Wednesday, June 05, 2013

Oor vreugde en geloof






Ons plaas dikwels vreugde en treurigheid teenoor mekaar, asof hulle mekaar volledig uitsluit. En daar steek ‘n waarheid in: ‘n treurige mens kan moeilik tegelykertyd bly wees. Nie normaalweg nie.

Soms is dit anders: in ‘n mens se trane kan daar op ‘n keer ‘n stuk blydskap wees. By die verlies van iemand of iets is daar te midde van gemis ook gevoelens van blydskap oor goeie herinneringe. Vele begrafnisse word draagliker deur verhale oor humor.

In sy beroemde boek, die klassieke werk van Jean Pierre de Caussade (1675-1751) met die titel “Die vreugde van totale oorgawe” (The joy of full surrender), skryf hy ‘n stuk oor Vreugde in die Oggend.
Die hoofstukkie is skaars drie bladsye lank.

Hy begin die hoofstuk so: “Hulle wat in die lig wandel, sing liedere van die lig. Dié wat in duisternis reis, sing liedere van die nag.” Maar, onmiddellik voeg hy by: “Beide moet toegelaat word om tot die einde daardie deel te sing wat God vir hulle in die groot Oratorium gegee het om te sing.”

Niks moet bygevoeg word, niks weggeneem word nie. Elke druppel bitterheid moet toegelaat word om vrylik te vloei, wat dit ook al kos. Jeremia en Esegiël het daardie bitter liedere gesing – troosteloos.

Voeg de Caussure ‘n onvergeetlike sin by: As hulle treurliedere onderbreek was, sou ons sommige van die mooiste dele van die Bybel nie gehad het nie.

Sy punt is dat ons lyding die uiteindelike vreugde soveel groter maak. Maar hy maak ook die punt dat juis uit 'n mens se trane die aller-aangrypendste spirituele gedagtes en tekste gebore kan word. In die sin is daar 'n noue band tussen die twee. 

Hou dus aan met huil en treur, skryf de Caussure (en voeg ‘n uitroepteken by). Laat rusteloosheid en pyn in jou siel invaar. Dit is God se manier om jou tot groter wysheid, volwassenheid te bring (Hebreërs!). 

Daar is ook 'n ander gedagte: Hy sien die gelowige se lyding as ‘n geringe teken van die groter lyding van God om die wêreld: Moenie probeer loskom van die goddelike vrese, die hemelse probleme, maar open jou hart om hierdie stroompies in te neem van daardie ontsaglike see van smart wat God in God se heiligste siel gedra het.

‘n Mens moet jou lyding voluit beleef:  Laat die genade, skryf hy, toe om jou trane te laat stort, en dieselfde genade sal jou trane uiteindelik afdroog. Die wolke, voeg hy beeldryk by, sal voor die warm son verdwyn. Lente sal met sy blomme kom en die gevolg van jou oorgawe aan jou lyding en trane sal wees dat jy die wonderlike vorme en volle omvang van God se genadige handelinge sal ervaar.

Ek sal nie die res van die hoofstuk hier oorskryf nie. Sien verder ook 'n uittreksel: 


Die teologie van de Caussure speel ‘n duidelike rol in hierdie hoofstuk: aanvaar wat oor jou pad kom. Verwerk dit. Omhels dit. En kyk dan na die vreugde wat dit voortbring – by God en by jouself.

In sy slot hervertel hy die Bybelse verhaal van Josef (Genesis 43-45). Josef het sy broers om die bos gelei in ‘n poging om sy jongste broer Benjamin te sien en toe ook nog by hom te hou. Hy het vir hulle en vir Benjamin deur sy bedrog in oneindige pyn gedompel. Hulle kon maar net na Josef met skok staar en in hom ‘n beliggaming van die bose sien.

En toe het Josef homself bekend gemaak en hul pyn tot ‘n einde gebring.

Dit is deur die daad, mediteer De Caussade, dat die broers Josef se wysheid insien: hy het hulle laat dink alles was verlore. Desperaat het hulle gedink dit is die einde. En toe hulle die waarheid hoor, het hulle die grootste vreugde ooit ervaar.

By al die eenvoud van hierdie skrywe en sy uitsonderlike resepsie van die Bybel-verhaal, kom een gedagte vir my sterk na vore: dit is dikwels juis lyding en trane wat vreugde sterker as ooit na vore bring.

Maar, hoe waar dit ook al is en hoe nodig ook al dat ons ons lyding en bitterheid volledig moet aanvaar, is dit maar een moontlike reaksie.

In sekere vorme van spiritualiteit is vreugde en smart ten nouste gekoppel.

Kyk maar na die lewe van Franciskus van Assissi. Lyding was vir hom nie die voorspel tot vreugde as die ommekeer van ‘n mens se pyn nie. Intense lyding was vir hom volmaakte vreugde. Franciskus het die Bybelse opdrag om altyd bly te wees, letterlik opgeneem. Selfs wanneer ‘n mens die kruis opneem en Christus volg, doen ‘n mens dit met intense blydskap. Hy het juis rykdom opgegee en aardse besittings verkoop, ter wille van die vreugde van eenvoud en selfs armoede. Dit was sy manier om te vertel dat uiteindelik kan ‘n mens nog, of veral, in barste van bar omstandighede in God die sin van jou bestaan ontdek.

Dit is radikale wederliefde as reaksie op die goddelike liefdestoewending.

Dit is ook die Pauliniese boodskap: om in die tronk, in lyding, steeds weer vreugdevol te kan bly. En daardeur te kenne te gee dat niks  - geen trane, selfs nie dood nie – die verhouding met God wat lewegewend is (!), kan vernietig nie.

Ons praat nie hier van masochisme nie – ‘n geestelike afwyking wat in self-vernietiging behae skep nie.

De Caussade sê op ‘n eenvoudige manier ‘n verborge ding: in lyding deel ons God se lyding oor die verval om ons. Die deelname word ‘n gebaar teen kwaad, teen die bose, teen alle vernietigende kragte in. Dit is juis nie masochisme nie. Dit is om God se ontwil, ter wille van God. 

Wie dus trane stort, swaar kry, en dit om God se ontwil doen, teken terselfdertyd protes aan teen wat vernietig. En daarin is vreugde te vind – dat ‘n mens jou lyding kan ombuig, selfs kan heilig deur dit in die God-mens verhouding in te trek.

Maar, uiteraard, daarvoor moet ‘n mens, in De Caussade se titel verwoord, ‘n mens volkome aan God oorgee. Aan die God van liefde.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive