Thursday, July 18, 2013

In die kollig ter wille van ander. Oor 'n unieke oomblik.







Dit bly eintlik ongehoord: vandag, met die verjaardag van Pres. Mandela, hou die Verenigde Volke ‘n spesiale byeenkoms om sy verjaardag te herdenk en sy nalatenskap te vereer. 

Watter ander persoon op ons aardbol sal so iets te beurt val?

Die saal is vol afgevaardigdes. Op die verhoog is Bill Clinton, in ons tyd een van die bekendste gesigte op die planeet. Hy is duidelik ‘n volslae bewonderaar van president Mandela. Dit blyk uit sy woorde, uit sy oomblikke van aandoening en uit sy vertelling van sy besoeke aan hom.

Drie dinge noem hy op wat hy van Mandela geleer het: ‘n mens moet eers jouself bevry, dan eers kan jy ander bevry en as jy dit gedoen het, is jy iemand wat ander dien. Mandela, voeg hy by, moes ook witmense bevry om te leer hoe waardevol dit is om deel van die menslike gemeenskap te wees.

Hier in die saal is die wêreld se grootmagte bymekaar om iemand uit die suidpunt van Afrika te vereer wat die simbool geword het van stryd teen ‘n ideologie wat vernietigend inwerk – nie net in die geskiedenis met die rassemoord op Joodse Duitsers nie, nie net in Suid-Afrika nie, maar vandag nog in vele lande.

Maar wat is dan so anders aan Mandela as al die ander stryders teen rassisme?

My leeswerk hieroor laat my min twyfel: hy staan uit bo ander omdat hy nie as oorwinnaar oor rassisme sy vorige onderdrukkers terugbetaal nie. Hy het hulle nie net vergewe nie, maar, meer nog, selfs as mense gewaardeer, geag en selfs omhels.

Hoe kry hy dit reg, vra ek myself dikwels af. Want almal weet hy het ‘n verskriklike humeur, kan kwaai met sy tong wees, kan ook maar wraakgierig word (lees Van Zyl Slabbert se boeke) en het maar los met vrouens omgegaan.

Juis omdat hy so bewus is van sy eie feilbaarheid: hy wil nie ‘n ikoon wees nie. Hy beklemtoon sy eie foute. En as hy oor sy nalatenskap praat, plaas hy homself nie in die kollig nie.

Vanaand saai die Nederlandse televisie ‘n stuk uit waarin hy oor Mandela-dag praat. Hy vra dat op die dag mense nie ledig sal wees nie, maar sal uitgaan om ander te dien en iets goeds vir hulle medemens te doen.

Sy wens word grootliks vervul, want vandag is dit presies wat baie mense doen.

Maar dit is Mandela, wat Clinton ook raaksien: nie soseer om te dien nie – dit ook. Maar wat ‘n mens hier sien is veel eer ‘n spirituele waarheid: dat ‘n mens net in transformatiewe verhouding met ander jou eie mens-wees ontdek en tot volle mens-heid ontwikkel.

Die lewe, sou ‘n mens kon sê, is sinloos sonder dat ‘n mens in ‘n ek-jy verhouding opgeneem word.


Blog Archive