Thursday, June 09, 2011

Om te wag op God se wil. Die onderskeiding van God se wil (12)


Hoe, vra een van die bekendste Spiritualiteitskrywers ooit, kan ‘n mens God se wil vir ons lewe herken? Hoe sien ons die tekens raak wat God vir ons uitwys? Hoe herken ons God se teenwoordigheid? Wanneer kan ons weet dat God by ons in ons lewe is?

Ignatius van Lojola het ‘n boek geskryf wat enorme invloed op die lewe van die kerk uitgeoefen het met antwoorde op hierdie vrae. Hy het in die boek sekere “geestelike oefeninge” bespreek waarin hy oor die onderskeiding van God se wil nagedink het.

Ons kan skryf hy, die goddelike onderskei deur sekere geestelike oefeninge. Ignatius het hierdie oefeninge nie maklik opgedis nie. Dit is oefeninge wat deeglik deurdink is. Hy skryf oor hulle as die erfgoed van mense wat al vir eeue lank ander gehelp het om God se wil vir hul lewens te onderskei en wie se insigte deur baie ervaring gevorme en getoets is.

Daar is een opvallende kenmerk van Ignatius se geestelike oefeninge. Hulle het almal Jesus as die fokuspunt. Ignatius se Spiritualiteit het ‘n Christologiese karakter. As ‘n mens God se tekens, God se teenwoordigheid, God se nabyheid wil herken, moet ‘n mens op Jesus let, skryf Ignatius.

Wat gebeur dan in hierdie oefeninge? Die oefeninge beteken dat ‘n mens al biddende en kontemplerende oor Jesus se lewe lees. En - elke keer wanneer hierdie leesproses plaasvind, laat dit “spore” in ‘n mens se lewe agter. Die lewe van Jesus laat hom nie “onbetuigd” nie.

Dit is egter nou maar nie sommer net om die Bybel op te tel en oor Jesus te lees nie. Vele mense doen dit in elk geval sonder dat hulle God se wil vir hul lewe herken. Daar is dus sekere dinge waarop ‘n mens ingestel moet wees wanneer ‘n mens oor Jesus se lewe nadink met die oog op jou geestelike reis:

Die biddende lees van Jesus se lewe vra eerstens ‘n openheid van ‘n mens. Daar mag geen vooroordele en negatiewe gesindhede in jou lewe aan die werk wees nie. Wanneer ‘n mens die Bybel optel moet ‘n mens dus maar deeglik kyk na wat in jou binneste aangaan.  

Dus – nommer een: Openheid!

Dit vra ook verder van ‘n mens om op te let watter spore in jou lewe getrap word wanneer jy oor Jesus se lewe lees en nadink. ‘n Mens moet let op dít wat van God kom en dit wat nie van God is nie. Wat is die dinge wat ‘n mens se lewe opbou, mooi maak, wat jou innerlike vrede gee? En watter dinge is afbrekend? 

Dus – nommer twee: Oplettendheid!

Dan, as ‘n mens opgelet het, moet ‘n mens kies vir die goddelike dinge. Dit wat jy weet wat saak maak, wat transformeer, wat God se sake is, moet jy jou eie maak en toegeëien word.

Dus – nommer drie: Omarming!

Dit is waarom hierdie geestelike oefeninge gaan.

Dit lyk nie te ingewikkeld nie: openheid, oplettenheid en omarmimg. Maar hierdie proses van geestelike oefeninge behels vele dinge.

Dit is opvallend dat ‘n mens deur die lees van Jesus se lewe, in ‘n heel ryke, komplekse proses deel. Mense wat hieroor nadink en die geestelike oefeninge hul eie maak, vind elkeen iets besonders daarin en verbind die oefeninge met verskillende dinge. Elkeen wil op sy eie manier die oefeninge gebruik.

 Mense soek op baie maniere na wat saak maak:

Sommiges vra: hoe help die oefeninge my om die regte, oop houding te vind?
Sommiges vra: hoe help die oefeninge my om God te verheerlik in elke situasie waarin ek my bevind?
Sommiges vra: hoe help die oefeninge my om die regte besluite te neem?
Sommiges vra: hoe help die oefeninge my om in ‘n noue verbintenis met God te leef?

Maar dit is nie nodig om die geestelike oefening in net een van hierdie vrae te laat verskraal nie. Eintlik moet ‘n mens al hierdie aspekte deur die oefeninge soek. ‘n Mens moet kan kies sodat dit wat God verheerlik ‘n werklikheid word in jou lewe as iemand wat hom- of haarself graag deur openheid meer vir God wil beskikbaar stel.

As ‘n mens nou al hierdie dinge moet saamvat sou jy kon vra: Waarom gaan dit alles? Die antwoord is: ‘n Mens ervaar ryk ontferming en troos dat jy deur God uitverkies is.

Dit beteken hierdie merkwaardige wete: Dit is God se voorreg om in ‘n mens se lewe in te kom, maar ook om ‘n mens se lewe te verlaat. God is die Een wat ‘n beweging in ‘n mens se lewe kan ontketen wat ‘n mens volledig in die liefde van sy Goddelike Heerlikheid intrek. Die geestelike oefeninge is die manier waarop mense hulle beskikbaar stel vir God se verborge werking, maar uiteindelik is God alleen die een wat soewerein werk.  

En dit moet gebeur sodat ‘n mens uiteindelik weet God is die stuurman van jou lewe. Dit is God se wil wat ‘n mens se lewe in ‘n rigting neem. Niks anders bepaal ‘n mens se lewe nie.

Hoe weet ‘n mens dat God aan die werk is, dat God se wil in ‘n mens se lewe gebeur? Dit gebeur wanneer ‘n mens Galasiërs 5:22 aan eie lyf ervaar: die vrugte van die Gees is vrede, vreugde, vertroue en hoop.

Ignatius se oefeninge moet nie misverstaan word asof dit ‘n manier is waarop die mens ‘n houvas op God kry nie. Die verborgenheid is dat die mens juis beskikbaar word sodat wat God wil, in ‘n mens se lewe ‘n werklikheid word.  
  (n.a.v. Waaijman 497-8)

Wednesday, June 08, 2011

Die liefdesgesig van Gereformeerde Spiritualiteit

Prof. Vincent Brummer het 'n paar belangrike boeke geskryf (o.a. oor Gebed). Hy skryf hulle in die tradisie van Bernard van Clairvaux se liefdesmistiek. 

In NGTT (51) 2010, is daar 'n artikel van hom oor Prof. Hofmeyr, een van die professors aan die Teologiese Seminarie in die vorige eeu, waarin hy Hofmeyr se Mistieke Teologie beskryf en die invloed daarvan op die Gereformeerde tradisie in ons land beskryf. 

As 'n mens die artikel lees, gaan daar 'n heeltemal nuwe lig op oor die soort van Gereformeerde Spiritualiteit wat vir dekades in die N.G. Kerk geleef het en wat in die middel van die vorige eeu sterk op die agtergrond getree het. 

Dit is 'n belangrike artikel, waarvan ek net die eerste deel hier aanhaal. Dit is 'n helder en toeganklike artikel. As ek Brummer lees, laat dit my dink aan Prof. Willie Jonker se styl. Hulle laat my besef: as jy nie 'n diep saak op 'n helder manier kan beskryf nie, dan het jy dit nog nie goed genoeg begryp nie.

Ek onthou hoe ek 'n jaar of twee gelede die 50 jarige gedenkboek oor die geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch gelees het en waarin vertel is dat Hofmeyr se Bybelstudie-byeenkomste so gewild was dat 'n mens nie kon plek kry as jy nie betyds opgedaag het nie. Dit moes te doen gehad het met sy mistieke teologie.  

En 'n laaste stuiwer: In die artikel maak Brummer die kostelike opmerking: "Dit is nie verniet dat Andrew Murray sy pastorie Clairvaux genoem het nie."  Dit is my aanhaling van die week. Dit gee mens 'n belangrike insig in Murray se mistieke bronne.


Hier is die artikel van Brummer. Die res is in NGTT van 2010 te vinde.
 
HOFMEYR EN DIE MISTIEKE TEOLOGIE OP STELLENBOSCH

In 1905 het Andrew Murray ’n mooi boekie geskryf waarin hy die hoofgedagtes uiteengesit het van Graaf von Zinzendorf, die belangrikste verteenwoordiger van die Reveil in Duitsland en stigter van die Morawiese sendinggenootskap. In die inleiding skryf Murray dat ‘by die groot godsmanne, met wie die Heer Sy kerk van tyd tot tyd geseën het, ...was daar meestal één hoofwaarheid waardeur hulle ondervinding gekenmerk word en wat by hulle altyd op die voorgrond staan... So het ook Graaf von Zinzendorf, wie se woorde in hierdie boekie aan die leser aangebied word, één waarheid wat kenmerkend is van sy lewensondervinding en sy prediking - die liefde van Christus.’

Dit is duidelik dat ook Murray homself baie tuisgevoel het in hierdie ‘hoofwaarheid’. Ook vir hom het die kern van ‘het godzalig leven’ daarin gelê dat ‘n mens jou vreugde vind in die liefdesgemeenskap van Christus. In hierdie verband skryf hy dat ‘die meeste Christene by hulle bekering nie verder kom as die kennis van die vergewing van die sonde nie. Hulle weet nie dat dit maar die ingang is tot die weg van die lewe nie, en dat by die poort die Here Jesus gereed staan om hulle by die hand te neem, om hulle elke dag in Sy gemeenskap te hou en hulle Sy leiding te gee. Omdat hulle nie verstaan dat die persoonlike omgang met Christus en die persoonlike ondervinding van Sy groot liefde die hoofsaak van die Christendom is nie, kom hulle nooit vooruit nie. Hulle godsdiens bestaan meestal in wat uiterlik is, in die werk van die verstand, terwyl die inwendige verborge lewe met Christus in God vir hulle onbekend is. ... Zinzendorf was ‘n man wat nie alleen maar van buite uit die beskouing sy kennis verkry het nie. Hy het gepraat as iemand wat ingedring het tot in die binneste geheime van die godsaligheid, en in die vriendskap van Jesus en in Sy omgang geleef het en hom daarin salig gevoel het.’

Ons lewe in ’n tyd waarin ons kultuur fundamenteel bepaal word deur die vooronderstellinge van die Verligting. Een van die belangrikste van hierdie vooronderstellinge is dat al ons denke ’n vorm van kennisverwerwing is. Daarom is die wetenskap paradigmaties vir al ons denke omdat die wetenskap vir ons op metodies-kritiese manier betroubare feitekennis oor die werklikheid verskaf. Vanuit hierdie gesigspunt beskou baie mense vandag religieuse geloof ook as ’n vorm van feitekennis. Religieuse geloof is dan ’n soort teorie waarvan die waarheid deur gelowiges onderskryf word; in die woorde van Murray: ‘die werk van die verstand.’ Die probleem is egter dat hierdie teorie nie voldoen aan die kritiese maatstawwe van die wetenskap nie en daarom vanuit die perspektief van die Verligting verwerp word. In sy boek oor Faith and Belief toon Wilfred Cantwell Smith aan hoe die betekenis van die woord ‘faith’ vanaf die Verligting hoe langer hoe meer gereduseer word tot ‘belief’ in die waarheid van beweringe. ‘Faith’ word dan die aanvaarding van ‘beliefs’ wat nie wetenskaplik betroubaar is nie. Sulke religieuse ‘beliefs’ verwys daarom na ‘propositions explicitly uncertain as to whether they were true or not; and presently to propositions that were, by preference, improbable or even false.’ As illustrasie verwys Smith na die Amerikaanse woordeboek van Random House waarin ‘belief’ gedefinieer word as ‘an opinion or conviction’ waarby as voorbeeld aangevoer word ‘the belief that the earth is flat’! Dit is duidelik dat ‘n kultuur waarin religieuse geloof hierdie betekenis kry aanleiding kan wees vir Mark Twain se skoolseun-definisie: ‘Faith is believing what you know ain’t so.’

Vir mense soos Murray en Zinzindorf was hulle geloof iets heeltemaal anders as die Verligtingsopvatting daaroor. Die ‘een hoofwaarheid’ van hulle geloof, naamlik die liefde van God in Christus, was nie die kernbegrip in ’n teorie of ’n teologiese denksisteem nie, maar die sentrale fokus van hulle ‘lewensondervinding’ en van die lewensvisie waarin dit tot uitdrukking gekom het. Vir hulle was ‘die persoonlike omgang met Christus en die persoonlike ondervinding van Sy groot liefde die hoofsaak van die Christendom.’ Ook vir hulle geld die uitspraak van Chesterton oor Fransiskus van Assisi: ‘To this great mystic his religion was not a thing like a theory but a thing like a love-affair.’ 

Tuesday, June 07, 2011

Liefde en Humor. Oor Metodiste Spiritualiteit

John Wesley






Ek lees met veel genot Gilian Kingston se artikel oor Metodiste Spiritualiteit in The New Westminster Dictionary of Christian Spirituality. 

Sy vertel die bekende verhaal hoe Wesley teen sy sin 'n godsdienstige byeenkoms bygewoon het, toe hy skielik 'n warm gevoel gehad het en bewustelik 'n ervaring van verlossing gehad het. 

Dit het aanleiding gegee tot sy doelwit om Bybelse heiligheid ('n kernwoord van spiritualiteit) deur die land te verkondig. Dit was, skryf Kingston, 'n diep persoonlike ervaring wat tog universele trekke gehad het. 

Dan haal sy Charles Wesley aan wat met 'n lied hierdie spesiale ervaring verwoord het. Die lied tref my. 

Dit gaan eerstens van begin tot einde oor die liefde van Christus se self-gawe. Dit is voorts 'n universele liefde wat gedeel word en dit is 'n liefde wat transformatief lig bring.

Daar is iets ligs in hierdie geskiedenis, besef ek by die lees van die artikel - die hart wat warm word, die onvrede/duisternis wat verdryf word, maar dan veral, die oratiewe lof op die liefde.

En hoe trek die lied nie die oog weg van die mens se heiligheid na die Liefde waaruit die heiligheid ontspring nie:

Tis Love! Tis Love! Thou diedst for me!
I hear the whisper in my heart;
The morning breaks, the shadows flee,
Pure, universal love thou art;
To me, to all, thy mercies move;
Thy nature and thy name is Love. 

Hoewel die hele verhaal wys op 'n subjektiewe belewing, op 'n verinnerliking van geloof, die inneem, appropriasie en toe-eiening, is dit nie waarom dit gaan nie. Die fokus loop na buite, na die Liefde, die Lig en die Genade. Die oratiewe is gebind aan die oorsprong van die ervaring van bevryding. 

Maar dit alles ter inleiding. Wat my beweeg tot hierdie skrywe is die oulik verhaal, vol humor, wat Kingston vertel. John Wesley stuur op 'n stadium vir Samuel Bradbourne 'n brief waarin hy Psalm 37:7 aanhaal en 'n paar banknote invoeg. Heel gevat kom daar toe 'n bedankingsbrief van Bradbourne waarin hy skryf (net in Engels kan 'n mens die woordspel raaksien): 

I have often been struck by the beauty of the passage of Scripture you quoted in your letter, but I must confess that I never saw such useful explanatory notes upon it before!

Lekker lig en gevat.

Origens, ten slotte, het die artikel my bewus gemaak hoe veel ooreenstemminge die N.G. Kerk se Spiritualiteit met die Spirutualiteit van die Metodisme toon.

Monday, June 06, 2011

Schleiermacher is Gereformeerd! Oor die Kompleksiteit van Gereformeerdheid

Ek lees Cornick se baie interessante artikel oor Gereformeerde Spiritualiteit in The Westminster Dictionary of Christian Spirituality nadat ek Lane se inskrywing oor Calvinistiese Spiriutaliteit bekyk het (ja, dit is twee verskillende artikels!). 


Ek is verras deur sy oop en eerlike stelling: "Gereformeerde denke het buite alle herkenning om verander tussen die finale uitgawe van Calvyn se Institusies (1559) en die Westminster Confession (1647)." Die moedige, selfs waaghalsige ontmoeting met die Skrif wat Calvyn met waagmoed uitgedra het, het verander in 'n dooie ortodoksie. Hennie Rossouw se besonder proefskrif oor die na-Reformatoriese ortodoksie het my bewus gemaak van hoeveel inherente bedreiging daar in enige hernuwingsbeweging opgesluit is. Maar dit verras my tog uit Cornick se opmerking dat 'n hernuwingsbeweging soos die Reformasie in 'n kwessie van drie geslagte, minder as 'n eeu, so kon deformeer.


Maar die eintlike verrassing was om in die artikel te lees dat Schleiermacher Gereformeerd was, asook twee van sy bekende volgelinge (Oman en Hick). Volgens Cornick was Schleiermacher die eerste sistematikus om die houvas van die Rasionalisme en die Verligting op die teologie te deurbreek. En dit is sekerlik waar. Maar ek wis nie hy was Gereformeerd nie. Hieroor wil ek meer lees. 

Ek merk ook in die artikel dat Emil Brunner (nogal naas Barth) 'n Gereformeerde predikant was. Ek sien in my geestesoog hoe 'n paar wysbroue hieroor in die lug sou wou opgaan. 

Vir vele het "Gereformeerd" 'n klankie van starre ortodoksisme. Dat Schleiermacher, Brunner, John Hick Gereformeerd was en boonop predikante, sal sulke mense wil laat vra: Maar wat is Gereformeerd dan?  En besef ons werklik hoe 'n geweldig groot en omvattende organisme die Gereformeerde tradisie is?

Sunday, June 05, 2011

Die troos van klein gebare. Die stryd teen lyding


CNN wys ‘n program waarin die verslaggewers hulle indrukke gee van die onlangse aardbewing, tsunami en kernsentrale-krisis in Japan. Hulle beeldsend nuwe video’s van die krag waarmee die tsunami-golwe dorpe, huise, geboue, bote, motors en enige voorwerpe in sy pad wegsleur.

Daar is kommentaar van die verslaggewers se eie ontsetting soos hulle terugkeer na die indrukke wat die rampe op hulle gelaat het. ‘n Mens besef: niks, nie eers wat jy op die skerm sien, kan jou regtig laat begryp wat werklik daar gebeur het nie. ‘n Mens moet, soos die stereotipe opmerking vertel, dit ervaar het.

Daar is onderhoude met oorlewendes  wat weer eens iets van die rampe se impak probeer deurgee. Die een verslaggewer onthou ‘n man wat vertel dat hy, terwyl hy sy bejaarde pa aan die hand vashou, sien hoe sy ma weggesleur word. Net vir die watermassa’s om kort daarna sy pa uit sy hand weg te ruk. ‘n Jong vrou vertel sonder emosie, sê ‘n ander verslaggewer met verbasing, dat sy sewe of agt familielede verloor het – en een van hulle was haar agtjarige seun. Langs haar sit haar ander seun wat sy nou, na die tragedie, moet versorg deur sy omgewing so normaal as moontlik te hou. Daarom haar kalmte. En tog, se die verslaggewer, kan haar uiterlike nie haar ingehoue verdwasing wegsteek nie. Die kamera wys die vrou terwyl sy op haar hand aftel hoeveel van haar familie dood is. Sy tel, vinger na vinger, asof dit iemand anders as sy is wat daar sit en die inligting aan die vraagsteller moet gee.

In Japan, die land met die eeue-oue beskawing, treur mense met ‘n ingehoudheid, in elk geval, vertel ‘n ander verslaggewer. Hulle wys nie hulle smart openlik nie. Daarom, sê sy, onthou sy hoe ‘n pa met sy sestienjarige seun se lyk in sy motor by die seun se skool opgedaag het. Hy wil vir die seun se maats ‘n kans gee om afskeid te neem, om so deur hulle rou te werk en die trauma van die gebeure te verwerk. Die maats, wys hulle in ‘n video, almal die seun se ouderdom, staan in ‘n kring om die motor, rondom hulle die verwoeste skool te midde van ‘n hoop rommel van rondgespoelde debris. Ook hulle, Japannees, staan met geboë hoofde, min uiterlike emosie, maar hier en daar sien ‘n mens ‘n vinnige afvee van trane. Die atmosfeer is stukkend van rou.

Wat hom beïndruk, sê ‘n verslaggewer, aan die einde, is hoe die Japannese op die natuurramp reageer. Hy het tonele van onbegrensde teerheid en goedheid beleef, wat hy nie sal vergeet nie. Terwyl hy praat wys daar op die skerm ‘n groot saal waarin baie mense op die vloer lê. ‘n Bejaarde vrou sit langs haar man, wat lyk asof hy baie siek is. Sy oë is toe, sy mond half oop. Sy het ‘n nat doekie in haar hand, en, terwyl sy stip net na hom kyk, verlore in haar aandag vir hom, maak sy aanhoudend sy lippe nat, minute lank, met ‘n sagte gebaar van ongekende teerheid. Sy is onbewus van haarself, van haar omgewing, van die ramp. Nou, wat tel, is die versorging van hom wat by haar is

Terwyl ek die program bekyk, besef ek dit is nie net Japannees om met teerheid en ontferming te reageer op rampe nie. Deur die eeue heen bring swaarkry die mooiste en edelste in mense uit. Ons sien dit op die televisie-skerm, in skilderye. Ons lees dit in boeke, klassieke werke, wat die inherente omgee van mense op weergalose, tydlose maniere uitgebeeld het.

Maar ons ervaar dit self aan eie lyf: onlangs, in ‘n situasie van afskeid-neem, na die diens, in die ou plekkie van geborgenheid waar ons byeen is, sien ek met verwondering die mense wat van oor die land net vir ‘n uurtjie of twee kom wys het hul gee om, kilometers ver gereis, teen groot koste, deur die nag bestuur en wat net kom hand druk en groet. Dadelik na die tyd weer in die pad val. Dit was ‘n onderbreking teen groot opoffering in hulle baie besige dagtaak elders in die land, om hul omgee te wys, te beleef, om die seerkry te besweer, om die tydelike te transendeer, om ewigheid uit te wys, te beleef, om van onverganklikheid te vertel. Dit is goedheid. Goddelik.

Op die manier veredel ons die kruheid en brutaliteit van ons lyding.  Dit is ons burg teen seerkry. Ons slaan daarmee ‘n bres teen die lang winter van ontbering wat soos ‘n skaduwee steeds in ons spoor volg.

Wat, besef ek, eintlik, terselfdertyd lyding tog ook weer soveel akuter en slegter maak.

Vandaar dat ons nie net praat oor lyding en dit met ons meelewing stuit nie.  Ons moet op dieper vlak daarmee worstel. Vandaar dat ons lyding met die Godsvraag verbind. Dit word ingetrek in ons godsdienstige leefwêreld. Dit is, binne die gedagtes van hulle wat eg en outentiek leef, nie moontlik om ‘n naïewe voorspoedsgeloof te probeer leef nie. So ‘n oppervlakkigheid word een of ander tyd deur die tsunami van lyding verpletter.

Die Skrif werk met lyding – ook al worstelende – as dít waaroor die hart van die evangelie gaan – reeds die slawerny in Egipte, die leeftyd-lange uittog deur die woestyn, dan, intens, die onbegryplike kruis te midde van die gebroke wêreld. Dit praat oor die stukkende lewens wat agterbly as seerkry toegeslaan het.

En antwoord na antwoord word as gebaar van goedheid probeer, gesuggereer, getuig, gewaag.

Boek na boek in die Bybel vertel daarvan.

Steeds weer, soos in Japan, soos in ons eie tyd van verlies, is daar skynbare onwyse antwoorde in hierdie boek van Wysheid – dwaas lyk hulle soms vir die slimmes (voorspoed klink soveel inspirerender) – is daar maar net woorde wat werk soos klein gebare, is daar vertellings as skrale momente van troos, soms in hul troos selfs tot verdieping van die pyn.

Maar hulle is daar, kragtig in hul blywende nawerking. Hulle is soos ‘n goeie wyn, wat homself eintlik eers uitwys in sy skoonheid deur die bloeisel van die nasmaak wat die palet bly vul. Hulle, hierdie eenvoudige gebare van goedheid, dikwels skaars raakgesien, werk, bly werk.

Soos die tye van pyn sagter word, soos die lyding verbygaan, bly hierdie goedheid by ons. Ons onthou dit. Vertel daarvan. As Evangelie. As omgee. As goedheid. Dit is die onverganklike – daardie afvee van trane, eendag, deur God, maar ook daardie stil, eenvoudige oomblik wanneer die doekie prewelende, sterwende lippe natmaak, wanneer die een wat seergekry het sonder ‘n woord maar net omhels word, dit is God, dit is hulle wat paradystyd bring. En wat ons staal teen die onverbiddelike terugkeer van die Groot Vyand.


Bekende foto van Therese Frare

Saturday, June 04, 2011

Paradys-plek

Die Yosemite Nasionale Park is reusagtig groot - net oor die 3 000 vierkante myl. Die meeste besoekers gaan na die Yosemite vallei in die park, wat omring is deur berge:




Sekere maande van die jaar, as daar nog sneeu in die berge is, loop reusagtige watervalle teen die pieke af. Wanneer die meeste mense in die somer-vakansie gaan, loop die valle nie meer nie:



Daar is verskeie van hierdie reusagtige watervalle:





In die vallei self vloei 'n rivier, met groen struike. Nederig, grondlangs, rustig. Soos 'n goeie lewe.





Soms vloei die stroom met witwater-spoed, terwyl die groen-groen stengels in verwondering buig-kyk:




Maar dit is die bergpieke, reg rondom, wat hemel toe beur.





En dan is daar die beroemde El Capitan. Seepglad. Dit grootste granietblok op die aardbol, met sy kernmerkende granietvlekke. Tutokanula het die Ahwaneechee stam dit genoem. Dit beteken die "hoofman":




Bergklimmers kom van oor die aarde om die spits te klim. Tot 1958 het mense gedink die spits is onoorwinlik.


Dit neem agt tot elf dae om teen die loodreg kranse tot bo te klim. As hulle bo klim, gooi hulle gewoonlik op, so is hulle met adrenalin volgepomp, hoor ons. Kyk gerus daardie swart kolletjie. (Die strepe is in die spits, die granietvlekke, darem.):





Hier begin die swart kolletjie sigbaarder word. Die mens laat sy vingerafdruk, selfs op hierdie uitrysende massa. Dit is 'n slaaptentjie, wat hulle met hulle saamkarwei. Kyk net wat hang onderaan die stellasie....: 




En as 'n mens nou weer bietjie mooi kyk, regs bo van die slaapplekkie, sien 'n mens die drie bergklimmers - speldpunte in hierdie grootste skeppingswerk:


Hoe nietig is die mens....



Gebruik asb foto's met toestemming en met nodige erkenning/verwysing.


Copyrighted pictures. Please use with the necessary permission and proper reference only.



Friday, June 03, 2011

Om soos God na 'n mens se lewe te kyk. Oor die onderskeiding van die wil van God (11).

Daar is sommige dinge waaroor ons nie ‘n oomblik hoef te twyfel nie. Om moord te pleeg, is verkeerd. Dit is nie God se wil nie. Om te steel kan ook nie God se wil vir ons lewens wees nie. Dit geld ook vir lieg, haat, ontrouheid en vele ander dinge wat ons gewoonlik as “sleg” en die “kwaad” beskryf. Om lief te hê, om jou te ontferm, om vir ander te sorg, weet ons, is ook God se wil vir ons lewe. Dit geld ook vir baie ander goeie dinge wat ‘n mens se lewe verryk en vorm na God se beeld.

Ons weet dus helder en duidelik dat goed en kwaad vir of teen God se wil is.

Maar soms is dinge nie so helder nie.  Ons vra na die wil van God omdat dit nie altyd vir ons duidelik is hoe ‘n mens se lewe in diens van God moet staan nie.  Dinge kan God se wil wees, of ook nie. Cassianus noem baie voorbeelde van dinge wat óf in lyn met God se wil kan wees, óf nie God se wil vir ons lewe is nie.

Dit lyk eenvoudig. Maar as ‘n mens hieroor begin nadink, kom ‘n mens gou agter waarom hierdie onderwerp so belangrik is. Cassianus lys is leersaam en interessant: Gebed, Bybellees, vas en afsondering kan soms in God se wil wees. Dit kan selfs gebeur dat hierdie sake nie God se wil vir ons lewe is nie – skryf hierdie wyse geestelike leier. Hy noem nog ‘n klomp ander sake, soos byvoorbeeld gesondheid, skoonheid, huwelik, werk wat in God se wil ingebed wees of teen God se wil is. ‘n Mens hoef nie ver vir voorbeelde te gaan soek nie – dink maar aan Jesus se skreiende kritiek op die bid- en vasgewoontes van die Skrifgeleerdes en op die sendingywer van die Fariseërs. Om nie te vergeet van Petrus se vrome uitsluiting van die heidene en sy ywer vir die besnydenis nie. Sendingwerk kan teen God se wil wees. Tempelofferandes, leer ons dikwels in die Ou Testament, kan God se wil teenstaan.

Die groot vraag word nou: Hoe kan ‘n mens vanuit God se perspektief na hierdie neutrale dinge kyk? Hoe weet ‘n mens dat jou lewe, jou godsdiens in God se wil is? Wanneer is 'n huwelik God se wil? Wanneer is sendingwerk in God se wil?

Heel eerstens word al hierdie dinge eers in lyn met God se wil wanneer hulle die pad vir ons na God oopmaak.

Tweedens moet ‘n mens altyd weer gereed wees om hierdie dinge te weeg. Ons trou nie maar sommer net nie. Ons “het” nie ‘n vrou of ‘n man nie. Net so min as wat ons ‘n “werk” het of besit. Ons het alleen maar vertroue op God wat die uitgangspunt word om na te dink oor al die ander uiterlike dinge in ons lewe. Ons benader niks hiervan dus met die oog op onsself nie. Uiterlike dinge is nie deurslaggewend vir ons lewe nie. God se genade en goedheid, God se teenwoordigheid is wat werklik saak maak. Dit vra van ons nederigheid. ‘n Mens kan alleen God se wil onderskei wanneer ‘n mens jou eie wil uit die pad kry en soek na God se perspektief op dinge. Hoe, dus, herken ek God se wil? Deur uit God se genade te leef en in die lig van God se genade oor die res van my lewe na te dink.  

Waaijman verwys verder ook na Bernard van Clairvaux wat vertel het van tye wanneer ons onseker is oor God se wil en nie meer so helder kan sê wat goed of wat die bose is nie. Bernard leer ons een groot les: so lank as wat ‘n mens hieroor twyfel, moet ‘n mens terughou en niks doen nie. Geduldig moet ons wag, terwyl ons altyd weer toets of God nie dalk juis die teenoorgestelde vra van wat ‘n mens dink die goddelike wil is nie. Maar, sê Bernard, ook weer prakties, wanneer ‘n mens uiteindelik seker weet wat God se wil is, moet ‘n mens dit dadelik doen.

Bernard gee ook raad oor hoe ‘n mens kan weet jy het reg gekies. Sy woorde is: God se wil sal jou altyd vul met ‘n liefde vir die waarheid. Dit sal die vrugte van die Gees in ‘n mens se lewe laat groei. Geregtigheid, vrede en vreugde sal ‘n mens se bestaan vul. ‘n Mens sal getroos en vervuld wees. Die lewe sal nuut voel, vol krag. In ‘n mens se lewe word die begeerte na God deur die gehoorsaamheid aan die goddelike wil net groter. ‘n Mens se kennis word verdiep en laat die liefde sterker word.

Ek lees Bernard hieroor. Dit boei my. Om in God se wil te wees, met ander woorde, gee aan ‘n mens ‘n volgroeide, innerlike vervulling, ‘n geestelike volwassenheid wat alles in jou en om jou aantreklik maak.

Waaijman kyk ook ten slotte na Ignatius van Lojola oor die onderskeiding van God se wil. Om te weet of dit God se wil is wat in ‘n mens se lewe werk, moet ‘n mens steeds weer die oog op die lewe van Jesus gevestig hou. Biddende moet ‘n mens gedurig in Jesus se lewe inwoon. Hierdie interaksie met die lewe van Jesus sal ons lewe prakties vorm en beïnvloed. Ons moet dus oop wees om getransformeer te word in konformiteit aan Christus. Dit beteken ‘n  soeke na die spore van Jesus se lewe wat in ons eie bestaan getrap is. Laastens, moet mens steeds weer bly kies vir die wenke wat God vir ons gee.

Die soeke na God se wil is ‘n hele proses wat baie kante het. Dit is waar: die mens maak ‘n keuse. Maar tog werk dit weer iets anders. Die menslike keuse is iewers ‘n openheid vir God se werking in mense se lewe. Deur vir God se wil te kies, verheerlik die mens God. God is dus eintlik die Een wat kies. Dan word die mens se lewe ryk aan vrede, vreugde, vertroue en hoop (Gal.5:22).  Elke keer weer, wat ook al ons openheid vir God se wil, sal ‘n mens aan die einde bely dat dit God is wat die mens verander en dat God steeds weer die mens omvorm. God alleen troos die mens. Hieroor is daar geen twyfel nie. Dit is ‘n sekerheid wat diep in die gemoed van die mens vasgelê word.

Thursday, June 02, 2011

Hoe vreemd is dit om te vra na God se wil vir ons lewe. Wanneer God ons planne deurkruis.



Daar is ‘n stuk vreemdheid in ons vraag: Hoe onderskei ‘n mens God se wil vir ons lewens?

Dit is vreemd om twee redes:

Ons maak gedurig planne. Waar ons ‘n kind in die skool gaan sit, wat die kind gaan studeer, waar ons wil werk, waar ons ‘n huis wil koop, waarheen ons met vakansie gaan, watter skoene ons koop, met wie wil ons vriende maak,  hoe ons dag gaan lyk – elke oomblik van ons lewe neem ons besluite oor wat ons te doen staan.

Om in hierdie kultuur van besluitneming te vra na God se wil, is byna ondenkbaar.

En tog is dit ‘n belangrike vraag. Want wat ons alles beplan en wat ons wil doen, is nie noodwendig goed nie en sal ons nie vanself vervuld maak nie.

Om na God se wil te vra, is dus eintlik nie vreemd nie. Dit impliseer dat ons vra of dit waarmee ons besig is, regtig sin aan ons bestaan gee. Ons lewe is ‘n unieke geskenk, eenmalig, kosbaar, onvervangbaar. ‘n Lewe moet dus voluit gelei word. En om voluit, sinvol te leef, is om ‘n goddelike lewenswyse te voer. Die vraag na die wil van God is dus die vraag na ‘n sinvolle, vreugdevolle lewe. Dit is nie die vraag of ek besluite kan neem nie, maar dit is die vraag of ek goeie besluite neem.

Maar die vraag na God se wil is om ‘n tweede rede ‘n vreemde saak. Ons maak al ons planne en alles wil ons net mooi reg uitwerk.

Maar dan, skryf Bonhoeffer, kom daar mense oor ons pad wat ons nodig het en ‘n appel op ons maak. Levinas het beklemtoon dat ons nie ‘n keuse het nie. Ons het ‘n verantwoordelikheid om die appel van die ander op ons lewe aan te hoor en te gehoorsaam.

God gryp in en bring ons tot stilstand en deurkruis ons planne op die mees onverwagte maniere. Om te vra na hoe onderskei ons God se wil vir ons lewe, het dus nie te doen met ons vermoë om te besluit wat God se wil is en dit dan te gehoorsaam nie. Só vreemd is dit nie.  Ons “ontvang” God se wil. Eintlik moet ons dus vra: hoe herken ek God se wil vir my lewe in alles wat oor my pad kom?

Die wyses van die tye het die ryp spreekwoord gehad: die mens wik, maar God beskik. Ons besluit, maar God bepaal.

Dit maak van ons mense wat gedurig oop-oë deur die lewe moet gaan. Daar kom dinge oor ons pad wat ons nie voorsien nie. Selfs in die oënskynlike maklike besluite wat ons moet neem: na watter skool ons kind gaan, watter kursus ons moet loop, waar ons gaan bly. Dit is komplekser. Allerhande gebeurtenisse word deur sulke besluite losgemaak. Dan vra dit van ons om te kan onderskei – waarheen is ek op pad met die besluite wat ek neem wanneer onvoorsiende dinge met my gebeur.

Dit is vreemd om te bedink: ons besluit nie oor ons lewe nie. Ons reageer oor wat God in ons lewe laat gebeur.

Des te meer rede om naby aan God te leef. Om reg te kan hoor wat God vir ons sê.


Wednesday, June 01, 2011

Om met God wakker te word. Oor die onderskeiding van die Gees (9)

In my reeks oor onderskeiding van die Gees, is ek telkens bewus van die keersy van hierdie onderwerp. Wanneer ‘n mens soek na die wil van God, dan beteken dit ‘n mens moet bereid wees om jou eie wil prys te gee.

Dit is teen hierdie agtergrond dat ek aangespreek voel deur ‘n opmerking van Bonhoeffer wat ek raakloop. Hy skryf:

In die eerste oomblikke van die nuwe dag pas al ‘n mens se eie planne en bekommernisse nie. Dit is ook nie ‘n tyd om besig te wees met al jou ywerige planne vir die dag se take en werkies nie. In die nuwe oomblikke, 'n gawe, pas iets veel groters en mooiers. 

Ek ervaar 'n spesiale oomblik terwyl ek met hierdie gedagte bind.

Met die nuwe dag se aanbreek, is dit eerder tyd vir God se bevrydende genade, om te wees in God se seënende nabyheid.

Dink daaraan: om soggens wakker te word, bewus van al die goedheid wat God aan ‘n mens gee... Dit beteken dat jy niks vanselfsprekend aanvaar of oor niks beheer wil uitoefen nie. Dit is nie die regte tyd, die goeie oomblik vir alles wat jy wil, al jou groot planne en berekeninge nie.

Wanneer ‘n mens uit jou slaap wakker word, is die eerste ding waarvan ‘n mens bewus raak, hierdie groter, dieper en waardevolle wete: jou hart is dan gedoop in vreugde en dankbaarheid.

Maar daar is meer. Bonhoeffer sluit af met ‘n veelseggende frase. Die eerste oomblikke van die oggend is die grootste vreugde om wakker te word in die teenwoordigheid van God. Gelukkig, geseënd, vol vreugde is die mens wat weet hy of sy kan die nuwe dag binnegaan, naby aan God.

Gebed, Bybelstudie, al die vroom dinge wat ons soggens meen om te doen, kry ‘n ander waarde vir my in die lig van Bonhoeffer se sagte, kort woord. 

Sy opmerking laat my skielik nuut dink oor oggend-stiltetyd. En ek dink aan wyses, die wat werklik gelukkig was, oor baie eeue wat nie hul dag daarsonder kon en kan begin nie. Goed begonne, immers...

Soggens, só moet ‘n mens daaraan gewoond raak, moet ‘n mens wakker word, elk oggend, in God se geselskap. Dit is dan nie die vroomheid wat tel nie. Dit is nie die las van jou eie prestasie wat jy moet bly dra nie. Ook nie die dag wat wag – lekker of swaar – is dit wat in fokus is nie. Jy behoort nie aan jouself nie.

Maar wat saak maak, is om geborge, geanker te wees in die Onverganklike. Dit maak 'n mens vry: die eerste wete - God is by my!

Om saam met God wakker te word.... Om in die Liefde wakker te word. Ook dit is God se wil vir ons lewe.

Blog Archive