Saturday, March 05, 2011

Vyf van die mooistes. Bybelstudie oor Openbaring (22)




Die brief aan Tiatira is ‘n belangrike brief. ‘n Mens sou die brief byna kon sien as die spil waarom alles in die sewe briewe draai, het in ‘n vorige blog duidelik geword. Die brief staan in die middel van die sewe briewe. Daarin word Jesus vir die enigste keer in die boek Openbaring met die belangrike titel “die Seun van God” beskryf met die vlammende oë wat harte en niere deurgrond (Open.2:18; 23). In die middel van hierdie middelste brief, praat Johannes weer met “al” die gemeentes (Open.2:23). Dit was dus ‘n spesiale brief.

Kyk net hoe goed lyk hierdie gemeente volgens Openbaring 2:19. Hulle het ‘n klomp eienskappe wat vele kerke vandag sal begeer om te hê. Dit is ‘n indrukwekkende lys met ten minste vyf verskillende eienskappe en ‘n dubbele verwysing na hul spesiale werke.

Daar is eerstens die werke (ta; e[rga). Hoe ‘n mens jou geloof uitleef is vir God uiteindelik ook deurslaggewend. In Openbaring 2:23 word die gemeente van Tiatira juis daaraan herinner dat God aan mense volgens hulle werke sal gee. Oor jare heen wys mense met hul reaksie dat God  in hul lewe gekom het. Hul lewens wys die vrugte van die geloof. Die gemeente in Tiatira het prakties en konkreet hul geloof uitgeleef. Hulle was nie maar net praters nie. En God sien dit raak. Die woord is so belangrik dat Johannes in vers 19 weer daarop terugkom: die gemeente se laaste werke is meer as die eerste. Hier is daar ‘n duidelike kontras met die gemeente in Efese, wat volgens Openbaring 2:5 nie hul eerste werke bly doen het nie. Vanaf die begin, totdat die brief geskryf is, het die gemeente bly woel en werskaf in diens van God. Dit is ‘n hele lewe van toewyding.

Dit was ook, tweedens, ‘n gemeente wat nie aan liefde (th;n ajgavphn) ontbreek het nie. Die woord “liefde” kom nie baie in Openbaring voor nie. Trouens, dit is die enigste gemeente van die sewe wat met liefde verbind word.Van die gemeente in Efese word selfs gesê dat God dit teen hulle hou omdat hul hul eerste liefde verlaat het (Openbaring 2:4). Die kontras met Efese vertel iets meer van Tiatira se gemeente: terwyl ander kerke ontrou word aan liefde, bly hulle steeds geanker in die liefde.  Hulle bly dus liefde betoon in hul getuienis as ‘n gemeente. Vandat hulle die evangelie aanvaar het, totdat die brief aan hulle geskryf word, is liefde ‘n eienskap in hul geloofsreis.

Dan word, derdens, oor hul “geloof” (th;n pivstin) gepraat. Hoe belangrik geloof is, was duidelik in Openbaring 2:13 waar Pergamum se gemeente aangeprys word omdat hulle geloof in Jesus nie verloën het nie. “Geloof” beteken hier om op God te bly vertrou, sodat dit die bekenis kry van “getrouheid”. In Openbarin 17:14 word vertel dat die Lam en sy volgelinge die stryd teen die Bose sal wen. Die volgelinge word in die vers ook as die getroues beskryf. Ook hier is dit nie maar net om met die mond te bely nie, maar veel meer – om in die geloof vas te bly staan. ‘n Mens kan dus ook in hul getrouheid sien dat die Evangelie in vrugbare grond geval en wortel geskiet het. Die geloofsplantjie het sterk gegroei en sterk bly staan. Die geestelike reis wat in geloof begin het, word in geloof voortgesit en in getrouheid uitgeleef.

Dan is daar, vierdens, hulle “diens”  (th;n diakonivan). Hierdie eienskap word nêrens anders in die sewe briewe met ‘n gemeente verbind nie. Die woord kom ook net hier in die boek voor. Dit beteken om na ander om te sien, om offervaardig te wees en te ondersteun. Ook hierdie woord vertel iets van voortgaande toewyding. Hierdie gemeente was nie net in naam nie, maar ook in woord en daad bereid om skouer aan die wiel te sit en uit te reik na ander. Vanaf die begin af was hulle mense wat hul lewens vir ander gegee het.

En, laastens is daar hulle lydsaamheid  (th;n  uJpomonhvn). Volharding is vir Johannes ‘n belangrike eienskap. Hy verbind dit met geloof in Openbaring 13:10 en 14:12 as eienskappe van die “heiliges”. In Openbaring 3:10 word aan die gemeente van Filadelfia, wat bly volhard het, belowe dat God hlle sal bewaar in die komende uur van beproewing. Ook hier wys die woord op die dapperheid van ‘n gemeente wat bly vasbyt en nie tou opgooi nie – ‘n belangrike eienskap van heiligmaking. Hulle geestelike reis het nie verflou nie.

Al hierdie eienskappe is eintlik aangrypend mooi: hierdie gemeente weet van heiligmaking. Dit is ‘n gemeente wie se spiritualiteit beïndruk het. Na buite kon mense sien dat hulle ‘n lang pad al saam met God kom. Hulle het hulle geloof beleef. Dit was geleefde geloof, waarin hulle verhouding met God, vanaf die eerste aanraking, hulle lewens getransformeer het en ‘n duidelike uitwerking na buite gehad het.

Friday, March 04, 2011

Om alleen te wees is om sonder liefde te wees.

Een van die omstrede figure in die geskiedenis van die kerk en teologie was Abelardus, uit die 12/13e eeu. Hy het ‘n reputasie gehad as ‘n slim teoloog en word dikwels aangehaal oor sy bydrae in belangrike historiese debatte (o.a. oor die versoeningsleer). 

Maar hy was, ironies, veral ook bekend oor sy stormagtige verhouding met Heloise, 'n aantreklike meisie op wie hy smoorverlief geraak het en vir wie hy toe, nadat hy slinks allerhande planne beraam het om in dieselfde huis as sy te gaan woon, swanger gemaak het. Die kind wat gebore is, is aangeneem. Sy reputasie was daarmee heen. Maar dit was nie die einde van sy ellende nie. Abelardus is ‘n ruk na die gebeure gekastreer in 'n aanval wat beplan is deur die oom van die meisie by wie sy gebly het.

Abelardus het daarna priester geword. Hy het ook met sy teologiese werk voortgegaan. Ten spyte van wat gebeur het, het hy nog steeds groot indruk gemaak. Maar al het hy weer 'n groot rol in teologiese kringe en die kerk gespeel het, het hy weer stormagtige tye beleef. Hy is op 'n stadium deur sommige skerp oor van sy standpunte aangeval, is op 'n stadium selfs veroordeel vir kettery en het ervaar hoedat van sy boeke op 'n keer verbrand is. 

Heloise het na die geboorte en aanneming van die kind, 'n non geword en self ook 'n belangrike rol in haar klooster gespeel.

Bekend is Abelardus onder andere ook omdat Bernard van Clairvaux hom in 'n dikwels aangehaalde opmerking as volg beskryf het : “Jy kom al die veeleisende godsdienstige pligte na. Jy vas, jy waak, jy ly; maar jy laat na om die maklike te jaag – jy het nie lief nie”.

Onlangs, in ‘n gesprek oor hom,  reageer ‘n kollega teenoor my heftig oor Abelardus. Hy twyfel geen oomblik nie - die man is wat hom betref ‘n egte skurk en sy teologie was ook maar swak.

Ek bedink sy opmerkings, so bietjie verbaas dat hy met sulke kwaai taak wys hoe sterk hy voel. 

En tog, besef ek, kon hierdie einste Abelardus 'n lied skryf wat tot vandag toe diep indruk maak en dikwels aangehaal word. 

Hier is dit (in Neale se 19e eeuse vertaling):


On Heaven
Oh, what their joy and their glory must be,
Those endless Sabbaths the blessed ones see;
   crowns for the valiant, for weary ones rest:
   God shall be all, and in all ever blest.
Truly Jerusalem name we that shore,
Vision of peace that brings hope evermore;
   wish and fulfilment shall severed be ne'er,
   nor the thing prayed for come short of the prayer.
There, where no trouble distraction can bring,
We the sweet anthems of Zion shall sing,
   while for thy grace, Lord, their voices of praise
   thy blessed people eternally raise.
Now, in the meantime, with hearts raised on high,
We for that country must yearn and must sigh,
   seeking Jerusalem, dear native land,
   through the long exile on Babylon's strand.
Low before him with our praises we fall,
Of whom, and in whom, and through whom are all;
   of whom, the Father; and in whom, the Son;
   through whom, the Spirit, with both ever one.


Ek hoor weer vandag die inhoud van die lied en dit bly draal deur die dag by my. Dit bring my om hier oor hom te skryf.

Die lied, uit die twaalfde eeu n.C., gaan oor die “hemel”. Met versugting sing hy daarin van die tyd dat daar tussen die wens en die vervulling van die wens nie meer skeiding sal wees nie. Wanneer ons bid, sal ons ervaar, sal ons ontvang waarna ons verlang. Onmiddellik... (Vision of peace that brings hope evermore; wish and fulfilment shall severed be ne'er, nor the thing prayed for come short of the prayer).

Dit bly by my, hierdie opmerking oor die wens en sy vervulling: Die verlange na en dan, direk die ervaring van die vervulling. Dit wat ons verlangend vra, ontvang ons ook. Dit sal nie meer geskei wees nie.

Hy voeg by: dit wat ons biddend begeer sal voldoen aan al ons begeertes en behoeftes. Ons sal in ons gebede nie teleurgestel word nie.

Daar kom 'n tyd dus, van onmiddellike toegang, van kontemplasie, van by God wees. Niks sal ons skei van...

Dit, vertel die lied, is die visoen van “vrede” waaraan die geloof vashou .

Ek lees die lied en dink: Dit is nie die eerste keer dat feilbare mense woorde skryf wat vir eeue nog nawerk, wat mens bybly - net soos 'n feilbare, sondaar-Dawid Psalm 51 geskryf het.

Abelardus se naam laat my altyd dadelik dink aan 'n gedig van Sheila Cussons oor die liefde tussen Heloise en Abelard. 

Hier sien ‘n mens die ander kant van die beroemde geskiedenis van hul liefdesverhouding as hulle geskiedenis vanuit Heloise se gesigshoek geskryf word. 

Hier is die gedig: 



Heloise

Ek het vergeet wat ons gesê het, lief,
die tyd het oud geword -
en ek lê eenkant niemand praat
daar’s niemand nie - ek het stil geword.
Kind wat my nooit sal ken nie
nooit en nooit nie - stief groot geword …
Nooit weer in die krom van jou lyf
my lyf as ek slaap nie, o Abelard -
maar koud en vrugteloos en alleen
in 'n huis in die wind
vroetel en nie vind nie …
ou hande in papiere papiere papiere
het kinds geword.

Ook hier is daar verlange. Maar hoe anders is die verlange nie. In Cussons se gedig is Heloise se verlange intens uitgebeeld deur die beelde van ‘n koue, wintertyd wat sy beleef. Die woorde wat haar situasie beskryf, is swaar. Sy lê eenkant, niemand praat, daar’s niemand nie. Sy is alleen. "Die tyd het oud geword". Dit is haar "ou hande" wat vroetel in papiere papiere papiere en nie vind nie.  

Hier praat Heloise oor die liefde wat sy "nooit" weer sal beleef nie. Ook haar kind het sy verloor om haar "nooit, nooit" te kan ken nie. Dit is taal wat leeg is, oorheers deur herhaalde gebruik van "nooit", "niks", "nie". Dit is taal wat alleenheid en leegheid uitbeeld.

Die leegheid is soveel sterker as gevolg van die oomblik van helder warmte wat in die gedig deurbreek. Presies in die middel van die 13 reels staan die volgende frase "Nooit weer in die krom van jou lyf" as die middelpunt. En dan volg: "my lyf as ek slaap nie, o Abelard". Dit is wat sy mis. Lyf teen lyf. Die intimiteit in die winter-koue word intens uitgebeeld deur die "jou lyf"/"my lyf" woordpaar. Die "jou lyf" is in die strofe finale posisie en die "my lyf" in die inisiele posisie van die volgende strofe - waardeur hulle elkeen beklemtoon word. Dit winter is dus winter omdat die liefdesgloed van absolute intimiteit en eenheid verby is, vir altyd. Dit is 'n intimiteit tussen 'n ek en 'n jou (Buber!). Die enigste twee keer wat die tweede persoon ter sprake kom is in hierdie middelste reel - en dan, in die heel eerste reel, die sleutel woord, die aanspreekvorm, "lief". 

In haar gedig is die mistieke oomblik, dit wat in die hart van die gedig staan, die verlangende viering van die liefde. 

Niks anders is maar vir 'n oomblik so belangrik soos hierdie liefde nie. Heloise, in hierdie gedig, vergeet al die slim woorde van die geliefde. Aldus begin die gedig: "Ek het vergeet wat ons gesê het, lief". Met die intrap-woorde van hierdie gedig, word al die gepraat in al die tye van liefde tot niks gereduseer. Die liefde is tog nie daarin te vind nie.

Die kyk in hierdie gedig is “terug” – terug na die warmte, intimiteit, nabyheid van die liefdesomhelsing. Mens by mens, verby alle woorde en gepraat. 

In die lig van hierdie vergange liefde, onherroeplik verby, is alles, die hele lewe winter, koud, vrugteloos. Om “alleen” te wees, is om sonder liefde te wees, is om te vroetel en niks te vind nie, om oud te raak, om kinds te word.

Thursday, March 03, 2011

Wat is spiritualiteit? Oor die verhouding tussen spiritualiteit en teologie.


Teologie is een van daardie onmoontlike betrippe waarvan die betekenis eintlik afhang van die persoon wat die begrip definieer. As 'n mens deesdae met sommige oor spiritualiteit praat, gebeur dit soms dat hulle reageer met die opmerking: maar wat mense in spiritualiteit doen is presies wat "ons" in teologie doen. 

Ek dink dikwels hulle bedoel: dit is wat "ons" graag in teologie sou wou doen. 

‘n Mens kan spiritualiteit beter verstaan deur ook te kyk na wat die verhouding tussen teologie en spiritualiteit is. Maar dan moet 'n mens nie teologie verstaan soos party mense dit graag sou wou doen nie, maar soos dit nou deur eeue heen oor verskeie tradisies gedoen is. En as 'n mens die "normale" bedryf van die teologie oor eeue heen, bekyk is daar 'n besliste onderskeid tussen die twee. 

Dit is belangrik om dit te bedink en dit help baie om dan te sien hoe hierdie insig 'n mens help om helderder oor spiritualiteit na te dink.

Dit is nie maklik om een antwoord hierop te gee nie, skryf Sandra Schneiders in haar bespreking van die saak. Baie sal afhang van hoe teologie verstaan word en van watter tyd ‘n mens praat. In die eerste eeue van die Christendom sou niemand die twee van mekaar onderskei het nie. Die kerk het tot en met die middeleeue teologie as spiritualiteit gesien en spiritualiteit as teologie. Dit was eers daarna dat die groot kerklike tradisies, die Anglikaanse, Ortodokse, Protestantse en Rooms-Katolieke tradisies, die verhouding baie verskillend gesien het.

In die Reformasie was daar ‘n sterk ortodokse groep wat veral terughoudend was oor die “mistiek” en argwaan gekoester het teenoor die begrip spiritualiteit. Vir hierdie groep het die woord te veel geklink na mense wat hulself as super-gelowiges beskou het, of as mense wat hulle met ekstatiese ervarings besig gehou het. Boonop het hulle beklemtoon dat die band van teologie/spiritualiteit met die Skrif deur mistici te maklik losgemaak is. Hulle het ook nie gehou van die gedagte dat mense dink God kommunikeer direk met hulle buite die Skrif om nie. Sekere groepe het ook beswaar gemaak teen spiritualiteit omdat dit ‘n werkheiligheid kan bevorder. Dan word die geloofslewe van die mens se geloofservaringe afhanklik gemaak. En dit sou ook tot geesdrywery aanleiding gee.

Protestante wou spiritualiteit en mistiek as begrippe vermy. Hulle het eerder gekies vir sulke woorde soos vroomheid en heiligmaking. Die belangrikste oefeninge van vroomheid was vir hulle die omgang met die Bybel, gebed in ‘n mens se stiltetyd, in bidure en in Boekevat saam met die familie. Verder het hulle graag stigtelike literatuur gelees van bekende skrywers soos Luther, Calvyn, Jonathan Edwards, Jeremy Taylor en andere.

Anglikane, weer, het eerder gekies vir sulke begrippe soos die innerlike lewe, die lewe van volmaaktheid en toewyding (devotion). Hulle spiritualiteit is baie sterk bepaal deur die bekende Book of Common Prayer. Daarom het hulle spiritualiteit ‘n sterk liturgiese karakter. ‘n Groot klomp werke het mettertyd ontstaan wat sowel prakties (Law) as teoreties (bv. Underhill) was.

In die Rooms-Katolieke tradisie is spiritualiteit steeds weer as ‘n sub-dissipline van teologie gesien. Daar was dus ‘n noue verhouding tussen die twee.

Vir die Ortodokse kerke het die twee eenvoudig bymekaar gehoort en ‘n eenheid gevorm. Daarby het hulle by die tradisionele siening aangesluit. In hierdie tyd is van teologie eenvoudig gepraat as “mistieke teologie.” Teologie was glad nie ‘n voorwerp van navorsing of studie nie. Dit het nie bestaan uit ‘n klomp leerstellinge wat uiteengesit is of kennis wat ‘n teoloog opgedoen het nie. Hierdie siening het tot vandag toe nog in sommige kringe voortbestaan (o.a. by Jan van die Kruis). In mistieke teologie het dit gegaan om wat ‘n mens aan die lyf ervaar het, om dit wat deel van jou bestaan (en nie net jou brein) geword het, om dit wat jou in die teenwoordigheid van God gebring het, sodat ‘n mens in verering by God was. Mistieke teologie, dus, soos dit tegnies geformuleer word, was die ervaringskennis van God wat God in die mens as kontemplasie uitgegiet het. Dit gaan om die verborge wete van God wat in kontemplasie deur die mens ervaar word.

Hierteenoor het teologie mettertyd sy karakter as mymering, nadenke, meditasie oor die Bybel prysgegee. Dit het deel van die universiteit se leerplan geword. Deur die taal van die akademie, die filosofie en die logika is teologie aangebied as ‘n akademiese dissipline. Dit het ook sy invloed uitgeoefen op mistieke teologie. Stadigaan het die karakter van wat voorheen as “mistieke teologie” verstaan is, verander. Voorheen het in die mistieke teologie gegaan om mense wat nadink oor hul geloofservaring. Met die skuif in die karakter van teologie het spirituele teologie ‘n onderafdeling van teologie geword wat ‘n mens bestudeer het soos enige ander dissipline. Voorheen was die groot vraag hoe ‘n mens jou instel deur die lees van die Bybel en nadenke daarop vir God se aanraking en vir kontemplasie. Later begin mistieke teologie fokus op die vraag na onderwerpe wat ‘n mens moet bestudeer en hoe ‘n mens dit moet bestudeer om die inhoud en dinamiek van die geestelike lewe te verstaan, skryf Schneiders.

Die skuif is dus weg van : U – ek, na my – dit. Die studie van teologie, saam met mistieke teologie is verobjektifeer. Mistieke/spirituele teologie is tot ‘n objek van studie gemaak. Eerder as wat dit ‘n mens ingestel het op die kontemplatiewe. Daarom kry ‘n mens allerhande loci, of tema’s (Godsleer, ekklesiologie, kerkleer, sakramente, voorsienigheid, pneumatologie, soteriologie en alles wat teoloë altyd so fyn kan formuleer en uitklaar). Hier moet ‘n mens goed verstaan dat die probleem nie is dat teologie en spiritualiteit in universiteite nagevors is nie. Die kwessie is eerder hóé dit gedoen word. Later sou spiritualiteit weer sy oorspronklike karakter terugwen, maar tog nog aan Universiteite gedoseer word. Hieroor wil ek nog ‘n bietjie verder skryf aan die hand van Schneiders se artikel.

Wednesday, March 02, 2011

Soms is God 'n onbekende God, maar tog bietjie bemind. Oor die verhouding tussen godsdiens en spiritualiteit (5).


Wanneer ‘n mens na die beeld van die opstande in die Arabiese wêrelddele kyk, raak dit ‘n mens. Op een of ander manier word hulle nood ander mense se nood. ‘n Mens is bekommerd en besorg oor hulle.

Deesdae gebruik mense dikwels die begrip “gedeelde menslikheid” of “common humanity” om iets weer te gee van die band wat tussen alle mense bestaan en wat ‘n mens laat omgee, selfs vir mense wat drasties van jou verskil.

Die begrip “menseregte” is ook ‘n belangrike voorbeel wat vertel van sekere fundamentele kenmerke van menswees, van sake waarop alle mense, wie en waar hulle ook al is, as mense aanspraak kan maak. Almal deel daarin en kan daarop aanspraak maak. Mense is deur sulke bande verbind aan mekaar.  

Schneiders vertel in haar artikel oor die verhouding tussen godsdiens en spiritualiteit dat hierdie eenheid van alle mense ook in die Skrif tot uiting kom. In Johannes 17:20-21 bid Jesus dat mense een mag wees soos wat God en Jesus een is.

En tog is dit godsdiens wat mense dikwels van mekaar skei of wat mense vyande van mekaar maak. Ten spyte van sommige wat deesdae al hoe meer vra dat godsdienste met mekaar in gesprek moet tree eerder as mekaar vernietig, is daar vele wat nog onverdraagsaam, bevooroordeeld en afgunstig is.

Ons is nog nie regtig ver gevorder met ons verstaan van ander godsdienste nie. Ons dra swaar aan ons oortuiging dat die Christendom gebou is op die absolute en eksklusiewe aansprake dat Jesus die Heiland van die wêreld is. Ons weet nog nie hoe om daaraan vas te hou en ook om dan nog te verstaan hoe ander mense vir eeue lank in hul eie godsdienstige tradisies spesiale godsdienstige ervarings gehad het wat hul lewens verryk het. Dink maar aan hoeveel Christene vir Gandhi bewonder as ‘n besondere persoon met spesiale gawes.  

Daar was en is wel van tyd tot tyd merkwaardige gelowiges wat begin het om met ander godsdienste in gesprek te tree, sonder om hul eie Christelike tradisie te verloën, maar hulle word soms gewantrou en verdag gemaak. Vir baie mense is dit al erg genoeg om mense in hul eie kerk te aanvaar wat anders as hulle dink, laat staan nog vir mense uit ander gelowe.

Dit is op hierdie punt, skryf Schneiders, dat die verhouding tussen godsdiens en spiritualiteit ter sprake kom. As dit van teologie afhang, is die kloof tussen godsdienste dikwels onoorbrugbaar. Mense kan onophoudelik stry oor allerhande teologiese en godsdienstige onderwerpe. Koue stellings, naakte feite kan soos kartetse in ‘n oorlog heen en weer geskiet word.

Tog, soms gebeur daar vreemde dinge. Dan ontmoet ‘n mens iemand wat nie ‘n Christen is nie. Maar hy of sy beïndruk ‘n mens met sy erns, haar opregtheid, sy eerlikheid, haar onselfsugtigheid. Soms is dit sulke mooi mense dat ‘n mens hulle amper onwillekeurig as gelowiges beskou.

En dit is waar spiritualiteit ‘n verskil maak wat godsdiens dikwels nie kan doen nie. ‘n Mens sien hoe mense van ander godsdienste baie opoffer en aangrypend praat oor hulle geloof, hulle aanbidding, hul verlange na ‘n sinvolle lewe en ‘n mens ontdek hoe hulle ‘n rein pad met diep geestelike kwaliteit loop. Dit sit jou soms aan die dink.

Spirituele ervarings kan mense nader aan mekaar bring soos teologie nie kan nie.

Maar wat hou dit verder in vir die verhouding van godsdiens tot spiritualiteit? Hieroor skryf Schneiders belangrike inligting. In moeilike tye van spanning, onenigheid en hatigheid, is dit mense wat diep geanker is aan hul vaste oortuigings wat hulle met ‘n geestelike diepte uitleef en ervaar, wat die grootste bydraes lewer. Vir hulle is dit nie maklik om in gesprek te tree met ander nie: hulle eie geestelike reis is vir hulle kosbaar en hulle kan nie ontrou daaraan wees nie. Maar hulle voel ook aangetrokke tot ander mense, juis vanweë hul gedeelde mensheid. En hulle wil ook ander nie onmenslik behandel in dinge van godsdiens wat vir hulle kosbaar en spesiaal is nie.

Hoe nou gemaak? Schneiders skryf: dit alles beteken nie dat hatigheid tussen godsdienste deur so ‘n vae neutraliteit of ‘n niksseggende gemeenskaplikheid of ‘n swewende lewenspraktyk oorkom word nie. So ‘n oppervlakkige sinkretisme word deur ernstige soekers na waarheid vermy. Hulle pik-pik nie stukkies uit al die godsdienste wat almal kan verdra en forseer dan ‘n gemeenskaplikheid tussen godsdienste nie. Hulle probeer ook nie om heel vrygewig almal wat voorkom sonder veel vrae in so ‘n gemeenskaplikheid in te sluit nie.

Dit alles beteken net een ding: ‘n mens moet vanuit die vreugde en sekerheid van jou eie geloofslewe, met ander wat ander ervarings het in gesprek tree. Spritiualiteit verryk ‘n mens en maak jou sterk, ystersterk. Jy kan na enige mens kyk, wie hy of sy ook al is, aan watter geloof hy of sy ook al behoort, van watter kerk hy of sy ook al ‘n lidmaat mag wees, en in daardie persoon iets raaksien van die soeker na die dieper dinge. Sonder om jou eie godsdienstige tradisie te verraai of uit te verkoop, kan jy met ‘n openheid na daardie persoon kyk, kan jy eerlik vir daardie persoon aanhoor,  kan jy met respek daardie een se godsdienstige ervaringe waarneem. En selfs van daardie persoon leer. Of deur daardie persoon geraak word.

Dit vra van ‘n mens baie om ander mense buite jou eie godsdienstige tradisie as ‘n geskenk te sien, as iemand wat jou lewe kan verryk sonder dat jy daarmee aan jou eie geestelike ervaring ontrou word.  ‘n Mens kan selfs die ander as ‘n geskenk sien, iemand by wie jy ook spesiale dinge kan raaksien.

Die gevolg hiervan is dat ‘n mens van jou eie rykdom aan die ander een gee. Daardie een lusiter ook na jou en sien jou ook as iemand met wie hy of sy ‘n openheid moet waag.

Dit is nie maklik om die grense van godsdiens tussen mense te oorkom nie. ‘n Mens moet so met godsdiens omgaan dat ‘n mens nooit die kosbare inhoud uit jou eie tradisie kwyt raak of te maklik opoffer nie. Schneiders verwys na opmerkings van Paul Lakeland. Hy skryf dat ‘n mens in gesprek tree met ander godsdienste sonder dat jou eie tradisie ‘n swaard is waarmee jy die ketterye of heidendom van die ander gelowiges verpletter. Net so min laat ‘n mens jou eie godsdienstige tradisie agterbly wanneer jy met ander in gesprek tree. ‘n Mens gaan in diegesprek in met die waarheid van jou oortuigings wat jy deur ‘n lang geestelike reis diep in jou wese laat insak het. Dit het so deel geword van in jou geestelike mondering dat niks, niks jou waarheid kan bedreig nie. Al wat onder druk sou kon kom, is die minder noodsaaklike dinge wat op die rand lê. En dikwels help juis die dialoog ons om te verstaan hoe ons onbelangrike dinge belangriker gemaak het as wat hulle werklik is. Juis dit gaan help om die waarheid beter te begryp en te beleef. As ‘n mens se hart in jou godsdiens is, as jou godsdiens jou lewenservaring is, sal niks jou daarvan kan losmaak of beroof nie. Nie eers die duiwel self nie – soos Jesus maar al te goed bewys het.

