Saturday, September 22, 2012

Om sommer net bly te wees. Oor die spiritualiteit van vreugde (5)


Vreugde, dink ons soms, is dalk meer die uitsondering as die reël in die Bybel. Godsdiens word mos geasssosieer met ernstigheid, sedigheid, selfs swaarmoedigheid soos in saamgeperste lippe.

Daarom is dit ‘n hele ervaring om die spiritualiteit van vreugde na te gaan en om te sien hoe belangrik blydskap vir ons geestelike voorouers was.

Dit is daarom vir sommige mense goed om te sien dat die Ou Testament vol is van mense se blye getuienis oor alles wat God vir hulle gegee het, oor die voorreg wat hulle gehad het om die Wet te ken en uit te leef en oor die besoeke wat hulle aan die tempel gebring het, of oor die vreugde wat hulle gehad het oor God se teenwoordigheid by hulle tot in die allerlaaste van dae.

Maar nou sal mens kon dink dat vreugde bietjie “ver-godsdienstig” word. In al die dinge wat hierbo genoem is, word blydskap veral met God en die dinge van die Here verbind.

Dit is goed om dit te weet en dit is belangrik om te onthou dat godsdiens in vele opsigte ‘n blye saak was.

Maar daar is meer aan blydskap. Vreugde is lank nie net ‘n godsdienstige saak in die Bybel nie Want die Bybel kan op ‘n heel waarderende manier praat oor nie-godsdienstige blydskap. 

Die Bybel praat, lyk dit my, dikwels en graag oor die vreugde om sommer net bly te kan wees. 

Suurheid is nie 'n kenmerk van spiritualiteit nie. Lang gesigte en godsdiens hoort nie noodwendig bymekaar nie. 

Mense wat bly is in God, in die Wet, in die erediens en oor die vreugdevolle einde van ‘n mens se lewe, is doodgewoon ook in vele ander normale dinge bly.

Die Ou Testament praat van gewone, selfs aardse vreugde. Dit kan soms verrassende wendingen neem: Neem maar as die bekendste hiervan, en ook die spesiale, die boek oor liggaamlike liefde. Hooglied is ‘n boek wat uitbundig praat oor intieme, konkrete liefde tussen mense wat naby aan mekaar leef en diep bly is daaroor (3:11). Die intiemheid van liggaamlike liefde kan vir ‘n mens vervullende blydskap gee.

Ook die geboorte van kinders is iets wat mense bly maak (Ps. 113:9). Die gelowiges van die ou bedeling het verder veel vreugde gehad oor sulke dinge soos die oestyd, wanneer die vrug van die land ingebring word en die skure vol geraak het (Jes.9:2). Hulle is bly oor aardse dinge wat vir hul lekker is en vir hulle voorspoed beteken. In Psalm 104:15 is daar hierdie aardse woord:

Die Here gee “dat wyn die mens se hart kan bly maak,” dat ‘n mens se “aangesig blink van die olie,” dat brood die mens se hart versterk.”  Die gewone aardse dinge soos wyn, olyfolie en brood bring genot in ‘n mens se lewe.

In die Bybel vier gelowiges baie dinge van die lewe. Hulle is bly oor aardse dinge. Wie God ken, waardeer die gewone lewe met vrolikheid en opgewektheid.

Hulle weet: Die Here gee die lewe en voorsien in dinge wat die lewe moontlik en bly maak. Hieruit volg die blye hart.

Blydskap hoef nie net “godsdienstig” te wees nie. Wie die Here ken, weet baie ander dinge word goed en mooi en inspirerend. Die aarde en alles wat daaruit voortkom, kan ‘n mens bly maak.

En tog, die gewone vreugdes van die lewe, wat ons nie altyd bewustelik geniet nie, is vreugdes wat soveel sterker ervaar word wanneer ‘n mens se hart in God geanker is.


Friday, September 21, 2012

Vreugde tot op die alle einde. (4).


Vreugde is van die vroegste tye af vir Ou-Testamentiese gelowiges ten nouste verbind met die toekoms.  Een van die bekendste gedeeltes is Jesaja 35:2-3 en 10:

Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron. Israel sal die mag van die Here sien, die koninklike mag van ons God.
Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn.

In Jesaja 51:11 staan:  

Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees, ellende en smart sal verdwyn.

In Jesaja 65:18 staan:

Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan 'n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê.

Die geestelike reis word deur hierdie beelde besonder lig: dit is ‘n reis wat eindig in die stad van God, by God, maar in totale blydskap. Van die begin, maar veral tot die einde voorsien gelowiges blydskap. 

Eindeloos is die vreugde om met God op reis te wees. 

Dit is die begin en veral die einde van alles.

Thursday, September 20, 2012

Gereeld in blydskap by God. Oor vreugde en spiritualiteit (3)

-->
Dikwels vra mense wat spiritualiteit is. In antwoord daarop sal ‘n mens ‘n groot klomp aspekte kan lys van sake wat in spiritualiteit na vore kom. 

In Christelike spiritualiteit speel duidelik en veral blydskap ‘n belangrike rol. Spiritualiteit in 'n Bybelse konteks kan nie daarsonder verstaan word nie.

Die verhouding met God het mense se lewens eerstens lig gemaak, deurtrek met vreugde in die teenwoordigheid van die Here in hul lewens. Dit het hulle, tweedens, bly gemaak om te kan vasstel wat God vir hul lewens wou gehad het. Nie hulle begeertes nie, maar God se begeerte was in hul fokus. Daarom was dit vir hulle sinvol om te soek na hoe hulle God se wil kan ken en kan uitlewe.

Dit was maar twee kante van hul geloofsvreugde. Ten nouste hiermee saam het gelowiges ook, derdens, vreugde gehad in die kultus en die feeste. Hulle “eredienste”, hulle tye van offerandes in die tempel en hul gereelde rituele het ook vir hulle bly gemaak. Dit kom sterk na vore in hulle geskrifte.

Daardeur het vreugde eintlik 'n instelling geword, 'n gereelde en kenmerkende aspek van hul gemeenskaplike byeenkomste.

Wanneer gelowiges bymekaar was om hul geloof te vier, het dit steeds weer met blydskap gepaard gegaan.

Barton verwys byvoorbeeld na Psalm 95:1-3 wat uitroep: “Kom, laat ons vir die Here sing. Laat ons vreugdevol uitroep tot die rots van ons heil. Laat ons in sy teenwoordigheid met dankbaarheid ingaan. Laat ons vreugdevol uitroep met prysliedere. Want die Here is ‘n groot God en ‘n groot Koning bo alle gode.”

Hiermee word duidelik dat die tempel-byeenkomste, die bring van offers intens beleef is as tye van blydskap. Veral wanneer hulle die offermaaltyd geëet en gedrink het, was dit vir hulle ‘n vreugdevolle ervaring.

Die offers en offermaaltye het gereeld plaasgevind. Dit was hulle rituele wat hul vreugde in hul verhouding in en vertroue op God versterk het en wat hulle keer op keer herhaal het.

Vir die gewone gelowige was hierdie vieringe en hul godsdienstige handelinge wat daarmee saamgehang het, besonders. Die gee van hul tiendes, die viering van loofhuttefees en die hou van Pinksterfees wat met die vieringe gepaard gegaan het, was vir hulle nie ‘n plig of inspannend nie. 

Spontaan het vreugde hulle gebring tot vieringe en spontaan het die vieringe vir hulle bly gemaak. 

Dit was ‘n aktiwiteit waarin elkeen, ook saam met ander, elke keer weer, opnuut, die eenheid tussen God en die skepping, die gawe van verlossing en die ontvangs van die beloofde land uit God se hand gevier het. Keer op keer het hulle by hierdie tye en geleenthede hulle daaraan herinner hoe nou hulle aan God verbonde was.

Maar dit was nie ‘n vreugde wat hulle uit die wêreld laat ontvlug het nie. God was aan hulle, in hulle tyd en in hulle plek verbonde. Hier noue, intieme verhouding met God het hulle met nuwe oë laat kyk na hulle self, hul tyd en hul wêreld.

Dit is ook om hierdie rede dat, veel later, in 'n Nuwe-Testamentiese konteks, die nagmaalsformulier uitdruklik uitspel dat die nagmaal ‘n vreugdefees is. Hier, ook in die somberheid van die Laaste Maal, word gevier, geprys, gesing, en op vele maniere uitdrukking gegee aan die groot gedagte van God se noue verhouding met die mens. Uiteindelik kan ‘n mens verby die dood van Jesus, verby die offerandes heen, die groter, dieper realiteit vier dat ‘n mens nader kom aan God, dat alles wat ‘n mens herdenk vertel van God se koms in liefde tot die skepping.

Tuesday, September 18, 2012

Vreugde - oor die wet!


Vreugde, vreemd genoeg vir huidige lesers van die Bybel, word in die Ou Testament sterk met die wet verbind.

Vir mense wat nie hou van ‘n “wettiese” lewenstyl en van moraliste wat vashou aan allerhande reels en regulasies nie, is dit byna ondenkbaar dat ‘n mens in die wet vreugde kan vind.

En mense wat Galasiërs lees, het nog teologiese rede’s ook om die wet op 'n afstand hou: Paulus waarsku, dink hulle, dat ‘n mens die vryheid wat in Christus aan mense geskenk is, kan prysgee vir ‘n hernude lewe onder die wet.

Maar in die Ou Testament het gelowiges ‘n groot vreugde in die onderhouding van die wet gehad. Kyk maar, skryf Barton, na Psalm 119:14-16 se uitbundige vreugde:

“Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte. U woord vergeet ek nie.”

Hier moet 'n mens goed lees: die vreugde is nie bloot maar net in die voorskrifte van die wet nie, Direk praat die Psalmdigter met God in die tweede persoon: 

Eintlik gaan dit om vreugde in God, die gewer van die wet.

‘n Mens word getref deur die fokus op die “U” in hierdie gedeelte. Die een wat die wet onderhou, wil alles wat God begeer, nastreef. Die hart en sy blydskap is verbind aan “U verordeninge”, “U bevele”, “die pad wat U aanwys”, “u voorskrifte”, “u woord.” “U” staan in die sentrum en word die hart van die saak.

Hier is die vreugde groot omdat die mens se lewe ingestel is en in lyn is met die wil en die weg van God. Dit is nie bloot die wet nie, maar die wet wat van God kom, wat saak maak. Die wet vertel van God se begeertes, waarna God verlang.

Die een wat die wet onderhou, doen dit om deel te kry aan wat God vir die skepping en vir die mens wil. Deur God se wil te doen, kom die beeld van God al hoe sterker in die mens na vore. Op die manier deel ‘n mens in die lewe wat God begeer.Die wet bring 'n mens nader aan God.

Deur hierdie ingesteldheid word die mens se lewe gevorm deur die verhouding met God. Deur aan God verbind te wees, word alle kante van ‘n mens se lewe gereinig, gesuiwer en geheilig.

Om die wet te gehoorsaam, bring ‘n diepe sin van vervulling. Dit is rede tot blydskap.

Monday, September 17, 2012

Vreugde in God. Oor 'n kernwoord in spiritualiteit.


'n Mens hoor dikwels kritiek oor die vreugdeloosheid van gelowige mense. Somss skrik dit mense af. Soms kwel dit gelowiges dat hulle self so min vreugde ervaar.  

In spiritualiteit speel vreugde inderdaad 'n groot rol en kan selfs as 'n kernwoord van die geestelike lewe beskou word. 

Dit is daarom die moeite werd om dit nader te bekyk. 

Die Ou Testament praat dikwels van vreugde en ken daaraan 'n besondere plek toe.

Dit is boeiend om te sien war vreugde orals voorkom. Daar is eerstens blydskap in God en in die verlossing wat God aan mense skenk, skryf Barton. Die Psalms praat dikwels hieroor. God gee ryklik aan mense en daardeur kom die volk van God tot stand. Vreugde is dus die gevolg van 'n verhouding met God.

“Laat almal wat by u skuil bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm die wat by U skuil en hulle juig oor U,” vertel Psalm 5:12. God gee beskerming, skuiling en dit raak mense besonder diep.

God gee om en daarom juig mense.”Wie op die Here vertrou, die omvou die Here met liefde. Verbly julle in die Here en juig, geliefdes. Jubel alle opregtes” (Ps.32:11).

Vreugde is so belangrik dat gelowiges aangesê word om bly te wees. Wie aan God behoort, kan nie stilbly nie. Hulle moet hulle verbly. Dit is ‘n besondere, intense vreugde. Daarom kom die vreugde na vore in gejuig en wanneer gelowige mense jubel, sing of dans.

Wie aan God behoort, voel en ervaar dit. Dit bring pure, selfs uitbundige vreugde. As die vreugde nie daar is nie, moet dit gesoek word.

Mondvol.

Sunday, September 16, 2012

Soms is dit nodig om kwaai te wees. Soms moet 'n mens uitstyg bo die kleinlike. Oor die gawe van onderskeiding


Paulus staan dikwels bekend as die kwaai apostel wat sy opponente lelik kan bykom. Soms lyk dit asof hy selfs oorboord gaan in sy heftige teenkanting teen mense wat van hom verskil.

Neem byvoorbeeld sy brief aan die Galasiërs. Daarin verwerp hy die boodskap van ander gelowiges wat die Evangelie verkondig het. Hulle “Evangelie” is nie ‘n Evangelie nie (Gal.1:6-7). Die mense wat daardie boodskap verkondig is, skryf hy, vervloek en dwaas (Gal.1:8-9; 5:10). Sterk en kwaai is Paulus se kritiek teen hierdie mense.

As ‘n mens aan die ander kant Paulus se brief aan die Filippense lees, is Paulus heel anders teenoor mense wat van hom verskil. Volgens Filippense 1:15-18 is daar mense wat Christus uit afguns en naywer verkondig. Hulle motiewe verskil van ander predikers wat deur die liefde gedryf is. Maar, skryf Paulus, ten spyte van al die verskille en van die bedenklike motiewe van sommige, is die belangrikste dat Christus verkondig word.

Filippense is die brief van liefde en vriendskap geskryf deur Paulus in moeilike omstandighede op ‘n laat stadium van sy lewe. Al is mense nie altyd suiwer in hul motiewe nie, is die belangrikste dat die egte Evangelie gehoor word. In Galasiërs is dinge anders: Paulus is die jong prediker wat die boodskap van bevryding in Jesus moet beklemtoon. Niks moet gebeur wat mense van die Evangelie afsny nie.

In albei gevalle, sien ‘n mens tog, is die belangrikste dat die lig van Christus se lewe en boodskap onaangetas bly.

En tog: selfs al verstaan ‘n mens dat Paulus kon sien en kon onderskei wanneer om mense aan te vat, bly die verskil opvallend. Paulus is die mistagoog, die een wat mense op hul geestelike weg begelei en wat daarop ingestel is om hulle tot geestelike volwassenheid te bring. In die proses kan hy self buigbaar wees, verdraagsaam, akkommoderend. Ander kere weer vreesloos. Maar steeds weer gaan dit om die geestelike welsyn van mense wat saam met hom die geestelike weg loop.

Blog Archive