Sunday, December 19, 2010

Teologie en spiritualitet. Sheldrake oor spiritualiteit.

Dit is ‘n fout om teologie en spiritualiteit teenoor mekaar af te speel asof hulle nie maklik versoenbaar is nie.

Ten minste speel teologie ‘n wesenlike rol in spiritualiteit.  

Sheldrake beskryf byvoorbeeld, verrassend genoeg, spiritualiteit as “teologie op twee bene.” Dit beteken dat spiritualiteit van ‘n individu of ‘n groep te doen het met hoe tradisionele oortuiginge oor God, die mens en die wêreld (teologie) deur ‘n mens vir jouself toegeëien word. Verder word hierdie oortuiginge deel van ‘n mens se houding, lewensstyl en aktitwiteit. Op persoonlike vlak het spiritualiteit te doen met hoe ‘n mens voor God staan in die konteks van ons daaglikse lewe.

Spiritualiteit weet dus van teologie, maar nie in 'n vryblywende sin van die woord nie. Teologie moet bene kry, moet konkreet voltrek word, moet geleef word, saam op reis geneem word. 

As ek na Sheldrake se siening van Spiritualiteit kyk, lyk dit vir my of hy twee dinge daaronder byeen wil bring. Aan die een kant is daar alles wat altyd oor God gesê is – al die tradisionele uitsprake oor God, die mens en die wêreld. Aan die ander kant is die praktiese ervaring daarvan, oftewel, soos Sheldrake dit stel, die teologie soos dit in ‘n mens na vore kom terwyl ‘n mens in hierdie wêreld aan die leef is. Teologie kry twee bene en begin reis, iewers in iemand se lewe. Al die tradisionele dinge werk in op ‘n mens se lewe of op ‘n groep se bestaan. ‘n Mens se houding, lewensstyl en dade word daardeur bepaal. Die eeue-oue ervaringe van God kom in ‘n mens se innerlike sit, word deel van die grein van jou wese en stuur jou beslissend in jou geestelike reis.

Dit is, as ek hom lees, nie bloot ‘n kwessie van die oue en die nuwe wat bymekaar uitkom nie, maar eerder dat die oue ook in ‘n nuwe tyd prakties uitgeleef en ervaar word. Wat tel, is die belewenis, die verwerkliking, die transformatiewe krag daarvan.

Spiritualiteit in hierdie sin is dus iets soos beleefde geloof. 

Soos Sheldrake dit stel, dit gaan om die persoonlike toeëiening van die tradisie.


Ek hou hiervan, want dit sny na albei kante. Teologie alleen is nie genoeg nie. 'n Teoloog kan alles weet en nogtans niks beleef nie. Dit is fout. Spiritualiteit kan 'n mens tot vele ervaring lei, maar dit kan sonder diepte en sonder anker wees. Uiteindelik moet dit ervaring van God wees, in gesprek en op reis saam met hoe mense deur die eeue vir God beleef het. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive