Die mistieke ervaring gaan op ‘n stadium oor in die aktiewe ingrype van God. Die mens is nie meer die sentrum van sy bestaan nie. God is nou die een wat die mens raak. Die mens word dus in ‘n sekere sin “passief.” Maar dit is nie ‘n dooie passiwiteit nie, want deurdat die mens geraak en beweeg word, gebeur daar iets. Sonder dat die mens enige inisiatief neem of sonder dat die self hom instel of organiseer, werk die diepste oomblik, die kern van die mistieke ervaring in op die mens se self. Die mens “word” deurdat die “U” aktief is, die mens wat aan die word is, is die mens wat “U” aanroep. Die mens het die indruk asof hy of sy nog nooit tevore bestaan het nie, asof hy nou eers gebore word. Die diepste, innigste en wees wesenlike deel van die mens se lewe word in die mens se self aangeraak. Dit gebeur direk. Niks bewerk dit nie. Dit gebeur nie deur iets of deur ‘n beeld nie. Die ervaringskern werk self op die mens in. ‘n Mens word nou deur die ervaringskern en ontword aan alles wat hy of sy tot dusver geword het. ‘n Omsmelting vind plaas.
Hierdie direktheid het niks met stille berusting te doen nie, d.w.s. met ‘n inkering na binne in stilte nie. God is hier aan die werk. God ruk die siel heeltemal tot God toe sodat die mens vreugde vind in God. Die siel laat alles agter, dade, vorme, verlangens, stille bewegings, sy eenvoudige bewoëndheid. Van dan af word die siel deur God beweeg. Die siel word in verrukking en beroering gebring.
Later is hierdie passiwiteit ontwenning, nag, woestyn en eensaamheid genoem. In die verlatenheid word die mistikus geraak. Vir hom of haar is dit die direkte inwerking van God.
Waaijman 63-64
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.