Die
Evangelie gaan oor lyding. Dit is nie ‘n vae boodskap oor vergifnis van sonde
wat iewers in die lug hang nie. Wanneer Jesus oor sy lewe praat, praat hy van
die kruis, van sy dood en van sy self-gawe.
Die
Evangelie is ‘n verhaal van Jesus wat Homself tot die dood toe by mense in hul
onverdiende lyding skaar.
Dit,
vertel Jesus wanneer hy oor geloof praat, doen die Samaritaan ook wanneer hy
“innig jammer” voel as hy die gewone man sien.
Daar
is wêrelde van betekenis in die “innig.”
Die
Samaritaan verloor homself heeltemal in die lyding van die gewonde mens. Hy
“gaan na” hom toe. Hy behandel sy wonde met olie en wyn. Hy verbind sy wonde. Hy
doen nog meer: Hy tel hom op sy rydier. Hy neem hom na ‘n herberg. Hy “versorg”
hom verder. Hy gee aan die herbergier geld om die man verder te versorg. Dit is
een daad van ontferming na die ander.
Die
grootste deel van die vertelling van die Barmhartige Samaritaan gaan oor alles
wat hy doen om die lyding van die gewonde man te versag.
Eggemeier
wys daarop hoe Sobrino en Metz die opmerking van Lukas uitlig dat die
Samaritaan “innig jammer” vir die gewonde man was toe hy hom in die pad sien lê
het.
Dit
alles beteken: ‘n mens moet nie net lyding kan raaksien nie (teenoor die
priester en die leviet se argeloosheid). Dit gaan om veel meer. ‘n Mens moet
iets aan lyding doen omdat dit so diep in jou lewe insny en die lyding deel
laat word van jou tot in jou ingewande in.
Dit
is ook nie ‘n louwarm daad van ontferming wat uit ‘n mens opkom nie en wat maar
jou deel en lot is omdat jy ‘n goeie mens is nie.
Die
uitreik na ander raak jou omdat hulle lyding jou in die binneste dele van jou innerlike
mens-wees ruk.
Dit
is asof jy self geslaan word. Wat met mense gebeur wat ly, gebeur met jouself.
As die een deel van die liggaam swaarkry, kry die res ook swaar – so het Paulus
dit geformuleer.
Wanneer
‘n mens na die gewondene kyk, is dit asof jy sê: “Wat het ek gedoen om hulle te
kruisig? Wat doen ek om hulle kruisiging tot ‘n einde te bring? Wat moet ek
doen sodat hierdie mense uit die dood kan opstaan?”
So,
vertel Eggemeier, praat Sobrino saam met ander denkers.
Wanneer
‘n mens hieroor begin nadink is dit ‘n proses van self-ontlediging wat
plaasvind. Jou eie belange word eenkant geskuif.
Maar
hier moet ‘n mens weer na die kern van alle dinge terugkeer: Sonder enige
bedoeling, reik ‘n mens uit.
Jy
gaan staan stil, geskok deur die tol van die sonde, deur rowers se bose dade,
maar veral deur die rou wonde wat daaruit opkom.
Jy
reik uit - bloot net omdat iemand baie seergekry het.
Jesus
se Evangelie word in die Gelykenis van die Samaritaan saamgevat. Jesus sê
immers self aan die einde daarvan: “gaan doen jy net so.”
Dit
is God se wil vir sy wêreld.