Thursday, March 03, 2011

Wat is spiritualiteit? Oor die verhouding tussen spiritualiteit en teologie.


Teologie is een van daardie onmoontlike betrippe waarvan die betekenis eintlik afhang van die persoon wat die begrip definieer. As 'n mens deesdae met sommige oor spiritualiteit praat, gebeur dit soms dat hulle reageer met die opmerking: maar wat mense in spiritualiteit doen is presies wat "ons" in teologie doen. 

Ek dink dikwels hulle bedoel: dit is wat "ons" graag in teologie sou wou doen. 

‘n Mens kan spiritualiteit beter verstaan deur ook te kyk na wat die verhouding tussen teologie en spiritualiteit is. Maar dan moet 'n mens nie teologie verstaan soos party mense dit graag sou wou doen nie, maar soos dit nou deur eeue heen oor verskeie tradisies gedoen is. En as 'n mens die "normale" bedryf van die teologie oor eeue heen, bekyk is daar 'n besliste onderskeid tussen die twee. 

Dit is belangrik om dit te bedink en dit help baie om dan te sien hoe hierdie insig 'n mens help om helderder oor spiritualiteit na te dink.

Dit is nie maklik om een antwoord hierop te gee nie, skryf Sandra Schneiders in haar bespreking van die saak. Baie sal afhang van hoe teologie verstaan word en van watter tyd ‘n mens praat. In die eerste eeue van die Christendom sou niemand die twee van mekaar onderskei het nie. Die kerk het tot en met die middeleeue teologie as spiritualiteit gesien en spiritualiteit as teologie. Dit was eers daarna dat die groot kerklike tradisies, die Anglikaanse, Ortodokse, Protestantse en Rooms-Katolieke tradisies, die verhouding baie verskillend gesien het.

In die Reformasie was daar ‘n sterk ortodokse groep wat veral terughoudend was oor die “mistiek” en argwaan gekoester het teenoor die begrip spiritualiteit. Vir hierdie groep het die woord te veel geklink na mense wat hulself as super-gelowiges beskou het, of as mense wat hulle met ekstatiese ervarings besig gehou het. Boonop het hulle beklemtoon dat die band van teologie/spiritualiteit met die Skrif deur mistici te maklik losgemaak is. Hulle het ook nie gehou van die gedagte dat mense dink God kommunikeer direk met hulle buite die Skrif om nie. Sekere groepe het ook beswaar gemaak teen spiritualiteit omdat dit ‘n werkheiligheid kan bevorder. Dan word die geloofslewe van die mens se geloofservaringe afhanklik gemaak. En dit sou ook tot geesdrywery aanleiding gee.

Protestante wou spiritualiteit en mistiek as begrippe vermy. Hulle het eerder gekies vir sulke woorde soos vroomheid en heiligmaking. Die belangrikste oefeninge van vroomheid was vir hulle die omgang met die Bybel, gebed in ‘n mens se stiltetyd, in bidure en in Boekevat saam met die familie. Verder het hulle graag stigtelike literatuur gelees van bekende skrywers soos Luther, Calvyn, Jonathan Edwards, Jeremy Taylor en andere.

Anglikane, weer, het eerder gekies vir sulke begrippe soos die innerlike lewe, die lewe van volmaaktheid en toewyding (devotion). Hulle spiritualiteit is baie sterk bepaal deur die bekende Book of Common Prayer. Daarom het hulle spiritualiteit ‘n sterk liturgiese karakter. ‘n Groot klomp werke het mettertyd ontstaan wat sowel prakties (Law) as teoreties (bv. Underhill) was.

In die Rooms-Katolieke tradisie is spiritualiteit steeds weer as ‘n sub-dissipline van teologie gesien. Daar was dus ‘n noue verhouding tussen die twee.

Vir die Ortodokse kerke het die twee eenvoudig bymekaar gehoort en ‘n eenheid gevorm. Daarby het hulle by die tradisionele siening aangesluit. In hierdie tyd is van teologie eenvoudig gepraat as “mistieke teologie.” Teologie was glad nie ‘n voorwerp van navorsing of studie nie. Dit het nie bestaan uit ‘n klomp leerstellinge wat uiteengesit is of kennis wat ‘n teoloog opgedoen het nie. Hierdie siening het tot vandag toe nog in sommige kringe voortbestaan (o.a. by Jan van die Kruis). In mistieke teologie het dit gegaan om wat ‘n mens aan die lyf ervaar het, om dit wat deel van jou bestaan (en nie net jou brein) geword het, om dit wat jou in die teenwoordigheid van God gebring het, sodat ‘n mens in verering by God was. Mistieke teologie, dus, soos dit tegnies geformuleer word, was die ervaringskennis van God wat God in die mens as kontemplasie uitgegiet het. Dit gaan om die verborge wete van God wat in kontemplasie deur die mens ervaar word.

Hierteenoor het teologie mettertyd sy karakter as mymering, nadenke, meditasie oor die Bybel prysgegee. Dit het deel van die universiteit se leerplan geword. Deur die taal van die akademie, die filosofie en die logika is teologie aangebied as ‘n akademiese dissipline. Dit het ook sy invloed uitgeoefen op mistieke teologie. Stadigaan het die karakter van wat voorheen as “mistieke teologie” verstaan is, verander. Voorheen het in die mistieke teologie gegaan om mense wat nadink oor hul geloofservaring. Met die skuif in die karakter van teologie het spirituele teologie ‘n onderafdeling van teologie geword wat ‘n mens bestudeer het soos enige ander dissipline. Voorheen was die groot vraag hoe ‘n mens jou instel deur die lees van die Bybel en nadenke daarop vir God se aanraking en vir kontemplasie. Later begin mistieke teologie fokus op die vraag na onderwerpe wat ‘n mens moet bestudeer en hoe ‘n mens dit moet bestudeer om die inhoud en dinamiek van die geestelike lewe te verstaan, skryf Schneiders.

Die skuif is dus weg van : U – ek, na my – dit. Die studie van teologie, saam met mistieke teologie is verobjektifeer. Mistieke/spirituele teologie is tot ‘n objek van studie gemaak. Eerder as wat dit ‘n mens ingestel het op die kontemplatiewe. Daarom kry ‘n mens allerhande loci, of tema’s (Godsleer, ekklesiologie, kerkleer, sakramente, voorsienigheid, pneumatologie, soteriologie en alles wat teoloë altyd so fyn kan formuleer en uitklaar). Hier moet ‘n mens goed verstaan dat die probleem nie is dat teologie en spiritualiteit in universiteite nagevors is nie. Die kwessie is eerder hóé dit gedoen word. Later sou spiritualiteit weer sy oorspronklike karakter terugwen, maar tog nog aan Universiteite gedoseer word. Hieroor wil ek nog ‘n bietjie verder skryf aan die hand van Schneiders se artikel.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive