In ‘n Protestantse konteks was daar altyd ‘n groot fokus
op geloof as verstaan. Dit was die rede dat lidmate die drie belydenisskrifte
aanvaar het. Die Nederlandse Geloofsbelydenis, Die Heidelbergse Kategismus en
die Dordtse leerreëls moes by verskillende geleenthede deur lidmate en
predikante as waar onderskryf en aanvaar word. Net hulle name is al ‘n
aanduiding wat vir die kerk belangrik was – die “leer” en kategese.
Die fokus op die “leer” is lank nie meer daar nie.
Tog bly daar in die kerk se dieptestrukture ‘n duidelike neiging
tot kritiese geloofservaring.
‘n Mens, word beklemtoon, moet die tekens onderskei en
nie die waarheid van die Evangelie aantas nie.
Dit is goed so. Alle vorme van godsdiens is nie sommer
net reg nie. En sommige vorme van godsdiens kan onderdrukkend en verknegtend
werk. ‘n Mens moet maar gedurig versigtig wees om nie vas te val in ‘n
godsdiens wat ‘n mens nie werklik innerlik vervul en vreugde bring nie.
Tog is godsdiens veel meer as net om krities ingestel te
wees. Vele lidate is al moeg vir meer “weet.” Hulle is oorlaai met inligting
oor die Bybel, die kerk en die teologie.
Godsdiens is ook (ook), en eintlik (eintlik) toewyding.
Lank nadat ‘n mens verstaan het, is daar ‘n innige behoefte om bloot net in God
se teenwoordigheid te wees. Hiermee hang saam dat ‘n mens ‘n voordurende
behoefte het om God meer net te aanbid. Toewyding, eerder as verstaan, as
intellektuele messlypery, is wat saam maak.
Oral word mense oorlaai met hordes nuwe inligting en kennis.
Dit maak hulle suf. Veral omdat baie van die kennis bloot
net interessant is.
Maar kennis bevredig net ‘n deel van die menslike
bestaan.
Veel dieper en intiemer is dit wat mense ervaar, beleef
en voel. Om van God te weet is nog lank nie om God te loof nie. In die lof van
God word ‘n verhouding sterker, brandender. Om God te leef is om dieper in te
groei in ‘n lewegewende verhouding. Dit is veel meer as net die weet van feite
en die vergader van inligting oor wie God is.
In die Protestantisme is dit soms maar verwaarloos. Die
kerk het gekompeteer met vele ander sfere wat kennis en inligting as lewensideaal
voorgestel het.
Kennis en inligting is ‘n klein deeltjie van die groter,
belangrike lewenspraktyk: wat saak maak, besef ons al hoe meer, is dat mense
deel voel van ‘n verhouding waarin hulle God se werking in hul lewens aanvoel,
herken en as transformerende ervaar.
Die belangrike kwessie in die kerk is lank nie meer of ‘n
mens alles goed omtrent God weet en sê nie.
Lewensbelangrik is die groter begeerte: is my lewe ‘n
loflied tot God?
Dit klink goed en mooi om dit te onderstreep. Maar hierdie
vraag raak ‘n klomp boeiende sake. Want nou word ‘n mens gekonfronteer met die
verdere vrae: maar hoe kan ‘n mens se lewe ‘n loflied tot God word? Hierop het
die kerk van alle tye diep nagedink. Meer hieroor later.