Saturday, May 14, 2011

Om God se wil te begryp, het ‘n mens besondere wysheid nodig. Oor die onderskeiding van God se wil (6)


In die Bybel word die interpretasie van God se wil nie net deur die profete gedoen nie (sien gister se blog). Ook die wyses vertel aan mense wat God se planne met hul lewe is. Hiermee word die onderskeiding van God se wil ook met die kategorie van “wysheid” verbind.

Dit is veelseggend. ‘n Mens pluk nie sommer antwoorde oor wat God wil hê uit jou mou nie.

In die Ou Testament word God se wil slegs met spesiale insig en wysheid onderskei. Daar is die beroemde verhaal in Genesis 40 van die skinker en bakker van Farao wat op ‘n storie-agtige manier hierdie insig beklemtoon. Hulle het Farao vies gemaak en daarom laat hy hulle in die tronk gooi – waar Josef op daardie stadium ook is. Toe kry albei ‘n droom “met besondere betekenis” (Gen.40:4).  Hulle was ontsteld oor die drome en het vir Josef “droewig gelyk”. Hulle begryp dus dat hier iets spesiaals aan die gang is. God se wil kom tot hulle op ‘n verborge, bedekte manier. Uit hulleself kan hulle nie die betekenis daarvan bepaal nie.

Toe Josef hulle uitvra oor hul droefgeestigheid, antwoord hulle dat dit is omdat niemand hulle drome vir hulle kon uitlê nie (Gen.40:8).

Josef, in sy wysheid, weet duidelik waarom dit gebeur. Hy antwoord met insig: “Is uitlegging nie ‘n saak van God nie?” Daarmee gee hy op ‘n diepsinnige manier te kenne dat die bekendmaking van God se wil in tekens saam loop met die uitleg van daardie teken deur God self. Die intepretasie van die wil van God kom dus nie op uit die menslike hart nie en is nie binne die menslike vermoë nie. Dit verg “wysheid” wat God aan mense skenk.

Daarop lê Josef die drome uit – maar die implikasie is dat God aan hom die insig skenk. Sy uitleg is lewensbepalend: Die skinker se droom beteken hy gaan weer sy werk terugkry, maar die bakker sal deur Farao opgehang word. Indirek is Josef se uitleg egter van groot belang vir sy eie lewe en ook vir die lewe van die verbondsvolk, want later sal God die skinker gebruik om ‘n groot ommeswaai in Josef se lewe te bewerk.

Die verhaal raak egter nou nog spannender. Josef se uitleg van drome eindig nie in hoofstuk 40 nie. In Genesis 41 kry Farao self sy bekende droom van die vet en die maer koeie, die een klomp lelik van aansien en die ander klomp mooi van aansien en sommer lekker vet – soos die Ou Afrikaanse vertaling dit vertaal. Farao se tweede droom gaan oor sewe maer en vet are.

Farao is ook bewus dat die drome spesiale betekens het. Sy drome laat hom ook onrustig. Hy soek dus die dieper betekenis daarvan en daarom ook, in die konteks van die Ou Testament vra hy dus na die wil van God.

Hoe hy dit doen, is veelseggend. Hy weet hy het wysheid nodig. Daarom laat hy al die “towenaars” en “wyse manne” van Egipte roep, maar niemand kan vir hom die droom uitlê nie (vers 8). Die groot wending kom wanneer die skinker hom vertel van Josef.

As Farao sê hy hoor dat Josef drome uitlê, antwoord Josef: “Niks vir my nie! God sal Farao ‘n gunstige antwoord gee.” Weer eens is die bedoeling duidelik. Die teken, maar ook die verklaring kom van God self. En daarom vra dit vir iemand wat van God afhanklik is vir ‘n insig in wat God se wil is.

Dit is die verborgenheid: dubbele afhanklikheid van God – die teken en die verklaring kom van God.

Die wyse kan slegs God se wil herken in afhanklikheid van God. Dit is pure nederigheid, geen self-gerigtheid nie! ‘n Mens kan verstaan waarom die vroeë kerk die profete mooi dopgehou het om te kyk of hul uitleg van God se wil hul eie aansien wil bevorder.

Josef se woorde nadat hy Farao se drome hoor is kenmerkend van geestelike onderskeiding: “Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan was om te doen, het God aan Farao te kenne gegee” (vers 25; sien ook vers 28 en vers 32). Geestelike onderskeiding is dus gerig op wat God vra (die twee weë, die weg na God en nie die weg na vernietigingnie),  maar ook die wyse insig in die oomblik wanneer God met ‘n mens praat. Die wyse mens kan die egte teken onderskei. Hy/sy weet wanneer God praat en wanneer God praat om die mens die wil vir sy/haar lewe uit te lê.

Boeiend in hierdie verhaal is hoedat Josef die lewe van Farao op ‘n veel groter wyse as bloot net in sy drome aan wysheid verbind. Die Farao se regering moet in die algemeen in wysheid geanker wees. God se wil bring ‘n mens in die wysheid tuis. Josef se raad aan Farao is daarom om ‘n verstandige en wyse man aan te stel in wie die Gees van God is (verse 33 en 38). Waarop Farao terstond vir Josef aanstel.

