Wednesday, December 08, 2010

Om mekaar te vereer!

Aanbidding, skryf Jan van die Kruis, is ‘n teken van onderwerping. Voor God is ons bewus van ons eie feilbaarheid en is ons nederig. Juis daarom word God aanbid en vereer. Ons praat van ‘n “erediens”, die geleentheid waartydens God vereer en aanbid word. In die erediens onderwerp die gelowige hom of haar aan die wil van God en soek om dit te begryp en uit te leef.

Maar, skryf Jan van die kruis, as God absolute verering van die mens vra, is daar tog sekere “relatiewe” vorme van verering wat ons aan ander instansie as God bewys.

Eintlik ken ons uit die sekulêre lewe sekere dinge waaraan ons ons sonder probleme onderwerp. Die wette van ‘n land, die reëls van ‘n skool, die gesagsfigure by die werk en die huis. Ons eerbiedig ook die landsvlag en die volkslied. Ons aanvaar dat hierdie dinge belangriker as onsself is en dat ons ons onderwerp daaraan as kerninstellinge in ons lewe. Deur  onderwerping bewys ons die nodige eerbied en vereer ons goeie, mooi dinge in ons bestaan.

Op godsdienstige vlak ken ons dit ook: ons lees die Bybel met eerbied en onderwerp onsself aan die krag daarvan. Maar, skryf Jan van die Kruis, ons skuld veral mekaar verering. Immers skryf hy, ons is God se erfdeel, ons dra God se beeld in ons. Daarom is ons aan mekaar onderworpe en soek ons om die liefde te vervul ook in ons houding teenoor mekaar.


Dit is nogal ‘n deug, hierdie verering van mekaar. Dit is nie iets wat natuurlik, spontaan by ons opkom nie. Trouens, dit kom alleen tot hulle wat dieper leef en dink. 


Inteendeel: Ons doen goed om goed na te dink oor wat elke dag eintlik met ons gebeur - daardie inherente drang in ons om ander te onteer. 

‘n Mens sou seker kon praat van “respek” en eerbied wat in die geestelike reis gesoek moet word.  En tog – dit is asof Jan van die Kruis verder wil gaan as net ‘n goeie houding teenoor ander. Dis eintlik meer as eerbied, voel ek, wat hier ter sprake is. Verering teenoor ander het wesentlik te doen met die feit dat ons God in hulle soek en raaksien en liefkry. Dit is nie bloot net ‘n goeie deug wat ons najaag omdat ons netjiese mense wil wees nie. Dit is ‘n verlange, ‘n gedrewendheid om saam met ander in God se geselskap te wees.

Spiritualiteit word dus inhoudelik gevul deur die geestelike houding van verering – nie net teenoor God nie, maar ook teenoor ander. Om spiritualiteit te verstaan, moet 'n mens nadink oor verering, moet 'n mens die Ander se wil soek, begeer en najaag.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive