Friday, April 06, 2012

Goeie Vrydag en die krag van die kruis




Goeie Vrydag word met veral met die kruis as simbool van ekstreme lyding verbind. Die tema’s vir besinning op hierdie dag gaan dikwels oor pyn, verwerping, seerkry en uiteindelik die dood as verskrikking en teistering.

Nie net word hieroor nagedink soos dit gebeur het in die lewe van Jesus nie. Maar daar word dikwels besin oor hoe God deur die kruisdood deel word en meeleef met mense van alle tye wat in pyn is en wat lyding verduur.

Die paastyd bied inderdaad ‘n spesiale geleentheid om oor die groot Skaduwee van lyding en dood in ons lewens en in ons wêreld na te dink. En om dit in die lig van Christus se lewe en kruisdood te kan doen, help ons om met ‘n ander, nuwe perspektief na ons lewenslyding te kyk. Daardeur ontkom ons die valkuil waarin ‘n mens so maklik beland wanneer jy lyding in die wêreld en in jou lewe as ‘n verskriklike lot sien waaroor almal om jou vir jou jammer moet kry nie en wat ‘n mens alleen maar desperaat kan bejammer.

‘n Mens kan, by wyse van sprekering, erg tranerig, en selfs sentimenteel oor die kruis voel.

Jesus se kruis is egter nie ‘n jammerlike verhaal van ‘n slagoffer van lyding nie, as die een wat tragies doodgemaak is deur sy hartelose gelowige tydgenote.

Die kruis-boodskap van die Christendom wil eerder ‘n krag tot verandering, 'n bron van transformasie en 'n fontein van nuwe lewe word. 

In Goeie Vrydag is immers die einde van die ou manier van lewe te vind, maar ook die ruimte geskep vir die Nuwe wat daaruit sou opbloei.

Die duidelikste is dit die afgelope tyd vir my gemaak deur die aangrypende verhaal van die briljante Joods gebore Edith Stein (1891-1942) wat ook as akademikus uitgeblink het toe sy die beroemde fenomenoloog, Husserl, se assistent, eers in Göttingen en later in Freiburg was en haar proefskrif oor “die probleem van empatie" met die hoogste lof geslaag het. Sy was ook bevriend met Max Scheler wat haar aan die Rooms”-Katolisisme bekend gestel het. In haar indrukwekkende kort loopbaan sou sy vele belangrike werke skryf waarin sy met die belangrike denkers van alle tye in gesprek getree het.

Edith Stein kan dus met reg een van die intellektuele leiers van haar tyd beskou word wat, as sy in ander tye geleef het, nie die steierende onreg sou moes verduur wat haar deel geword het omdat sy ‘n vrou was (en dus nie in ‘n akademiese pos aangestel kon word nie) en, boonop, ‘n Jodin.

Tog het Edith Stein op ‘n ander manier besonder invloedryk geword en inspireer haar lewe vandag nog vele mense.

Hoe spesiaal die kruis kan wees en watter transformatiewe krag dit het, blyk gou uit Edith Stein se vroeë lewe. Sy, wat vertel het dat sy al vanaf haar veertiende jaar as Joodse meisie nie meer in God geglo het nie, het naamlik ‘n besondere sterk transformatiewe ervaring aan die begin van haar  volwasse lewe gehad wat haar lewe in ‘n heel nuwe rigting sou stuur.

Toe sy 26 jaar was, sterf Adolf Reinach, Husserl se assistent in Göttingen en een van haar beste universiteitsmaats, in die Eerste Wêreldoorlog. Tydens die oorlog was sy ‘n verpleegster in ‘n Oostenrykse hospitaal waar sy tifus-pasiënte versorg het. Dit was vir haar ‘n veeleisende tyd, veral omdat sy geraak is deur die feit dat so baie jongmense sinneloos in die oorlog gedood is.

Sy reis kort na Reinach se dood na Göttingen om sy weduwee te besoek. Edith kom deur hierdie besoek tot radikale ommekeer toe sy opmerk hoe Reinach se weduwee sy dood op ‘n heel besonder manier met die kruis van Christus verbind het. Sy dood was vir haar as ‘n gelowige vrou nie ‘n verpletterende slag nie.

Heel merkwaardig skryf Edith Stein oor die effek wat hul ontmoeting op  haar gehad het. In haar opmerking fokus sy op die spesiale indruk wat sy gekry het oor die rol van Christus se kruisdood in haar vriendin se rou: “Dit was my eerste ervaring van die kruis en die goddelike mag wat dit gegee het aan hulle wat die kruis opgeneem het. Dit was die oomblik dat my ongeloof tot niet gegaan het en Christus sy lig op my laat skyn het – Christus in die geheimenis van die kruis.” Reinach het haar man se dood verwerk deur dit te sien as haar eie deelname aan die kruis van Christus. En Stein het haar gelowige hantering gesien as ‘n krag-daad wat moontlik gemaak is deur die lyding en dood van Christus aan die kruis.

Van toe af, totdat sy later op 42 jarige leeftyd ‘n Karmeliet geword het nadat sy ‘n outobiografie van Teresa van Avila gelees het, was dit haar begeerte om te deel in Christus se lyding. Dit alleen, het sy geskryf, kan ‘n mens help. Niks wat jy doen kan jou lewe sinvol maak nie. ‘n Mens word alleen bemagtig deur die kruis van Christus op te neem.

Hier het mens met egte spiritualiteit as transformatiewe ervaring te doen. Wanneer ‘n mens tot in die fondamente van jou geloof getoets word, soos die weduwee Reinach, kry ‘n mens die “krag” om nie net die lyding te verduur nie, maar om dit om te buig as ‘n uitdaging wat tot ‘n mens kom om te deel in Christus se lyding. Jy is nie die passiewe slagoffer van lyding nie. Deur Christus se kruisdood word ‘n mens sterk om sy kruis as jou kruis toe te eien en om dit deur en in jou eie lewe te dra. Jy skaar jouself in solidariteit met Christus aan die kant van hulle wat verag, mishandel en vermoor word. Wat buite jou om gebeur het toe Christus op Goeie Vrydag sy lewe vir ander opgeoffer het, word nou ‘n bron van transformasie en die inspirasie tot ‘n nuwe lewe van verset teen die kwaad. Wat God gedoen het, word voortgesit en volbring in die lewe van hulle wat hierdie waarheid hulle deel wil maak.

‘n Mens sien hierin ‘n praktiese voorbeeld van Kolossense 1:24 waar Paulus skryf oor hoe hy sy deel van die vervolging van Christus verduur, ook ter wille van die liggaam van Christus (sien ook my blog van 27 Februarie).

Maar dit was maar die begin. Die res van Edith Stein se lewensverhaal, toe sy self, as 'n soort Christus-figuur haar lewe sou opoffer, sou net so sterk en transformatief soos hierdie eerste jare wees. Hieroor later meer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive