Wednesday, March 23, 2011

Om die goeie uit die lelike te skep. Oor U2 en genade.




Ek lees tans Christian Scharen se boek oor U2 met die titel One Step Closer. Dit het my oë nog meer laat oopgaan oor hierdie merkwaardige Ierse band – een van die beroemdste musiekgroepe in ons tyd waarvan die donker-bril draende Bono die handelsmerk is.

Ek is, al lesende, meer spyt as ooit dat ek nie hulle konsert in Kaapstad gaan  bywoon het nie. Ek het al ‘n paar jaar gelede oor hulle begin lees en elke keer tref dit my hoe hulle op hulle manier die boodskap van die Christendom oordra vir hul tyd en veral vir hul gehore  - maar in taal vir ons tyd.

In die hoofstuk van Scharen se boek met die titel, “Genade”, is daar ‘n opskrif waarin Bono as volg aangehaal word:

Die kragtigste idee wat die wêreld in die laaste paar duisend jaar ervaar het, is genade. Dit is die rede waarom ek ‘n Christen wil wees.

Iemand skryf iewers dat Bono eintlik  behep is met genade – talle van U2 se liedere  bevat verwysings daarna. Amazing Grace is ‘n gunsteling van hom.

Die inhoud van die lied lees soos outydse, outydse evangelie: In U2 se liedjie “Grace” teken hulle die goddelike genade as ‘n jong vrou. Soos die jong vrou as wysheid in die Ou Testament God versinnebeeld, só verbeeld hierdie jong vrou God se genade.  Sy is die Een wat die skuld opneem, wat skande bedek, die skandmerk verwyder. Genade, gaan die lied aan, is ‘n gedagte wat die wêreld verander. Dit omvorm, transformeer. Dit is God se skoonheid: Genade is musiek in ‘n mens se ore. Dit vind die goeie in alles. Genade is nie soos ‘n model wat uitstallerig rondpronk nie. Dit is nie haastig en ongeduldig nie. Genade verskil ook drasties van verdienste, van al ons grepe op geluk. Karma versinnebeeld al die mens se pogings om goed te doen. Goeie karma sal jou beloon. Slegte karma bring straf. Karma gaan om eie verdienste. Maar genade is anders. She travels outside of karma. Dit laat seerkry, twis, skade agter. Genade maak die lelike mooi.

Ek hou van die gedeelte oor karma. Bono is sinies oor al die mooi self-help spiritualiteite, al die goed-voel weë van karma. As ons op ons karma moet vertrou, is ons gedoem. Maar genade, dit tel. Genade wat die lelike mooi maak.

Maar ai, dit is nie net ‘n gepraat wat ‘n mens in die lied raakloop nie. Dit is musiek oor genade. Stil sing die gitaarnote van genade wat wegstap van al wat lelik is, wat hom langsaam haas saam met die mooie en die goeie en skoonheid. Jy hoor die musiek van genade. Goed klink dit. ‘n Lang inleiding, subtiel, subliem, kitaarklanke wat lank aanhou asof ‘n mens amper huiwer of jy woorde sal kan vind om oor genade te praat. En dan soek jy maar na beelde van skoonheid, na aantreklikheid, want goed en mooi en wonderlik is die genade. En daar kom Sy: As ‘n jong vrou, al wandelende, in die straat, tower genade in hierdie lied die klanke van snarespel op. En dit kom sak in, oop skeur die sagte klanke ‘n pad na jou binnekant. Wat ‘n mens hoor en wat jou so betower, nooi jou uit om saam te kom, om ook genadeliedere te sing, om goed te wees, om die lelike om te buig.  Dit wat mooi is, is op ‘n mooimaaktog die wêreld in.

Ek lees hierdie hoofstuk oor genade en luister die lied van U2 na ‘n aandjie met vriende. Hard is die stemme wat opklink in ons gesprekke. Vernielend, veroordelend, verwerpend. Raspertonge. En as ek die lied luister, vanaand, na die gesprekke wat die mooie in die lelik verander, is my gemoed vol. Oor die pêrel van groot waarde. “She carries a pearl in perfect condition”. Genade is egte skoonheid.  Ons het soveel ontvang. Ons deel dit nie graag nie. Ons dam dit op. Dit word slierte, vergroende, slikwaters, onvrugbaar in ons binneste.

Miskien besef ons nie wat ons het nie.  Hoor ons nog die evangelie? Moet ‘n Ierse band vir ons kom terugvertel waarom alles gaan? In die sublieme klanke, die poëtiese taal, die treffende metafore, laat hulle ons ons geestelike rykdom herontdek.

Toe die lied in 2000 in Kampala, Uganda bedink is, het U2 ‘n vrou, Grace Nawakunde, ontmoet wat in arm woonbuurte Vigs-pasiënte deur musiek gehelp het.  Die vroue was sterwende, want hulle kon nie die tien rand per dag bekostig om VIGS-medisyne te betaal nie. U2 was verwonderd oor die lewensvreugde waarmee hulle tog bly werk het en met watter vreugde hulle gesing het. Deur hulle werk het Uganda die Vigs-pandemie met 50 % verminder. Deur sulke mense word lelike dinge mooi gemaak, vertel U2. Die gesig van Grace is die gesig van Genade.

Genade, as ‘n mens dit ontvang het, word nie opgedam nie. Dit verdamp nie. Dit sing in die strate van ons lelike wêreld klanke van ontferming.

Hier is die lied, gevolg deur die woorde:



Grace
She takes the blame
She covers the shame
Removes the stain
It could be her name

Grace
It's a name for a girl
It's also a thought that changed the world
And when she walks on the street
You can hear the strings
Grace finds goodness in everything

Grace, she's got the walk
Not on a ramp or on chalk
She's got the time to talk
She travels outside of karma
She travels outside of karma
When she goes to work
You can hear her strings
Grace finds beauty in everything

Grace, she carries a world on her hips
No champagne flute for her lips
No twirls or skips between her fingertips
She carries a pearl in perfect condition

What once was hurt
What once was friction
What left a mark
No longer stings
Because grace makes beauty
Out of ugly things

Grace makes beauty out of ugly things

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive