Monday, December 27, 2010

Om God se stem tot ‘n mens te hoor kom. Oor lectio

In die geestelike lees van die Bybel begin ‘n mens heel eenvoudig by die “lees” van die teks. Hierdie eerste stap wat 'n mens neem wanneer 'n mens met die Bybel besig is, word “lectio” genoem (naas meditatio, oratio en kontemplatio).

Om te lees is nie heeltemal so eenvoudig soos wat ‘n mens dink nie. Dit besef ‘n mens deur bloot te dink aan hoeveel tyd dit mense neem om te leer lees. Neem ook byvoorbeeld hoe twee mense dieselfde gedeelte heel verskillend sal lees. En dink daaraan hoe ‘n persoon met ‘n afgerigte stem oor die radio ‘n gedeelte so kan voorlees dat ‘n mens daardeur meegevoer word. Maar ‘n mens lees ‘n Bybel in die ou vertaling of in ‘n nuwe weergawe. Jy sit of staan of lê as jy lees. Jy kies ‘n gedeelte deur die Bybel te laat oopval. Of jy lees sistematies van voor tot agter. En elkeen van hierdie aspekte gaan op een of ander manier jou verstaan van die teks bepaal of stuur.

Om te lees is dus nogal meer kompleks as wat ‘n mens dink.

Maar daar is vir my iets anders aan die motief van lectio wat my besig hou toe ek Matteus 2 se verhaal oor die wyse manne vir die kerspreek bedink het.

In hierdie gedeelte “lees” die wyse manne nie ‘n spesifieke gedeelte nie soos, byvoorbeeld Jesus gedoen het toe hy volgens Lukas 4 op die sabbat in die sinagoge uit Jesaja 61 gelees het.

‘n Mens sou kon redeneer dat hulle gedurig die “ster” lees. Dit is dan hulle "teks." Hierdie mense, nie-Christene uit ‘n ver land, het die ster as hulle “teks.” En die teks “lei” hulle al nader na Jesus soos hulle dit bly “lees”. Hulle praat ook van die ster as “sy” ster, bedoelende die ster van die Koning van die Jode wat hulle gevolg het. 

Hulle het dus die ster gelees as ‘n teks met ‘n verborge betekenis. Dit lei hulle na Jesus. 

As ‘n mens daaroor begin nadink, kan ‘n mens dit op verskillende manier verder interpreteeer. Op die manier sou ‘n mens daarop kon wys dat ook die skepping heenwys na Jesus en vreugdevol deel het aan die koms van die verlosser.

Maar tog is daar meer: wanneer die wyse manne in Jerusalem aankom, vra hulle na die Joodse koning wat gebore is. Hulle het dus iewers hulle “leeswerk” gedoen waardeur hulle kennis gemaak het met hierdie koning.

Daarmee het hulle iets ontdek wat hulle nooit geweet het nie. ‘n Totaal nuwe wêreld het vir hulle oopgegaan wat hulle lewe radikaal sou verander. In die gedeelte word dus leeswerk van die wyse manne veronderstel.

Lectio, as ‘n mens dit só verstaan, beteken dat as ‘n mens die geestelike reis aflê, jy dit altyd in geselskap van vorige geslagte doen. Die geestelike reis is nie iets waarop jy besluit en dit begin doen nie. Jesus gebruik Jesaja om te vertel hoedat alles wat in Jesaja voorspel is, in sy bediening ‘n werklikheid word.

Die Gees lei die leesproses.

En hierdie verbondenheid aan die diepere, verborge boodskap van vorige geslagte, vertel vir my meer:  ‘n mens se geestelike reis is steeds weer ‘n reis wat baie meer as net jou eie insigte en groei beteken. Die wysheid van die Ander, die verborge betekenis buite ‘n mens self, is die beginpunt van geestelike groei. In die geval van Jesus is die profeet Jesaja se visioene oor die toekoms vir Jesus die beginpunt. Daar begin hy lees.

Op die manier het ek bedink wat die karakters in die teks gelees het. Wat is daar binne hierdie verhaal aan die gang wat ‘n mens help om te sien hoe iets buite hulleself hulle op hul geestelike reis laat begin reis het?

Maar ‘n mens kan die verhaal van die magiërs op ‘n heel ander vlak ook “lees”: Hoe lees “ek” vandag Matteus se verhaal vir my eie situasie?

Duidelik, vir my, is Matteus besig om te vertel hoedat alle volke by die evangelie ingetrek word. Maar wat doen dit aan my eie geestelike reis?

Weer eens sal baie afhang van wie die leser van die evangelie is. Elke leser gaan weer ‘n ander fokus ontdek: Dit kan byvoorbeeld wees op die wyse manne se reis, op Herodes se moorddadige planne, of op die ster. Die interaksie tussen my en die teks sal elke keer weer nuwe betekenis ontsluit, omdat die leesproses so veelvlakkig en ryk is. Maar oorkoepelend sou ‘n mens kon sê dat hoe ek op die teks reageer nooit sonder die teks kan gebeur nie.  Die geestelike lees van die Bybel is nooit willekeurig nie. Ek kan nie maar in die teks lees wat ek wil nie. Daar sal altyd iets buite my wees wat invloed sal uitoefen op my verstaan van die teks. Op sekulêre vlak het spesialiste in intertekstualiteit tog helder uitgewys dat ‘n mens nie ‘n teks lees en die “betekenis” daarvan “ontdek” nie. Wanner die teks met ‘n latere teks in verbinding kom, ontstaan nuwe betekenis.

Die duisende, duisende preke wat al oor die gedeelte gehou is illustreer hoe ryk die betekenis daarvan is. Baie menses sal die gedeelte op ‘n unieke manier verstaan en verkondig. Maar al is daar baie perspektiewe, kan ‘n mens nie die teks maar op enige manier verstaan en vekondig nie. Elke keer weer is die groot toets of ‘n mens se lees van die teks werklik ruimte laat vir God om gehoor te word, of dit my verander om God nuut te dien en of dit my gedurigdeur in ‘n proses van heiligmaking intrek.

Sunday, December 26, 2010

Ingestel op die Verborgene. Oor lewenshouding.


Matteus 2:1-12 gaan oor die wyse manne wat ‘n ster tot in Bethlehem volg. Ek het die afgelope week aan die teks gewerk omdat dit die tema van my kerspreek was.

Ek lees die gedeelte vanuit die perspektief van 'n geestelike hermeneutiek, met aandag aan die verskillende aspekte daarvan.

Terwyl ek dit doen, dink ek aan die ellelange gesprekke wat in so baie publikasies plaasvind oor die “groot” historiese vraag: watter ster was dit dan tog wat die wyse manne gesien het? Dit was in baie gevalle die manier waarop mense die betekenis van die teks wou ontsluit.

Menigte preke het op hierdie historiese vraag gefokus om te bewys dat Jesus se geboorte “regtig” plaasgevind het en deur merkwaardige dinge begelei is.

Die historiese kritiek wou mos vir ons insig gee in die historiese realiteite agter die kersverhaal.  En het hulle tog nie oor al die moontlike historiese realiteite agter hierdie ster gepraat nie. Sommige sê dis ‘n komeet en dan gaan hulle alle moontlike komete wat in daardie tyd sigbaar was, versigtig na. Ander dink dit is ‘n supernova, ‘n spesiale, voorheen onbekende ster. Nog ander dink dit is twee planete wat in daardie tyd naby aan mekaar was (Jupiter en Saturnus). So word die een na die ander moontlikheid eindeloos uitgeryg en bespreek. En elkeen hou aan sy of haar eie teorie vas asof die teks se lewe daarvan afhang.

En, as 'n mens nou al hierdie historiese antwoorde beluister het, voel jy om te vra: wat daarvan?

Een sleutel tot ‘n meer gepaste interpretasie van die gedeelte is vir my te vinde in Matteus se benaming vir die manne uit die ooste. Hulle is in die oorspronklike Grieks nie wyse manne genoem nie, maar “magiërs” (magoi). 

Sommige vertalings vertaal dit as mans wat die sterre bestudeer het.

Maar hulle was nie astronome nie. Hulle was darem ook nie astroloë nie. 

Die naam is gebruik vir mense wat nagedink het oor die verborge betekenis van natuurlike verskynsels.

Ek het die insig nuttig gevind, omdat dit so deurslaggewend is vir enige vorm van geestelike ervaring. Ons geloof verbind ons met die verborge dinge, met die eintlike betekenis van dit wat ons gewoonlik sien en ervaar.

Ons geloof gaan tog nie oor ‘n ster nie, maar oor wat die betekenis van daardie ster is. En selfs al het ‘n mens nou bewys jy het ‘n “feit” hier beet, hier in die ster uit die Ooste, moet ‘n mens dan nog gaan vra maar wat beteken dit dan?

Iemand wat dit doen, soek na die verborgene, wat agter al die “realiteite” in ons bestaan staan. Om só te soek, dieper na te dink, is ‘n belangrike lewenshouding.

Ek sit terug en bedink dit, want dit is 'n insig wat op 'n wye vlak groot konsekwensies het. 

Elke dag herken, beleef, ervaar ons ‘n klomp dinge. Ons kan daarin vaskyk en dit eenvoudig beleef, herken en ervaar. Of ons kan gaan vra: wat doen ons met ons kennis, ons ervaring? Waarop wys dit ons? Of self snog dieper: alles wat ons beleef, stel ons voor die vraag hoe vind ons sin daarin? Of, in tradisionele taal: hoe wil ek God ontdek in dit wat ek beleef? Waarheen neem my ervaring my? Hoe transformeer dit my?

As ons nou uitgevind het, soos in die historiese kritiek dat daar “regtig” ‘n komeet was (of ‘n supernova of ‘n konstellasie), is ‘n mens nog net op die vlak van die natuurlike waarneming. ‘n Mens het nog niks van die transformerende krag van die ster gesê nie. En Matteus het oor die ster gepraat om te wys wat die ster alles aan die gang gesit het en verander het. Dit is vir hom nie ‘n netjies sterrekundige feit wat ook darem gedokumenteer moet word nie.

Dit klink teoreties, maar ek sien in hierdie week op ‘n kru praktiese manier hoe belangrik die soeke na betekenis is, hoe deurslaggewend dit is om gedurig te vra hoe God ‘n mens in jou daaglikse situasie ontmoet. Ons het maar ‘n slegte week met slegte weer hier in ons strandplekkie gehad. Sommige mense pak hulle goed en gaan gebelgd huis toe. Ander weer vra: hoe kan ek in hierdie slegte situasie tog sin ontdek? Watter geleenthede bied God aan my om nie hier vas te val nie?

Dit is dan dat ‘n mens in die slegte weer nuwe maniere van vakansie hou ontdek. Miskien leer ‘n mens dat dit glad nie so sleg is om maar ook in die reën bietjie te gaan swem nie, jy word mos in elk geval nat in die water. Of om daardie lank uitgestelde besoek aan bure oorkant die straat af te lê. Of om ‘n slag net lekker met die familie ‘n goeie gesprek te voer. Of om ‘n boek te lees wat nou al lank wag om gelees te word. Die soeke na verborge moontlikhede werk transformatief op hul lewe in – die slegte weer weerhou mens nie van moontlikhede om vreugde op nuwe manier te ervaar of om ander vorme van rus te ontdek nie.

Hoe kan ‘n mens die tyd uitkoop?, sou ‘n mens Paulinies kon vra.

Die manne wat die sterre dopgehou het, het gaan vra wat beteken die ster wat hulle gesien het. Hulle wou die verborge sin daarvan begryp. En toe het hulle ontdek die ster wys vir hulle op die koms van ‘n koning. Matteus se verhaal sê daarom dat hulle in Jerusalem aankom en vra na die Koning van die Jode. Hulle het “sy” ster (Mt.2:2) gesien. Die ster was nie vir hulle die kwessie nie. Hulle was duidelik geboei deur die Een na wie die ster verwys. Hulle was op soek na die Verborgene agter die ster. Hulle het dieper gedink as net om na sterre te kyk. Hulle was ingestel op die sin daarvan.

Dit is ‘n lewenshouding – om gedurig na die verborgene te vra. Wie uit die Verborgene leef, ontdek skatte wat die lewe ryk maak en die kersvrede laat deurbreek.

Spiritualiteit beklemtoon dit as ‘n eerste punt: wie die geestelike weg loop, moet geestelik ingestel wees. Dit is nogal belangriker as wat die op die eerste oogopslag lyk.

Terwyl ek hieroor nadink, besef ek weer hoe ‘n mens die basiese aspekte van spiritualiteit gedurig met inhoude moet vul. Dit is goed om ‘n mens se aandag te vestig daarop dat ‘n mens se benadering tot ‘n saak ‘n mens se ervaring daarvan wesenlik bepaal. Maar dit is wanneer ‘n mens dit nader gaan bekyk dat jy ontdek hoe hierdie instelling, die voorveronderstelling, die houding ingevul moet word. Om dan nogal verrassings raak te loop. Ek het verryk gevoel deur die feit dat Matteus sy lesers wil lei om soos die magiërs te soek na die Verborgene. Wie só soek, sal vind.

Saturday, December 25, 2010

Wat vir God wonderlik moet wees… Oor 'n kersgeskenk.


Die kersdiens vanoggend was pas verby. Ek staan op die preekstoel, terwyl sommige van die kerkgangers sommer by die preekstoel verby deur die agterdeur by die konsistorie die kerk uitstroom. Die verkeer by die voordeur is te druk.

Ek staan en wag maar dat almal eers vertrek sodat ons kan afsluit.

Dit is buitendien kerstyd. Ons is by die see. Almal is rustig. Niemand hardloop iewers heen nie. Dit is vrede-tyd in die vol sin van die woord.

Hier en daar groet iemand my in die verbygaan, gesels so bietjie, deel kerswense of kom sommer net hallo sê. Dit is ‘n kers-atmosfeer, vol versadiging na die diens.

Skielik verskyn daar ‘n dogtertjie van so vier jaar voor my. Sy was een van die vele kinders wat saam met hulle ouers die diens bygewoon het. So ‘n kersdiens met hele families en baie kinders is altyd spesiaal, want die kinders is met vakansie, ontspanne en neem lewendig deel  aan die vragies en besprekings tydens die preek.

Die kleuter stap op na my waar ek op die preekstoel staan en kom staan by my met haar vingertjie in die lig. Ek kom agter sy wil vir my iets baie belangriks sê.

Ek kniel by haar om naby haar te wees en te kan luister wat sy wil vertel.

Sy steek summier haar vingertjie en sit dit op my hand toe ek dit oophou.

“Ek het my vinger baie seergemaak”, sê sy saggies, ingetoë en hou die vingertjie dat ek die kol daarop kan sien. 

Ek kyk mooi en sien dadelik dat die blou kol op haar vinger ‘n klomp bloed onder die vel is. Sy het duidelik een of ander hou weg.

“Eina,” sê ek, so simpatiek as wat moontlik is. Ek kan sien haar trauma is vir haar nog baie groot, al lyk dit uit die wond of die ongelukkie al ‘n dag of twee gelede gebeur het. En al is die kol maar kleinerig, besef ek vir haar is dit asof haar hele hand blou en opgeswel is.

Sy bly vasgenael kyk na haar vingertjie terwyl sy dit op my handpalm laat rus. Haar hartjie is vol van die vingersmart. Sy wil selfs met haar ogies vir my beduie dat ek haar pyn moet raaksien.

“Wat het dan gebeur?” volg ek op met die volgende logiese vraag. Ek sien sy is nog lank nie uitgepraat nie.

“Ek het my vinger in die karavaandeur vasgeslaan,” sê sy. Ek sien: Die blou merk sit net so op die eerste lit van haar vinger. Ek besef dadelik dat daardie vingertjie waarskynlik in die deur vasgesit het en dubbel seergekry het toe die karavaandeur oopgemaak is.

“Eina,” sê ek weer. “Dit moes darem verskriklik seer gewees het. Het jy baie gehuil?”

Sy is baie in haar skik met die vraag. “Ek het verskriklik gehuil,” antwoord sy. Die hele tyd lê haar vingertjie op my handpalm en die hele tyd kyk sy intens daarna. Om ons stroom mense nog steeds die kerkgebou uit. Die preekstoel staan op die verhoog, die mens is sommer ‘n handbreedte van ons af. Haar ouers of familie is nêrens in sig nie. Maar op hierdie oomblik is sy totaal onbewus van enige iets anders en kan sy nie omgee wie waar is nie.

Sy wil net haar seer vingertjie vir my wys en haar hewige smarte met my deel.

“Toemaar,” troos ek. “Die dokter het seker darem mooi na jou gekyk.”

Sy kyk vir ‘n oomblik na my en dan staar sy weer passievol na haar vinger:

“Die dokter was te ver…” fluister sy.

Ek weet dadelik: Ons ou vakansie-plekkie is 35 kilometer van die naaste dokter. Dis nie sommer net vir gou dokter-toe gaan nie. En pa en ma het geweet die dokter sal nie juis veel aan die gedane sake kan doen nie.

En so staan ons twee toe daar op die preekstoel op die kersoggend en praat. Sy met haar vingertjie op my handpalm terwyl sy intens haar ellende bekyk. En ek knielend by haar, bewus van haar wêreldjie wat nou nog pyn het onder die herleefde pyn, ellende en seerkry….

Toe draai sy met haar kleuterlyfie om en stap saam met  die mense weg.  Tevrede.  Sy het haar wonde kom wys en haar troos kom kry.

Wat ‘n unieke kersgeskenk as ‘n kleuter so uit die bloute en vol vertroue en afhanklikheid haar pyn met jou kom deel, sommer net daar, op die preekstoel, waar jy oomblikke gelede nog met die kinders, met haar en met baie mense vol pyn God se woorde gepraat het.  

Terwyl ek op hierdie kersdag haar ewigheidsgeskenk aan my bly koester, besef ek naderhand meer waarom die skynbaar doodgewone oomblikke in die kerk, knielend by ‘n kind, my so geraak het.

Ek begryp uit my eie reaksie dat haar preekstoel-besoekie my iets leer oor God. Vir God moet daar niks wonderlikers wees as wanneer ‘n stukkende mens by God kom troos soek nie. As ‘n mens bly is dat God na jou pyn wil luister, des te meer is daar vreugde in die Vaderhart as mense hulle pyn met die Vader kom deel.

Friday, December 24, 2010

Kersnaggebed

Ek loop gister heel onverwags hierdie boeiende gedig, gelaai met lewenswysheid van Leipoldt raak. 


Ek verlustig my aan sy retoriese hantering van die ouderdomsverdriet ("die kers wat uitbrand tot die blaker-blik"). As die jare aanstap en die tamheid wil toeslaan, word 'n mens "verkwik" wanneer 'n mens dink aan wat die moontlikhede is wat die lewe tog nog in die laaste tydjie oor 'n mens se pad kan bring. 


En ek kyk fyn na sy gebed om besieling - om met sy daaglikse arbeid "voort te werk" totdat U Dood (hoofletter D) my "sus." Die dood sus ons in God se goedertierendheid in. 

Maar dit is die mistieke aard en slot wat my bybly. Die klem in die gedig is gedurig op "U". Dit is 'n intense soeke na God, na eenwording.


En dan: Die digter se laaste strofe is 'n smeekgebed om kinderlike verwondering. In die voorafgaande dele is dit nugter lewenskuns. 'n Mens moet bly doen wat jou hand vind om te doen. Maar in die laaste strofe volg die verrassende nuwe moment. As 'n mens oud is, moeg wil raak, is dit die meeste waarna 'n mens kan verlang: om in wat 'n mens op aarde vind, God se skoonheid te kan aanskou. 


Die verlange na kontemplasie.... Niks meer swoeg, nugtere werk nie, maar pure verwondering. 

Julle ou mense sal drome droom... 

Nog 'n voorbeeld van mistieke digkuns in Afrikaans. Maar meer nog - om te dink Leipoldt noem dit 'n Kersnaggebed! Geen wonder - verwonderende lig deurtrek die gedig. 

Iemand skryf in my bundel naas die gedig die kommentaar: "Een van die treffendste godsdienstige werke wat ons het."

Ek het 'n kosbare kersgeskenk ontvang toe ek onverwags, gisteraand, op hierdie gedig afgekom het. 


Kersnaggebed

Bedaar, O Heer, die harstog wat tot haat
Teen broer en buur wil opbruis as ek vind
‘n Vriend nie meer tot vriendewerk gesind,
‘n Maat van ouds nie meer my troue maat;

Skenk my die krag om, wat ook wissel en kwyn,
Die jare deur as mens getrou te bly,
En sonder trots en sonder huigelary
My plig te doen voordat my dag verdwyn;

Leen my die kennis wat my spoor tot klim
Uit bo die kranse van onwetendheid;
Sodat U skepsel, tot U diens gewyd,
Die lig kan raaksien waar die waarheid glim;

Nie om verwaand te spog met wat ek win,
Nog om verwend my kennis voor te stel
As iets alwetend, maar op U bevel
En om wat U gegee het te ontgin;

Die las van jare, ouderdomsverdriet,
Die kers wat uitbrand tot die blaker-blik -
Skenk my geduld om dit te dra, verkwik
Deur wat die tyd wat voorlê nog kan bied.

Vir daelikse arbeid gun my hoop en lus
Die oes is geil en alte kort die tyd -
Besiel my in U goedertierenheid
Om voort te werk totdat U Dood my sus.

Ek smeek U, Heer, om hulp dat ek behou
Die wonderskat my toebedeel as kind:
Dat ek, in wat ek op U wêreld vind,
Weerkaatsing van U godlik skoon aanskou.

Blog Archive