Tuesday, November 20, 2012

Ou dinge, nuut bekyk

Anne Astel se rede as president van die Internasionale Vereniging vir die Studie van Spiritualiteit gaan oor Edith Stein se opvoedkundige ideale.

Ek het die afgelope tye dikwels oor Edith Stein geskryf. Sy was die briljante studente van Husserl wat, omdat sy 'n vrou was, en ten spyte van haar uitsonderlike tesis, nie as professor aangestel is nie.

Sy, uit 'n Joodse gesin, het Christen geword. Tog het die Nazi's haar uiteindelik om die lewe gebring.
ber
Ek sien dus uit na Anne se rede. Sy het self onlangs professor in Spiritualiteit by Notre Dame geword en is 'n bekende figuur in Noord-Amerikaanse kringe.

Alles wat sy oor Stein vertel, is interessant en boeiend. Terwyl sy praat besef ek dat ek al are bewus is van die Steiner benadering tot opvoedkunde wat die individualiteit van elke kind hoog ag en dus soek om elke kind se besondere gawes te bevorder. Ek het dit net nog nooit met Edith Stein oor wie ek onlangs veel gelees het, verbind nie - en ook nie met Spiritualiteit nie.

Dus is dit vir my 'n aangename verrassing om die ou inligting vanuit die nuwe hoek te bekyk.

Maar dit is veral een punt van die rede wat by my bly: Anne vertel dat Edith Stein onderstreep het watter deurslaggewende rol 'n onderwyser in die lewe van 'n kind speel. Daarom is opvoeding van kinders iets wat in die hande van die beste van mense behoort te wees.

En die onderwyser wat ideaal is, is die een wat veel meer as net kennis aan die kind gee. Dit is belangrik dat kinders se kennis vermeerder moet word. maar veel belangriker is dat die onderwyser hom -  of haarself met die kind deel. Die onderwyser deel met die kind wie hy of sy is, en lank nie net wat hy of sy weet nie. 

Juis daarom is dit deurslaggewend dat die onderwyser 'n heel mens moet wees en dat die onderwyser die kind tot meer as net kennis aanspoor. Die leerkrag moet ook daarop ingestel wees om die kind te transformeer en te integreer. Die kind word begelei tot groter volwassenheid. 

Ek dink aan 'n onlangse studie oor transformasionele leierskap wat my bewus gemaak het daarvan dat 'n groot leier iemand is wat omgee vir mense vir wie hy of sy 'n leier is. Sy "volgelinge" moet voel dat hy nie net vir hulle gebruik nie, maar hulle mens-wees respekteer. So sensitief moet die leier hiervoor wees, dat hy op 'n stadium selfs die belange van sy volgelinge bo sy eie belange stel. Hy sal terugstaan, ter wille van sy volgelinge. Hy sal selfs bereid wees dat sy volgelinge hom as leier vervang. 

Toe ek dit gelees het, het ek onwillekeurig aan Christus se woorde gedink  - dat hy weggaan, dat sy volgelinge in sy plek na ander sal uitreik en dat hulle selfs groter dinge as hy sal doen.

Dink net wat sal moontlik word as onderwysers hierdie instelling met kinders kan deel. Dit kan egter net gebeur as die self-opofferende diens aan ander wat in Christus se bediening en wese ingebed was, ook hulle s'n word. 

Wat wel kan gebeur. Paulus het immers sy volgelinge aangespoor om die gesindheid van Christus te jaag. 

Mooi.

Monday, November 19, 2012

Wanneer ons ons antwoorde nie meer raaksien nie...






In een van die sessies by die reuse-groot konferensie, is daar ‘n gesprek oor spiritualiteit, hoop en die klimaatskrisis.

Die sprekers is almal piepjonk. Ek skat hulle as dertigers in jare.

Maar hul gees is so oud soos die berge, maar veel, veel gedaner. Van hoop is daar nie veel sprake nie.

Ons planeet, vertel hulle, stuur op ‘n ramp en op vernietiging af. Ons kan dit nie meer keer nie. Ons moet deur die katastrofe leef en dan maar net hoop ons kom anderkant uit.

In besprekingstyd, heel aan die einde, staan ‘n vrou op en vra wat is dit dan waarna ons moet uitsien as die “anderkant.”  

Sy wil van die sprekers weet waarop hoop ‘n mens dan.

In hul antwoorde laat hulle nie ‘n bloue duit van ‘n toekomsbeeld deurskemer nie. Trouens, ‘n mens kry die indruk dat hulle deur die vraag ‘n bietjie uit die veld geslaan is. Dit is ook duidelik dat tradisionele taal, beide van die kerk en teologie, vir hulle nie meer werk nie en doelbewus aangepas moet word en vervang word deur ander taal wat meer gerig is op gemeenskaplikheid op verhoudinge.

Ek begryp hulle, ook in hul neerslagtigheid, hoop ek. Hulle het immers aan die voete gesit van ‘n geslag van teoloë wat hoë, geleerde sisteme uitgewerk het terwyl die wêreld om ons aan die vergaan is. Die teologie kon nie saampraat oor die ramp nie. Daar was nie transformatiewe krag in die teologie nie. 

En hulle opmerkings laat my dink aan ‘n onlangse skrywe van een van die land se bekende jong kunstenaars in ‘n brosjure waarin sy nuwe uitstalling bespreek word.

Hy skryf dat sy skilderye geïnspireer is deur Deadbolt. Dit is ‘n band wat hulle self beskryf as die skrikwekkendste band in die wêreld. Hulle lirieke is deurtrek met geweld. Hulle gebruik tydens hulle uitvoerings masjiene wat onder andere die gehoor met vonke bestook.





Dit is die volgende paragraaf waarin Botes sy werk beskryf wat my nou al weke lank bybly: hy skyf dat hy deur sy skilderye die werklikheid van die moderne bestaan beskryf. Dit is vir hom nie ‘n mooi saak nie.

Die mens bestaan in ‘n afgeremde, verarmde droomagtigheid of droom-wêreld.

Dit is ‘n bestaan wat die meeste mense op ‘n daaglikse basis beleef asof dit ‘n kruis tussen ‘n sepie en ‘n gru-film is.

Die verbruiker is soos ‘n zombie, ‘n lewende lyk, wat leef in die skadu’s. Hul bestaan word in beslag geneem deur die najaag van illusies van geluk deur onversadigbare en brein-lose konsumpsie.

Maar gedurig en onvermydelik bly hy of sy onvervuld en ontevrede. Hoe meer mense koop en verteer, hoe minder geluk vind hy.

Hy beeld met sy skilderye allegorieë uit. Hulle vertel hoe ‘n donker mag skynbaar ons gedagtes beheer en ons in verlorenheid gedompel het. Die gevolg is nou dat ons deur winkelsentrums dwaal. Ons deurkruis die internet sodat ons aandag afgelei kan word van ons intense onbehae in die lewe.

Botes se skilderye is deurtrek met godsdienstige motiewe. Hy gebruik beelde met n sterk godsdienstige karakter. Deur dit oor en oor uit te beeld, selfs dieselfde beeld te herhaal met ‘n klein verskille, maak hy van hulle gebruiksartikels. Dit is sy manier om godsdiens in die verbruikersmark in te trek.

Dit is nie altyd aantreklike beelde nie. Soms is hulle selfs weersingwekkend. Conrad Botes wil dit ook so hê, want dit is waar dat sekere vorme van godsdiens ‘n mens vervreem en selfs kan afstoot.  Sy styl is ook dié van die pop-kultuur. Dit herinner mens so bietjie aan die werk van Andy Warhol.

Maar daar is 'n ander, opvallende kant aan sy skilderye. Terwyl ek daarna kyk, ervaar ek hoe die kleure, maar ook sy vakmanskap my boei. Botes self skryf oor die boeiende effek wat hy raaksien in die gebruik van kleur. Daarom teken hy dieselfde gesig oor en oor in ander kleur, sodat skryf hy, hulle deurtrek is van ‘n psigedeliese intensiteit. Dit, weer, gee aan sy beelde ‘n ikoniese kwaliteit. Hy teken op so 'n manier dat sy skilderye beelde word wat jou vasvang, wat jou in die diepere inneem, wat jou laat vra vir meer, vir mooier.



Botes se werk herinner my ook so bietjie aan die werk van Etienne Leroux wat destyds soveel opspraak verwek het. Sewe dae by die Silbersteins is ‘n werk wat die wêreld, ons wêreld in sy verbystering en verlorenheid teken. Dit is waar ons leef. Dit is die tyd wat ons elke dag in die oë moet kyk en waarvoor ons nie veel hoop het of omgee nie. Dit is die wêreld waaraan ons selfs deelneem, argeloos, asof daar niks verkeerds loop nie.

Om te kan skilder in so ‘n wêreld, is om nog iets te vind om voor te leef.

Miskien is die geheim vir ons hoop te vind in die manier waarop ons oor die wêreld praat: ons kan hom teken in al sy verlorenheid en in al sy slegtheid. Ons kan hom uitbeeld as ‘n doodsdriftige, op pad na selfvernietiging.

Maar ons kan dit ook doen ter wyl ons soms woorde in sagte, intense kleure vind om in ons diskoers in te vleg.

Iewers is daar iemand wat die boosheid kan besweer: iewers is daar nog kleur te vind.

Die donker praat nie die laaste woord nie.

In al die kwaad is daar ook die boeiende: te midde daarvan skep ‘n mens jou eie wêreld waarin jy verby die kwaad heen die lig en die spel van lig kan herken. Om dit te beleef, is om die gevangeneskap van die tronk te ontvlug.

Net, dink ek, so bietjie meer is nodig. Ons tyd, so doodsdriftig, het meer lig, meer spel, meer kleur nodig. Ons moet, al is die tye so donker, maar veral omdat dit tyd so doods is, meer vertel. Ons is so gejaag deur die donker dat ons ons eie antwoorde nie meer herken nie...




Sunday, November 18, 2012

Verkrag op Goeie Vrydag


Verkragting, sal die meeste mense verstaan, is ‘n uitermate traumatiese ervaring.

Daarom is dit nie ‘n verrassing toe die spiritualiteitsbyeenkoms wat oor trauma handel, vanmiddag ook ‘n referaat daaroor bevat nie.

Maar dit was tog ‘n skok vir sommige mense in die gehoor toe die spreker, ‘n psigo-terapeut, ‘n referaat met ‘n gevalle-studie oor die verkragting van ‘n man aanbied. Dit is iets wat nie inpas in mense se verwysingsraamwerk nie.

Die 28 jarige man, ‘n jeugwerker wat in ‘n arm buurt geestelike werk gedoen het, is een oggend toe hy juis besig was met sy taak, deur twee groot rowers met ‘n pistool aangehou en verkrag.  Dit het hom so getraumatiseer dat hy post-traumatiese stress ontwikkel het.

Die psigoterapeut  bespreek hoe hy daarna deur fase’s gegaan het:

Hy het as ‘n toegewyde kind in ‘n streng huis grootgeword waar sy ouers vir hom alles feil gehad het en vir hom die volmaakte kind wou maak. Daarom  het hy ook nooit eintlik enige geestelike kwessies in sy lewe gehad nie. Hy het aanvaar wat in sy lewe gebeur het, wat dit ook al was. Dit was sy "ou ek" met al die geestelike bagasie wat uit die tyd gekom het.

Maar met sy verkragting het daar ‘n ommekeer gekom. Hy, ‘n gelowige, het na die verkragting geworstel met die probleem dat God so iets kon laat gebeur terwyl hy as jeugwerker juis met God se werk besig was.

Die spreker wat die voordrag gee, raak stil. Aangedaan sê sy: “En, om alles te kroon is hy op Goeie Vrydag verkrag.”

Dit is die trauma waarmee hy verskriklik geworstel het.

Haar referaat handel oor die manier waarop hy die trauma gehanteer het. Deur allerhande terapieë kon sy vir hom ‘n ruimte skep waarbinne hy die kwessie kon aanspreek. En mettertyd het hy ook in homself ‘n woede teen God beleef wat. Sy het hom gevra om, wanneer dit met hom gebeur, tekste uit die Bybel te bedink waarin slagoffers van geweld uitvaar omdat God nie vir hulle red in tye van hul noodnie.

Hoewel hy dit op die manier op ‘n manier kon verwerk, kon hy tog ook nie heeltemal daaroor kom nie.

Op ‘n stadium het die vrou droom-terapie ingespan om hom verder te help: hy het vir haar van sy drome vertel sedert hy met die terapie begin het. In een van die drome, vertel hy, het hy die volle ervaring van die dag waarop hy verkrag is, weer beleef.

Maar, vertel sy, daarna het hy in sy droom opgestaan en die twee manne vermoor wat hom verkrag het. Toe sy hom verder invra, vertel hy dat hy homself ook vermoor het. 

Vir die eerste keer sedert die verkragting het hy nie passief aanvaar wat met hom gebeur het nie. Aktief het hy, in droombeelde, ‘n einde gemaak aan die manier waarop hy as die ou ek die situasie gehanteer het. Hy het sy ou ek vernietig en daarmee ‘n nuwe bestaan geskep. Die “moord” van homself was ‘n aggressiewe aksie wat hom sou bevry om aan te gaan met sy lewe.

Die terapeut vertel hoe verbaas sy was: sy het gedink hy sou, nadat hy die twee skurke van kant gemaak het, nou homself aanvaar en met ontferming oor homself optree. Toe ontdek sy met ‘n skok dat hy homself eerder vernietig. Hy het eerder deur aggressie as deur ontferming teenoor homself die probleem opgelos.

Vir haar beteken die geval dat ‘n mens dikwel in situasies beland waarin aggressie ‘n wesenlike rol in jou genesing speel. Eers nadat hy sy “ou ek” aggressief uit die weg sou ruim, het daar ruimte vir groter genesing en aanvaarding gekom.

Ek luister geboeid na haar en staan verstom oor die lyding wat mense ondergaan.

Maar ek voel ook  onvergenoegd.

Ek probeer my vinger op die pols kry, maar dit is nie maklik nie.

Is dit werklik aggressie wat in terapie nodig is? Is die antwoord op geweld net nog meer geweld – al is dit nie “letterlik”-bedoelde geweld nie?

Is dit nie juis die uitstaande betekenis van Jesus se kruisverhaal dat Jesus die lyding wat hom aangedoen is  deur sy transformatiewe , geweldlose optrede omgebuig het nie? Selfs “figuurlike” geweldstaal het nie ‘n plek op Golgota nie.

Dit alles beteken nie dat 'n mens verkragting moet "aanvaar" of "verdur" nie. Wanneer 'n mens weier om toe te laat dat die dade van ander jou lewe vernietig, moet 'n mens nie soos jou verkragters word nie. Selfs nie eers in jou taal nie en selfs al bedoel jy nie letterlik dit wat jy se nie. 


Saturday, November 17, 2012

Om sommer so die wrok agter te laat...


Ons sukkel om vervoer terug na ons hotel te kry. Dis laataand, ons is op die rand van die stad en die buurt is verlate.

Dis herwaarts en derwaarts. Maar oral is almal vriendelik. Ons is geholpe.

Uiteindelik is ons in die taxi. Drie van ons wat die aand se uitstekende besprekings bygewoon het, deel die koste. Dit help om jou begroting binne perke te hou.

Die bestuurder  raak gesellig toe hy hoor watter konferensie ons bywoon. Hy het allerhande stories om te vertel. Op die manier vind ons uit dat hy ‘n enkelpa van twee kinders is.

Maar dit is ons reisgenoot wat die geselskap oorneem. Al die stories  van die enkelpa – taxi-bestuurder juig sy met yerige entoesisame toe. Hy vertel hoe baie hy in die Bybel belangstel en hoe graag hy Israel toe wil gaan.

 Sharon vertel hom dat hy nie vir ‘n oomblik moet twyfel nie. Hy moet definitief gaan. En hy moet sien wat sy ook sien toe sy die afgelope paar jaar daar was. Maar dan moet hy Palestina toe gaan.

Daar sal hy sien hoe mense binne een geslag kan verander.  

Die Palestyne van die eerste geslag mense wat uit Israel uitgesit is, is vandag nog verbitter. Hulle is getraumatiseerde mense wat nie kan vergeet waarvandaan hulle kom nie en wat nie die hardvogtigheid van die Israeli’s uit hulle sisteem kry nie. Hulle mis hul vroeëre blyplekke, sluk nog swaar aan die onmenslike omstandighede waaronder hulle hervestig is en loop met ‘n wrok in hulle rond.

Die stertkant van haar verhaal bly hang aan my hart. Die kinders van hierdie eerste geslag hervestigdes wil niks weet van hulle ouers se bitterheid en wrokkigheid nie. Hulle het nie die trauma van die hervestiging gedeel nie. In hulle gemoed leef niks van die ervarings wat hulle ouers se lewens so ingrypend beinvloed het nie.

Hulle wil net aangaan met hul lewens. Hulle werk en woel om iets te bereik.

Sharon vertel dat sy dikwels in trane was oor die verhale van menslike trauma wat aan haar oorvertel is Maar dan was daar ook die aangrypende ervaring van ‘n nuwe geslag wat nuut wil begin en in die proses heeltemal anders as hulle ouers dink.

Van al die baie gesprekke in vanaand se konferensie oor 20 jaar se studie van spiritualiteit, bly hierdie woorde my by.

Hoe alleen is ‘n mens nie as jou kinders nie jou trauma met jou deel nie.

En tog, hoe bevrydend is dit nie om die verlede te kan agterlaat – so skielik, so sonder rede, so argeloos.

Thursday, November 15, 2012

Wêreldsgoed


Die vrou wat die sitplek langs my het, groet stil as ek langs haar gaan sit. Sy is ‘n mooi vrou met fyn gelaatstrekke. Boonop kan jy haar deur ‘n ring trek. Sy het duidelik netjies haar Sondagklere vir die reis aangetrek.

Dit is, soos gewoonlik, ‘n gesukkel om jou sit te kry en alles tot bedaring te organiseer.

Net as ek alles in plek het, oorval ‘n dors my. Ek het ‘n bottel water by my waarmee ek al ‘n hele ent op die warm dag gestap het. Gelukkig is dit nog lekker vol.

Dus pak ek dit en draai dit oop.

Met die draai, klink dit asof al die sluise van die Gariep-dam oopgetrek word. Die water spuit des te sterker deur die halfoop prop. Na alle kante toe,

In ‘n sekonde of wat is die leë sitplek langs my sopnat, my broek het groot nat kolle en die water tref die tannie orals op haar kerkrok..

Sommige dinge kan ‘n mens ongedaan maak, as dit jou so smadelik oorval. Dit doen jy dan blitsvinnig en met oorgawe.

Ander dinge, weet jy, onmiddellik, met ‘n sinkende gevoel, is gedane sake. Jy moet maar net aanvaar. En probeer goedmaak wat onredbaar is.

Ek gryp desperaat na my sakdoek in my broeksak. Daar ontdek ek gelukkig ook twee tissues. Ek droog op, vra verskoning, troos dat dit gelukkig net water is en kyk desperaat om my om te sien waar my hulp vandaan sal kom.

Ek weet mos hoe vroeg vanoggend sy al vir die reis aangetrek het. Hoe sy alles in plek gekam en afgestof en gepoeier en gepaint het.

Maar tog: Die tannie, 86 jaar oud, vind ek later uit, sit ongestoord. Daar is nie ‘n wolk op har gesig nie. Geen knyplippe nie. Nie ‘n enkele verwyt nie.

Inteendeel.

Sy bekyk die hele storie kalm en bedaard. En dan sê sy, rustig, ongesteurd, 'n enkele sinnetjie:

Toe maar, dis wêreldsgoed.

Ek hoor my oupa en my ouma in daardie woorde. Ek maak ‘n rondte van Vader Cloete by hulle wat so dikwels in daardie modus gedink en gepraat het. Ek is weg, onmiddellik, in kinderdae, in ouwêreldse vroomheid, volkswysheid van mense wat nie oordadig geleef het nie, goed na alles gekyk het en vir hulle self versorg het, maar wat altyd geweet het daar is iets groters en belangrikers as aardse dinge.

Hoekom het daardie frase in onbruik geraak? Wat is fout met ons dat ons sulke taal verloor het?

Die dag, besef ek, dankbaar, het vir my te midde van die smadelike goed begin…

Later aan die einde van ons reis, as onbekende bure in ‘n gedeelde ry, toevallig bymekaar uitgekom, groet ons. Die gemorste water het verdamp. Vriendelike, gesellige woorde het ons reis soos ‘n oomblik laat voel. Ek groet haar. Asof ons mekaar al jare ken. 

Ek stap weg, anders gemaak, getransformeerd, deur gemorste water. 


Blog Archive