Ekstase is vir baie in ons tyd sulke uitsonderlike dinge soos die sien van visioene, die ervaring van uittrede uit jou liggaam, die dra van sigbare wonde en die stort van trane.
Ekstase as deel van die mistieke ervaring is wanneer die mens God nie meer kan vaspen nie. Die mens word deur God se teenwoordigheid van God totaal omvergewerp. Ekstase gaan om die mens wat losraak van hom- of haarself wanneer die mens deur God aangegryp word.
In ‘n sekere sin is dit ‘n verlengstuk van die gebed. Die mens het geen wil meer om iets aan God oor te dra of te vertel nie. Jy dra nie meer jou behoeftes, vertellinge en daaglikse programme aan God op nie. Die fokus skuif weg van jouself, na die Ander. Die mens se innerlike is in die ekstase totaal op God ingestel. Dit gryp jou en neem jou geheel en al in beslag: die hart is in verrukking en in die mens se gemoed brand daar ‘n onblusbare vreugde.
Die mens se siel is buite homself, afgesterf aan die sigbare dinge en bid nou in onuitspreeklike versugting tot God. Met ander woorde, die mens bid ‘n mistieke gebed. Hier vind die aanskouing van God plaas. ‘n Mens staan as te ware weg van hom- of haarself en kom by God te staan. Die koms van die geliefde God lig die mens uit uit enige selfbetrokkenheid. Die is ‘n tyd van vervulling, van brandende verrukking. ‘n Mens word so oorweldig deur die Liefde, dat ‘n mens God se teenwoordigheid in jou voel brand. Gebedswoorde stroom uit ‘n mens se mond, ‘n mens kan nie daarby byhou nie. 'n Mens is nou by die Een wat bo alle dinge verhewe is. Die nietige dinge maak nie saak nie. 'n Mens is nou in die Nuwe Jerusalem - waar God alles in almal is. Ons leef uit en in die Lig. Ons is by God.
(n.a.v. Waaijman, 61-2)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.