Thursday, November 01, 2007

Wat is mistiek? 1

Die mistieke Franse skrywer, Blaise Pascal beskryf ‘n mistieke ervaring wat hy beleef het.

Hy skryf:

Die genadejaar 1654, Maandag 23 November... vanaf ongeveer half elf saans tot ongeveer half een in die nag, vuur, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob (Ex.3:6 vv; Mt 22:32 vv.). Nie die God van filosowe en geleerdes. Sekerheid, sekerheid. Vreugde. Vrede. God van Jesus Christus. Deum meum et Deum vestrum (Joh.20:17). “Jou God sal my God wees” (Rut 1:16).

Hierdie ervaring het sy lewe radikaal omgeswaai en tot sy beroemde klassieke Pensées gelei. `n Twee uur-lange ontmoeting met God. ‘n God wat nie “intellektueel” begryp word nie. `n God van die bekende, die vertroude, van Abraham, Isak en Jakob. Dit is ook `n God wat deel word van hom – dit word “my” God. In hierdie ervaring spreek die Bybel mee. Vier bybelverse, twee uit elk van die Ou en die Nuwe Testament, word gebruik om sy ervaring te beskryf.


Dit is `n spesifieke ervaring wat op `n spesifieke tyd en oor twee uur heen gebeur. Geen vlietende oomblik nie. Dit is intens, ‘n vuur-ervaring, wat hom oorrompel – soveel so dat taal byna te kort skiet.
Die ervaring bewerk nie net sekerheid nie, maar sekerheid-sekerheid.

Dit is `n ontmoeting wat in hom sekere emosies wakker maak, maar wat terselfdertyd sy lewe op sy kop keer. Dit is ‘n buitengewone belewenis, wat hy probeer raakvat met die woordjie “vuur.” Maar die emosies wat hom bybly met hierdie mistieke ervaring, is nie buitengewoon of sensasioneel nie. Hy praat van “sekerheid,” “vreugde,” en “vrede.”


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive