Verkragting, sal die meeste mense verstaan, is ‘n
uitermate traumatiese ervaring.
Daarom is dit nie ‘n verrassing toe die
spiritualiteitsbyeenkoms wat oor trauma handel, vanmiddag ook ‘n referaat
daaroor bevat nie.
Maar dit was tog ‘n skok vir sommige mense in die gehoor toe
die spreker, ‘n psigo-terapeut, ‘n referaat met ‘n gevalle-studie oor die
verkragting van ‘n man aanbied. Dit is iets wat nie inpas in mense se
verwysingsraamwerk nie.
Die 28 jarige man, ‘n jeugwerker wat in ‘n arm buurt
geestelike werk gedoen het, is een oggend toe hy juis besig was met sy taak,
deur twee groot rowers met ‘n pistool aangehou en verkrag. Dit het hom so getraumatiseer dat hy post-traumatiese
stress ontwikkel het.
Die psigoterapeut bespreek hoe hy daarna deur fase’s gegaan het:
Hy het as ‘n toegewyde kind in ‘n streng huis grootgeword
waar sy ouers vir hom alles feil gehad het en vir hom die volmaakte kind wou
maak. Daarom het hy ook nooit eintlik
enige geestelike kwessies in sy lewe gehad nie. Hy het aanvaar wat in sy lewe
gebeur het, wat dit ook al was. Dit was sy "ou ek" met al die geestelike bagasie wat uit die tyd gekom het.
Maar met sy verkragting het daar ‘n ommekeer gekom. Hy, ‘n
gelowige, het na die verkragting geworstel met die probleem dat God so iets kon
laat gebeur terwyl hy as jeugwerker juis met God se werk besig was.
Die spreker wat die voordrag gee, raak stil. Aangedaan sê
sy: “En, om alles te kroon is hy op Goeie Vrydag verkrag.”
Dit is die trauma waarmee hy verskriklik geworstel het.
Haar referaat handel oor die manier waarop hy die trauma
gehanteer het. Deur allerhande terapieë kon sy vir hom ‘n ruimte skep waarbinne
hy die kwessie kon aanspreek. En mettertyd het hy ook in homself ‘n woede teen
God beleef wat. Sy het hom gevra om, wanneer dit met hom gebeur, tekste uit die Bybel te bedink waarin slagoffers van
geweld uitvaar omdat God nie vir hulle red in tye van hul noodnie.
Hoewel hy dit op die manier op ‘n manier kon verwerk, kon
hy tog ook nie heeltemal daaroor kom nie.
Op ‘n stadium het die vrou droom-terapie ingespan om hom
verder te help: hy het vir haar van sy drome vertel sedert hy met die terapie
begin het. In een van die drome, vertel hy, het hy die volle ervaring van die
dag waarop hy verkrag is, weer beleef.
Maar, vertel sy, daarna het hy in sy droom opgestaan en
die twee manne vermoor wat hom verkrag het. Toe sy hom verder invra, vertel hy
dat hy homself ook vermoor het.
Vir die eerste keer sedert die verkragting het hy nie passief aanvaar wat met hom gebeur het nie. Aktief het hy, in droombeelde, ‘n einde gemaak aan die manier waarop hy as die ou ek die situasie gehanteer het. Hy het sy ou ek vernietig en daarmee ‘n nuwe bestaan geskep. Die “moord” van homself was ‘n aggressiewe aksie wat hom sou bevry om aan te gaan met sy lewe.
Vir die eerste keer sedert die verkragting het hy nie passief aanvaar wat met hom gebeur het nie. Aktief het hy, in droombeelde, ‘n einde gemaak aan die manier waarop hy as die ou ek die situasie gehanteer het. Hy het sy ou ek vernietig en daarmee ‘n nuwe bestaan geskep. Die “moord” van homself was ‘n aggressiewe aksie wat hom sou bevry om aan te gaan met sy lewe.
Die terapeut vertel hoe verbaas sy was: sy het gedink hy
sou, nadat hy die twee skurke van kant gemaak het, nou homself aanvaar en met
ontferming oor homself optree. Toe ontdek sy met ‘n skok dat hy homself eerder
vernietig. Hy het eerder deur aggressie as deur ontferming teenoor homself die
probleem opgelos.
Vir haar beteken die geval dat ‘n mens dikwel in
situasies beland waarin aggressie ‘n wesenlike rol in jou genesing speel. Eers
nadat hy sy “ou ek” aggressief uit die weg sou ruim, het daar ruimte vir groter
genesing en aanvaarding gekom.
Ek luister geboeid na haar en staan verstom oor die
lyding wat mense ondergaan.
Maar ek voel ook onvergenoegd.
Ek probeer my vinger op die pols kry, maar dit is nie
maklik nie.
Is dit werklik aggressie wat in terapie nodig is? Is die
antwoord op geweld net nog meer geweld – al is dit nie “letterlik”-bedoelde
geweld nie?
Is dit nie juis die uitstaande betekenis van Jesus se
kruisverhaal dat Jesus die lyding wat hom aangedoen is deur sy transformatiewe , geweldlose optrede
omgebuig het nie? Selfs “figuurlike” geweldstaal het nie ‘n plek op Golgota
nie.
Dit alles beteken nie dat 'n mens verkragting moet "aanvaar" of "verdur" nie. Wanneer 'n mens weier om toe te laat dat die dade van ander jou lewe vernietig, moet 'n mens nie soos jou verkragters word nie. Selfs nie eers in jou taal nie en selfs al bedoel jy nie letterlik dit wat jy se nie.
Dit alles beteken nie dat 'n mens verkragting moet "aanvaar" of "verdur" nie. Wanneer 'n mens weier om toe te laat dat die dade van ander jou lewe vernietig, moet 'n mens nie soos jou verkragters word nie. Selfs nie eers in jou taal nie en selfs al bedoel jy nie letterlik dit wat jy se nie.