Monday, July 15, 2013

Die wonder van omgee: oor die geestelike oefening van aanraking



Daar is iets besonders mistiek aan die nagmaal:

Ons beskryf dit normaalweg as 'n gedagtenismaal: doen dit tot my gedagtenis, vra Jesus aan sy dissipels. Dit is dan vir ons veral 'n maaltyd wat 'n mens herinner aan Jesus se liefdesoffer. Maar dit hou ook in gedagte dat daar 'n tyd is dat opoffering verby sal wees, dat 'n mens ononderbroke in God se nabyheid sal wees. Dit sal die tyd van die feesmaal wees: die aanlê by die feesmaal wat God voorberei.

Maar die nagmaal het lank nie net met gedagtes en onthou te doen nie.

Neem, eet. Neem, drink, sê die liturg: en daarmee word die liggaam van Jesus deel van ons. Fisiek ervaar 'n mens dit. Dit is aanraking, intimiteit, verinnerliking wat tot in 'n mens se liggaam gevoel kan word. 

In Spiritualiteit praat ons van die goddelike aanraking wat mense vir een en vir altyd omvorm en op 'n geestelike reis neem.

God "raak" mense "aan." Dit word deur ander simbole uitgedruk: God "woon onder" mense. "Bly in My, soos Ek in julle." In die huis van my Vader is baie wonings. 

God werk konkreet - met die skepping, met liggame, met die aarde. Die geloofsgemeenskap het altyd weer beklemtoon dat God nie net met mense se gees werk nie. Die gnostiek het nooit werklik wortel geskiet in die kerk van alle tye nie.

En God raak nie net "simbolies" aan nie. In die nagmaal, wonderbaarlik, raak God met wyn en brood ons liggame aan en vra ons om in die wyn en brood God se allernabyste teenwoordigheid te ervaar. 

Dit is 'n sagte, lewegewende, omvormende aanraking wat ons in liggaam en siel en hart kan voel. Daarom volg die vredesgroet: na die nagmaal, in baie kerke, omhels en groet mense mekaar. 

Soos God ons aanraak, so vol lewe en vreugde, so verander ons aanraking ander mense en omvorm hulle aanraking ons.

'n Aanraking, 'n handdruk, 'n omhelsing, 'n klop op die skouer, 'n ma se toetrek van haar kind met die kombers, die broer se speels duikslag, 'n liefdesoen van 'n vriend/in. Almal fisieke tekens van toegeneentheid wat 'n mens innerlike vreugde en vervulling gee.

Ek lees vanaand in Bass se boekie oor geestelike oefeninge van 'n vrou wat in Italië gewoon het, maar verskriklik eensaam in die groot stad was. Sy het 'n behoefte gehad aan mede-menslikheid, na uitreiking en na omgee. Daarom het sy elke week na die mis in die plaaslike kerk gegaan: daar ten minste, het mense na die nagmaal na haar gekyk, haar gegroet en vir haar 'n omhelsing gegee. 

In ons stywe, gereserveerde spiritualiteit ondervind ons dieselfde behoefte: dit is 'n behoefte aan erkenning, aan toegeneentheid en aan omgee. Die fisieke aanraking is maar net 'n teken van die roep om intimiteit wat ons kwytgeraak het in ons harde, vinnige lewe.

Die gelowige, is die ondertoon van die gedagte, kan ander aanraak as die vrug van God se aanraking van mense.  

Is dit moontlik dat 'n mens van aanraking 'n sterker geestelike oefening kan maak in ons tyd van vereensaming en hardheid? 

Dink maar aan al die ou geestelike oefeninge wat op aanraking ingestel is: die nagmaal, die salwing van siekes, die voetwassing, maar dink ook hoe die sakrament van die doop en die geloofsbelydenis deur die beklemtoning van die sigbaarheid van die aanraking verryk kan word: nie net kan die liturg se hand op die baba se voorkop bly rus as die water uitgegooi word nie, maar die liturg kan die baba tydens die doopplegtigheid vashou - 'n wonderbare teken van God wat selfs die kindjie in God se arms neem. 

En, wat ek al gesien het, wanneer kinders geloofsbelydenis aflê, kan hulle met 'n hand in die doopbak staan. 

Met troues, het ek gesien, word die oomblik van die verbintenis in die eg, verryk wanneer ouers langs hul kinders kom staan. En, na die egverbintenis hul kinders omhels en gelukwens. 

Ons is arm aan aanraking, omdat ons te min dink aan die rykheid wat geestelike oefeninge kan bring, aan die groot rol van aanraking en die belangrike plek van aanraking in die liturgie. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive