Saturday, December 04, 2010

Die Navolging van Christus en die leergesprek.


Thomas a Kempis se Navolging van Christus kan ‘n mens eintlik net na waarde skat as jy die verband daarvan met die ou, tradisionele gebruik van die “leergesprek” verstaan. Hierdie leergesprek, ook bekend as collatio, is ‘n gesprek oor geestelike sake wat gevoer word tussen mense wat ‘n sterk onderlinge geestelike band met mekaar het. In so ‘n gesprek is daar twee aanbiedingwyses: Die deelnemers luister na iemand met meer ervaring of hulle praat in ‘n dialoog saam oor ‘n spesifieke onderwerp. Vrae word gevra en antwoorde word in die gesprek uitgepluis. Thomas a Kempis praat spesifiek oor hierdie byeenkomste en hoe inspirerend dit vir hom en sy geloofsgenote was. In party groepe is so ‘n collatio selfs drie keer per week gehou en deelnemers was gretig om dit mee te maak.

Steeds weer, skryf Waaijman, gaan die leergesprek om die verkryging van dieper insig. Deurdat die deelnemers aan die leergesprek intens en met toewyding met mekaar praat oor iets, kom daar groter helderheid. Hulle word, soos Waaijman dit stel, van binne uit betrokke en gemotiveer in hul geestelike groei.

In so ‘n leergesprek word daar nie oor allerhande spitsvondige teologiese onderwerpe  gepraat nie. Daar is ook nie enige pogings om mekaar te beïndruk nie. Groot, slim, hoogdrawende woorde en voordragte word vermy.

Maar ‘n mens moet veral die diepste dimensie van die leergesprek raak te sien – ook om te verstaan waarom die Navolging van Christus oor eeue heen soveel weerklank in mense se lewens gevind het. Die leergesprek of collatio word gedryf deur liefde tot God. Uiteindelik moet die gesprek ‘n voedingbron wees vir die gemeenskap met God.  Dit gaan nie maar bloot net om interessante, leersame gsprekke tussen goeie mense nie. Die leergesprek moet die verhouding tot God verinnig, voed en uitbou. Wat tel is die verhouding met God en met God wat die middelpunt van die byeenkoms vorm.

Dit is in hierdie konteks dat die Navolging van Christus ontstaan het. Die Navolging van Christus is dus gebore in ‘n konteks waar mense bymekaar was om verskillende aspekte van hul geloof saam onder die loep te neem, om diep na te dink en te gesels oor verskeie aspekte daarvan en om, uiteindelik, in hul verhouding met God verdiep te word. Dít is wat saak maak: om by God te wees in alles wat en waaroor ‘n mens praat.

‘n Mens moet dus die Navolging van Christus ook verstaan as ‘n dokument wat deel is van ‘n groter gemeenskap van gelowiges wat ernstig en toegewyd gefokus het op hul geloof. Maar uiteindelik veral om daardeur meer verenig te word met God. Dit is nie maar net die enkel gedagtes van ‘n begaafde individu nie. Daar sit baie, baie gesprekke en nadenke en geloofservaringe verskuild in hierdie merkwaardige boek.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive