Friday, March 11, 2011

Om te vas is om geheg te wees aan Jesus

Om te vas kan meer as een ding beteken:

Vir oorgewig mense beteken vas ‘n poging om van hul vet ontslae te raak. Vir politieke gevangenes kan vas beteken om te protesteer teen die politieke strukture en outoriteite. In Ierland, byvoorbeeld, het mense wat deur vas gesterf het, groot onrus veroorsaak.

Selfs in ‘n geestelike konteks kan vas meer as een ding beteken. Sommige vas om hul solidariteit met hongeriges oor die wêreld te betuig. Ander vas in protes teen onreg.

In die lydenstyd het vas tradisioneel ‘n eie betekenis: in hierdie tyd kyk ‘n mens met soberheid na binne, terwyl ‘n mens bewus is en raak van jou eie feilbaarheid. Daarom is dit ‘n tyd waarin ‘n mens met verlange boete doen en jouself weer toewy aan God. Daarom was die lydenstyd nog altyd in die geskiedenis van die Christendom ‘n stil tyd van innerlike ondersoek.

Wat dus tel is om op ‘n mens se geestelike weg te fokus. Hierby pas die gebruik om te vas baie goed. Want, word geredeneer, vas as 'n baie ou Skrif-tradisie het nog altyd te doen gehad met inkeer en berou.

Aswoensdag is tradisioneel die dag waarop mens vas - soos ek gister geblog het. Maar in sommige tradisies word veral Vrydae in die lydenstyd dae waarop ‘n mens vas. Dit word ‘n dissipline, ‘n geestelike “oefening”, ‘n vasbyt om die geestelike reis met innerlike oortuiging te bewandel. En dit kan meermale in die lydenstyd gedoen word. Of dit kan ‘n vorm van vas wees, soos baie mense doen, waarin ‘n mens eenvoudig eet, maar alle luukses vermy. Sommige mense maak selfs ‘n punt om een keer ‘n week te vas. Ander weer sal waarskynlik die tipe reëling volg wat Moslems in Ramadaan het: om nie deur die dag te eet nie.

In die geskiedenis van die Christendom is vas in die lydenstyd verbind met Jesus se vastyd in die woestyn. Dit is waarom die lydenstyd in die kerklike jaar oor 40 dae geskeduleer is. In die 40 dae van afsondering het Jesus in die stilte van die woestyn al die geestelike steuringe in sy bestaan beveg en het hy gesoek om getrou aan God te bly. Aan die einde van die 40 dae, toe Hy die oorwinning behaal het, is Hy ‘n paradys-maal gevoed (Mk.1:13).

Soos Jesus dus sy aardse weg aangepak het, só, word geredeneer, volg sy dissipels Hom. Hulle wil net soos Jesus hul geestelike weg loop. Dit is die navolging van Christus. Soos Hy, wil ook die geestelike mens met innerlike oortuiging vir God en God se weg kies. ‘n Konkrete manier om dit te doen is die vas.

Die vas is ook dus om Jesus ontwil, om die geestelike heil wat in Hom gevind word.

Maar omdat dit gaan om die lydenstyd, is die vas veral verbind met Jesus as die een wat op pad is na Jerusalem om te sterf aan die kruis.

Maar wat beteken hierdie “verhewe” ideaal dat ‘n mens in jou vastyd veral biddend nadink oor Jesus se kruisdood? Hoe lyk dit konkreet?

Henri Nouwen skryf ‘n gebed vir Aswoensdag waarin hy help om dit in te vul:

Hoe dikwels het ek deur hierdie weke geleef sonder veel aandag aan boetedoening, vas en gebed? Hoe dikwels het ek die geestelike vrug van die tyd gemis, sonder dat ek eers daarvan bewus was?
Maar hoe kan ek Paasfees vier sonder om die lydenstyd ook te vier. Hoe kan ek voluit in u opstanding bly wees as ek dit vermy het om ook u dood te gedenk?
Ja, Here, ek moet sterwe – met U, deur U en in U – sodat ek in staat sal wees om U te herken wanneer U in U opstanding aan my verskyn.
Ek moet aan vele dinge afsterf: oppervlakkige verhoudinge, gierigheid, woede, ongeduld en suinigheid.
Ek sien duidelik hoe min ek saam met U gesterf het, hoe min ek met U gewandel het en hoe min ek getrou gebly het. 
Here, maak hierdie lydenstyd anders. Laat my U weer vind.


In die vastyd, dan, bedink ‘n mens op ‘n besondere manier die afsterwe aan die ou mens. Want as ‘n mens die ou mens nie afsterf nie, kan ‘n mens nie met die nuwe mens beklee word nie. Boetedoening, vas en gebed is geestelike oefeninge wat ‘n mens inbring in die ervaringsruimte vir die Paasvreugde.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive