Tuesday, November 20, 2012

Ou dinge, nuut bekyk

Anne Astel se rede as president van die Internasionale Vereniging vir die Studie van Spiritualiteit gaan oor Edith Stein se opvoedkundige ideale.

Ek het die afgelope tye dikwels oor Edith Stein geskryf. Sy was die briljante studente van Husserl wat, omdat sy 'n vrou was, en ten spyte van haar uitsonderlike tesis, nie as professor aangestel is nie.

Sy, uit 'n Joodse gesin, het Christen geword. Tog het die Nazi's haar uiteindelik om die lewe gebring.
ber
Ek sien dus uit na Anne se rede. Sy het self onlangs professor in Spiritualiteit by Notre Dame geword en is 'n bekende figuur in Noord-Amerikaanse kringe.

Alles wat sy oor Stein vertel, is interessant en boeiend. Terwyl sy praat besef ek dat ek al are bewus is van die Steiner benadering tot opvoedkunde wat die individualiteit van elke kind hoog ag en dus soek om elke kind se besondere gawes te bevorder. Ek het dit net nog nooit met Edith Stein oor wie ek onlangs veel gelees het, verbind nie - en ook nie met Spiritualiteit nie.

Dus is dit vir my 'n aangename verrassing om die ou inligting vanuit die nuwe hoek te bekyk.

Maar dit is veral een punt van die rede wat by my bly: Anne vertel dat Edith Stein onderstreep het watter deurslaggewende rol 'n onderwyser in die lewe van 'n kind speel. Daarom is opvoeding van kinders iets wat in die hande van die beste van mense behoort te wees.

En die onderwyser wat ideaal is, is die een wat veel meer as net kennis aan die kind gee. Dit is belangrik dat kinders se kennis vermeerder moet word. maar veel belangriker is dat die onderwyser hom -  of haarself met die kind deel. Die onderwyser deel met die kind wie hy of sy is, en lank nie net wat hy of sy weet nie. 

Juis daarom is dit deurslaggewend dat die onderwyser 'n heel mens moet wees en dat die onderwyser die kind tot meer as net kennis aanspoor. Die leerkrag moet ook daarop ingestel wees om die kind te transformeer en te integreer. Die kind word begelei tot groter volwassenheid. 

Ek dink aan 'n onlangse studie oor transformasionele leierskap wat my bewus gemaak het daarvan dat 'n groot leier iemand is wat omgee vir mense vir wie hy of sy 'n leier is. Sy "volgelinge" moet voel dat hy nie net vir hulle gebruik nie, maar hulle mens-wees respekteer. So sensitief moet die leier hiervoor wees, dat hy op 'n stadium selfs die belange van sy volgelinge bo sy eie belange stel. Hy sal terugstaan, ter wille van sy volgelinge. Hy sal selfs bereid wees dat sy volgelinge hom as leier vervang. 

Toe ek dit gelees het, het ek onwillekeurig aan Christus se woorde gedink  - dat hy weggaan, dat sy volgelinge in sy plek na ander sal uitreik en dat hulle selfs groter dinge as hy sal doen.

Dink net wat sal moontlik word as onderwysers hierdie instelling met kinders kan deel. Dit kan egter net gebeur as die self-opofferende diens aan ander wat in Christus se bediening en wese ingebed was, ook hulle s'n word. 

Wat wel kan gebeur. Paulus het immers sy volgelinge aangespoor om die gesindheid van Christus te jaag. 

Mooi.

Blog Archive