Saturday, June 22, 2013

Deurtrek met liefde. Oor spiritualiteit as transformasie in liefde.


Jan van die Kruis, die Spaanse digter en mistikus, het ‘n beroemde beeld gebruik om te verduidelik wat gebeur wanneer God ‘n mens aanraak en omvorm.

Hy gebruik die beeld van die vuur wat ‘n stuk hout aan die brand steek. Die vuur dring die hout binne, omvorm dit en word een met die hout.

Dit wys op die innige verhouding tussen God en mens, op God wat die mens aanraak en in hom of haar ‘n ewigheidservaring laat begin.

Waaijman gebruik hierdie beeld om ‘n belangrike aspek van transformasie te verduidelik. Spiritualiteit gaan immers om transformasie - om die totaal nuwe bestaan wat God in mense bewerk. Een aspek van hierdie transformasie is dat ‘n mens deur God tot liefde omvorm word. Dit noem hy die transformasie in liefde. 

Ek is in my leeswerk vandag geboei deur sy opmerkings oor die aard van die liefde. ‘n Kenmerk van liefde tussen God en mens is naamlik volgens hom die intimiteit daarvan. 

Wanneer God mense aanraak, ontstaan daar ‘n intieme band met hulle.

Waaijman formuleer aangrypend: Die mens gee sy/haar siel aan God en God ontvang hierdie gawe van die siel se liefde. God as die geliefde gee Godself aan die mens en die mens ontvang hierdie gawe van God se liefde. 

God en die mens vind vreugde in hierdie gedeelde liefde. Nou brand hierdie liefde in God en die mens. 

Dit is op hierdie punt dat Jan van die Kruis sy beeld inbring: wanneer God se liefde die mens aan die brand laat raak, dan is die mens soos die hout waarin die vuur indring. Naderhand brand die hout vanself en dit begin vlamme afgee.

God se liefde dring die mens binne. So brandende is die liefde dat die mens self liefde gee en word. Die mens kan liefhê soos God lief het. 

God bemin die mens, en, boeiend, die mens kan in wederliefde na God uitreik.

Dit is nog lank nie al nie: Hoe intenser God se liefde in ‘n mens brand, hoe intenser brand die liefde in die mens. 

En nog boeiender; Die mens is, boonop, nie regtig in beheer van hierdie liefde nie. Dit is God se liefde in ‘n mens wat die liefde vlammend laat brand. 

In Bybelse taal is dit die inwoning van die Gees wat die mense se hart in liefde laat ontvlam.

Altyd weer is die mens se diepste verlange ‘n verlange na die Gees, na die inwoning van die liefde. Altyd weer ontvang die mens dit as ‘n gawe, maar word die mens ook bemagtig om terug lief te hê.

Waaijman sluit hierdie deel af met die opmerking dat elke keer wanneer die liefde van God in ‘n mens se lewe ontvlam, ‘n mens ‘n voorsmaak van die ewige lewe kry. Die liefde bring in ‘n mens se lewe vreugde en die vreugde laat ‘n mens ‘n idee kry van die ewige lewe. 

Deur die vlam van die liefde word die mens opgetel na God en in God se teenwoordigheid gebring. Om by God te wees, is om die ewige lewe te ontvang. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive