Saturday, June 08, 2013

Die kerk se lof vir die wêreld.

Hier is 'n aangrypende video uit vanoggend se NYT:

Die kerkie van 'n vinnig veranderende voorstad van Austin, sê die predikant in die video, beweeg uit in die strate van die groot stad en beleef die evangelie op nuwe maniere. In hulle omgewing, wat drasties aan die verander is, wil hulle goeie bure wees.

Maar dit is sy konseptualisering hiervan wat my aangryp:

God is orals, in alles, sê hy. Die ou gedagte dat die wêreld boos is en dat die kerk 'n wegvlug-plekkie, weg van die ou slegte aarde is, werk nie. Dit is nie evangelie nie.

Trouens, vanuit die geloof kan die kerk eerder sê: Die wêreld is mooi, pragtig en vol skoonheid. 

My hart resoneer met sy lofrede op die wêreld. Daar is 'n onmiddellike konneksie met hierdie geestelike leier aan die ander kant van die aardbol.

Ons weet tog: Meer as een mistikus het sy geestelike reis begin by 'n goddelike aanraking deur die wêreld (Franciscus/Merton). 

Maar die predikant, rustig aan die praat, het meer as net liefde vir wat God om ons tot stand gebring het. 

Hy het ook ontferming - die gesig van die liefde - vir hierdie wêreld. Want, sê sy woorde: die wêreld is ook stukkend.

Daarom, vind die kerk God in die wêreld en vind verlossing daar. Die mooi wêreld, die plek van soveel vreugde, mag nie onder die pyn van sy lyding en deformasie alleen gelaat word nie. Daarom hoort die kerk in die wêreld, in God se maaksel. 

Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld was die mistiek nooit wêreldvreemd nie. Inteendeel. Dit het God ook in die wêreld ontdek. 

Hier is die skakel: 


http://www.nytimes.com/video/2013/06/07/us/100000002268970/worship-austin-style.html?smid=pl-share

Blog Archive