Thursday, July 11, 2013

Wat doen ‘n mens wanneer dit lyk asof alles verlore is?

Wat doen ‘n mens wanneer dit lyk of alles verlore is?

Wat doen ‘n mens wanneer jy net ellende en teenspoed ervaar?

En, skryf Thomas a Kempis (Die navolging van Christus 4.30.19-27), wat doen ‘n mens wanneer dit vir jou voel dat God ver van jou is?

Hoe hanteer ‘n mens dit wanneer jou gevoelens negatief en wanhopig raak?

Hoe reageer ‘n mens wanneer jy voel of alles en almal jou in die steek gelaat het?  En jy in jou binneste op geen manier geestelike vertroosting vind of ervaar nie?

Wanneer jy dink dat alles verlore is, is daar dikwels groot wins aan die kom, antwoord Thomas hierdie vrae.

Wanneer jy dink dat God ver is, is God dikwels na aan jou.

Boonop: Die negatiewe oomblikke in ‘n mens se lewe is dikwels die oorgang na die Koninkryk van die hemel.

Deur teenspoed en terugslae word ‘n mens dikwels meer gevorm as wanneer dit met jou goed gaan en jy alles kry wat jy wil hê.

Trouens, volgens Thomas, is dit vir ‘n mens dikwels goed om af en toe swaar te kry.

Anders sou ‘n mens te maklik op jou mooi sukses steun.

Te maklik kan ‘n mens dan ‘n behae skep in wat jy nie regtig is nie. Want teenspoed is nie ‘n teken van jou onwaardigheid en moet jou nie ineen laat krimp nie. Dink aan al Jesus se dissipels: hulle is vir swaar stryd bestem, is met smaad begroet, moes hulle hard inspan en moes hulle instel om vrug te dra.

Dit alles knoop Thomas aan Jesus se woorde aan sy "beminde" dissipels: Soos die Vader my liefgehad het, so het ek julle liefgehad (Navolging van Christus 4.30.33).

Daarmee fokus Thomas op die navolging van Christus: Hy, Seun van ‘n Vader wat Hom innig liefgehad het, het ‘n smadelike dood gely. Deur valleie van donker depressie het Hy sy lewe gevoer.

Maar altyd weer het Hy aan die Liefde vasgehou.

En dit is wat bestem is vir kinders van God.

Waarin moet ‘n mens behae skep? Wat maak ‘n mens bly? Wat vul jou innerlike met sin en vreugde?

Nie wat jy het nie. Nie die goeie tye nie. Nie voorspoed nie. 


Die enigste vreugde is dat ‘n mens kind van God is. Niks, geen teenspoed, terugslae en ontnugtering kan dit wegneem nie. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive