Verganklikheid
is orals om ons.
Soms
tref dit ons in die gesig, soos ‘n skoot koue water: Die dood van ‘n geliefde.
Die vertrek na ‘n nuwe werk of plek. Die aftrede. Die lenteblomme wat verwelk.
Die sneeu op die berg wat wegsmelt.
Te
gou gaan die goeie tye verby. Dit is soos water wat deur die dorre woestynsand ingesluk
word.
Soms
sien ons verganklikheid nie raak nie. Ons luister na ‘n sanger wat ‘n lied
sing. Die klanke sterf weg om nooit weer op dieselfde manier gehoor te word
nie. Die gediggie wat kindjie by skool geleer en by die huis kom opsê. Nooit
weer is dit dieselfde gediggie wat ons daarna aanhoor nie. Altyd weer is dit ‘n
ander weergawe, anders opgesê met ‘n ander aanslag op die oor. En, gou-gou is
die kinderstem weg, onherroeplik verby.
Ons
besef, as ons mooi met die ou wysheid nadink, dat ‘n mens nooit twee keer in
dieselfde rivier instap nie. Daar is ander waters. Dit is nie vir twee sekondes
dieselfde nie.
Verganklikheid,
skryf Versfeld, is een van die basiese kenmerke van die menslike lewe. Dit
bekruip ons, is verskuild aan die wegvreet van sekerhede. Dit ruk ons. Dit
konfronteer ons. Alles is vloeiend, aan die beweeg na andersheid. Die
dinge gaan onherroeplik verby.
Ons
is meestal soos vlinders met ‘n kort lewensduur. Min wat ons doen lyk soos die
piramide’s en selfs die piramide’s wys die rinnewasies van tyd.
Verganklikheid
kan ons paniekerig, angstig en onseker maak.
Tevergeefs
probeer ‘n mens aan onverganklikheid vashou. Hierdie lewe is onstuitbaar aan
die verbygaan.
Versfeld
voeg dan by: Ons moenie deur verganklikheid onrustig gemaak word nie.
Om
die waarheid te sê, ons moet verganklikheid omhels. Ons moet ook daaroor kan
mymer, kan deurdink.
Die
bewussyn van verganklikheid is, vanuit ‘n sekere hoek bedink, ons vriend.
Verganklikheid beteken dat ons gestroop word van alles wat onnodig, kunsmatige
en klein is. Al ons hebbelikhede, ons kleinlikhede, ons vooroordele,
wanvoorstelling, onkunde…
Ons
weet: ons is anderkant die kunsmatige wanneer verganklikheid ook uiteindelik oor
ons eie pad kom en ons weg sal neem.
Deur
bewus te bly van hoe verganklik alles is, begin ons ontdek hoe om te sterf. En
wie weet hoe om te sterwe, gaan sekerlik weet hoe om te leef.
Dit
is die waarde van ons mymeringe oor verganklikheid: hulle help ons om die ewige
lewe te onderskei en te leef.