnuut in die donkerte ingedryf.  Haar hart is in hierdie donker tyd gevul met verlange na Jesus.

Hierdie keer is sy op haar eie. Daar is, soos sy loop na die graf, nie Iemand wat haar donkerte uitdryf nie. En sy dink dat sy iets van daardie verlange kan stil deur naby hom te wees.

Maar tog: lank voordat sy by die graf aankom, was God al daar en het die wonder gebeur. 

Dit is die ironie: die vrou op weg na die graf. Wat sy, alleen op pad na die plek waar Jesus was, nie geweet het nie, is dat God die nuwe lewe  gebring het en die mag van die dood gebreek het. Die mens is op pad na die graf, maar intussen, ongemerk, is die klip weggerol en het die goddelike wonder van die opstanding plaasgevind. Die mens is ‘n besoeker aan die dood, die reisiger na die graf. God, daarenteen, verander alles, skep nuut, keer alles op hul kop.

Johannes maak seker dat sy lesers hierdie simboliek sal verstaan: dit, vertel hy, het alles gebeur op die Sondag-oggend, die eerste dag van die week, ‘n dag na die sabbat.

Dit is, sou ‘n mens dink, ‘n gewone dag. Volgens Joodse gebruik is dit die eerste dag na die sabbat wanneer alles van vooraf begin en die mens weer aan die werk kan spring na die ruskans.

Maar wie mooi dink, sal besef hierdie is ‘n baie spesiale dag. Op die eerste dag het God die hemel en die aarde geskape. Dit vertel die paradys-verhaal vir ons. Hier het ons weer ‘n eerste dag. En weer doen God wonder-like dinge. Van voor af, in die tuin, begin God ‘n paradys-verhaal. Dit is die eerste dag van die nuwe skepping.

So werk genade. So werk God se liefde: dit kom na ons lank voordat ons dit ervaar. Terwyl ons nog in die nag is, in die donkerte rondtas, is God reeds teenwoordig, rol God grafstene oop en skenk die opstanding uit die dood.

2. Nuut en veranderd
Waar God werk, kom alles in beweging – al weet ‘n mens nie altyd so helder wat aan die gang is nie. Die eerste ding wat Maria doen is om haastig te begin hardloop. In vers 1 “gaan” Maria na die graf. In vers 3 hardloop sy terug toe sy sien dat die graf se klip oopgerol is. Vervaard gaan vertel sy aan Petrus en Johannes wat sy ontdek het.

Maar Maria lees dinge heeltemal verkeerd. Sy sien glad nie God se werk raak nie. Kyk net haar boodskap: vir haar beteken die oop graf dat Jesus uit die graf weggeneem is en elders begrawe is. Dit is nog donker – nie net buite nie, maar ook in Maria se gemoed want haar treurigheid word in die verhaal weer en weer geteken: Later, nadat die dissipels ook by die graf was, het sy nie saam met hulle huis toe gegaan nie, maar “buite by die graf staan en huil” (Joh.20:11). Toe, vertel Johannes weer vir die tweede keer, het sy  al huilende in die graf ingekyk. Johannes vertel dat daar alle rede vir haar was om te besef dat God aan die werk is. Want in die graf was daar twee engele. Dit het haar egter nie  dieper laat dink nie. Haar lewe is pure paniek, vol gehardlopery en gehuilery.

Vir die tweede keer, en dit terwyl God vir haar tekens gee dat hier iets spesiaals aan die gebeur is, misverstaan sy alles. Heel ironies sê sy vir die twee engele dieselfde wat sy vir die dissipels vertel het: sy huil omdat hulle Jesus, “my Here”,  weggevat het en sy nie weet waar hulle Hom begrawe het nie.

Hierdie vrou, deur Jesus self aangeraak in ‘n grootse liefdesgebaar toe Hy haar van haar duiwels vrygemaak het, laat haar nie eers deur engele van haar trane wegkry nie.
En vir die derde keer, selfs toe Jesus self voor haar gestaan het, het sy gedink dis die tuinier en vir hom gevra of hy Jesus weggevat en elders begrawe het.

Drie keer, huilend, in die donker, treur sy oor haar dooie Jesus. En dit terwyl Jesus lewend voor haar staan. Hierdie vrou, uit wie Jesus sewe duiwels gedryf het (Lk.8:2), wat so getrou aan Jesus was, selfs toe sy by die kruis gewaak het, sy wat so baie kere na Jesus geluister het en gehoor het hoe Hy praat oor die dood,  verstaan Jesus nie regtig nie.

Hoe gebeur dit alles dan?

‘n Mens kan so ingebuig wees in jou ellende, dat dit jou perspektief op God se werking tot niet maak. Trane kan ‘n mens blind maak vir nuwe lewe, vir engele en vir die teenwoordigheid van Jesus.

Maria vertel ons dat God soms juis in ons trane, in die graftye, in die donker nag by ons is – al lyk dit nie so nie.

Trane, moet ons leer, vertel van ons verlange na God, na die Liefde. En God, die God van Liefde, laat nie ons verlange onbeantwoord nie. Hy sien die trane, droog dit af en neem die pyn en lyding weg (Open.21:4).

Want kyk wat uiteindelik die groot ommekeer in Maria se treurigheid bring. Terwyl sy nog in trane met Jesus praat en dink dat hy die tuinier is, praat Jesus een enkele woord met haar. “Maria” is al wat hy vir haar sê. Dit is asof Jesus daarmee in een woord sê wat ons elders as belofte van God lees: “Ek het jou by die Naam geroep. Jy is myne.” (Jes. 43:1). Of ook: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer” (Jes. 49:16).

Genade word op ons uitgestort. Veral wanneer ons verlore voel, asof ons tussen die varkpeule verval het, veral dan is God, al hardlopende op pad na ons – net soos die Vader van die Verlore Kind.

Die tuin was nou die paradys. Dit het die plek geword waar Jesus lewend teenwoordig was. Die intieme verhouding tussen God en mens word met een woord herstel.

“Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. God sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Open. 21: 3-4).


Blog Archive