Die vrou wat die sitplek langs my het, groet stil as ek
langs haar gaan sit. Sy is ‘n mooi vrou met fyn gelaatstrekke. Boonop kan jy
haar deur ‘n ring trek. Sy het duidelik netjies haar Sondagklere vir die reis
aangetrek.
Dit is, soos gewoonlik, ‘n gesukkel om jou sit te kry en
alles tot bedaring te organiseer.
Net as ek alles in plek het, oorval ‘n dors my. Ek het ‘n bottel
water by my waarmee ek al ‘n hele ent op die warm dag gestap het. Gelukkig is
dit nog lekker vol.
Dus pak ek dit en draai dit oop.
Met die draai, klink dit asof al die sluise van die
Gariep-dam oopgetrek word. Die water spuit des te sterker deur die halfoop
prop. Na alle kante toe,
In ‘n sekonde of wat is die leë sitplek langs my sopnat,
my broek het groot nat kolle en die water tref die tannie orals op haar kerkrok..
Sommige dinge kan ‘n mens ongedaan maak, as dit jou so
smadelik oorval. Dit doen jy dan blitsvinnig en met oorgawe.
Ander dinge, weet jy, onmiddellik, met ‘n sinkende gevoel, is gedane
sake. Jy moet maar net aanvaar. En probeer goedmaak wat onredbaar is.
Ek gryp desperaat na my sakdoek in my broeksak. Daar ontdek
ek gelukkig ook twee tissues. Ek droog op, vra verskoning, troos dat dit
gelukkig net water is en kyk desperaat om my om te sien waar my hulp vandaan
sal kom.
Ek weet mos hoe vroeg vanoggend sy al vir die reis
aangetrek het. Hoe sy alles in plek gekam en afgestof en gepoeier en gepaint het.
Maar tog: Die tannie, 86 jaar oud, vind ek later uit, sit
ongestoord. Daar is nie ‘n wolk op har gesig nie. Geen knyplippe nie. Nie ‘n
enkele verwyt nie.
Inteendeel.
Sy bekyk die hele storie kalm en bedaard. En dan sê sy, rustig, ongesteurd, 'n enkele sinnetjie:
Toe maar, dis wêreldsgoed.
Ek hoor my oupa en my ouma in daardie woorde. Ek maak ‘n
rondte van Vader Cloete by hulle wat so dikwels in daardie modus gedink en
gepraat het. Ek is weg, onmiddellik, in kinderdae, in ouwêreldse vroomheid,
volkswysheid van mense wat nie oordadig geleef het nie, goed na alles gekyk het
en vir hulle self versorg het, maar wat altyd geweet het daar is iets groters
en belangrikers as aardse dinge.
Hoekom het daardie frase in onbruik geraak? Wat is fout
met ons dat ons sulke taal verloor het?
Die dag, besef ek, dankbaar, het vir my te midde van die smadelike goed begin…
Later aan die einde van ons
reis, as onbekende bure in ‘n gedeelde ry, toevallig bymekaar uitgekom, groet
ons. Die gemorste water het verdamp. Vriendelike, gesellige woorde het ons reis
soos ‘n oomblik laat voel. Ek groet haar. Asof ons mekaar al jare ken.
Ek stap weg, anders gemaak, getransformeerd, deur gemorste water.