Genesis 41 integreer die drome-verhale in ‘n verhouding van God met mense wat hul lewens transformeer en in ‘n hele proses opneem. Dit is egte spiritualiteit. Josef se verhouding met en vertroue op God word in die res van die verhaal daarom pertinent uitgelig (sien verse 51-52). Hy vernoem sy seuns in terme van sy ervaring van God. Die goedheid van God, ten spyte van sy reis deur vervolging en die tronk heen, word deur hom intens beleef, gevier en herdenk. Die wysheid van Josef om God se werking in sy lewe raak te sien skyn ‘n helder, helder lig oor hierdie verhaal. Dit is nie sterre-vertellery nie, dit is nie drome uitlê nie, dit gaan om God se verborge wil vir ‘n mens se lewe met wysheid te onderskei.

Daniël 2 is ‘n pragtige voorbeeld van die verwagting dat wyse manne drome moet uitlê. Hierdie verhaal is baie naby aan Genesis 40-41 en gee dieselfde patroon van die onderskeiding van God se wil bekend.

In die gedeelte word verder ook dieselfde patroon as by die profete gevind: God kommunikeer met mense, maar God openbaar ook deur die wyse manne wat daardie kommunikasie beteken.

Waaijman verwys in sy hoofstuk oor die onderskeiding in wysheid na Jesaja 19:12 waar Jesaja sarkasties oor Egipte sê: “Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat ‘n mens kan weet wat die Here van die leërskare oor Egipte besluit het.”

Ook hier moet wyse manne onderskei wat God se wil is.  God se wil moet nie net met wysheid gesoek word nie, maar met die regte soort wysheid.  Dit is die soort van wysheid wat Josef en Daniël gehad het – ‘n wysheid wat van God kom en nie op menslike manier uitgedink word nie.

In Matteus 16 word vertel dat die Fariseërs en Sadduseërs na Jesus vir ‘n teken gekom het. Jesus reageer deur te sê dat hulle die tekens in die natuur wel kan “onderskei” (vers 3). Maar die tekens van die tye kan hulle nie onderskei nie. Dit is ‘n ironie, maar die rede is duidelik: God se wil is nie soos die natuur s’n nie, asof ‘n mens ‘n teken kan sien en dan onweer of goeie weer kan verwag nie. Die Fariseërs en Sadduseërs het net nie die vermoë, die wysheid (!) om na die wêreld uit die gesigspunt van God kyk nie. Wanneer God ‘n teken oor die regte oomblik, die kairos gee, is dit vir hulle verborge, bedek en ontoeganklik. Dit sou die wyse, Jesus, vra om God se wil uit te lê.

Friday, May 13, 2011

Nie alle profete praat namens God nie. Oor die onderskeiding van God se wil.


 ‘n Mens kan as reisiger op die geestelike weg moeilik ‘n belangriker vraag kry as die vraag na God se wil vir jou lewe en reis.  Hoe weet ‘n mens dat God jou mede-reisiger is en hoe bepaal ‘n mens wat hierdie Mede-reisiger van jou verwag?

Dit is ‘n vraag wat gelowiges deur die eeue heen besig gehou het. Dit is ‘n vraag wat ook by baie mense vandag na vore kom – nie die minste wanneer mede-gelowiges dikwels so stellig beweer hoe helder en duidelik hulle weet wat God se wil vir hul lewe is.

Cassianus, die wyse mistagoog, het ook hieroor nagedink. En net soos sy wonderlike insigte in die Lectio Divina, het hy hier ook ‘n nuttige patroon van gedagtes bymekaar gebring. Hy wil hê ‘n mens moet vier dinge in gedagte hou in ‘n mens se soeke om God se wil te onderskei. En hy knoop hierdie vier dimensies aan Bybelse gegewens.

Hy  gebruik die eenvoudige beeld van die geldwisselaar om te verduidelik hoe ‘n mens God se wil vir jou lewe bepaal.  Die eerste beeld, wat voorheen bespreek is, is dat die geldwisselaar bepaal of die goue muntstuk wat iemand aan hom wil verkoop, werklik goud is en nie koper nie.  Hier praat ‘n mens in spiritualiteit van die twee weë as ‘n verdere beeld. In die Bybel kan die geestelike reis by God eindig, of dit kan op dood en vernietiging uitloop. ‘n Mens kies op ‘n dag om na en met God te reis, en by herhaling, soos daar afdraaipaaie op ‘n mens se geestelike reis opdoem, moet ‘n mens opnuut weer vir God en teen die donkerte kies. Dit bly moeilik, maar dit bring volledige vreugde as ‘n mens weet jou liefde is aan God verklaar en nie vir jouself, jou wêreld of vir die oppervlakkige dinge nie.  Dit is die eerste groot manier om God se wil te onderskei:  ‘n Mens moet weeg of jy met God in ‘n verhouding (wil) tree of nie.

Reeds hieruit word dit duidelik dat God se wil nie altyd so duidelik soos ‘n paal bo water is nie. Selfs wanneer ‘n mens op reis is met en na God kan daar afdraaipaaie opdoem wat oppervlakkig aan God se wil geknoop is, maar wat eintlik vir n mens wegneem daarvan.

Cassianus wil die onderskeiding van God se wil verder verduidelik deur die beeld van die goudwisselaar wat die goue munt ondersoek om te kyk wie se afbeelding daarop is. Is dit die koning s’n of is dit ‘n tiran en uitbuiter s’n? Daarmee trek hy die kring kleiner: as ‘n mens jou lewe goed bekyk om te sien of jy op pad is met God, moet jy voorts luister om te hoor wat God vir jou sê terwyl jy op pad is.

Die Bybel, wil die beeld sê, lei mense op die goeie weg, die weg tot God. Maar sommige mense misbruik hierdie goue muntstuk deur die beeld daarop te verdraai. Hulle interpreteer die Bybel op so ‘n manier dat dit ‘n boek word wat vol onderdrukkende en uitbuitende bevele van ‘n tiran is. Die Bybel is nie meer die boek van God die Koning wat mense tot die lewe bevry nie.

Godsdiens kan ‘n onderdrukkende, verdrukkende en neerdrukkende las wees. As ‘n mens op so ‘n godsdiens ingekoop het, het jy ‘n kopermunt gekry. Jy is bedrieg. Goedkoop, waardelose koper is vir kosbare goud aan jou verkwansel. So ‘n godsdiens is nie God se wil nie.

Weer eens ‘n opsomming: In die vorige besprekings het dit geblyk dat die geestelike reis bestaan uit ‘n keuse vir of teen God se wil. Maar as ‘n mens gekies het om God se wil te gehoorsaam, is dit nog net die begin. Dan volg die volgende groot uitdaging: om te vra na wat dit is wat God vir die geestelike reis wil hê. Dit is dus ‘n vraag hóé ‘n mens God se wil onderskei.

Om ‘n antwoord te kry, kan ‘n mens gaan lig opsteek by hoe mense in die Bybel wat vir God gekies het, in hul geestelike reis God se wil in meer diepte onderskei het.

Die interpretasie van God in die Bybel
Die Bybel bevat vele vertellings oor hoe God die goddelike wil aan mense bekend gemaak het. Sommige mense ervaar goddelike tekens. God gee byvoorbeeld drome aan Farao (Gen.41:25), visioene (2 Sam.17:1; Daniël) en raaisels (1 Kon.10:1-3). Tydens Jesus se geboorte word tekens bekend gemaak en verskynings geskenk. In die vroeë kerk word visioene dikwels aan mense geskenk. Petrus sien ‘n visioen van onrein diere in Handeling 10.

Dit is egter maar net die een sy van die saak. Hierdie ervarings van mense word dan geïnterpreteer.  Soms, immers, is daar mense wat baie hoog op beweer dat hulle tekens en visioene ontvang het, soos in Korinte, maar wat eintlik net ‘n stuk opgeblase selfroem uitstal.

Die verhouding tussen God en mens word deur goddelike tekens bemiddel wat deur mense geïnterpreteer word. Aan die een kant is God direk aan die werk, maar tog word die werking van God ook in interpretasie bemiddel. God, skryf Waaijman hieroor, kan God se wil alleenlik bekend maak wanneer daar mense is wat die goddelike tekens kan verklaar. Menslike wysheid bly ‘n belangrike bemiddelende rol speel om God se wil te leer ken.

Waaijman noem die priesters, wysheidsleraars en profete as voorbeelde van hierdie mense. Die Nuwe Testament ken ook wyse mense, apostels, profete, leraars en evangeliste. Dit is mense wat ‘n sekere leidende funksie het. Hulle dien die gemeente met insig en bystand om dieper te verstaan waarom die geloofsreis gaan. Hierdie dienste is almal op een of ander manier betrokke by die interpretasie van God se wil vir hulle konteks en tyd. 

Een van die belangrikste groepe is die profete en hulle verdien sekerlik hier spesiale aandag, veral omdat hulle so ‘n prominente plek in die Ou en in die Nuwe Testament speel. In ‘n sekere sin is die Bybel ‘n boek wat uit die verkondiging van die profete ontstaan het – soos ons weet uit die feit dat die profetiese boeke ‘n enorme plek het en die invalshoek is van waaruit die Ou Testament byeengebring is.

Die Profete se interpretasie
Die profete interpreteer dinge vanuit God se gesigshoek en verwag van mense dat hulle hiervoor oop moet wees. Jesaja 40:21 verduidelik dit verder: “Weet julle dan nie? Het julle nie gehoor nie? Is dit nie aan julle bekend gemaak nie?”  ‘n Profeet bring die woord van die Here aan God se volk. Dit is ‘n profetiese woord wat hulle aandag en gehoorsaamheid vra.

Tog is alles ook hier weer nie so maklik nie, want daar was ook valse profete. Die Ou Testament praat dikwels van die profete wat die volk mislei het en aan hulle ‘n valse woord van die Here voorgehou het.

Die groot vraag word dus: wat is werklik die woord van ‘n profeet en wat moet as ‘n valse profesie beskou word?  En dit is reeds hier waar die onderskeiding van die geeste moet plaasvind.

Die egtheid van ‘n interpretasie is op verskeie maniere bepaal.
·        Die profesie word deur tekens bevestig.
·        Die voorspellings van die profete word waar.
·        Die interpretasie weerspreek nie geloofsinhoude nie.
·        Die profeet se lewenswandel is opreg en eg.

Ook in die Nuwe Testament is die onderskeiding van die geeste ‘n belagrike kwessie. Hoe moeilik dit is om God se wil te onderskei, kan ‘n mens uit Paulus se brief aan die Korintiërs aflei. Hier was daar selfs verskillende soorte gawes aan die werk.

Gelowiges in Korinte het byvoorbeeld in tale met God gepraat (1 Kor. 14:2). Ander weer het ‘n profetiese woord aan die gemeente gebring wat die opbou van die gemeente moes dien (1 Kor. 14:3). Maar in beide gevalle wys Paulus daarop dat dit nie genoeg was nie. Iemand moes die werking van die Gees in die spreek in tale interpreteer (1 Kor.2:10b) en ook die krag van die profetiese woord moes deur iemand uitgelê en onderskei word (1 Kor. 12:10a). Dit is so belangrik omdat die werking van die Gees op die manier vir almal toeganklik maak en die kragtige werking dus na vore kom.

Dit was later vir die vroeë kerk net so ‘n groot uitdaging om vas te stel wanneer is ‘n profetiese woord eg. Dit blyk duidelik uit vroeg-Christelike geskrifte soos Die Herder van Hermas, Die Didache en die werke van Ignatius van Antiogië.  Dit is boeiend om te sien dat hulle glo n profetiese woord is eg wanneer n profeet se lewe in ooreenstemming is met die lewenswyse van die Here. Hulle het ook fyn opgelet of ‘n profeet wil baat vind by sy/haar profesie en of eie eer/roem ‘n rol speel.  Persoonlike integriteit en self-betrokkenheid word ‘n belangrike maatstaf. Die vraag is of iemand self getransformeer word deur die Woord wat hy/sy as die wil van die Here aan mense voorhou. ‘n Egte profesie, in hierdie geval, is die profetiese woord wat in jou hart loop lê het en net so sterk met jou praat as met hulle aan wie die woord deurgegee word.

Thursday, May 12, 2011

Wanneer dit 'n probleem raak om gelukkig en bly te wees. Oor die spiritualiteit van vreugde.


Een van die navorsingsgroepe in Engeland met wie ons saamwerk op die gebied van spiritualiteit, fokus spesifiek en sterk op geluk as ‘n belangrike aspek van spiritualiteit. Hulle lees die Bybel met die oog op wat dit met geluk te doen het. Dit was vir my altyd weer ‘n opvallende invalshoek, maar ‘n mens verstaan dit wanneer ‘n mens na die Engelse en miskien selfs Europese konteks kyk.

Ek het juis voorheen geblog oor Engelse media-berigte wat ek versamel het oor geluk (vreugde of “happiness”).  Hierdie belangstelling val nie sommer uit die lug nie. Dit hang onder andere saam met die amptelike staatsbeleid in Engeland om die geluk van inwoners van die land te bevorder.

Hoe prominent die motief in spiritualiteitskringe ook in Nederland is, blyk uit ‘n populêre tydskrif met die naam “Happinez” wat besonder gewild in Nederland is en wat oor spiritualiteit wil berig. Baie Nederlanders wat “spiritueel” wil wees, lees Happinez.

In ‘n proefskrif wat pas in Nederland oor geluk verskyn het, word vertel van ‘n wetenskapike vaktydskrif met die naam Journal of Happiness Studies. Die proefskrif self (geskryf deur Bergsma; kyk sy webwerf: http://grootstegeluk.nl), is ‘n teken van die prominente plek van geluk in die samelewing en die belangstelling daarin.

In ‘n tyd dat dit in ryk, eerste-wêreldse samelewings met mense baie goed gaan, vertel die proefskrif, is hierdie fokus ‘n teken dat geluk en vreugde nog in baie mense se lewens soek is. Mense skryf so baie daaroor omdat hulle ‘n behoefte daaraan het en nie altyd weet hoe om dit te verkry nie. Daar is dus genoeg ongelukkige mense dat baie boeke en tydskrifte oor geluk wil skryf.  

Die soeke na geluk vertel van die gebrek aan geluk!

Daar is egter ook ‘n duidelike sielkundige motivering vir die belangstelling in geluk: ‘n mens, word soms gesê, moet nie altyd op die teenslae en lyding van mense konsentreer nie. Help mense om na hul sterk punte te kyk en leer hulle om dit sterker te ontwikkel. Dan is geluk binne bereik Solank mense op die manier gehelp word, kan hulle deur hulle eie innerlike krag die negatiewe oorkom.  

Dus, skryf die proefskrif, sou ‘n mens van ‘n geluksideologie in ons tyd kon praat. Dit is ‘n tyd waarin mense geluk jaag en jag.

Maar, nou is dinge nie so maklik nie asof geluk die antwoord op die geestelike reis is. Waarom, dan, is daar meer selfmoord-gevalle in lande waar mense die gelukkigste is (bv. in Denemarke en Swede), soos uit onlangse navorsing duidelik blyk?

Hiervoor is daar baie verklarings. Een daarvan is dat mense wat nie in geluk deel nie, soms uiters desperaat en self-vernietigend kan optree as hulle dit nie ook ervaar nie.

Maar, vertel die proefskrif, dit kan wees dat die strewe na geluk mense verkeerd instel teenoor negatiwiteit. Binne ‘n geluksideologie word ervarings van hartseer, angs en woede as indringers beskou in ‘n bestaan wat seepglad en blink moet verloop. Geluk sou dan beteken dat ‘n mens nie aan negatiewe dinge in jou lewe ruimte gee nie. By vele mense word die soeke na geluk dus iets wat volmaak bereik moet word sodat daar geen ruimte in 'n mens se lewe is vir enige iets wat jou gevoelens van geluk kan belemmer.

‘n Mens moenie die probleem van hierdie instelling onderskat nie. Mense wat dink dat die lewe net seepglad en blink moet wees, het navorsing uitgewys, kan nie teenspoed hanteer nie. As hulle nie rekening hou met die feit dat dinge soms verkeerd loop nie en dat alles nie altyd bly en vrolik kan wees nie, het hulle nie raad met die donker kante in die lewe nie.

Vergelyk hiermee mense wat weet dat die lewe altyd sy donker kante en teenspoed gaan hê. Hulle ontwikkel vermoëns om sulke tye te hanteer. Dit bring groter selfvertroue, want hulle ontwikkel vaardighede om deur hulle teenspoed te werk. Om ongelukkig te wees, kan dus vir ‘n mens ook goed wees!

Daar is ‘n ander kant van die fokus op geluk: Dit is ook opvallend dat mense wat net op geluk ingestel is en die negatiewe volledig wil uitskakel, dikwels hulle eie moontlikhede oorskat. Hulle kry nie dinge gedoen nie, rond nie projekte af nie en is minder suksesvol. Dit is ook in navorsing bewys dat selfs mense wat in swak, benarde omstandighede leef geluk ervaar.

In die boekie The Secret wat ‘n tyd gelede so ‘n groot treffer was, kry ‘n mens iets van hierdie geluksideologie. Jy moet gelukkig voel, dan sal jy suksesvol wees. Geluk kom net na mense wat gelukkig is. As ‘n mens positief ingestel is, kom jou sterk kante nog sterker na vore en bou jy aan ‘n suksesvolle toekoms.

Die boodskap hier is eintlik belaglik: As ‘n mens ongelukkig is, is hulle antwoord dat die enigste oplossing dat jy gelukkig moet word. Dit is die vreemde gevolg van die geluksideologie.

By die lees van die berigte oor die proefskrif, is dit vir my duidelik hoe belangrik geluk is. ‘n Mens wil, ook binne die klassieke spiritualiteit, volwasse en heel word. Iemand wat omvorm word uit die donkerte tot die lig, ontvang uiteindelik daardie vrede wat volkome vreugde gee. Maar te veel onderskat ons dat hierdie heling en groei ‘n proses is. Geluk is inderdaad bereikbaar, maar dit is nooit ‘n kalmvrye, “happy” en goeie, aangename gevoel nie.

Geluk het ook te doen met so iets dat ‘n mens die stryd kan stry, dat die stryd nie verlore is nie, dat ‘n mens te midde van die stryd ook vrede kan hê. Meer nog, het geluk te doen met die feit dat mense om my gelukkig is. Om in voorspoed te leef in ‘n land vry van misdaad en vol reuse-winkels, is lekker. Maar dit gee nie innerlike vervulling nie. Dit het te doen daarmee dat baie van die grepe na geluk, die soeke na happiness self-gerig en selfsugtig is. Dit het ook te doen met die wilde individualisme waar die eie behoefte die belangrikste is. Ons dink, solank ek maar gelukkig is, is dinge reg.
 
Geluk vra nog om diep deurdink te word.....

Wednesday, May 11, 2011

Wanneer en hoekom mense uit die kerk padgee. Oor die behoefte aan 'n kerk met 'n liefdespiritualiteit



 Ek hou van hierdie poster: Alfred Soord
AllPosters.com


 Die onderstaande artikel in vandag se Trouw oor ‘n bewering dat die oorgrote meerderheid van Nederlanders ongelowig is, is om meer as een rede belangrik.

Dit korrigeer ‘n groot misverstand wat by baie mense bestaan – ook in Suid-Afrika as hulle oor Nederland praat. Mense in Nederland is nie ongelowig nie, hulle is eerder a-kerklik/onkerklik. Dit is ‘n proses van ontkerkliking wat hom dwarsoor die wêreld afspeel en wat te doen het met die feit dat die kerk se institusionele mag gebreek is. Die dae dat die kerk mense se toegang tot die hemel en die hel bepaal het en sommer ook hulle aardse lewe ook, is onherroeplik verby. Dit alles gebeur ook in Suid-Afrika – en is ‘n verdere rede waarom hierdie artikel so belangrik is.

Mense is dus tog nog op baie maniere “gelowig”, al is dit dikwels bisarre vorme van geloof. Hulle is nie hul geloof kwyt nie – hulle het bloot hul vertroue in en vrees vir die kerk verloor.

Daar is baie redes hieroor. Maar een rede is in die kerk self te vind. Mense gaan nie meer kerk toe nie, omdat die kerk en veral die kommunikasie van die kerk vir hulle nie werk nie. Die kerke antwoord nie op die moeilike vrae van lidmate nie. Lidmate kan nie meer leef met ‘n simplistiese “glo net en alles sal regkom” waarmee hulle vrae tot swye gebring word nie. Dit is die soort van kerk-praatjies wat nie meer oortuig nie.

