Thursday, June 06, 2013

Die lelike gesig van die kerk?


Almal kla oor alles wat in ‘n gemeente verkeerd loop. Die bakleiery, gestryery, rugstekery, geskinder, toutrekkery, manipulasie, korrupsie, vernekery en al wat ‘n sonde is, is gewoonlik die klippe van verwyt waarmee die kerk bestook word. 

En daar is niks so waar soos hierdie gekla nie: die kerk is ‘n smerige nes van sondes.

Vra maar enige geestelike leier.

Daar is niks wat die bediening so ontluister soos wat ‘n mens in jou spreekkamer te hore kom nie.

Selfsug en geweld is twee van die mees basiese trekke wat mense se lewens kenmerk. Uit daardie negatiewe kragte word veel, ellendige kwaad en seerkry gebore. 

Dit is die treurige kant van die kerk. En hierdie gesig van die kerk lyk niks anders as wat in elke ander sfeer van die lewe aangaan nie. In ‘n mens se werk, by skole, sport, kultuur, in die besigheidswêreld en selfs daar waar mense in die natuur ontspan, sien ‘n mens dieselfde selfsug en gewelddadigheid. 

Maar daar is ‘n ander kant. In die kerk kry ‘n mens iets wat jy in geen ander lewenssfeer raakloop nie. 

Die kerk soek daarna, doelbewus, berekend, as ideaal en as diepste verlange om hierdie lelike kant van die mensdom te omvorm. 

Die predikant wat ontnugterd en desperaat wonder of ooit iets sal verander, bly tog vashou aan hoop. Keer op keer is daar maar weer ‘n pastorale gesprek, ‘n besoek, ‘n bemoediging, ‘n preek om te inspireer en te vermaan.

Anders as elders, word daar in die kerk werk gemaak om selfsug en geweld om te keer. 

Dit is nie net ‘n ad hoc ding nie. Onderliggend aan hierdie getrouheid, selfs dapperheid, is daar ‘n uitgangspunt aan kerk-wees wat uniek is: dit gaan in die kerk om ‘n gesonde gemeenskap op te bou. 

Die kerk werk naamlik met die beeld van die liggaam van Christus. En ‘n liggaam is die woonplek van die Heilige Gees, wat beteken dat die ellendige toestand van mense nie aanvaar word nie, maar aangespreek word. Binne die liggaam werk genesende kragte. In die liggaam gaan dit om volwasse-wording. Met die liggaamsbeeld vra die kerk om eenheid, wedersydse bedagsaamheid, getrouheid, opbou en vele ander positiewe kragte. 

Dit kom nêrens elders so pertinent na vore nie. 

Daar is ‘n lelike kant van die kerk. Predikante sal die eerste wees om dit te kan uitwys.

Maar dieper as die lelik is die deel van die kerk wat werklik saak maak: dat dit nie met die lelike tevrede is nie. En soek om dit mooi te laat word. 

Daarom sal vele geestelike leiers ook vertel hoe in die woeste gestoei teen die slegte kante van die kerk, daar ook die suksesverhale is. Die verwoeste lewens van mense wat in jou spreekkamer instap, word dikwels, deur baie moeilike gesprekke en ondersteuning, bietjie vir bietjie omgekeer in lewens wat begin verander, stadig, sukkelend, soekend.

Dit gebeur seker ook in ander plekke en in ander lewenssfere. Die verskil is dat in die kerk is die bestaan van die kerk gekoppel hieraan. Dit is ‘n primêre taak van die kerk om ‘n gemeenskap te laat groei in goedheid en volwassenheid. 

Dat dit nie altyd werk nie en dat die kerk vrot is van mislukkings, neem niks hiervan weg nie. 

Spiritualiteit en veral mistagogie wat ingestel is op die geestelike vriendskap met mense, leef uit die Gees - uit die Een wat met krag wil werk om mense tot vernuwing te bring. Maar ook uit die Een wat deur menslike onwil en verset geblus kan word. 

Spiritualiteit en veral mistagogie wat ingestel is op die geestelike vriendskap met mense, weet egter dat die Gees nie dwing nie, nie dreig nie en ook nie diktator speel nie. Juis daarom, binne ‘n konteks van menslike feilbaarheid, is die werk van die kerk moeilik. Dit moet pleit, inspireer, oortuig en met vele ander geestelike middele werk.

Almal kla oor wat in gemeentes verkeerd loop. En dit terwyl, ongemerk, ongerekend, elke dag, oor vele eeue en in plekke van alle oorde, daar ook weer oneindige goedheid binne gemeentes gebeur. En te midde van die gekla en klippe gooi, bly die kerk aan die werk. 

Dit was nog altyd die lot van die geloof om deur die wêreld gekruisig te word.  



Blog Archive