Friday, March 25, 2011

Om na ander te luister, is ‘n daad van ontferming.

 
Spiritualiteit is om in die Gees te wandel, om die geestelike reis saam met ander af te lê. Ons is nooit alleen op reis nie. Dit is ‘n teken van God se ontferming en liefde dat God vir ons reisgenote skenk wat saam met ons die pad loop. Ons is ryk aan mede-reisigers – en hulle is ons mistagoë, ons geestelike vriende.

Waarom voel mense dan tog nog baie alleen?

Ek lees vanaand die volgende uitspraak van Bonhoeffer:

Die woord wat so vinnig van ons tong af glip en wat ons so maklik kwyt raak, wys duidelik dat ons die ander mens nie respekteer nie, dat ons onsself bo hom of haar verhef en ons lewe dus hoër ag.

Só ervaar mense mekaar. Hulle voel: Daar word oor hulle en tot hulle gepraat, maar nie met hulle nie. Hulle word toegespreek en aangesê.

Die teendeel gebeur darem ook:  So af en toe ontmoet ‘n mens iemand wat ‘n luisteraar is. Die persoon laat jou praat. En praat. Hy of sy luister na jou, registreer wat jy sê en dink dan daaroor na.

En dan, sal jy van die persoon steeds weer ‘n wyse woord hoor wat jou moed gee. Of hy/sy sal met jou praat sommer net soos ‘n vriend. Sonder aansit, afwys en grootdoenerigheid.

Jy voel tuis by die persoon. Hy of sy skep vir jou ‘n veilige ruimte.

Hulle is nie baie nie. Hierdie wyse mense wat ander mense nie van ‘n troontjie bekyk nie. Hulle staan nie op ‘n platform en spreek jou toe nie.

Bonhoeffer skryf dus ook elders:

Vele mense soek ‘n oor wat na hulle luister. En hulle vind so iemand nie onder Christene nie. Want Christene praat wanneer hulle eintlik moet luister.

Hoe nou gemaak? Want, skaam, besef ons almal hoe graag bepraat ons ander, soos hulle ons.

Dit is ‘n geestelike oefening om na die een in jou geselskap te kyk as iemand wat veel, veel meer as ‘n prater is. Dit is ‘n geestelike dissipline om jouself te bring om verby die woorde te luister na die hartklop van die ander.  Langs jou sit iemand wat op ‘n baie dieper vlak bloot by jou wil wees.

Om na die ander te luister, is ‘n daad van ontferming. Om vir die ander jou ore oop te maak, is ‘n liefdesdaad.  Die getuienis wat uitgaan van ons luisterende oor is indrukwekkender as al die vinnige woorde wat so maklik van ons tong af glip. Maar die grootste van alles is om vir iemand jouself te gee.

Rembrandt se skildery is van 'n filosoof wat mediteer. Bly dink, bly dink, dink goed na om verby alle woorde heen die Verborgene, die Eintlike te herken. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive