Sunday, November 18, 2012

Verkrag op Goeie Vrydag


Verkragting, sal die meeste mense verstaan, is ‘n uitermate traumatiese ervaring.

Daarom is dit nie ‘n verrassing toe die spiritualiteitsbyeenkoms wat oor trauma handel, vanmiddag ook ‘n referaat daaroor bevat nie.

Maar dit was tog ‘n skok vir sommige mense in die gehoor toe die spreker, ‘n psigo-terapeut, ‘n referaat met ‘n gevalle-studie oor die verkragting van ‘n man aanbied. Dit is iets wat nie inpas in mense se verwysingsraamwerk nie.

Die 28 jarige man, ‘n jeugwerker wat in ‘n arm buurt geestelike werk gedoen het, is een oggend toe hy juis besig was met sy taak, deur twee groot rowers met ‘n pistool aangehou en verkrag.  Dit het hom so getraumatiseer dat hy post-traumatiese stress ontwikkel het.

Die psigoterapeut  bespreek hoe hy daarna deur fase’s gegaan het:

Hy het as ‘n toegewyde kind in ‘n streng huis grootgeword waar sy ouers vir hom alles feil gehad het en vir hom die volmaakte kind wou maak. Daarom  het hy ook nooit eintlik enige geestelike kwessies in sy lewe gehad nie. Hy het aanvaar wat in sy lewe gebeur het, wat dit ook al was. Dit was sy "ou ek" met al die geestelike bagasie wat uit die tyd gekom het.

Maar met sy verkragting het daar ‘n ommekeer gekom. Hy, ‘n gelowige, het na die verkragting geworstel met die probleem dat God so iets kon laat gebeur terwyl hy as jeugwerker juis met God se werk besig was.

Die spreker wat die voordrag gee, raak stil. Aangedaan sê sy: “En, om alles te kroon is hy op Goeie Vrydag verkrag.”

Dit is die trauma waarmee hy verskriklik geworstel het.

Haar referaat handel oor die manier waarop hy die trauma gehanteer het. Deur allerhande terapieë kon sy vir hom ‘n ruimte skep waarbinne hy die kwessie kon aanspreek. En mettertyd het hy ook in homself ‘n woede teen God beleef wat. Sy het hom gevra om, wanneer dit met hom gebeur, tekste uit die Bybel te bedink waarin slagoffers van geweld uitvaar omdat God nie vir hulle red in tye van hul noodnie.

Hoewel hy dit op die manier op ‘n manier kon verwerk, kon hy tog ook nie heeltemal daaroor kom nie.

Op ‘n stadium het die vrou droom-terapie ingespan om hom verder te help: hy het vir haar van sy drome vertel sedert hy met die terapie begin het. In een van die drome, vertel hy, het hy die volle ervaring van die dag waarop hy verkrag is, weer beleef.

Maar, vertel sy, daarna het hy in sy droom opgestaan en die twee manne vermoor wat hom verkrag het. Toe sy hom verder invra, vertel hy dat hy homself ook vermoor het. 

Vir die eerste keer sedert die verkragting het hy nie passief aanvaar wat met hom gebeur het nie. Aktief het hy, in droombeelde, ‘n einde gemaak aan die manier waarop hy as die ou ek die situasie gehanteer het. Hy het sy ou ek vernietig en daarmee ‘n nuwe bestaan geskep. Die “moord” van homself was ‘n aggressiewe aksie wat hom sou bevry om aan te gaan met sy lewe.

Die terapeut vertel hoe verbaas sy was: sy het gedink hy sou, nadat hy die twee skurke van kant gemaak het, nou homself aanvaar en met ontferming oor homself optree. Toe ontdek sy met ‘n skok dat hy homself eerder vernietig. Hy het eerder deur aggressie as deur ontferming teenoor homself die probleem opgelos.

Vir haar beteken die geval dat ‘n mens dikwel in situasies beland waarin aggressie ‘n wesenlike rol in jou genesing speel. Eers nadat hy sy “ou ek” aggressief uit die weg sou ruim, het daar ruimte vir groter genesing en aanvaarding gekom.

Ek luister geboeid na haar en staan verstom oor die lyding wat mense ondergaan.

Maar ek voel ook  onvergenoegd.

Ek probeer my vinger op die pols kry, maar dit is nie maklik nie.

Is dit werklik aggressie wat in terapie nodig is? Is die antwoord op geweld net nog meer geweld – al is dit nie “letterlik”-bedoelde geweld nie?

Is dit nie juis die uitstaande betekenis van Jesus se kruisverhaal dat Jesus die lyding wat hom aangedoen is  deur sy transformatiewe , geweldlose optrede omgebuig het nie? Selfs “figuurlike” geweldstaal het nie ‘n plek op Golgota nie.

Dit alles beteken nie dat 'n mens verkragting moet "aanvaar" of "verdur" nie. Wanneer 'n mens weier om toe te laat dat die dade van ander jou lewe vernietig, moet 'n mens nie soos jou verkragters word nie. Selfs nie eers in jou taal nie en selfs al bedoel jy nie letterlik dit wat jy se nie. 


Saturday, November 17, 2012

Om sommer so die wrok agter te laat...


Ons sukkel om vervoer terug na ons hotel te kry. Dis laataand, ons is op die rand van die stad en die buurt is verlate.

Dis herwaarts en derwaarts. Maar oral is almal vriendelik. Ons is geholpe.

Uiteindelik is ons in die taxi. Drie van ons wat die aand se uitstekende besprekings bygewoon het, deel die koste. Dit help om jou begroting binne perke te hou.

Die bestuurder  raak gesellig toe hy hoor watter konferensie ons bywoon. Hy het allerhande stories om te vertel. Op die manier vind ons uit dat hy ‘n enkelpa van twee kinders is.

Maar dit is ons reisgenoot wat die geselskap oorneem. Al die stories  van die enkelpa – taxi-bestuurder juig sy met yerige entoesisame toe. Hy vertel hoe baie hy in die Bybel belangstel en hoe graag hy Israel toe wil gaan.

 Sharon vertel hom dat hy nie vir ‘n oomblik moet twyfel nie. Hy moet definitief gaan. En hy moet sien wat sy ook sien toe sy die afgelope paar jaar daar was. Maar dan moet hy Palestina toe gaan.

Daar sal hy sien hoe mense binne een geslag kan verander.  

Die Palestyne van die eerste geslag mense wat uit Israel uitgesit is, is vandag nog verbitter. Hulle is getraumatiseerde mense wat nie kan vergeet waarvandaan hulle kom nie en wat nie die hardvogtigheid van die Israeli’s uit hulle sisteem kry nie. Hulle mis hul vroeëre blyplekke, sluk nog swaar aan die onmenslike omstandighede waaronder hulle hervestig is en loop met ‘n wrok in hulle rond.

Die stertkant van haar verhaal bly hang aan my hart. Die kinders van hierdie eerste geslag hervestigdes wil niks weet van hulle ouers se bitterheid en wrokkigheid nie. Hulle het nie die trauma van die hervestiging gedeel nie. In hulle gemoed leef niks van die ervarings wat hulle ouers se lewens so ingrypend beinvloed het nie.

Hulle wil net aangaan met hul lewens. Hulle werk en woel om iets te bereik.

Sharon vertel dat sy dikwels in trane was oor die verhale van menslike trauma wat aan haar oorvertel is Maar dan was daar ook die aangrypende ervaring van ‘n nuwe geslag wat nuut wil begin en in die proses heeltemal anders as hulle ouers dink.

Van al die baie gesprekke in vanaand se konferensie oor 20 jaar se studie van spiritualiteit, bly hierdie woorde my by.

Hoe alleen is ‘n mens nie as jou kinders nie jou trauma met jou deel nie.

En tog, hoe bevrydend is dit nie om die verlede te kan agterlaat – so skielik, so sonder rede, so argeloos.

Thursday, November 15, 2012

Wêreldsgoed


Die vrou wat die sitplek langs my het, groet stil as ek langs haar gaan sit. Sy is ‘n mooi vrou met fyn gelaatstrekke. Boonop kan jy haar deur ‘n ring trek. Sy het duidelik netjies haar Sondagklere vir die reis aangetrek.

Dit is, soos gewoonlik, ‘n gesukkel om jou sit te kry en alles tot bedaring te organiseer.

Net as ek alles in plek het, oorval ‘n dors my. Ek het ‘n bottel water by my waarmee ek al ‘n hele ent op die warm dag gestap het. Gelukkig is dit nog lekker vol.

Dus pak ek dit en draai dit oop.

Met die draai, klink dit asof al die sluise van die Gariep-dam oopgetrek word. Die water spuit des te sterker deur die halfoop prop. Na alle kante toe,

In ‘n sekonde of wat is die leë sitplek langs my sopnat, my broek het groot nat kolle en die water tref die tannie orals op haar kerkrok..

Sommige dinge kan ‘n mens ongedaan maak, as dit jou so smadelik oorval. Dit doen jy dan blitsvinnig en met oorgawe.

Ander dinge, weet jy, onmiddellik, met ‘n sinkende gevoel, is gedane sake. Jy moet maar net aanvaar. En probeer goedmaak wat onredbaar is.

Ek gryp desperaat na my sakdoek in my broeksak. Daar ontdek ek gelukkig ook twee tissues. Ek droog op, vra verskoning, troos dat dit gelukkig net water is en kyk desperaat om my om te sien waar my hulp vandaan sal kom.

Ek weet mos hoe vroeg vanoggend sy al vir die reis aangetrek het. Hoe sy alles in plek gekam en afgestof en gepoeier en gepaint het.

Maar tog: Die tannie, 86 jaar oud, vind ek later uit, sit ongestoord. Daar is nie ‘n wolk op har gesig nie. Geen knyplippe nie. Nie ‘n enkele verwyt nie.

Inteendeel.

Sy bekyk die hele storie kalm en bedaard. En dan sê sy, rustig, ongesteurd, 'n enkele sinnetjie:

Toe maar, dis wêreldsgoed.

Ek hoor my oupa en my ouma in daardie woorde. Ek maak ‘n rondte van Vader Cloete by hulle wat so dikwels in daardie modus gedink en gepraat het. Ek is weg, onmiddellik, in kinderdae, in ouwêreldse vroomheid, volkswysheid van mense wat nie oordadig geleef het nie, goed na alles gekyk het en vir hulle self versorg het, maar wat altyd geweet het daar is iets groters en belangrikers as aardse dinge.

Hoekom het daardie frase in onbruik geraak? Wat is fout met ons dat ons sulke taal verloor het?

Die dag, besef ek, dankbaar, het vir my te midde van die smadelike goed begin…

Later aan die einde van ons reis, as onbekende bure in ‘n gedeelde ry, toevallig bymekaar uitgekom, groet ons. Die gemorste water het verdamp. Vriendelike, gesellige woorde het ons reis soos ‘n oomblik laat voel. Ek groet haar. Asof ons mekaar al jare ken. 

Ek stap weg, anders gemaak, getransformeerd, deur gemorste water. 


Wednesday, November 14, 2012

Geruk deur lyding. Oor die ware evangelie...




Die Evangelie gaan oor lyding. Dit is nie ‘n vae boodskap oor vergifnis van sonde wat iewers in die lug hang nie. Wanneer Jesus oor sy lewe praat, praat hy van die kruis, van sy dood en van sy self-gawe.

Die Evangelie is ‘n verhaal van Jesus wat Homself tot die dood toe by mense in hul onverdiende lyding skaar.

Dit, vertel Jesus wanneer hy oor geloof praat, doen die Samaritaan ook wanneer hy “innig jammer” voel as hy die gewone man sien.

Daar is wêrelde van betekenis in die “innig.”

Die Samaritaan verloor homself heeltemal in die lyding van die gewonde mens. Hy “gaan na” hom toe. Hy behandel sy wonde met olie en wyn. Hy verbind sy wonde. Hy doen nog meer: Hy tel hom op sy rydier. Hy neem hom na ‘n herberg. Hy “versorg” hom verder. Hy gee aan die herbergier geld om die man verder te versorg. Dit is een daad van ontferming na die ander.

Die grootste deel van die vertelling van die Barmhartige Samaritaan gaan oor alles wat hy doen om die lyding van die gewonde man te versag.

Eggemeier wys daarop hoe Sobrino en Metz die opmerking van Lukas uitlig dat die Samaritaan “innig jammer” vir die gewonde man was toe hy hom in die pad sien lê het.

Dit alles beteken: ‘n mens moet nie net lyding kan raaksien nie (teenoor die priester en die leviet se argeloosheid). Dit gaan om veel meer. ‘n Mens moet iets aan lyding doen omdat dit so diep in jou lewe insny en die lyding deel laat word van jou tot in jou ingewande in.

Dit is ook nie ‘n louwarm daad van ontferming wat uit ‘n mens opkom nie en wat maar jou deel en lot is omdat jy ‘n goeie mens is nie.

Die uitreik na ander raak jou omdat hulle lyding jou in die binneste dele van jou innerlike mens-wees ruk.

Dit is asof jy self geslaan word. Wat met mense gebeur wat ly, gebeur met jouself. As die een deel van die liggaam swaarkry, kry die res ook swaar – so het Paulus dit geformuleer.

Wanneer ‘n mens na die gewondene kyk, is dit asof jy sê: “Wat het ek gedoen om hulle te kruisig? Wat doen ek om hulle kruisiging tot ‘n einde te bring? Wat moet ek doen sodat hierdie mense uit die dood kan opstaan?”

So, vertel Eggemeier, praat Sobrino saam met ander denkers.

Wanneer ‘n mens hieroor begin nadink is dit ‘n proses van self-ontlediging wat plaasvind. Jou eie belange word eenkant geskuif.

Maar hier moet ‘n mens weer na die kern van alle dinge terugkeer: Sonder enige bedoeling, reik ‘n mens uit.

Jy gaan staan stil, geskok deur die tol van die sonde, deur rowers se bose dade, maar veral deur die rou wonde wat daaruit opkom.

Jy reik uit - bloot net omdat iemand baie seergekry het.

Jesus se Evangelie word in die Gelykenis van die Samaritaan saamgevat. Jesus sê immers self aan die einde daarvan: “gaan doen jy net so.”

Dit is God se wil vir sy wêreld.

Tuesday, November 13, 2012

Lyding laat 'n mens geen keuse nie. Oor spontane spiritualiteit

Spiritualiteit gaan om dit wat die allerbelangrikste in die lewe is. 

Die Priester en die Leviet in die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan was gelowige mense wat hulle lewens aan die Here gewy het. Daar was goeie redes waarom hulle ‘n wye draai verby die gewonde man gestap het.

Die gelykenis is baie spesifiek: die Priester en die Leviet het die wye draai om die gewonde man geloop toe hulle hom “gesien” het (Luk. 10: 31 en 32).

Sienende blind. Hulle het belangrike dinge gehad om te doen.

Hulle was toegewyde mense wat belangrike diens in die tempel gelewer het. In hulle tyd het mense hulle daarvoor gerespekteer. 

In die proses het hulle die allerbelangrikste van dinge misgekyk.

Die Samaritaan het wel raakgesien wat regtig saak maak. Hy was geen geestelike nie, ook nie ‘n teoloog nie. Hy het doodgewoon die gewonde man kaal en halfdood langs die pad “sien” lê (Lk. 10:30). Hy het gesien dat die man skaars asemhaal, dat bloed uit sy wonde stroom en dat hy hulpeloos langs die pad lê.

Daar staan ook duidelik: hy het op die gewonde man “afgekom” en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.

Die Samaritaan huiwer nie. Die swaar lyding van die gewonde man roer hom. Sy innerlike bestaan word omgekeer deur wat hy ervaar. 

Die halfdood, kaal mens op die gevaarlike pad van rowers word vir die Samaritaan die allerbelangrikste saak in die wêreld. Hy kan aan niks anders dink nie. Sy gevoelens oorweldig hom. Onmiddellik, sonder om te huiwer, kom alles in hom in beroering. Hy het verstaan: hierdie gewonde man het my nodig.

Hy huiwer nie. Hy weeg nie eers netjies af wat hom te doen staan nie. Hy kyk nie rond of die rowers nog in die omtrek is nie. Hy let nie op of dit ‘n Joodse man is nie. Hy dink nie daaraan dat die man hom dalk in ‘n lokval lei of dalk sy vyand is nie.

Hy gaan dadelik na die man om hom te help. Hy voel verantwoordelik vir hom, skryf Eggemeier, as hy praat oor Metz se perspektief op die Evangelie van lyding. 

Dink net: 'n mens ontferm jou, bloot net omdat jy iemand anders sien ly. Dit is egte spiritualiteit.

Monday, November 12, 2012

Die eerste groot taak van Christelike Spiritualiteit


Waaraan moet 'n mens in Spiritualiteit die hoogste gesag toeken? Wat is dit wat 'n mens heel eerste op jou geestelike reis moet raaksien en gehoorsaam?

Hier is 'n antwoord:

Jon Sobrino, die Suid-Amerikaanse teoloog, skryf hoedat hy op ‘n dag besef het dat sy Westerse teologiese opleiding hom in ‘n “dogmatiese geslaap” laat verval het.

Toe hy in sy land terugkom en die onmeetlike ellende van armoede en lyding gesien het, het hy besef dat sy studies hom nooit die wêreld in sy harde werklikheid laat herken het nie. Hy het besef dat hy uit sy slaap van onmenslikheid, van egosentrisme en selfsugtigheid moes opstaan.

En, toe hy uiteindelik uit sy slaap opgewek is, het hy vanuit die ervaring van slagoffers na die wêreld begin kyk. Hy het begin raaksien hoe ‘n proses van verontmensliking 50 miljoen mense elke jaar aan armoede laat sterf.

Hy het besef: wat saak maak, is lyding. Dit is die hoogste waarheid waarmee 'n mens te doen kan kry. 

Die onverdiende lyding van ander is die hoogste gesag vir 'n mens se geestelike reis.  Daaraan kan jy nie verbykom nie. Dit vra heel eerstens jou aandag. Dit is wat op jou lewe beslag lê wanneer jy God lief het.

Ek lees die opmerking met ‘n gevoel van skok. Die 50 miljoen is meer as die Suid-Afrikaanse bevolking.

Ek vat die spoor en sien dat die syfers wissel. Sommige sê dit is 1 en ‘n half miljoen mense. Ander skat dit is 8 miljoen. Ander weer werk uit dat 500 miljoen mense op aarde in absolute armoede lewe. In hierdie geval sterf 15 miljoen kinders elke jaar van honger.

Maar toe lees ek die volgende net oor Suid-Afrika:

There are 18.3 million children in South Africa (4 million in KZN). A disproportionate number of our children (68%) live in poverty (in households with a per capita income below R350), deeply impacting on every aspect of their lives. In a 2005 survey, the poorest 10% of the South African population received 0,6% of total income and the richest 10%, 55.9% of the income. Over 2.6 million children live in backyard dwellings or shacks in informal settlements and 42% of these children are aged between 0 and 5 years old.

The well-known acronym “OVC” suggests that children are vulnerable for a number of reasons of which orphanhood is clearly one of the most significant. Whilst there are an estimated 2.5 million orphans in South Africa, we should not lose sight of the fact that other reasons for vulnerability exist. These include income-poor households, terminally ill parent/s, children who are ill themselves, and neglected or abused children. A recent study, Home Truths: Facing the Facts on Children, Aids and Poverty, found that, as orphans are more likely than other vulnerable children to be taken into the care of extended families, “poverty is equally endemic to non-orphans, if not more so”.

Orphans are categorised as children who have lost either a mother (maternal orphans), a father (paternal orphans) or both parents (double orphans). Of the 2.5 million orphans in our country, 4% are double orphans. Surveys show that older children are more likely to have deceased parents. In the South Africa Demographic and Health Survey done by the Department of Health in 2003, 16.2% of children aged 14 years old and under were orphans and the largest percentage of orphans in this age group, relative to the number of children in the Province, were in KZN where 21.2% were orphans.

According to 2007 surveys, there were 148 000 children living in 79 000 child-headed households throughout South Africa, 39% of which were orphans. However, double orphans make up only 8% of these. The focus on HIV/Aids masks the fact that other social realities, like the need for many parents in rural areas to migrate to cities to find work, contribute to child-only households.

HIV/Aids
In 2008, there were an estimated 280 000 children living with Aids in South Africa and about 1,4 million Aids orphans, who had lost one or both parents to HIV/Aids. Children of HIV-positive parents however face significant vulnerabilities long before their parents die. With diminished income and increased medical costs, they suffer further deprivation, including less food for the family.

Sobrino dink na oor die oewerlose lyding in sy land. Onverdiende lyding. In lyding en armoede ontvang en gebore.

Hy verwys dan na Lukas 10:29-37 en Matteus 25:34-40. 

Ons het nie geweet nie. Ons het nie gesien nie. Ons was nie bewus nie.

Dit was die standaard-antwoord toe Jesus oor die geestelike reis van onnadenkende mense gepraat het. Die lyding dring nie tot mense deur nie. Hulle loop, priesters en Leviete, rustig daarby verby.

Hoe gebeur dit dat ‘n mens nie draaie om lyding loop nie – soos die priester en die Leviet? Hoe gebeur dit dat ‘n mens intuïtief, sonder om te dink, uit jou pad gaan en by die lydende persoon gaan neerkniel om wonde te verbind?

Hoe weet ‘n mens jy moet dit doen? Hoe sien ‘n mens die lyding raak? Hoe kom ‘n mens tot daardie bewussyn?

Boeiende vrae. 

Eggemeier skryf hieroor: Die fundamentele taak van Christelike Spiritualiteit is om wakker te word, jou oë oop te maak en eerlik oor die werklikheid te wees deur die absolute gesag te herken van hulle wat onverdiend ly.

As jy eers dit besef het, word jy, voorheen gesus deur 'n vroom teologie, wakker uit jou slaaproes. 

 

Sunday, November 11, 2012

Te liggies verby lyding. Die hart van die evangelie vir ons tyd.

Lyding is nie 'n gewilde tema by ons nie. 'n Mens neig om dit te vermy. Dit bring donkerte in jou lewe. Dit laat jou dink aan God wat straf. Dit is geneig om jou lewe te bemoeilik, om jou tyd te steel en van jou veel te vra.

Maar tog: Lyding het so ‘n omvang aangeneem dat dit die nadenke oor die identiteit van Christen-wees ingrypend beïnvloed. Dit wil sê: as jy nugter is, as jy goed kyk, as jy met oop oë deur die lewe gaan. Niemand kan met twee voete in ons wêreld staan sonder om te dink wat al die lyding vir hom of haar as gelowige beteken en inhou nie.

