Wanneer ‘n mens terugdink aan ons land se
verlede en begin vra wie regtig uitstaan as sterk, invloedryke leiers, kan vele antwoorde gegee word.
Hoeveel mense het in ons verlede uitgestaan as groot, inspirerende leiers en dienaars.
Sommige was egter veral in die openbare oog.
Neem byvoorbeeld vir Nelson Mandela: die
meerderheid mense sal hom sekerlik opnoem as die groot figuur wat die land na
vryheid gelei het.
Wat hom onderskei, sal hulle dan verder
redeneer, is dat hy dekades van sy lewe in gevangenis gesit het. Hy het persoonlik ‘n hoë
prys betaal.
Nog net so baie mense sal in die lyn van
die Invictus-fliek wil praat oor sy versoenende houding teenoor die wit
gemeenskap. Mandela kon groepe in ons land bymekaar bring - en met 'n ontspanne, maklike houding.
Maar ek wonder.
Vanaand oor die nuus is daar ‘n item oor
die begrafnis van ‘n bekende medikus wat vermoor is. Onder die aanwesiges sit
emeritus-aartsbiskop Tutu. Na die tyd vertel hy dat die slagoffer iemand was
wat vir alle mense omgegee het: ras was nie vir hom ‘n faktor nie.
‘n Mooi opmerking en ‘n pragtige blyk van
waardering.
Maar dit is die simboliek van die
aartsbiskop se teenwoordigheid wat my die meeste opval: hy, ‘n wêreldfiguur,
iemand wat konstant nog in die openbare aandag is – soveel so dat sy
teenwoordigheid by ‘n begrafnis televisie-nuus is, wil graag by die begrafnis
wees van 'n man wat tot onlangs relatief onbekend was.
Ek onthou dat Tutu ook by Willie Jonker se
begrafnis was en dat hy daar met groot waardering van Jonker se bydrae tot ons
land se geskiedenis gepraat het.
Dit is dus nie ‘n toevallige, eenmalige
gebaar van hom dat hy by die begrafnis was nie.
Dit is by hom ‘n lewenswyse, ‘n omgee vir
ander, vir ‘n familie in hul tyd van swaarkry. Met sy blote daar-wees wil hy
van dieper dinge praat: menslikheid, gemeenskaplikheid, nie-rassigheid,
meelewing, troos en veral van sy waardering vir die innerlike goedheid van mense.
Sy teenwoordigheid wys hoe die evangelie
iemand vorm. Want ten grondslag van Tutu se optrede lê ‘n sterk Christelike
instelling. Jy sal bladsye van die bybel in sy optrede kan terugvind.
Die indrukwekkendste is dat hy dit
konseptualiseer. Dit is vir hom nie net ‘n blote aktivisme nie, of ‘n goeie
daad nie. Dit groei uit sy verstaan van sy geloof.
En as ‘n mens dan sy lewensreis in sy
verlede volg, kom jy agter dat die konseptualisering ‘n ver pad kom. Toe ek
onlangs ‘n artikel vir ‘n buitelandse tydskrif moes skryf, het ek weer Tutu se
getuienis oor Mandela nagelees. Dit is merkwaardig watter verhouding hulle
gehad het. Keer op keer lees ‘n mens tussen die lyne hoedat hy Mandela opgesoek
het, versoeke tot hom gerig het en gesprekke met hom gevoer het. Hy was die sielsorger van die volk, die pastor van die president en die hoeder van die nasie.
Tutu vertel hoe
Madela by geleenthede baie vies vir hom was as hy sekere dinge gesê en gedoen
het. Maar Tutu het hom nie laat stilmaak nie. Hy kon maar net laggend en onversteurd, vry in die evangelie, oor
Mandela se beroemde humeurigheid sê dat hulle maar weer vrede gemaak het en hul
verhouding hervat het.
Hy is een van daardie klein groepie teoloë
wat nooit ‘n hofteoloog geword het nie.
Vir my is Tutu die groot figuur in ons land
se geskiedenis met die demokratiseringsproses. Hy styg, wat my betref, bo almal
uit.
Maar dit is vir my nie so belangrik nie.
Veel gewigtigers is vir my dat hy bewys watter krag daar in die Evangelie lê.
Terwyl vele geestelikes die beeld van die kerk skade aandoen, baie teoloë die
impak van godsdiens afwater en afkraak, toon die lewensreis van een man watter
geweldige invloed die Evangelie in ‘n land kan uitoefen.
Alles wat Tutu aan teologie, etiek en
spiritualiteit gelees het, het in sy lewe konkreet geword. Lank nadat ons van
die ander bakleiers, vryheidsvegters, onderhandelaars en politici vergeet,
vertel sy naam van die krag van die evangelie.
Wie anders het immers die immoraliteit van
apartheid, die noodsaaklikheid van nie-gewelddadigheid, die belangrikheid van
geregtigheid, die gawe van vergifnis en die aanvaarding van ander ongeag wie
hulle is, so helder, met soveel passie en met soveel waagmoed geartikuleer?
Maar alles, hoe goed deurdink ook al, was nie maar net 'n intellektuele spel nie.
Wie
anders het met so ‘n totale gebrek aan die geringste vrees die ANC aan sy bors
gegryp, vir staatsleiers berispe, groot skares getrotseer om slagoffers van
verbranding deur motorbande te red, gemeentes beleer en mense bymekaar
uitgebring?
En wie sal dan nog smalend oor “die Kerk”
kan praat? Of dink dat die Bybel nie meer veel vir ons tyd te sê het nie?