Wanneer ‘n mens ander ontmoet uit ander godsdienste, word ‘n mens soms verras deur die aantreklikheid van hulle geloof. Al die kwaadpratery van baie eeue oor ander gelowe kon nie keer dat baie mense hierdie ervaring gehad het nie. Selfs op die Areopagus was daar, het Paulus ontdek, onder al die oppervlakkigehede ook iewers ‘n stuk waarheid. Hy begin ook sy gesprek met hulle so: “Ek het gesien julle aanbid die onbekende God. Julle het ‘n altaar vir hom. Daar gaan julle soms staan, bring offers en dink na oor Hom.” Hy het dus hulle spritualiteitspraktyk herken. Hy weet dit is die plek waar hulle geestelike verdieping gaan soek het. Paulus het nie gehuiwer om hierdie waarheid dat God iewers ook reeds in hulle lewe aanbid is, uit te lig nie, al het hy daarna hulle geestelike weg met die Onbekende God in lig van die evangelie bekyk en Hom aan hulle in diepte verkondig. Paulus het geweet hy deel met hierdie mense ‘n gemeenskaplike mensheid en hy skuld hulle ‘n getuienis oor wat vir hom in sy lewe kosbare geestelike ervarings was wat hom gebring het om die Waarheid te ontmoet en te verkondig. Spiritualiteit en godsdiens, elk met ‘n eie karakter, kom op hierdie manier reeds in die Nuwe Testament sinvol bymekaar uit.

Tuesday, March 01, 2011

Wanneer die geestelike reis iemand 'n wysneus, oppervlakkig en 'n narcis maak. Oor die verhouding godsdiens, die kerk en spiritualiteit (4).

Hoogmoedig, ja, hoogmoedig kan 'n mens word, as jy so geestelik is, waarsku die Nuwe Testament dikwels.  Of skynheilig. Of hoogheilig. 

Die geestelike reis lyk nie altyd mooi nie. 

Soms kan die geestelike reis werklik ernstig opgeneem word, met die allerbeste bedoelings - juis om nie hoogmoedig, hoogheilig of ander negatiewe dinge te wees nie. Vroomheid kan 'n mooi kleed aantrek. En tog dan skeefloop.

Toewyding en erns maak die geestelike reis nog nie reg nie.

Vir baie mense, byvoorbeeld, is dit genoeg as hulle een of ander private, persoonlike geestelike lewe het, skryf Schneiders in haar artikel oor die verhouding tussen godsdiens en spiritualiteit. Godsdienstige instellings of die kerk is vir hulle nie meer so belangrik nie.

‘n Mens moet nie te maklik aanvaar dat ‘n private spiritualiteit goed en reg is nie. Spiritualiteit pas heel goed by godsdiens in. Trouens, godsdiens is ‘n heel verstandige konteks waarin spiritualiteit kan funksioneer. Meer as wanneer spiritualiteit bloot maar net deel is van die mens se bestaan as individu. 

As ‘n mens die geestelike reis op jou eie onderneem, stel ‘n mens jouself bloot. Sonder die kerk en sonder ‘n godsdienstige omgewing verval mense dikwels in uiterstes en raak hulle selfs fanaties. Daar is nie ander gelowiges wat 'n mens toets, uithoor en met mens in debat tree nie. Daar is ook nie die wysheid van ervare gelowiges en leiers met baie ondervinding waarteen mens jou standpunte kan toets nie. 

Ander mense, weer, wat die geestelike reis probeer loop, verflou in hul geestelike lewe wanneer hulle nie deel is van ‘n gemeenskap van gelowiges wat hulle kan ondersteun en aanmoedig nie.

Sekerlik gaan gelowige mense foute maak en gaan daar in die kerk gebreke wees. Die kerk is nie volmaak nie. Die vraag is of dit ‘n goeie rede is om die kerk opsy te skuif. Maar sonder die kerk raak spiritualiteit oppervlakkig en wankelrig.

