-->
Heiliges soek nie
roem of erkenning nie. Hul lewe word nie deur uiterlike dinge opgetooi nie.
Mistici koester hul
spesiale ervarings. Meestal hou hulle dit vir hulleself. Dit is vir hulle oorgenoeg
dat God hulle lief het en hulle opsoek. Wat saak maak is nie hoe ander beïndruk
is of hoe hulle reageer nie. ‘n Mens hoef nie die liefde van God uit te stal
nie. ‘n Heilige mens leef eenvoudig vervuld in daardie liefde.
Pascal het nooit
oor sy merkwaardige mistieke oomblik gepraat nie. Eers na sy dood het hulle die
papiertjie ontdek waarop hy dit neergeskryf het – toegewerk in die soom van sy
kleed.
Heilige mense
begeer niks. Hulle streef na niks. Hulle wil nie uitstyg bo ander nie.
Hierdie eenvoud is
al ‘n teken van hul heiligheid.
Egte heiligheid,
skryf Versfeld, bly onontdek, ongerekend.
Wat saak maak is
dat ‘n mens op enige plek, by enige mens en in enige konteks jouself kan wees.
Wat tel is of jy jou lewe sinvol lei, hoe eenvoudig dit ook al is.
‘n Heilige mens is
iemand wat voluit leef, van binne uit.
Kyk na al die
groot, belangrike mense van vroeër, skryf Thomas in sy Navolging. Hulle is weg.
Niemand praat of dink oor hulle nie. Hulle is vergete. Hulle gedagtenis het
vergaan. Roem vergaan.
Wat eerder tel is
om elke oomblik, te midde van verganklikheid, vervuld te lewe.