Wednesday, June 26, 2013

Vrees vir God en 910 miljoen rand

Dit is vandag prominente nuus in Europa dat Ierse bankiers wat geweet het hulle bank is bankrot, doelbewus fondse van ander lande aanvaar het onder die voorwendsel dat dit die bank sal red. 
Die Ierse regering het ‘n absolute waarborg vir die lenings onderskryf onder die indruk dat die situasie beredder kan word. 

Die bank het ondergegaan en ‘n ekonomiese ramp het die Iere getref. 

Die bankbase wat die regering en die buitelandse instansies met inligting voorsien het, het intussen hul lewens onberoerd voortgesit en hul luukse bestaan onaangetas bly voer.

Maar hulle het nie voorsien wat gaan gebeur nie. Hulle telefoongesprekke tydens die krisis is opgeneem, soos dit wetlik in Ierland vir sekere afdelings van banke voorgeskryf is. 

‘n Wakker koerant het die gesprekke gaan opsoek, beluister en nou openbaar gemaak.

Dit is nie goeie gesprekke om aan te hoor nie. Die bankiers se blatante oneerlikheid word net deur hulle koudbloedige gierigheid oortref. 

Die bedrae wat deur hul bestuur van banke en hul oneerlikheid ter sprake is, is astronomies: 910 miljard rand is wat die Ierse regering gekry het om die bank solvent te hou en te keer dat die ekonomie geknow word. 

En dit is wat belastingbetalers nou moet terugbetaal.

Dit klink maar net na syfers. Maar wat dit in menslike gevolge beteken, het die Nederlandse koerant, Trouw, vanoggend uitgespel: werkloosheid in Ierland het tot 14% gestyg. Vele mense se salarisse en pensioene is met tot 20% verlaag.

Ierland se ekonomie is ‘n nekslag toegedien. 

Die eerste dekade van die nuwe millennium, onthou ek, het vele mense die Ierse ekonomiese wonder aangeprys. Ingeligte ekonome het egter gewaarsku dat dinge nie pluis is nie. En uiteindelik het die hele sisteem die prys betaal.

Ierland is maar net een van vele lande waar dit gebeur het. Dink maar aan Griekeland, die VSA, Italië, Spanje, om maar enkeles te noem. Op die oomblik is situasie in Brasilië ook onder groot druk.
In Italië en Griekeland het berigte gekom van mense wat nie meer kans gesien het om te lewe nie omdat hulle inkomste daarmee heen is. Dit was ekstreme voorbeelde.

Maar die laggende en jillende bankiers wat miljarde rande berekend en openlik bedrieglik vir hul bankrot bank aangevra het, is nooit aangekla nie. Dit terwyl ‘n massiewe getal mense hul werk verloor het, hul inkomste en pensioen sien daal het en moes toekyk hoe hul land se ekonomie inmekaar stort weens swak regering, winsbejag en gierigheid.

En dan dink ons dit gaan sleg in Suid-Afrika.

Ek is besig om oor vrees vir God ‘n referaat voor te berei. Vrees vir God het in die Bybel ‘n positiewe kant. Hoe “vreeslik” anders is God tog, druk ons daarmee uit. Dit beteken dat ‘n mens in “bewondering” staan voor God se mag om mense se lewens radikaal om te keer (Lukas 5: die wonder van die verlamde man se genesing word deur die krag van die Menseseun moontlik gemaak). Maar ‘n mens staan ook in “verwondering” oor God se ontferming (Lukas 7 waar Jesus die weduwee se seun opwek en aan haar terug gee). Verwonderd het die skares in beide gevalle toegekyk hoedat God aan hulle, die geringes, die ongerekendes en die lydendes, ontferming gee en vir hulle omgee. God - wat verby die groot maghebbers wat oor ander heers en hulle uitbuit, kyk na hulle wat in nood is. 

Dit laat ‘n mens verwonderd staan. Hoe anders is God se maatstawwe as mense s’n? Hulle kon nie glo wat  hulle sien nie. Om hulle was die Fariseërs en skrifgeleerdes wat hul mag oor mense uitgeoefen het. Selfs die dissipels wou dit doen totdat Jesus hulle met die voetewassing op hul plek gesit het en vir hulle laat besef het ‘n mens moet maar vreeslik graag vir ander omgee.

Maar daar is ook ‘n ander kant: vrees vir God het te doen met wat kan gebeur wanneer ‘n mens onreg pleeg. Die wat kwaad aanvang, ander uitbuit, onregverdig optree, gierig is, die ongevoelige rykes en die korrupte heersers - hulle moet God vrees. Want die oordeel van God is verskriklik. Die Bybel is hieroor duidelik: daar is niks so afgryslik en weersinwekkend as onmenslikheid nie. God verduur nie onreg nie.  


Hier is ‘n paragraaf of twee in vanoggend se artikel oor die telefoongesprek:

In een gesprek met zijn baas Drumm zingt Bowe 'Deutschland über alles'. Beiden schaterlachen om de zorgen vanuit Duitsland dat Anglo Irish de garanties op Ierse spaartegoeden misbruikt om geld uit Duitsland aan te trekken. "Misbruik die garantie, maar zorg ervoor dat je er niet mee wordt betrapt", zo draagt Drumm zijn ondergschikte Bowe op.

De beslissing van het Ierse parlement eind september 2008 om een absolute garantie te geven op alle schulden die de banken hadden uitstaan, betekende de ondergang van het land. De poging om Anglo Irish te redden, kostte ruim 30 miljard euro, maar de bank werd uiteindelijk alsnog geliquideerd. Ierland zag zich gedwongen de overige eurolanden en het IMF om hulp te vragen en kreeg een steunpakket van 67,5 miljard euro.

De Ieren zijn nog altijd woedend over de miljarden die het jaarlijks moet aflossen aan de Europese Centrale Bank voor banken die achteraf toch niet gered hadden kunnen worden. Sinds de bankencrisis is de Ierse economie fors gekrompen, de werkloosheid is meer dan verdrievoudigd tot ruim 14 procent, en de veel salarissen en pensioenen zijn tot wel 20 procent verlaagd.

Blog Archive