Monday, July 01, 2013

Net 'n arm om jou

Die kapel vir die oggenddiens hier op die kampus van Notre Dame Universiteit is tjok- en blokvol. Mense staan agter en aan die kante van die groot binnekant. Baie van hulle is jongmense. Jy sien skaars grys hare.

Die erediens is vol warmte, met pragtige sang, meesleurende liturgie en rustige deelnemers.

Ek dink onwillekeurig aan die baie kerke in Europa wat leeg staan of omskep is in woonstelblokke.

Amerika is nog  baie godsdienstig.

Die fakulteit hier trek van die voorste akademici en student vanoor die land en die wêreld.

Teologiese opleiding is van ‘n hoë standaard: die student wat referate aanbied is flink, deeglik voorberei en ingelig.

Die konferensie wat ek bywoon gaan oor die tema "Wonderbare vrees en heilige ontsag." Die referate is geweldig uiteenlopend en dek die hele spektrum van die geskiedenis van spiritualiteit.

Die afgelope drie weke is ek in die eerste wêreld aan die reis om hierdie konferensie te kom bywoon.

Ons lewens, kom ek met die reis agter, is ‘n enorme bedryf. Dit is ‘n groot, georganiseerde en geoliede proses van dienslewering. Almal is aan die werk en die woel.

Aan tafel, vanmiddag, vertel ‘n mede-kongresganger vir my van ‘n onlangse projek in haar presbeteriaanse gemeente. Sy het aangebied om oor ses weke een aand ‘n praatjie oor ses van die groot mistici aan te bied. Therese van Lisieux, Jan van die Kruis en ‘n paar ander word haar onderwerp van bespreking.

Die gemeente het nog bitter min ooit so iets meegemaak.

Twee komitee’s van die kerkraad het haar voorstel bespreek en toe uiteindelik goedgekeur.

Sy was verstom toe 130 mense die eerste aand opgedaag het.

Hulle wil meer weet. Dit is die stil kant van godsdiens waarna mense nou op soek is.

Nie dat hulle daarmee die wêreld afsweer en nou asketies wil leef nie.

Maar alles wat hulle elke dag so dringend en deeglik doen mis diepte. Iewers moet dit alles sin maak. En dit is daardie sin wat hulle soek.

Dit is ‘n groot verlange. Ook na die dieper ervaring wat hul betrokkenheid in die wêreld weer kleur sal gee. 

Maar selfs spiritualiteit is nie altyd die antwoord nie. Dit is ‘n sekere soort spiritualiteit waarna  mense op soek is.

Mense gee elke dag verskriklik baie weg van hul energie.


Hulle wil iewers iewers ‘n Arm om hulle voel wat hulle vashou. In stilte, in nabyheid, in omgee. Nie noodwendig met veel gepraat nie.

Blog Archive