Die kerke spreek ook nie meer die behoeftes van mense aan nie.  Serebrale preke met dooie historiese feite en moralistiese oppervlakkighede dwing mense die kerk uit. Dit wat van die preekstoel af aan mense gegee word, klop nie meer met wat hulle beleef nie. Hul lewenservaring bly grootiks onaangeraak deur baie van die kerklike taal.

Die (ook dikwels bisarre) preke en uitsprake van die kerk skrik selfs mense af. Dink maar aan daardie gekke predikant in die V.S.A. wat ‘n Koran verbrand het en daarmee duisende Amerikaners in die buiteland aan lewensgevaar uitgelewer het – afgesien van die feit dat hy nie ‘n duit omgee vir die godsdienstige gevoelens van ander nie. Denkende gelowiges vind sulke onverdraagsaamheid afstootlik en onvanpas.

Mese wil ook nie meer kerk toe gaan nie, omdat die beeld wat die kerk uitstraal wêreldvreemd, sonder lewensvreugde is. En dit beteken nie dat mense nou gedurig wil loop en glimlag nie. Maar hulle wil weet wat is vervullend aan die menslike bestaan, wat maak die lewe die moeite werd. Hulle wil in die oggend opstaan en weet dat dit waarvoor die kerk staan hulle inspireer om werk toe te gaan, om vir hulle families om te gee en om hul eie lewe sinvol te leef.

Die ontkerkliking sit ‘n bose sirkel aan die gang. Omdat mense nie meer kerk toe gaan nie, beoefen hulle hul geloof op hul eie en soek hulle antwoorde op plekke wat nie minder bisarre dinge bied as wat hulle soms in hul kerke hoor nie. Daar is, soos hierdie artikel lui, geen sosiale kontrole nie. Die kerklike wysheid wat mense tog in ‘n goeie rigting kan du, ontbreek. Met ander woorde, die kerk skiet homself dikwels in die voet. Deur verby te leef aan die lidmate se innerlike lewe, word die lidmate aan plekke en instansies uitgelewer wat hulle net verder die afgrond insleep. Dink maar aan die voorspoedsteologie wat wêreldwyd vir ‘n kort tyd mense inspireer totdat dit onvermydelik uitbrand en mense ontgogeld laat.  

Dit is nietemin waar: mense glo nog, al is dit net nie binne ‘n kerklike ruimte nie. Net 15 persent mense glo nie. Selfs die meerderheid Nedelanders is nog kerklidmate al gaan hulle nie kerk toe nie. En as sommige mense op ‘n dag in een of ander krisis beland, keer hulle hul weer tot die kerk.

Wat staan die kerk te doen? Die dae van triomfantelike magsuitoefening en selfvoldaanheid is verby vir die kerk. Gelukkig. Die kerk is nie meer die geestelike begeleier van sy lidmate nie. Die kerk is eerder die mede-reisiger wat saam met sy lidmate soekend vra na hoe ‘n mens in ‘n nuwe  tyd nuwe antwoorde uit die ou antwoorde maak. In gesprek met die verlede, maar ook in wisselwerking met sy lidmate se lewenservaring, moet die kerk diens lewer. Dit beteken diep kyk, dieper vrae vra en dieper antwoorde gee. Die kerk moet eerder swyg as oppervlakkig klink.

Dit hoef nie groot intellektuele vermoëns te vra nie. ‘n Mens hoef nie baie slim te wees om mense te inspireer nie – hoewel goeie insig uiteraard baie help. Wat die verskil maak is geestelike volwassenheid en integriteit. Die kerklike leier is iemand wat naby aan God leef, wie se geesteike reis laagte- en hoogtepunte het. Dit is iemand wat God se liefde aan eie bas gevoel het, so sterk dat hy of sy daardie liefde op ‘n deurgronde, egte manier met ander in geduld, verdraagsaamheid, solidariteit, self-opoffering kan bly deel met hulle wat die liefde nie voel nie en desperaat daarna soek.

Die kerk is iemand wat saam met sy lidmate die geestelike reis aflê. Die implikasie is dat die kerk nie regeer nie, maar saamreis. En die kerk is nie meer die voorloper in die sin dat die skape agterna tou nie. Die ander deel van die metafoor van die skaapwagter geld vir ons tyd: die kerk is in die skemer besig om te soek na die skaap wat iewers ronddwaal. En word die skaap gevind, bly die kerk by die skaap, sorg vir hom en laat hom weer saam met al die skape ‘n ruimte vind waar die skaap kan skuil.

Onderliggend aan hierdie nuwe houding van die kerk is die fokus op spiritualiteit: wat tel is nie wat ‘n mens alles vir jou skape kan doen nie. Hoe dom en swak en hulpeloos hulle is nie. Wat tel is die gesindheid van omgee. En hierdie omgee het te doen met die lewenservaring van mense. Die kerk moet sy lidmate gaan vind waar hulle is, met hul innerlike soeke en vrae. Luister, saam-wees, saam-reis word die sleutelwoorde van ons tyd. Minder vinnige antwoorde, meer stilte, minder slimmigheid, meer teenwoordigheid. Maar meer nog: op die diepste vlak is die liefde vir God, vir ander en vir ‘n mens self die groot motief vir ons tyd.

Hier is die artikel:

Religie is nog lang geen interesse van een minderheid. Nieuw is alleen dat er nu meer gelovigen buiten de kerkmuren zijn dan erbinnen.

In zijn column 'De wereld is behoorlijk religieus' in Trouw van 23 april stelde hoogleraar geschiedenis James Kennedy dat de Nederlandse samenleving een seculiere meerderheid kent. Hij verzuchtte dat de roep dat het 'afgelopen moet zijn met dat religieuze gedoe' steeds luider klinkt. Nederland, aldus Kennedy, is zó ontkerkelijkt, dat het normaal is om niet tot een godsdienst te behoren. Seculier stelt de norm.


Die constatering lijkt mij niet juist. Weliswaar is de rol van religie in de inrichting van de samenleving minder belangrijk geworden, en in die zin is Nederland geseculariseerd. Maar statistisch gezien bestaat er geen seculiere meerderheid. Echt seculier is hooguit de atheïstische minderheid, die echter al decennia niet meer dan 15 procent van de bevolking omvat. Deze categorie kent enkele zelfvoldane spraakmakers, zoals Kennedy signaleert, maar ook meer gematigde woordvoerders.


De fout die Kennedy maakt is dat hij 'gelovig zijn' gelijk stelt aan 'kerks zijn', dat wil zeggen minstens eenmaal per maand naar kerk of moskee gaan. Volgens de laatste statistieken betreft dat inderdaad een minderheid. Op die manier zou nog geen 20 procent van de bevolking gelovig zijn. Toch is de overige 80 procent daarmee niet ongelovig.


Tussen de atheïstische en de kerkse minderheden bevindt zich een meerderheid van ongeveer 65 procent die niet of nauwelijks ter kerke gaat, maar ook geen atheïst is. Meer dan de helft is zelfs formeel nog kerklid. Deze 'onkerkse religieuze meerderheid' wordt getypeerd door een eigen, creatieve, zeer gevarieerde spiritualiteit. Die spiritualiteit is vaak diffuus, soms slapend en soms zeer wakker, en put uit vele levensbeschouwelijke bronnen. Al zijn deze mensen niet kerks, ze hebben wel een geloofsbeleving. Bij een deel van hen wordt die alleen in crisistijden actief. Anderen stellen altijd wel zingevingsvragen en zoeken stelselmatig naar antwoorden.


Zo gezien zijn er dus nu meer gelovigen buiten de kerkdiensten dan erbinnen. Deze gelovige meerderheid is voor haar praktijk niet afhankelijk van de religieuze instituties. Voor velen van hen hebben de media de rol van zingevingsleverancier overgenomen van de kerken. Het succes van het tijdschrift Happinez is daar een voorbeeld van. Het recente tv-project 'The Passion' in Gouda en de omslagreclame ervoor in gratis dagblad Metro van diezelfde dag vormden een kerkelijke erkenning van deze rol van de media.


James Kennedy meent verder dat de vermeende seculiere meerderheid zelfvoldaan is. Hij vindt dat de vroegere zelfvoldaanheid van gelovigen nu is teruggekomen bij de seculiere meerderheid, en dat vervult hem met zorg. Maar Kennedy kan gerust zijn: er is geen seculiere meerderheid, laat staan een zelfvoldane. Zelfs de meerderheid van niet-kerkse gelovigen kan geen zelfvoldaanheid verweten worden in hun afkeer van de instituties. Zij (of hun ouders) zijn onder andere uit de kerk vertrokken omdat kerkelijke leiders niet adequaat ingingen op hun geloofsvragen en niet meegroeiden met hun geloofsbehoeften. Deze teleurgestelden hebben daarom vaak met de voeten geprotesteerd. Niet uit zelfvoldaanheid, veeleer uit nood en omdat ze niet anders konden. Doordat ze zich aan de sociale controle van de kerk hebben onttrokken, konden ze eigen vormen van zingeving vrijuit gaan verkennen.


De zelfvoldaanheid schuilt veeleer in de machtspositie van kerkelijke leiders, zoals bijvoorbeeld de huidige aartsbisschop van Utrecht laat zien, die het gelukt is zelfs zijn achterban van conservatieve katholieken van zich te vervreemden.


De atheïstische woordvoerders hebben daarom recht van spreken. Juist de machtskenmerken van de kerken hebben het atheïsme gevoed, zeker als God in die macht werd geacht te delen. Kerken, ook protestantse, munten niet uit in zelfkennis over hun omgang met macht. Daar mag best een badinerende column aan gewijd worden, zoals Bert Wagendorp in de Volkskrant deed. Of misschien binnenkort door Kennedy zelf, in Trouw.

Tuesday, May 10, 2011

Van lopende fonteine na stukkende waterbakke. Oor ontrouheid aan God. Bybelstudie oor Openbaring

Die gemeente in Tiatira is ‘n lewendige, voorbeeldige gemeente, het ons gesien in ‘n vorige bespreking. Hulle het liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding (Open.2:19).

Maar, onder hulle is daar sommige wat die beste van twee wêreld wil hê. Hulle verkondig die evangelie, maar hul het ‘n stuk dubbelhartigheid. Hulle verlei ander om ontrou te wees – om onsedelik te wees deur afgode te dien en deur afgodsoffervleis te eet (Open.2:21).

Dubbele standaarde kom in die Nuwe Testament dikwels onder die skerpste moontlike veroordeling. Jesus val godsdienstige leiers van sy tyd skerp aan omdat hullle vroom lyk, maar in der waarheid ander mense tot die kwaad verlei.

Deur Openbaring heen is daar dikwels sterk  woorde teen hulle wat ander “verlei”. Jezebel doen haarself as ‘n profeet voor. Sy gee haarself uit as iemand wat God se wil vir ander uitlê. Maar sy is in werklikheid ‘n verleier. Sy laat ander ontrou word aan hul verhouding tot God.

Dit is die ondenkbare: mense wat oor God praat, maar eintlik direk teen God se bedoeling in leef en verkondig.

In die harde beskrywing van haar in Openbaring 2:20-21 word sy geteken as ‘n onbekeerde mens – én dat sy hardnekkig weier om haar te bekeer. Dit is ‘n dubbele oordeel wat oor haar uitgespreek word.  Bedink dit maar: ‘n onbekeerde profeet?'n Profeet wat 'n oproep tot bekering hardkoppig verwerp?

Hard is die straf wat oor haar sal kom. Eintlik gewelddadig en hardhandig kom God se oordeel oor haar in siekte. Ook hulle wat deur haar verlei is, loop deur. Hulle sal geen verskoning hê nie, al is hulle nie die aanstigters nie en al is hulle deur Jezebel verlei. Ook hulle is skuldig aan ontrouheid en dubbelhartigheid.

‘n Mens staan eintlik terug oor die ontstelde woede wat in hierdie verse na vore kom: die goddelike reaksie is kwaai en besonder sterk.

Dan volg die veelseggende sin: “Ek sal elkeen van julle volgens hulle dade straf.” Die straf wys dus uit hoe ernstig die oortreding is. Dit is goddelike toorn wat hier teen ontroue vennote van God ontvlam omdat hulle skuldig is aan dade wat uitstyg in hul boosheid bo alle ander dade.

Johannes se boek Openbaring is deurdrenk van die Ou-Testamentiese boodskap dat God ‘n verhouding met mense aanknoop. Vroeg reeds in sy boek (Open.1:5-6) word vertel van die liefdesgemeenskap waardeur mense verlos is van hul sonde en getransformeer is tot ‘n koninkryk en tot priesers. Die Jesus wat aan Johannes in die openingsvisioen verskyn, hou die sewe gemeentes in sy regterhand – ‘n duidelike simbool van die intieme, hegte band tussen God en gelowiges (Open.1:16 en 2:1). Jesus leef tussen die gemeentes (Open.1:13). Hy het alles vi hulle feil gehad. God stort die goddelike hart geheel en al in die verhouding met gelowiges uit. God gee alles vir hulle wat God lief het.

Dit geld ook vir daardie gemeente in Tiatira: God gee alles ook vir hulle.
Om ontrou te raak, beteken om hierdie kosbare, goddelike liefde te minag. Die liefde van God word verraai. Dit is dieselfde as wat met die gemeente in Efese gebeur: hulle het hul eerste liefde verlaat (Open.2:4).

Wanneer mense ontrou aan God is, ontsê hulle hulself die bron van lewe. Hulle pleeg eintlik geestelike self-moord. Maar voorts stal hulle hul eie self-gesentreerdheid en gebrek aan wysheid uit. Hulle gaan soek na alternatiewe wat hulle net nog verder in die ellende inbring. Jeremia 2:13 verduidelik dit in ‘n aangrypende beeld: “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat ebars is en nie water hou nie.”

Ontrouheid aan die goddelike liefde ontneem ‘n mens van dít wat ‘n mens se hart tot rus bring. Maar terselfdertyd laat ontrouheid ‘n mens vertrou op sy/haar eie vermoëns. En die gevolge is self-vernietigend. Die helder, stromende water wat ‘n mens verkwik, word vervang deur lekkende waterbakke wat mense self gaan bou het. En wat hulle dors soos nooit tevore laat word. Uiteindelik kom ‘n mens om van gebrek aan water, terwyl ‘n mens by God stromende fonteinwater kon inneem.

Jezebel, impliseer Openbaring 2:24, leer aan gelowige mense die verborge dinge. Sy is immers ‘n profeet wat die onbekende uitlê. Maar, verdoemend, is dat haar verborgenhede van satan is. Dit bring mense by die teenoorgestelde plek waar hulle behoort te wees – dit ontneem mense van die liefdesverhouding waarin hulle egte vreugde sal vind.

Dit kan goed gaan met gelowiges, met die kerk. Hulle kan lewendig en voorbeeldig wees. Daar kan groot stukke vroomheid in die lewe van gelowiges en die kerk te vinde wees.

Tog kan mense en gemeentes in die hart van hul geestelike reis ontrou wees aan God se liefde – aan dit wat ‘n mens geestelik aan die lewe moet hou.

Dit is nogal die groot uitdaging – nie om gelowige te wees nie, maar “om te doen wat Ek wil hê” (Open.2:26). Dit is ‘n groot uitdaging want maklik gebeur dit dat mense graag doen wat hulle wil hê of doen. Vandaar die herhaalde vermaning: Luister maar na wat die Gees vir die gemeentes wil sê!  (Open.2:29).

Blog Archive