Sunday, December 05, 2010

Die mistieke eenwording met God in ons wêreld


Die soeke na eenwording met God gaan nie om ons wêreld nie. ‘n Mens kom nie tot God, dus, op ‘n paadjie wat ons bestaan en ons wêreld systap nie.

Ons het deur die geskiedenis al hoe meer ons eie denke, rasionaliteit en verstaan verhef tot ‘n vlak waar dit die filter vir alle sin geword het. Ons moet maar net vir God verstaan, ‘n werklikheid leer ken “agter” ons wêreld, wat dan ons bestaan en die werklikheid waarin ons lewe kan “verklaar”.

Dit val my op van Thomas a Kempis se Navolging van Christus. Dit is inderdaad “nugtere mistiek” – soos die titel van ‘n onlangse boek oor hom lui. Thomas  deel bytende kritiek uit oor al die kennis van die filosowe wat so diepsinnig na die waarheid soek en wat so formidabel en gesaghebbend op verering aanspraak maak.

Ons ontdek die liefde van God, skryf Thomas, wanneer ons Christus in hierdie wêreld navolg. Om deur God in liefde omhels te word, vra van ons om die regte lewenskuns in ons omgewing, op aarde te vervolmaak. Wanneer ons Christus navolg, gee ons alle uiterlike dinge op – ook al ons kennis-aansprake (al sou ek die tale van mense...). Wanneer ons dit opgee en wanneer ons onsself prysgee, ontdek ons in die Ander wonderskone dinge. Ons loop liefde raak, in ongekende maat. Ons sal selfs in diepste lyding groot vreugde vind. Wanneer ons Christus in die kruisweg volg, leer ons versoening ken. Maar altyd weer ten koste van onsself. Ons sal alleen lewe vind as ons ons lewe verloor.

Ons is dus onlosmaaklik verbind met die wêreld – en dit is verstaanbaar, want die wêreld is God se skepping en wil die ruimte wees waar God met ons wandel. Ons is onlosmaaklik verbind aan ander, want wanneer ons onsself verloor in die verhouding met die ander, word die ander ons deel. Ons vind veel meer, die Ander, wanneer ons onsself prysgee.

Dus – ons hoef nie meer in beheer te wees om te lewe nie. Die dae dat ons ander kan domineer en manipuleer is verby die oomblik wanneer ons met God in ‘n verhouding tree en gered word tot self-verloëning.

Daar is diepe, diepe vreugde in die evangelie van self-prysgawe. Dit het Christus ons geleer. Die kruis is nie verniet die simbool van die hart van die Christendom nie. Ons loop dus met blydskap die kruisweg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive