Friday, June 07, 2013

Die Krag van die kerk.






Wanneer ‘n mens terugdink aan ons land se verlede en begin vra wie regtig uitstaan as sterk, invloedryke leiers, kan vele antwoorde gegee word.

Hoeveel mense het in ons verlede uitgestaan as groot, inspirerende leiers en dienaars. 

Sommige was egter veral in die openbare oog. 

Neem byvoorbeeld vir Nelson Mandela: die meerderheid mense sal hom sekerlik opnoem as die groot figuur wat die land na vryheid gelei het.

Wat hom onderskei, sal hulle dan verder redeneer, is dat hy dekades van sy lewe in gevangenis gesit het. Hy het persoonlik ‘n hoë prys betaal.

Nog net so baie mense sal in die lyn van die Invictus-fliek wil praat oor sy versoenende houding teenoor die wit gemeenskap. Mandela kon groepe in ons land bymekaar bring - en met 'n ontspanne, maklike houding. 

Maar ek wonder. 

Vanaand oor die nuus is daar ‘n item oor die begrafnis van ‘n bekende medikus wat vermoor is. Onder die aanwesiges sit emeritus-aartsbiskop Tutu. Na die tyd vertel hy dat die slagoffer iemand was wat vir alle mense omgegee het: ras was nie vir hom ‘n faktor nie.

‘n Mooi opmerking en ‘n pragtige blyk van waardering. 

Maar dit is die simboliek van die aartsbiskop se teenwoordigheid wat my die meeste opval: hy, ‘n wêreldfiguur, iemand wat konstant nog in die openbare aandag is – soveel so dat sy teenwoordigheid by ‘n begrafnis televisie-nuus is, wil graag by die begrafnis wees van 'n man wat tot onlangs relatief onbekend was.

Ek onthou dat Tutu ook by Willie Jonker se begrafnis was en dat hy daar met groot waardering van Jonker se bydrae tot ons land se geskiedenis gepraat het.

Dit is dus nie ‘n toevallige, eenmalige gebaar van hom dat hy by die begrafnis was nie.

Dit is by hom ‘n lewenswyse, ‘n omgee vir ander, vir ‘n familie in hul tyd van swaarkry. Met sy blote daar-wees wil hy van dieper dinge praat: menslikheid, gemeenskaplikheid, nie-rassigheid, meelewing, troos en veral van sy waardering vir die innerlike goedheid van mense.

Sy teenwoordigheid wys hoe die evangelie iemand vorm. Want ten grondslag van Tutu se optrede lê ‘n sterk Christelike instelling. Jy sal bladsye van die bybel in sy optrede kan terugvind.

Die indrukwekkendste is dat hy dit konseptualiseer. Dit is vir hom nie net ‘n blote aktivisme nie, of ‘n goeie daad nie. Dit groei uit sy verstaan van sy geloof.

En as ‘n mens dan sy lewensreis in sy verlede volg, kom jy agter dat die konseptualisering ‘n ver pad kom. Toe ek onlangs ‘n artikel vir ‘n buitelandse tydskrif moes skryf, het ek weer Tutu se getuienis oor Mandela nagelees. Dit is merkwaardig watter verhouding hulle gehad het. Keer op keer lees ‘n mens tussen die lyne hoedat hy Mandela opgesoek het, versoeke tot hom gerig het en gesprekke met hom gevoer het. Hy was die sielsorger van die volk, die pastor van die president en die hoeder van die nasie. 

Tutu vertel hoe Madela by geleenthede baie vies vir hom was as hy sekere dinge gesê en gedoen het. Maar Tutu het hom nie laat stilmaak nie. Hy kon maar net laggend en onversteurd, vry in die evangelie, oor Mandela se beroemde humeurigheid sê dat hulle maar weer vrede gemaak het en hul verhouding hervat het.

Hy is een van daardie klein groepie teoloë wat nooit ‘n hofteoloog geword het nie.

Vir my is Tutu die groot figuur in ons land se geskiedenis met die demokratiseringsproses. Hy styg, wat my betref, bo almal uit.

Maar dit is vir my nie so belangrik nie. Veel gewigtigers is vir my dat hy bewys watter krag daar in die Evangelie lê. Terwyl vele geestelikes die beeld van die kerk skade aandoen, baie teoloë die impak van godsdiens afwater en afkraak, toon die lewensreis van een man watter geweldige invloed die Evangelie in ‘n land kan uitoefen.

Alles wat Tutu aan teologie, etiek en spiritualiteit gelees het, het in sy lewe konkreet geword. Lank nadat ons van die ander bakleiers, vryheidsvegters, onderhandelaars en politici vergeet, vertel sy naam van die krag van die evangelie.

Wie anders het immers die immoraliteit van apartheid, die noodsaaklikheid van nie-gewelddadigheid, die belangrikheid van geregtigheid, die gawe van vergifnis en die aanvaarding van ander ongeag wie hulle is, so helder, met soveel passie en met soveel waagmoed geartikuleer? 

Maar alles, hoe goed deurdink ook al, was nie maar net 'n intellektuele spel nie. 

Wie anders het met so ‘n totale gebrek aan die geringste vrees die ANC aan sy bors gegryp, vir staatsleiers berispe, groot skares getrotseer om slagoffers van verbranding deur motorbande te red, gemeentes beleer en mense bymekaar uitgebring?

En wie sal dan nog smalend oor “die Kerk” kan praat? Of dink dat die Bybel nie meer veel vir ons tyd te sê het nie? 







Thursday, June 06, 2013

Die lelike gesig van die kerk?


Almal kla oor alles wat in ‘n gemeente verkeerd loop. Die bakleiery, gestryery, rugstekery, geskinder, toutrekkery, manipulasie, korrupsie, vernekery en al wat ‘n sonde is, is gewoonlik die klippe van verwyt waarmee die kerk bestook word. 

En daar is niks so waar soos hierdie gekla nie: die kerk is ‘n smerige nes van sondes.

Vra maar enige geestelike leier.

Daar is niks wat die bediening so ontluister soos wat ‘n mens in jou spreekkamer te hore kom nie.

Selfsug en geweld is twee van die mees basiese trekke wat mense se lewens kenmerk. Uit daardie negatiewe kragte word veel, ellendige kwaad en seerkry gebore. 

Dit is die treurige kant van die kerk. En hierdie gesig van die kerk lyk niks anders as wat in elke ander sfeer van die lewe aangaan nie. In ‘n mens se werk, by skole, sport, kultuur, in die besigheidswêreld en selfs daar waar mense in die natuur ontspan, sien ‘n mens dieselfde selfsug en gewelddadigheid. 

Maar daar is ‘n ander kant. In die kerk kry ‘n mens iets wat jy in geen ander lewenssfeer raakloop nie. 

Die kerk soek daarna, doelbewus, berekend, as ideaal en as diepste verlange om hierdie lelike kant van die mensdom te omvorm. 

Die predikant wat ontnugterd en desperaat wonder of ooit iets sal verander, bly tog vashou aan hoop. Keer op keer is daar maar weer ‘n pastorale gesprek, ‘n besoek, ‘n bemoediging, ‘n preek om te inspireer en te vermaan.

Anders as elders, word daar in die kerk werk gemaak om selfsug en geweld om te keer. 

Dit is nie net ‘n ad hoc ding nie. Onderliggend aan hierdie getrouheid, selfs dapperheid, is daar ‘n uitgangspunt aan kerk-wees wat uniek is: dit gaan in die kerk om ‘n gesonde gemeenskap op te bou. 

Die kerk werk naamlik met die beeld van die liggaam van Christus. En ‘n liggaam is die woonplek van die Heilige Gees, wat beteken dat die ellendige toestand van mense nie aanvaar word nie, maar aangespreek word. Binne die liggaam werk genesende kragte. In die liggaam gaan dit om volwasse-wording. Met die liggaamsbeeld vra die kerk om eenheid, wedersydse bedagsaamheid, getrouheid, opbou en vele ander positiewe kragte. 

Dit kom nêrens elders so pertinent na vore nie. 

Daar is ‘n lelike kant van die kerk. Predikante sal die eerste wees om dit te kan uitwys.

Maar dieper as die lelik is die deel van die kerk wat werklik saak maak: dat dit nie met die lelike tevrede is nie. En soek om dit mooi te laat word. 

Daarom sal vele geestelike leiers ook vertel hoe in die woeste gestoei teen die slegte kante van die kerk, daar ook die suksesverhale is. Die verwoeste lewens van mense wat in jou spreekkamer instap, word dikwels, deur baie moeilike gesprekke en ondersteuning, bietjie vir bietjie omgekeer in lewens wat begin verander, stadig, sukkelend, soekend.

Dit gebeur seker ook in ander plekke en in ander lewenssfere. Die verskil is dat in die kerk is die bestaan van die kerk gekoppel hieraan. Dit is ‘n primêre taak van die kerk om ‘n gemeenskap te laat groei in goedheid en volwassenheid. 

Dat dit nie altyd werk nie en dat die kerk vrot is van mislukkings, neem niks hiervan weg nie. 

Spiritualiteit en veral mistagogie wat ingestel is op die geestelike vriendskap met mense, leef uit die Gees - uit die Een wat met krag wil werk om mense tot vernuwing te bring. Maar ook uit die Een wat deur menslike onwil en verset geblus kan word. 

Spiritualiteit en veral mistagogie wat ingestel is op die geestelike vriendskap met mense, weet egter dat die Gees nie dwing nie, nie dreig nie en ook nie diktator speel nie. Juis daarom, binne ‘n konteks van menslike feilbaarheid, is die werk van die kerk moeilik. Dit moet pleit, inspireer, oortuig en met vele ander geestelike middele werk.

Almal kla oor wat in gemeentes verkeerd loop. En dit terwyl, ongemerk, ongerekend, elke dag, oor vele eeue en in plekke van alle oorde, daar ook weer oneindige goedheid binne gemeentes gebeur. En te midde van die gekla en klippe gooi, bly die kerk aan die werk. 

Dit was nog altyd die lot van die geloof om deur die wêreld gekruisig te word.  



Wednesday, June 05, 2013

Oor vreugde en geloof






Ons plaas dikwels vreugde en treurigheid teenoor mekaar, asof hulle mekaar volledig uitsluit. En daar steek ‘n waarheid in: ‘n treurige mens kan moeilik tegelykertyd bly wees. Nie normaalweg nie.

Soms is dit anders: in ‘n mens se trane kan daar op ‘n keer ‘n stuk blydskap wees. By die verlies van iemand of iets is daar te midde van gemis ook gevoelens van blydskap oor goeie herinneringe. Vele begrafnisse word draagliker deur verhale oor humor.

In sy beroemde boek, die klassieke werk van Jean Pierre de Caussade (1675-1751) met die titel “Die vreugde van totale oorgawe” (The joy of full surrender), skryf hy ‘n stuk oor Vreugde in die Oggend.
Die hoofstukkie is skaars drie bladsye lank.

Hy begin die hoofstuk so: “Hulle wat in die lig wandel, sing liedere van die lig. Dié wat in duisternis reis, sing liedere van die nag.” Maar, onmiddellik voeg hy by: “Beide moet toegelaat word om tot die einde daardie deel te sing wat God vir hulle in die groot Oratorium gegee het om te sing.”

Niks moet bygevoeg word, niks weggeneem word nie. Elke druppel bitterheid moet toegelaat word om vrylik te vloei, wat dit ook al kos. Jeremia en Esegiël het daardie bitter liedere gesing – troosteloos.

Voeg de Caussure ‘n onvergeetlike sin by: As hulle treurliedere onderbreek was, sou ons sommige van die mooiste dele van die Bybel nie gehad het nie.

Sy punt is dat ons lyding die uiteindelike vreugde soveel groter maak. Maar hy maak ook die punt dat juis uit 'n mens se trane die aller-aangrypendste spirituele gedagtes en tekste gebore kan word. In die sin is daar 'n noue band tussen die twee. 

Hou dus aan met huil en treur, skryf de Caussure (en voeg ‘n uitroepteken by). Laat rusteloosheid en pyn in jou siel invaar. Dit is God se manier om jou tot groter wysheid, volwassenheid te bring (Hebreërs!). 

Daar is ook 'n ander gedagte: Hy sien die gelowige se lyding as ‘n geringe teken van die groter lyding van God om die wêreld: Moenie probeer loskom van die goddelike vrese, die hemelse probleme, maar open jou hart om hierdie stroompies in te neem van daardie ontsaglike see van smart wat God in God se heiligste siel gedra het.

‘n Mens moet jou lyding voluit beleef:  Laat die genade, skryf hy, toe om jou trane te laat stort, en dieselfde genade sal jou trane uiteindelik afdroog. Die wolke, voeg hy beeldryk by, sal voor die warm son verdwyn. Lente sal met sy blomme kom en die gevolg van jou oorgawe aan jou lyding en trane sal wees dat jy die wonderlike vorme en volle omvang van God se genadige handelinge sal ervaar.

Ek sal nie die res van die hoofstuk hier oorskryf nie. Sien verder ook 'n uittreksel: 


Die teologie van de Caussure speel ‘n duidelike rol in hierdie hoofstuk: aanvaar wat oor jou pad kom. Verwerk dit. Omhels dit. En kyk dan na die vreugde wat dit voortbring – by God en by jouself.

In sy slot hervertel hy die Bybelse verhaal van Josef (Genesis 43-45). Josef het sy broers om die bos gelei in ‘n poging om sy jongste broer Benjamin te sien en toe ook nog by hom te hou. Hy het vir hulle en vir Benjamin deur sy bedrog in oneindige pyn gedompel. Hulle kon maar net na Josef met skok staar en in hom ‘n beliggaming van die bose sien.

En toe het Josef homself bekend gemaak en hul pyn tot ‘n einde gebring.

Dit is deur die daad, mediteer De Caussade, dat die broers Josef se wysheid insien: hy het hulle laat dink alles was verlore. Desperaat het hulle gedink dit is die einde. En toe hulle die waarheid hoor, het hulle die grootste vreugde ooit ervaar.

By al die eenvoud van hierdie skrywe en sy uitsonderlike resepsie van die Bybel-verhaal, kom een gedagte vir my sterk na vore: dit is dikwels juis lyding en trane wat vreugde sterker as ooit na vore bring.

Maar, hoe waar dit ook al is en hoe nodig ook al dat ons ons lyding en bitterheid volledig moet aanvaar, is dit maar een moontlike reaksie.

In sekere vorme van spiritualiteit is vreugde en smart ten nouste gekoppel.

Kyk maar na die lewe van Franciskus van Assissi. Lyding was vir hom nie die voorspel tot vreugde as die ommekeer van ‘n mens se pyn nie. Intense lyding was vir hom volmaakte vreugde. Franciskus het die Bybelse opdrag om altyd bly te wees, letterlik opgeneem. Selfs wanneer ‘n mens die kruis opneem en Christus volg, doen ‘n mens dit met intense blydskap. Hy het juis rykdom opgegee en aardse besittings verkoop, ter wille van die vreugde van eenvoud en selfs armoede. Dit was sy manier om te vertel dat uiteindelik kan ‘n mens nog, of veral, in barste van bar omstandighede in God die sin van jou bestaan ontdek.

Dit is radikale wederliefde as reaksie op die goddelike liefdestoewending.

Dit is ook die Pauliniese boodskap: om in die tronk, in lyding, steeds weer vreugdevol te kan bly. En daardeur te kenne te gee dat niks  - geen trane, selfs nie dood nie – die verhouding met God wat lewegewend is (!), kan vernietig nie.

Ons praat nie hier van masochisme nie – ‘n geestelike afwyking wat in self-vernietiging behae skep nie.

De Caussade sê op ‘n eenvoudige manier ‘n verborge ding: in lyding deel ons God se lyding oor die verval om ons. Die deelname word ‘n gebaar teen kwaad, teen die bose, teen alle vernietigende kragte in. Dit is juis nie masochisme nie. Dit is om God se ontwil, ter wille van God. 

Wie dus trane stort, swaar kry, en dit om God se ontwil doen, teken terselfdertyd protes aan teen wat vernietig. En daarin is vreugde te vind – dat ‘n mens jou lyding kan ombuig, selfs kan heilig deur dit in die God-mens verhouding in te trek.

Maar, uiteraard, daarvoor moet ‘n mens, in De Caussade se titel verwoord, ‘n mens volkome aan God oorgee. Aan die God van liefde.


Tuesday, June 04, 2013

Vasgekleef aan God. Daar is iets mistieks aan 'n mens se verlange na God.



‘n Mens besef nie altyd wat met jou gebeur wanneer jy na iemand verlang nie. Verlange is ‘n besondere ervaring: dit wys waar jou hart lê.

Augustinus beskryf gebed as verlange na God.

Hy voeg by: hierdie verlange “bid” gedurig. Selfs al sê ‘n mens nie ‘n woord nie.

Wanneer jy verlang, is jy aan die bid tot God. Jou verlange is ‘n teken van jou gemis van Iemand, van jou behoefte om naby aan God te wees. Dit is ‘n begeerte wat ‘n mens dryf om na God uit te reik.

Wie so na God verlang, en dus biddend op God wag, sal verras word. ‘n Mistieke ervaring wag op hulle wat biddend verlang na God: God, soos Guigo dit stel, sien die opregte mens raak. God is nie net ingestel op woorde wat mense moet klaar bid nie. God is reeds aan die hoor in mense se gebede – terwyl die gebed aan die gang is en gebid word, luister God.

En terwyl ‘n mens al biddende verlang, gebeur die wonder.

Lank voor die woorde netjies aangebied en afgerond is, onderbreek God die gebed, kom God na binne by die verlangende mens tuis. God kom haastig die verlangende siel tegemoet. So beskryf Waaijman die biddende verlange na God. 

Biddende verlange is dus iets anders as om maar net ‘n gebed op te sê. Dit is al ‘n deel van die mistieke ervaring. Wanneer ‘n mens biddende verlang, gebeur daar iets goddeliks met jou.

Om na God te verlang, en om biddend te verlang, beteken dat ‘n mens jouself prysgee: ‘n Mens sink as te ware weg in hierdie verhouding met God. Jy verloor jouself om God te vind.

Al wat saak maak vir die een wat so biddende verlang is om vir God om te gee. ‘n Mens is van niks anders bewus as van hierdie innerlike behoefte en begeerte om by God alleen te wees. ‘n Mens dink nie aan bid nie, aan woorde soek nie. ‘n Mens is as te ware aan God uitverkoop – en dit is al wat saak maak.

Jou hart is verkleef aan God, sou Psalm 63:9 dit stel. Alles in jou word vasgeheg in ‘n verhouding met God.

Die mistieke ervaring gaan dus ook om die mens wat gehegd aan God is – soveel so dat ‘n mens se hart aan God kleef. ‘n Mens se aandag is so op God ingestel dat ‘n mens van jouself vergeet en dat jy totaal op God ingestel is. ‘n Mens skuif alles opsy ter wille van die een wete en ervaring: God is na my op pad.

'n Mens besef nie altyd hoe spesiaal verlange is nie. Wanneer 'n mens na God verlang, met jou hele hart, siel en verstand, is dit 'n teken dat daar iets mistieks gebeur. 

Monday, June 03, 2013

Wat is mistiek? Oor oomblikke van onvergeetlike, ekstatiese vreugde







Mistiek word dikwels geassosieer met vreemde, ekstatiese ervarings.

Soos toe Paulus op pad na Damaskus deur 'n lig oorval is en van sy perd af geslinger is. En vir dae lank nie kon sien nie.

Maar meestal is mistiek iets heel anders. Trouens, dit kan iets doodgewoons uitsonderlik wees. 

Dit is 'n ervaring wat vir 'n oomblik oor jou kom, of jy kan vir ure deur 'n mistieke gebeurtenis vasgevang word.

Wat dit mistiek maak is dat jy ten volle van jouself vergeet. 

Jy verloor jouself in iets wat heeltemal buite jouself bestaan.

Jy lees 'n boek, skryf 'n stuk, hardloop 'n ent en dan kom jy agter jy is al 'n uur daarmee besig. Sonder dat jy dit besef het. 

Sissel, die beroemde Noorweegse sopraan praat aan die einde van hierdie videogreep daaroor. Sy en Placido Domingo verskyn in hierdie film waarin hulle saam sing, maar waarin hulle ook boeiend praat oor hoe hul kuns van hulle besit neem en hulle totaal weg van hulleself neem.

Haar slotwoorde aan die einde van hierdie videogreep vertel wat mistiek is (en hulle sang). 

Van buite kom dit tot jou en neem jou op in 'n geestesvervoering. 

Onverklaarbaar. 

En altyd roer dit jou, verander dit jou en omvorm dit jou. 

Die kern van jou ervarings verskuif: soekend, verlangend is ons altyd na die mooie. Dit kom so min oor ons pad. Die lewe is vaal, verdrietig, vol sleurtye.

En dan, op 'n keer, onbepland, is daardie vonk-tye wanneer jy die skoonheid beleef en die hand van God vir jou voel aanraak.  

Dit is ekstase, mistiek, verlange, verskuiwing van die sentrum van handeling, vereniging, wederkerigheid. Alles is elemente van 'n ervaring wat jou laat besef hoe spesiaal die Lewe is en hoeveel vreugde deur die Lewe vir 'n mens beskore is. 

Jy moet net op die uitkyk wees daarna.

En altyd is dit die oomblikke wat jy beste onthou en waarna jy die meeste uitsien. 

Nouwen :  1 Januarie!

Sunday, June 02, 2013

Die rypheid van die ryk jongman.







“Goeie meester,” noem die ryk jongman vir Jesus (Markus 10:17) as hy na Jesus kom met sy vraag wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe.
In Matteus 19:16 se weergawe van dieselfde gebeurtenis staan net dat hy Jesus aangespreek het as “Meester” (dit is die mees betroubare Griekse teks).  
Markus se Evangelie teken Jesus as iemand wat die wet op ‘n manier verduidelik wat die betekenis daarvan die beste laat uitkom. Hy is, teenoor al die geleerde uitleggers van die wet in sy tyd, die een wat die wet goed verstaan.
In Markus 12:38-40 is daar byvoorbeeld Jesus se waarskuwing: “Pas op vir die skrifgeleerdes wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, wat die voorste plekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”
Dit is die uiterlikheid wat Jesus van hulle pla: hulle is uitspattig opgedress. Hulle uiterlike afwyserigheid klop met hulle begeerte om deur ander bewonder te word.
Hulle uiterlike leegheid word net deur hul innerlike armoede oortref: hulle bid lank en uitgerek – loot net vir die skyn – om indruk te maak.
Maar dan is daar hulle gierigheid wat ‘n teken is van hulle gewetenloosheid: hulle huiwer nie om die weduwees, die mees kwesbare groep in die samelewing, uit te buit nie.
Dit is ‘n godsdiens waar hulle in die middelpunt staan. Hier is ‘n verdorde en verdorwe spiritualiteit waarin die mens in beheer is van die verhouding met God. Dit is leermeesters wat ‘n mens nie “goed” sou kon noem nie.
Daardie ryk jongman kom na Jesus en vra vir hom wat moet hy doen om ewig gelukkig te kan wees.
Hy het 'n vertroue in Jesus. Hy wys dat hy kan onderskei tussen leermeesters wat mislei en leermeesters met wie 'n mens met vrymoedigheid oor God kan praat. 
Dit is nie net 'n ryk jongman nie. Hy is 'n ryp jongman. Hy het al in sy lewe 'n hele ent in sy geestelike reis gevorder: dit sien 'n mens ook wanneer hy vir Jesus vertel wat hy alles so stiptelik en getrou doen. 
Wat antwoord die “goeie” leermeester aan hierdie soekende jongman?  Gaan verkoop alles wat jy het, lui die bekende antwoord. Gee dit vir die armes. 
Dit is nie net die blote feit van die verkoop van jou goed wat hier ter sprake is nie. 
Jesus wil 'n dieper, geestelike ervaring met die man deel. Wanneer hy ontslae raak van sy besittings, sal hy vry wees. Die vryheid behels twee dinge: Hy sal vry wees van uiterlikhede wat 'n mens so dikwels gevange hou dat jy nie eers vir Jesus kan raaksien nie. Soos in hierdie skildery van Hofmann ( 1895),  dink jy diep na, is jy besig met baie geestelike vrae. Maar intussen is daar dinge, verborge dinge, wat groter en belangriker is. 
Maar deur hom vry te maak van uiterlikhede, behels net 'n eerste stap. Jesus weet dat so 'n appel aan die man kan maklik weer ‘n stukke moralisme word: doen dit en nie dat nie.
Jesus neem hom egter ‘n stap verder: “Kom en volg My.”
Dit word ‘n uitnodiging om naby aan die Goeie Een te lewe: wat tel is nie soseer wat ‘n mens “doen” nie. Veel dieper is dat ‘n mens in ‘n verhouding intree met die een wat soveel goedheid uitstraal.

'n Mens moet vry wees vir God - dit is die diepste, geestelike punt: die geslotenheid van die lewe, jou diepe nadink oor jouself, jou ver staar in die "groot dinge", jou lang gebede, moet omkeer: kyk na die Man langs jou. 
Die detail-studie van Hofmann se skildery wys dit so duidelik: Jesus wat die man in die gesig staar, afwagtend op die terugblik, op die erkenning, op die oomblik van herkenning. Dit is 'n ewigheid - die goddelike uitnodiging tot intimiteit, tot nabyheid, geborgenheid. 
Maar daardie man dink te diep. 
Die verhaal van die man wys hoe al die dinge waaraan 'n mens gewoond is, 'n versperring op jou geestelike weg oprig sodat ‘n mens nie die Persoon wat soveel goedheid uitstraal, raaksien nie.
‘n Mens luister nie maar net na die goeie leermeester nie. Jy staan nie langs Hom in diepe nadenke nie. Die ewige lewe is om naby die Goeie Leermeester te bly. Uiteindelik is dit om Hom in die oë te kyk, bewus van die ewige goedheid by Wie jy aankom. 

Saturday, June 01, 2013

Die Onse Vader. Dat ons plek weer God se wêreld sal word.

Die gebed wat 'n onbekende jongman so lank terug aan 'n verslonste klompie mense in 'n vaal landjie sou vertel, sou deur die tye ver reis.  

Dit het die stilles en die soekendes se harte vervul: Simone Weil was 31 jaar oud toe sy as agnostikus in ‘n kerkie in Assisi ‘n mistieke ervaring gehad het wat haar vir die eerste keer in haar lewe laat bid het.  

Sy het toe die Onse Vader in Grieks gememoriseer. Gereeld sou sy daarna in haar lewe die gebed bid.

By haar het ek ontdek hoe nodig is dit dat 'n mens die gebed weer vreemd moet laat word. 

Maar ook die bekende, selfs beroemde kunstenaars van alle tye wou oor die gebed skryf. En deesdae dit sing. Selfs die Beach Boys! (kyk na hulle boeiende vertelling daaroor by  http://youtu.be/HAobf3f9FQM en die skoon-gesig weergawe by http://youtu.be/Pn6g8uAv0UU).  

Maklik kan die skoonheid van die gebed se eenvoud en kragin ons afslyt en verdrink in familiariteit en gewoonte-gebed. 

Dit is nodig om steeds weer bewustelik, gefokusd in die woorde die Stem te hoor van die Jongman wat in eenvoud verlang dat die aarde hemel sal word en dat die wêreld soos God se wêreld sal wees. 

Ek loop Andrea Bocelli se weergawe vir die eerste keer raak. Dit is sulke luister-ervarings wat 'n mens die krag van die millennia-oue gebed laat herbeleef. 

En terwyl ek luister na die eenvoud ook van die melodie, vra ek my af hoekom ek so min weet van die komponis daarvan.   

Al wat ek kan vasstel is dat dit deur 'n Amerikaner, Albert Hay Malotte  in 1935 gekomponeer is.   

Ek sou graag wou weet hoe die melodie ontstaan het.  

Maar onvergelyklik is Bocelli se weergawe:  

 
 

Hier is die woorde - tweeduisend jaar oud:

Πάτερ ἡμῶν ὁ ἐν τοῖς οὐρανοῖς·  
ἁγιασθήτω τὸ ὄνομά σου· 
ἐλθέτω ἡ βασιλεία σου·  
γενηθήτω τὸ θέλημά σου,·  
ὡς ἐν οὐρανῷ καὶ ἐπὶ γῆς· 
 τὸν ἄρτον ἡμῶν τὸν ἐπιούσιον δὸς ἡμῖν σήμερον·  
καὶ ἄφες ἡμῖν τὰ ὀφειλήματα ἡμῶν, ὡς καὶ ἡμεῖς ἀφήκαμεν τοῖς ὀφειλέταις ἡμῶν·  
καὶ μὴ εἰσενέγκῃς ἡμᾶς εἰς πειρασμόν, 
 ἀλλὰ ῥῦσαι ἡμᾶς ἀπὸ τοῦ πονηροῦ.

Blog Archive