Wanneer Paulus en Johannes verslag doen aan die gemeente oor
hul mishandeling deur die Joodse Raad en die pogings om hulle stil te maak
(Hand. 4), begin die gemeente tot God bid.
Dit is hulle eerste reaksie. Om tot God te bid.
'n Mens kan jou inleef in hierdie situasie: wat gaan hulle vir God sê? Wat sal hulle bid? Waaroor gaan hulle met God praat?
In hulle gebed haal die gemeente aan uit Psalm 2:1-2: Waarom het die nasies gewoed en die volke
nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes
het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.
Wanneer hulle met God praat, gebruik hulle eeu-oue woorde van koning Dawid. Sy stem klink in hulle ore op en word die woorde van hulle mond.
Gebed is om in die Skrifte te leef. Dit sien ‘n mens dadelik
by hulle.
In hulle gebed “lees” hulle die Bybel (lectio).
Hulle herinner as te ware vir God met die begin van hulle
gebed aan hierdie verse. Wat Dawid (Hand 4:25) voorspel het, het vir hulle dus
waar geword.
Die Bybel word die skatkis waar hulle gaan soek om hul
omstandighede te hanteer.
Hulle weet, 'n geestelike reis put sterkte uit die geselskap waarin jy verkeer. En vir hulle, op hulle geestelike reis, is die Bybel hulle geselskap. Saam met die gelowiges van alle tye, kom hulle tot God.
Hulle hoor hoe Dawid se stem oor die eeue heen tot in hulle
tyd met hulle praat.
Spontaan verplaas hulle hulself in ‘n Skrifwoord wat lank
voor hulle tyd gepraat is.
So teken Lukas die gemeente: ‘n Bybellesende klomp mense wat
vanuit hulle eie situasie die Bybel lees. Hulle weet van die teks. Hulle ken en
onthou dit. Die teks het vir hulle lewe, dit spreek tot hulle, dit kom dadelik
in hul gedagtes op wanneer hulle hul slegte ervaring met die Joodse Raad het.
Dit is die geheim van Lectio divina: om vanuit die Bybel te
leef – op so ‘n manier dat die woorde daarvan jou woorde word.
Spiritualiteit hou altyd sy oor naby aan die geloofservaring
van die vroeëre geslagte: hulle het ‘n pad met God geloop en hulle het in goeie
of slegte tye wysheid gevind om te volhard. Om te bid, beteken om saam met die
geloofsgemeenskap van alle tye te wees, om "eendragtig" (Hd. 4:24) uit hulle wysheid en lewenservaring
te put. Gebed groei as te ware uit mense se gemeenskaplike reis met God.
Die gelowiges in die vroeë kerk “bid” die Bybel. Dit is nie ‘n
“studie” van die Bybel nie. Of ‘n "ontleding" nie. Dit is ‘n boek wat lewe in hul
harte. Hulle ken dit, brein, hart en mond. Hulle neem die woorde in die mond,
proe dit, praat dit, luister daarna en stort dit dan voor God uit. Dit word
hulle manier om te begin bid.
Hulle weet immers: in Dawid se woorde herken hulle die nabyheid van God. Dawid, die bidder, het al die pad geloop. Om naby Dawid te bly, om sy woorde te bid, is om naby God te wees.
Dit is die tweede spirituele dimensie wat ons in die teks van Handelinge 4:23-31 herken. Die eerste dimensie het ons aandag gevestig op hulle voorveronderstelling: hoe het hulle oor God gedink. Hier sien ons wat hulle tot God bid. Hulle bid Bybel.