Sunday, June 16, 2013

Kontemplatiewe gebed en Calvyn



Wat gebeur wanneer ‘n mens bid? In sy boek oor spirituele praktyke gebruik Driskill gedagtes van Calvyn om daaroor na te dink. Hy vertel hoe verras mense is as hulle hoor dat Calvyn gebed benader het in die lig van die mistieke eenheid van God met die mens.  Trouens, Calvyn het gebed as die belangrikste geestelike praktyk beskou.

Terwyl ek die opmerkings lees, besef ek hoe die praktyk van ons gebede bepaal word deur ons verstaan van gebed. Kru-weg sou ‘n mens kon dink dat gebed ‘n kans is om sekere versoeke aan God te rig. Maar gebed, in Calvyn se perspektief, is in die eerste plek om in God se teenwoordigheid te wees en om te deel aan God se intieme verhouding met die mens. Dit is gebed wat ‘n mens se geestelike vorming bepaal en stuur.  

1. Bid is om by God te wees. Dit is nie in die eerste plek om met God te praat nie. ‘n Gebed beteken dus om alle aandag op God te rig. Die dinge wat ‘n mens se aandag kan aftrek, moet vermy word. Die alledaagse lewenspatroon word onderbreek. Voor of na die dagprogram, of selfs in die hitte van die dagtaak, skep ‘n mens ‘n kans om weg te kom en voor God te gaan staan.

Wanneer ‘n mens ‘n gebed begin, is dit met die voorneme om allerhande los gedagtes te verban en te vermy, om al ‘n mens se gewone doenigheid op te skort en in God se teenwoordigheid in te gaan.

Dit beteken dat ‘n mens jou doelbewus losmaak van los gedagtes wat die aandag van God wegneem of ‘n plek opsoek wat ‘n mens in afsondering by God kan laat wees. Gebed is ‘n tyd van konsentrasie en fokus.

2. Gebed kom uit ‘n opregte hart na vore. ‘n Koue hart kan nie bid nie.

3. Gebed het ook met ‘n gebroke hart gedoen. In God kom ‘n mens tot rus in jou onrus, vind ‘n mens stabiliteit in tyd van onsekerheid wanneer ‘n mens jouself en jou gebreke aan God ontbloot. Gebed is dus nie ‘n vriendelike gesprek met God nie. In gebed stort mense hul teleurstelling en spyt oor hul eie mislukkings voor God uit om van God vergifnis te kan kry. Gebed is daarom ‘n oefening in nederigheid, ‘n bewuswording van jou plek in die skepping en in ‘n gemeenskap. Gebed is dus om jouself aan God se ontferming toe te vertrou.

4. Gebed is ‘n vertroue dat God mens tot ‘n volwasse geloofslewe lei. Mense houvas aan die krag wat God gee om sinvol te kan lewe. Gelukkig , besef hulle en bid hulle, is daar uitkoms, kan mense buite hulleself ‘n bron van besieling en bemagtiging vind. Juis daarom wil hulle in gebed deel hê aan die intieme verhouding met God waaruit nuwe geestelike groei gebore word. 

Boeiend is dat Driskill skryf dat hierdie gedagtes van Calvyn oor gebed eintlik sentrerende gebed is: dit is kontemplatiewe gebed, wat ingestel is op die mistieke eenheid met Christus. 'n Biddende mens soek om met 'n hele hart by God te wees, om met 'n brandende hart vir God te aanbid, om in berou deur God hernuwe te word en om met vertroue op God se teenwoordigheid die geestelike reis te bly loop. 

Blog Archive