'n Mens sou selfs kon sê: Spiritualiteit en die teologie verloën hulself wanneer hulle  lyding onderskat of tot 'n randverskynsel laat verword.  Egte spiritualiteit vra dat 'n mens die volle omvang van lyding sal besef en aanspreek. 

Dit besef ek terwyl ek ‘n boeiende artikel van Eggemeier oor die mistiek van geopende oë en oor ontferming vir ‘n lydende wêreld lees. Die mistiek, die nabyheid aan God, vra van gelowiges om die wêreld en sy lyding voluit in die oë te kyk.

Wat tel, in spiritualiteit en teologie, is immers hoe ons kyk na wat om ons omgaan. Dink maar aan die Barmhartige Samaritaan. Op 'n mistieke manier het hy eenvoudig net wawyd oop oë vir die lyding van die gewonde man wat langs die pad lê.

Ons kan egte kwessies heeltemal miskyk, net soos die priester en leviet. Hulle was spirituele mense wat allerhande vroom gebruike en geestelike oefening gehad het. Maar hulle het nie 'n oop oog en hart vir lyding gehad nie.

En as 'n mens begin nadink, is daar genoeg rede vir ons om in ons tyd terug te skrik van wat om ons omgaan. 

Die Jode-slagting in Duitsland, die moordtogte in Kambodja, Rwanda en in Sirië, die terroristiese aanslae in New York, Irak en die Midde-Ooste met hul tonele van ekstreme geweld het ‘n onuitwisbare stempel op die mensdom gelaat. 

Net so sorgwekkend is dit om te kyk na wat armoede aan mense doen: juis onlangs en tans met die stakings in ons land het mense bewus geraak van die oewerose ellende waarin mense hulle bevind wat nie meer met hul karige inkomste ‘n menswaardige lewe kan lei nie. Hulle is desperaat, desperaat tot geweld toe. Stories van armoede wat mense totaal dehumaniseer, laat 'n mens skrik.

Wie spiritueel wil nadink, kan nie maar ligweg oor lyding verbyloop nie.

As gevolg hiervan het bekende teoloë soos Metz en Sobrino die probleem van lyding as die sentrale tema vir kontemporêre teologie uitgewys.

Sodra ‘n mens sien wat lyding aan mens en wêreld doen, lees ‘n mens die Bybel met nuwe oë. Dit doen Metz en Sobrino. Hulle herlees die Evangelies en, skryf hulle, hulle sien hoe Jesus in die eerste plek op mense se ekstreme lyding fokus. Dit is, byvoorbeeld waarom Jesus praat van die Samaritaan. En waarom hy mense aanraak om hulle te genees van hul swaarkry.

In navolging van Jesus is gelowiges se primêre taak om sensitief te wees vir lyding. Niemand kan meer teologie bedryf, skryf Metz, onbesorgd of onsensitief vir die ekstreme lyding waarin ander mense leef nie.

‘n Mens kan maklik oor versoening praat. ‘n Mens kan groot preke oor sondevergifnis hou. ‘n Mens kan praat oor God wat vergewe.

En terwyl ‘n mens dit doen, kan jy totaal onbewus of onbesorg wees oor die lyding waarin mense in ons wêreld leef. Jy kan groot boodskappe bring oor mense se sonde, oor sondebelydenis en sonde-vergifnis en die evangelie op die manier onbedagd en ondeurdag moraliseer. Priester en leviet wat nie gekontamineer wil word nie.

En dan, langs die pad, lê iemand naby, baie naby aan jou, verwoes deur namelose lyding. Intuïtief weet jy, sê jou hart vir jou duidelik, moet jy, braaf, dapper, uitreik en die wonde verbind en hom versorg. Dit is wat God wil hê. Dit is egte evangelie.

Immers, besef ek terwyl ek nadink oor hierdie verrassende refokus op lyding, is die evangelie per slot van sake, 'n evangelie van die kruis. En die kruis is by uitstek die beliggaming van ekstreme lyding.

Blog Archive