Vanoggend se
sessie by die Spiritualiteitsgroep het vier interessante besprekings opgelewer.
Al vier het
gegaan oor hoe ‘n mens in jouself verryk word deur insigte van gelowiges uit
tradisies wat heeltemal anders as jou eie kan wees.
Te dikwels
verwerp ons ander as ketters, is ons onsensitief oor hoe belangrik hulle
godsdiens vir hulle is en watter diepe lewenssin hulle in hul eie godsdienstige
tradisies vind. Meer nog, ons onderskat hoe hulle ons kan laat verstaan hoe
spesiaal ons eie tradisies is.
Een van die
vroue, uit ‘n Gereformeerde agtergrond, praat hieroor. Sy vertel hoedat ‘n mens
se stories jou gevange kan hou.
Sy vertel hoedat
sy as jong vrou tot bekering gekom het. Sy was by ‘n byeenkoms van ‘n groep oor
‘n naweek toe sy op ‘n sekere oomblik bewus geword het van God se
teenwoordigheid. Hier uitsonderlike ervaring het haar vir altyd verander.
Die volgende
oggend het sy dit gedeel met iemand uit ‘n ander geloof. Toe sy vir hom van
haar ervaring vertel, het hy met groot waardering geantwoord dat hy op daardie
stadium met vier mense uit sy eie godsdiens gesels het wat net so ‘n ervaring
van God se heiligheid gehad het en wie se lewens radikaal daardeur verander is.
Sy het haar nie
aan sy verhaal gesteur nie, want hy was nie deel van haar godsdienstige
tradisie nie en dus nie “suiwer” en “waar” in sy oortuigings nie – in elk geval
nie soos sy nie.
Sy was so ‘n
gevangene van haar eie verhaal dat sy nie ore vir ander mense se verhale gehad
het nie en ook nie ingesien het hoe dit haar insig en waardering vir haar eie
tradisie kan gee nie.
Eers vele later
jare, toe sy ryker en ryper geword het, het sy besef watter belangrike woorde
daardie jong man met haar gedeel het. God, in alle goedheid, raak mense oral
aan en bring hulle tot ‘n besef van hulle kreatuurlikheid en van die Grotere,
Diepere en Verborgene. Dit verander hulle lewens vir altyd.
Die herinneringe
aan die jong man se storie het met die jare sterker geword. Wanneer sy oor haar
bekering gepraat het, het sy onthou hoe positief hy daarop gereageer het. Dit
het vir haar bevestig hoe spesiaals haar eie ervaring was.
Hoekom moet ‘n
mens ander mense as ‘n bedreiging ervaar? Hoekom verhef ons ons eie insigte bo
die van ander asof ons alleen weet hoe om die groot Geheimenis van God in
woorde te probeer uitdruk.
As gevangene van
ons eie stories en as dowes vir die verhale van ander, het ons arm geword.
Bleeksiele.