Gedurig
vra ‘n mens die dieper vraag oor wie jy eintlik is en waarheen jy met jou lewe
op pad is.
Die
antwoord hierop kan op verskillende manier bedink word. Wie jy is, hang ten
nouste saam die verhouding wat jy met jouself het, wat vir jou belangrik is en
wat vir jou sin uitmaak. Ons vertel hierdie dinge in verhale oor wie ons is.
Ons praat oor waar ons werk en woon, ons vertel wat ons graag doen en nie doen
nie. Ons verduidelik wat ons in ons omgewing en werk insit en belê. Daardeur onthul ons ons identiteit – wie
ons werklik is en hoe ons onsself sien.
Ons
leef ook nou en intiem saam met ander mense. Hulle lewens raak ons en gee sin
aan ons bestaan. Ons praat dikwels oor hoe ons omgee vir ander, wat ons vir
hulle doen en hoe hulle welsyn vir ons belangrik is. Ook hierin gee ‘n mens
iets van jou identiteit weg.
Maar
dan leef ons ook in ‘n verhouding met God en hierdie verhouding gee verder aan
ons lewens sin en betekenis. Ons vertel hoe God in ons lewe teenwoordig is, hoe
God ons lewens verander en hoe ons in God berusting, hoop en inspirasie vind.
Ons
verhouding met onsself, met ander en met God word die inhoud van al die stories
wat ons vertel oor wie ons is. Mense praat graag oor al hierdie dinge soos dit
in die verlede ervaar is, soos dit in die hede aan die gebeur is en soos hulle
dit in die toekoms sien gebeur. Deur hulle stories op die manier te vertel,
word hulle lewens ‘n netjiese eenheid en ‘n sinvolle geheel.
Hoe
ons oor onsself praat, vertel iets van hoe ons onsself sien en watter
identiteit ons aan onsself toeken.
Op
die oog af, lyk alles so eenvoudig. In ons lewensverhale is ons aan die woord.
Gedurigdeur dink en praat ons “stories.” Ons gee sin aan wie ons is, wie saam
met ons reis en wie God vir ons is deur al die verhale wat ons vertel.
En
dan ontdek ons, as ons goed oplet, in ons stories ‘n Verborgenheid. Ons dink
nog dit is die storie van ons lewe wat ons vertel. Maar dan hoor en begin besef
ons dat dit eintlik God se storie is. Ons weet eintlik nie mooi hoe alles gekom
het tot die punt waar ons is nie en waar ons storie gaan eindig nie. Ons dink
nog een oomblik ons weet wie ons is en waarheen ons op pad is, maar skielik
word dinge omgegooi en is ons op ‘n totaal nuwe, ander pad as wat ons voorsien
het.
Gedurigdeur
moet ons ons lewensverhaal aanpas en oorvertel. Want daar gebeur dinge met ons.
Dit, sien ons in, gaan nie meer om dinge wat “ons” doen of laat gebeur nie. Dit
is nie meer ons storie wat ons vertel nie. Dit word ‘n storie oor wat God met
ons doen.
Soms
sal ons sê: wie het nou
ooit gedink dat ek vandag hier sal wees en sal doen wat ek nou doen nie. Soos
Paulus, na Damaskus. Sy lewensverhaal het ‘n radikale breuk ervaar. Maar wat
hom in die duisternis gedompel het, was niks anders as God se werk nie. Ons
vertel die storie, ja. Dit is ons storie, beslis. Maar dieper, dieper, is dit
eintlik God wat doen.
Ons
kan die storie vertel, maar ons kan nie die storie beheer nie. Om elke hoek en
draai kan ons lewensverhaal radikaal verander. God wag op ons, in onvoorsiene
en onbekende plekke en en op verrassende nuwe maniere loop God met ons ‘n pad. Wanneer
ons dus praat oor ons lewe, praat ons oor transformasie. Ons praat oor die
Verborgenheid wat gedurig nuut oor ons pad kom en ons buite ons gemaksone neem.
Dan word ons in ‘n groter avontuur opgeneem. God neem ons waar ons nooit gedink
het ons sal wees nie.
Wat
ewig bly, is hierdie Verborge ingryping in ons lewens. Altyd weer moet ons
daarom vra: waar is God, waar is die dieper sin in wat in my lewe aan die
gebeur is? Dit is soms pynlik, soms swaar om te moet worstel om te verstaan wat
die sin van die lewe is. Die sekerheid is egter dat God, die Verborgene,
transformatief aan die werk is.
Dit
is waarom geloof gaan: om die onverwagte wendinge in ‘n mens se lewe met
vertroue tegemoet te gaan, wetende dat God steeds weer teenwoordig is.
Geloof
is om raak te sien dat ons lewensverhaal eintlik God se storie is.