Verder kan ‘n geestelike mens wat nie in die kerk of in godsdiens deel nie, dikwels gefrustreerd raak omdat hy of sy nie geestelike diepte ontwikkel nie. Iemand wat ‘n private spiritualiteit het, is dikwels aangewys op sy eie, innerlike voorrade. En hulle kan nogal gou uitgeput raak. Die kerk het oor eeue heen diep nagedink oor die geestelike weg en ‘n mens sal baie stemme hoor van mense wat diep nagedink het oor lewenskwessies. Die kerk het ook krities gekyk na baie godsdienstige uitsprake wat namens God gedmaak is. Die kerk het dus deeglik die “geeste” getoets en op die proef gestel.

Dit het nie altyd maklik gegaan nie. Lang gesprekke, groot debatte, intense argumente was nodig voordat die kerk ingesien het dat slawerny verkeerd is, dat die liefdesgebod nie met rassisme te rym was nie en dat vroue voor God gelyk is. Vroom, baie vroom mense is slegs deur dekades van gesprekke en preke en geskrifte gebring tot bekeringservaringe waarin hulle belangrike vooroordele moes prysgee (Petrus oor die heidene!) ‘n Private spiritualiteit wat eintlik maar een of ander goeie gevoel is, is iets anders as die geestelike lewe wat eerbied vir die lewe het of wat ten alle koste geregtigheid soek. As ‘n mens op jou eie is, kan dit maklik gebeur dat jy hierdie kritiese denke ontbeer en dus die foute maak wat mense oor eeue heen leer vermy het. Jy laat jou nie beleer nie en jy sal ook nooit anders dink nie.

Laastens kan ‘n spiritualiteit sonder die kerk ‘n selfsugtige lewenswyse bevorder. Te maklik redeneer die geestelike mens dat die belangrikste vir hom of haar ‘n gevoel van geluk, innerlike tevredenheid en vervulling is. Dit word, in die woorde van Schneiders, ‘n soort naïewe narcisme. Mense is nie meer ingestel op ander nie. Hulle word makliker blind en doof vir die nood van minder-bevoorregtes. Hulle laat ook nie toe dat hulle in hul selfsugtigheid en soms ook in hul arrogansie uitgedaag en gekorrigeer word nie. Hulle raak ook al hoe alwetender: hulle weet so goed wat God besluit het. Dikwels stem God se wil nogal taamlik volmaak ooreen met hulle eie wil. Hulle weet wat God dink, en dikwels stem God se denke ook nogal taamlik noukeurig met hul eie gedagtes ooreen. En al is ‘n goeie, eerlike persoon bereid om na ander te luister en in hul standpunte getoets te word, is dit iets anders as wanneer iemand deur die godsdienstige instelling of kerk tot verantwoording geroep word.

Godsdiens kan ‘n baie vrugbare konteks vir spiritualiteit wees. Nie net vir die individu nie, maar ook vir groepe. Om na God se wil te soek en om te verlang na eenwording met God is nie altyd ‘n simpel saak nie. Dit is te belangrik om hierdie soeke en verlange te reduseer tot ‘n private saak. En dikwels het die soeke en verlange soveel moeilike en ingewikkelde kante, dat ‘n mens dit alleen maar saam met ander kan bedink en ervaar.

Dit beteken nog glad nie dat ‘n mens jou gewete moet laat verkrag nie, of dat ‘n mens jou integriteit moet prysgee nie. Altyd weer, skryf Schneiders, moet ‘n mens jou kritiese intselling teenoor godsdiens en teen die kerk behou. Ons moet nie te swaar aan die kerk of aan godsdiens dra nie. Maar ons moet ook nie te lig oor ons eie spiritualiteit dink nie. Dit is wanneer ons in die kerk bly dat ons bydrae daartoe dat die kerk nie afdwaal van die geestelike reis nie. En wanneer ‘n mens dit doen, het ‘n mens die voorreg dat ‘n mens kan deel in groot rykdomme wat godsdiens en die kerk tog nog kan bied – ten spyte van al die foute van die kerk.

 Hierdie deel van Schneiders se artikel vul op insiggewende maniere die gesprek oor wat spiritualiteit is, in. Heel duidelik is spiritualiteit baie meer as net ‘n persoonlike ervaring en emosie. Dit is meer as net ‘n persoonlike reis met God. Spiritualiteit soek na verstaan, na weet, na insig, na toetsing, na rypheid, na gemeenskap met ander, na self-hervorming, na gedurige groei – hoe moeilik dit ook al is en hoe ingrypend dit ook al van jou kan vra om baie geliefde standpunte prys te gee. Spiritualiteit is oop vir die roede van kritiek, vra ook gehoorsaamheid, vra omgee vir ander. Spiritualiteit wil ook geanker wees in die liggaam van Christus, in die kerk, in die wysheid van die eeue, in die gemeenskap van heiliges – hoe waaghalsig dit ook al mag wees.

Heelwat motiewe word op die manier gesuggereer as wesenlik aan Spiritualiteit.

Blog Archive