Friday, November 02, 2007

Spiritualiteit en gawes

Ons gawes aan ander is dikwels gekleur deur ‘n verborge agenda. Ons gee omdat ons eintlik iets oor onsself wil wys. Ons wil wys hoe grootmoedig of hoe vrygewig ons is.

Soms gee ons aan ander om vir hulle te wys dat hulle sonder ons nie sal klaarkom nie. As ons nie vir hulle sorg nie, sê ons dikwels in soveel woorde, wié anders sal dit dan doen. “Ek sloof my af vir jou,” word in menige familie vir die afhanklike gesinslede vroom vertel, “en ek moet al weer vir jou uit die ellende help.” Dit is ‘n gawe wat die ander seer maak en skade aandoen.

Ons gee aan ander sodat hulle onder ‘n verpligting teenoor ons voel en van ons afhanklik raak. Dan, glo ons, sal hulle ons nie enige skade aandoen nie. Ons neem hulle uit vir ‘n ete, stuur vir hulle ‘n kersgeskenk, gee vir hulle ‘n onverwagte presentjie met die wete dat hulle dieper by ons in die skuld raak.

Deur só te gee, stel ons ander mense in ‘n ongelyke posisie teenoor ons.

Laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Om te gee, beteken nie om rekening te hou nie. Egte gawes het nooit die bedoeling om die ander persoon te “gebruik” tot ‘n mens se eie voordeel nie.


U, die Groot en Genadige Gewer, het U gawes nooit op my afgedwing nie. U gee dit aan my om my vry te maak. Wat ek uit u hand ontvang, hoef nie na U terug te gaan nie. Duisende goeie gawes kom so oor my pad, elke dag. Juis omdat U gee sonder om vir my te vertel hoe vrygewig U is, om my van U afhanklik te maak, om my minderwaardig te maak, is U gawes eg goddelik.Ek wil soos U wees. Ek wil ook gee uit liefde, onvoorwaardelik, steeds weer in sensitiwiteit vir en erkentlikheid teenoor die ander, vir die een wat van my ontvang. Gee dat my gawe my medemens nooit sal verontmenslik nie, sal manipuleer nie. Gee dat my gawe aan ander in hul menslikheid sal bevestig. Gee, Here, dat ek nie ter wille van myself sal gee nie, maar bloot net uit liefde vir die ander.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive