Friday, July 12, 2013

Boekevat: 'n Spirituele oefening.




Ek onthou dat ons as kinders ook “boekevat”-tyd gehad het. Almal het dit destyds gedoen. Dit was 'n "kerklike" vermaning wat menige Sondag aan die vol kerkgebou se mense gerig is: moenie boekevat verwaarloos nie. En "boekevat" het 'n algemene naam geword vir so 'n geestelike oefening saam met die gesin, saans, om die tafel, na ete. 

Elke dag, as die ete verby is, en die tafel afgedek is, het ‘n kind die Bybel gaan haal. Ek kan nie onthou dat ons ooit dit iewers anders gedoen het as na ete aan tafel nie. Pa het ‘n gedeelte uit die Bybel voorgelees. Dan het almal op hul knieë by ons stoele gekniel, terwyl elkeen ‘n gebed opgesê het. 

Ons het selfs gehoor van mense wat soggens ook saam boeke gevat het. En, wat dit gekombineer het met die sing van psalms en gesange. Boekevat was 'n algemene geestelike oefening van daardie tyd. 

Die onderliggende gedagte was uitstekend: lectio divina, maar ook toewyding aan die Here in gesinsverband. Saam om die Bybel as gesin, luisterend aan die einde van die dag na God se woord; saam as gesin op die knieë om te bid.

Op die manier word geloof in die gesin ‘n ereplek gegee. Dit is soos die plakaat in vele huise: die Here is die hoof van hierdie huis.

Soms, afhangende van pa se bui, of van die aandprogram (of daar ‘n vergadering was of konsert), was daar tyd en plek vir ‘n paar vrae. Dan moes die kinders sê wat hulle onthou van die Bybelgedeelte.

Tipies van die tyd was dit dus ook ‘n tyd om die kinders se “kennis” te toets.

Mettertyd het boekevat minder geword. En minder. Selfs waarskuwings in preke om nie boekevat te verwaarloos nie, het minder geword. Wie praat nog vandag daaroor?

Met televisie se koms was Boekevat se dae in vele huise getel. In die ou dae was dit hoogstens die Du Plooys van Soetmelksvlei wat saans om half-agt op die radio uitgesaai is, wat die boekevat aangejaag het. Maar daar sou nie gedroom gewees het om daarmee te staak nie. Vandag kan boekevat nie kompeteer met die groot televisie-aanbod nie.

Die ritueel en geestelike oefening van boekevat kry eintlik nie meer enige aftrek nie. Die dag is te vol. Ander dinge is te belangrik. Kinders leer in elk geval genoeg – hulle word volgeprop met inligting, ook oor geestelike sake.

Dit hoef nie ‘n ramp te wees dat boekevat in sy ou formaat verdwyn het nie. Spirituele praktyke het in sekere tye hulle nut. In ander tye word hulle nie meer verstaan nie en maak dit min sin om met hulle vol te hou. Behalwe, natuurlik, as hulle kan tred hou met die tyd en nuut bly.

Hoe, dan, kan ‘n mens vandag nog uiting gee aan die onderliggende gedagte dat ‘n gesin saam die Here dien? Wanneer kom pa, ma en kinders saam om te bid, om saam die Bybel te lees? Of op watter manier moet ‘n mens aan God die plek gee wat God in die lewe van ‘n gesin toekom?

Veel, veel meer geleenthede is vandag beskikbaar om meer van die Bybel te hoor: media, radio, televisie en die geestelike boekemark maak dit moontlik dat ‘n mens orals en altyd geestelike voedsel kan vind. Gesinne hoef nie geestelik te verarm omdat hulle nie meer boekevat nie.

Maar waar is daar ‘n ruimte wat vir almal besonders is, waar ouers en kinders saam in die teenwoordigheid van die dieper dinge kan verkeer? Op watter maniere kan ouers en kinders ‘n tydjie van saam-wees geniet wat hulle in hul geloof kan versterk en van hulle meer volwasse mense kan maak?

Wanneer ‘n mens hieroor nadink, moet ‘n mens ‘n idee hê van wat spirituele praktyk beteken. En dit is die groot vraag van ons tyd: dink ons genoeg na oor die aard en sin van spirituele oefeninge?

Terwyl ek kyk na uitbeeldings om by te voeg by hierdie skrywe, tref dit my hoe uniek ons boekevat eintlik was: saans om die tafel, na 'n lang dag dat almal met hulle dinge besig was, maar nou bymekaar, volgeëet en reg om die dag af te rond, was almal saam: reg om die Here te ken en te eer as die Een wat die hele dag die lewensgang begelei het. En vir Wie daar elke keer maar weer gevra is: "Gaan met ons in hierdie nag in, bewaar ons in U troue hoede en gee dat ons in die oggend met nuwe krag sal opstaan om U met ons lewens te eer."

Mis ons iets? 



Blog Archive