Thursday, November 29, 2012

Gebed as totale afhanklikheid. Oor die gebedshouding.


Handelinge 4 vertel hoe Petrus en Johannes, die Joodse dissipels van Jesus, voor die Joodse Raad verskyn om ondervra te word oor die genesing van die man by die Skonepoort.

Welsprekend reageer Petrus en Johannes op die moeilike Raadslede se dreigemente dat hulle moet ophou om oor Jesus te getuig. So oortuigend praat Petrus (vervul met die Heilige Gees volgens Hd. 4:8) dat die mense God verheerlik oor die wonder en dat die Raadslede hulle moet vrylaat. 

Hulle gaan terug na hul eie mense om oor die ondervraging verslag te doen.

Dan, in Handelinge 4:24-31, word vertel hoe die gemeente saambid in reaksie op die gebeure. 

Welzen het oor die gebed ‘n pragtige Spiritualiteitsontleding gegee. Hy verduidelik hoe Spiritualiteit 'n mens help om dimensies in die teks raak te sien wat nie altyd so helder in 'n mens se gemoed registreer nie. 

Hy volg daarmee die verloop van die Lectio Divina. Die eerste faset van die Lectio is 'n mens se instelling - dit wil sê, met watter voorveronderstellings 'n mens se geestelike reis gekleur word.  

Hy wys dus daarop dat die gemeente hul gebed begin met die woorde: “Here.”  Gewoonlik is dit ‘n woord wat gebruik word deur ‘n slaaf wat sy meester aanspreek. Die woord word byvoorbeeld ook in Maria se lofprysing (Lk.1:46-56) en Simeon se lied (Lk. 2:29-31) gebruik.

‘n Eenvoudige woord, wat uit die destydse sosiale konteks oorgeneem word. Maar as 'n mens dit goed bekyk, vertel dit op 'n diepsinning manier meer van die bidders se innerlike houding. Wanneer hulle naamlik tot God bid, is hulle harte volledig op God gerig. Onvoorwaardelik kom hulle tot God as hulle Heer en Meester. Met die woord druk hulle dus 'n  vooronderstelling van hul geestelike lewe uit.

Om tot God te bid beteken om ‘n mens se lewe heeltemal aan die goddelike te oriënteer. 'n Mens se oë is soos 'n slaaf se oë ingestel op die Meester.

Die gebedshouding met sy gerigtheid op God sluit aan by die onmiddellike konteks: Paulus en Johannes het die versoek van die Joodse leiers om hul getuienis-lewering te stop, geïgnoreer (Hd. 4:17-18). Hoe kan hulle ophou praat oor wat gebeur het? God het deur die naam van Jesus die man se lewe totaal omgekeer (Hd. 2:10). Wie kan swyg oor wat God gedoen het? En hoe kan hulle ontrou wees aan Jesus se versoek dat hulle wêreldwyd oor die dinge met mense moet praat? Dit is dan God se dinge. Dit is die dinge wat alles in hulle lewe sinvol maak.

Hulle lewens is totaal omgekeer en getransformeer deur Jesus en sy bediening. Alles wat hulle na sy opstanding sou doen, is gerig op die “wonderdade” van God in Hom (Hd. 2:11; 4:30). Hulle lewe is totaal ingestel op God, op die goeie dinge wat in hul lewens gebeur het en op die verfrissende, lewe-gewende krag wat daardeur in hul lewens losgelaat is.

Daarom bid hulle tot hul Here en Meester. Met die enkele aanspreekwoord vertel hulle hoe God die middelpunt van hul hartsverlange geword het. As hulle tot God nader, nader hulle tot die een wie se goedheid, ontferming en liefde sentraal in hulle lewens staan. Hulle is “verslaaf” aan wat God doen.

Dit is hulle instelling. Hulle verstaan van God kom duidelik in een woord uit.  Wanneer dinge verkeerd loop en wanneer hulle onder druk kom, is daar maar een uitweg. Dan kyk ‘n mens anderkant die dreigemente na die Belangriker, Sterker Bron van Krag. Dan is ‘n mens se hart gerig op wat regtig saak maak. 

Onwillekeurig dink 'n mens aan Psalm 123:2: 

Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres- so is ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is.

So ‘n instelling vertel iets belangrik: iemand wat bid is ‘n persoon wat nie teen die oppervlakkige, die gebeure van die dag vaskyk nie. Dit is nie wat tel nie. Dit is maar skyn. 

Die bidder weet waar sy krag werklik vandaan kom, wat 'n mens in die hitte van die dag orent hou en waar 'n mens gaan hulp soek wanneer dinge rof raak.

So praat ‘n mens uit die hart uit. Dit is die basiese instelling van vertroue, hoop en veral afhanklikheid wat ‘n mens oor die rofheid van die lewenspad bring. 

Hier word alles beslis. Dit is die manier waarop 'n mens jou hart voor God oopmaak. 

 

Blog Archive