Thursday, November 08, 2007

Spiritualiteit as egte menslikheid. Hoe gebeur herlewing?

In Finland het `n leerling van 18 jaar gister met `n pistool deur sy skool geloop en sewe leerlinge doodgeskiet. Hy het ook die skoolhoof afgemaai. Finne is die derde hoogste op die lys van wapenbesit in die wêreld. Trouw rapporteer dat hy die oggend films na YouTube gestuur het om sy planne bekend te maak. Koelbloedige, patologiese moord deur `n skoolkind. Interessant is die lesers se reaksie hierop: die een wys dat dit nog `n sinlose moordparty deur `n puber is. Hoe lyk ‘n huis van so iemand? Wattter waardes het hy tuis opgetel wat so iets moontlik maak? Watter vriende het hy gehad, watter boeke het hy gelees en watter gewelddadige videospeletjies het hy gespeel? Watter geweldstaal hoor en sien hy op die media. Die leser verwys na headbang konserte waar die dood verheerlik word en harde dwelms gepropageer word en sluit af : “Nederland needs a rivival!”

Maar dit is die kommentaar van die ander leser wat my aangryp: Daar is iets drastief fout met die mens. Ons los dit nie op met reëls en wette nie, maar alleen maar deur ‘n drastiese verandering aan die binneste van die mens.

Ons weet almal wette en reëls is nie net bloot maar ‘n uiterlike mag wat mense onder dwang plaas nie. Dit is iets wat ‘n gemeenskap se siel behoort te weerspieël. Só wil ons lewe en só wil ons ons gedrag inrig. Die fout is nie die wette en reëls nie, maar die feit dat ons so selektief daarmee omgaan. Christus het vertel hoe ons die muggies suf en die olifante val deur. En toe het Hy vertel dat daardie moorddadige kyk van ons net so ‘n olifant is soos die geweerskote wat agt kosbare lewens afmaai. Waar kom die herlewing vandaan? Hoe verander ‘n mens drasties van binne? Dit is die vraag. En een antwoord is dat ons ‘n omvattende kultuur van menslikheid moet bevorder. Dit begin by die heel kleinste dinge – hoe ons oor mekaar praat, wat ons vir mekaar in die kombuis doen, hoe ons mekaar in die slaapkamer behandel, hoe ons ons kinders lief het. Dit hoef nie soetsappig te wees nie. Dit hoef ook nie slap te wees nie. Tawwe liefde is ook nodig en eerlike kommunikasie belangrik. Die ondertoon van al hierdie dinge is om menslik te wees in alles wat ons doen. Doen aan ander.... was die ander goue woord van die Een wat verstaan het hoe om tot die dood toe menslik te bly.

Spiritualiteit gaan om ‘n hele proses waarin verhoudinge tussen mense geradikaliseer word sodat dit in lyn is met wie God is en wat God van ons vra. Die mens is alleen maar egte mens wanneer hy of sy na die beeld van God lyk. Egte menslikheid beteken dat ons – soos Jesus – verby alle geweld heen lewe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive