Ons sukkel om vervoer
terug na ons hotel te kry. Dis laataand, ons is op die rand van die stad en die
buurt is verlate.
Dis herwaarts en derwaarts. Maar oral is almal vriendelik. Ons is geholpe.
Uiteindelik is ons in die
taxi. Drie van ons wat die aand se uitstekende besprekings bygewoon het, deel die koste.
Dit help om jou begroting binne perke te hou.
Die bestuurder raak gesellig toe hy hoor watter konferensie
ons bywoon. Hy het allerhande stories om te vertel. Op die manier vind ons uit
dat hy ‘n enkelpa van twee kinders is.
Maar dit is ons reisgenoot
wat die geselskap oorneem. Al die stories
van die enkelpa – taxi-bestuurder juig sy met yerige entoesisame toe. Hy
vertel hoe baie hy in die Bybel belangstel en hoe graag hy Israel toe wil gaan.
Sharon vertel hom dat hy
nie vir ‘n oomblik moet twyfel nie. Hy moet definitief gaan. En hy moet sien wat sy ook sien toe sy die
afgelope paar jaar daar was. Maar dan moet hy Palestina toe gaan.
Daar sal hy sien hoe
mense binne een geslag kan verander.
Die Palestyne van die
eerste geslag mense wat uit Israel uitgesit is, is vandag nog verbitter. Hulle
is getraumatiseerde mense wat nie kan vergeet waarvandaan hulle kom nie en wat
nie die hardvogtigheid van die Israeli’s uit hulle sisteem kry nie. Hulle mis
hul vroeëre blyplekke, sluk nog swaar aan die onmenslike omstandighede
waaronder hulle hervestig is en loop met ‘n wrok in hulle rond.
Die stertkant van haar
verhaal bly hang aan my hart. Die kinders van hierdie eerste geslag
hervestigdes wil niks weet van hulle ouers se bitterheid en wrokkigheid nie.
Hulle het nie die trauma van die hervestiging gedeel nie. In hulle gemoed leef
niks van die ervarings wat hulle ouers se lewens so ingrypend beinvloed het
nie.
Hulle wil net aangaan met
hul lewens. Hulle werk en woel om iets te bereik.
Sharon vertel dat sy
dikwels in trane was oor die verhale van menslike trauma wat aan haar oorvertel
is Maar dan was daar ook die aangrypende ervaring van ‘n nuwe geslag wat nuut
wil begin en in die proses heeltemal anders as hulle ouers dink.
Van al die baie gesprekke
in vanaand se konferensie oor 20 jaar se studie van spiritualiteit, bly hierdie
woorde my by.
Hoe alleen is ‘n mens nie
as jou kinders nie jou trauma met jou deel nie.
En tog, hoe bevrydend is
dit nie om die verlede te kan agterlaat – so skielik, so sonder rede, so
argeloos.