Die Bybel het ‘n manier
om veral oor ‘n sekere soort mens te praat.
Jesus se geboorte is vir skaapwagters aangekondig – mense vir wie die samelewing nie veel respek gehad het nie. Sy “vriende,” soos Johannes Evangelie dit stel, kom uit die nederige dele van die samelewing. Sy dissipels was vissers en het ‘n oorlewingsbestaan gevoer. As hy rondreis, praat hy met die mense wat nie veel kos het nie, wat honger ly, wat desperaat siek is en wat deur hul geestelike leiers uitgebuit word.
Hy maak kontak met
straatvroue, met mense wat as geestelik onstabiel beskou is, met die tollenaars,
die armes, die ongerekendes.
Nou is daar “normale”
mense wat dit lastig vind dat die evangelie skynbaar so op “minderwaardiges”
ingestel is.
Hoekom is dit nodig dat
die evangelie so nou verbind is met die uitskotte van die samelewing?
Daar is egter ‘n diepe
sin hieraan.
In elke mens skuil daar
iets van al die mense waarna Jesus uitreik:
Elke mens worstel met armoede,
al is dit net dat ons ‘n diepe angs het dat ons van al ons besittings en rykdom
beroof sal word. Wat sal tog van ons
word wanneer ons niks besit nie? Hoe sal ander mense oor ons praat? Hoe sal
mense tog op ons neerkyk...
Ons sien ons armoede aan
erkenning en roem raak. Ons wil graag soos mense wees wat deur almal bewonder
word.
Mense is maar te bewus
van hoe arm hulle is aan ‘n goeie lewe. Hul weet van hul foute en hulle is
deeglik bewus dat hulle agter die masker van ordentlikheid dikwels donker dinge
wegsteek.
Mense ervaar hul
tekortkominge, hul vrese, hul liggaamlike swakheid.
In vele opsigte lyk die “ordentlike”,
“welaf”, “normale” mens in sy of haar binneste nie anders as die mense met wie
Jesus vriende is nie.
As ‘n mens eerlik is....
Trouens, wanneer ‘n mens
eers ander mense sonder hul maskers en bravade’s leer ken, dan kom jy agter dat
die mens in die Bybel tipies is van die mens van alle tye.
Daar is iets bevrydends
in die tipe mens vir wie Jesus omgegee het. By Hom hoef ‘n mens nie ‘n masker
op te sit nie. Hy kies nie mense uit oor hul aansien, besittings, invoed en mag
nie.
Hy wil bloot net by mense
as sy vriende wees, maak nie saak wie hulle is of wat hulle doen nie.
Hy weet. Hy was self
bloot ‘n timmerman se seun en ‘n onegte kind van ‘n ongetroude ma.
Hy weet te goed. Wat tel
is nie wie die mens is nie, maar wie God is. Die God van die liefde, wat gee
eerder as neem en vergewe eerder as vergeld.
Daar is iets dinamies aan
die mense met wie Jesus die blye tyding gedeel het. Dit troos ‘n mens, inspireer ‘n mens en tel
die mens op tot ‘n nuwe lewe.