Sterf soos ‘n engel
Moeder Teresa vertel in die boekie (In The Heart of the World) van ‘n vrou wat hulle op straat aangetref het, dodelik siek en wat hulle toe na hul huis toe geneem het. Sy het vir die susters gesê om na die ander drie mense wat hulle ook daardie aand gered het, te kyk terwyl sy die baie sieker vrou self versorg het. Sy het alles wat sy kon vir die vrou gedoen. Sy het haar versigtig versorg. Toe sy haar klaar in die bed gesit het, het die vrou geglimlag en “dankie” geseê. En toe haar oë vir altyd gesluit.
Sy skryf sy kon nie help om haar in die vrou se plek in te dink nie. Wat sou sy gesê het? Die antwoord was eenvoudig: sy sou gesê het sy is honger, sy is sterwende en sy kry koud. Of sy sou gekla het oor een of ander deel van haar liggaam waar sy pyn het. Maar hierdie sterwende vrou het vir Moeder Teresa baie meer gegee, skryf sy. Sy het vir my haar dankbare liefde gegee. En sy het met ‘n glimlag op haar gesig gesterf.
Dit het haar laat dink aan die man wat hulle ook van die straat opgetel het – half opgeëet van die wurms. Die man het hulle vertel: “Ek het soos ‘n dier op straat gelewe, maar ek gaan soos ‘n engel sterf – omring deur liefde en sorg.” Dit was wonderlik, skryf sy, om die grootheid raak te sien van iemand wat so kon praat – sonder om ander aan te val of om te kla omdat hy niks het nie. Hy het soos ‘n engel gesterf.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.