Sunday, September 08, 2013

Discombobulated deur die snobby sosiale klieks.



Ek onthou hoedat ek op ‘n keer in ‘n hotel in Boston in die V.S. waar ons op ‘n koue wintersaand gaan eet het, ‘n funksie raakgeloop het van een van die bekendste sakeskole in die wêreld: die Harvard Business School.

Dit was almal jong outjies wat ons in die gang en hyser omring het. Hulle was duidelik ‘n klomp baie selfversekerde mense, vol bravado en gedrewe energie.

Maar wat my soos ‘n vuishou in die maag getref het, was die naakte materialisme wat uit hul opmerkings, houdings, kleredrag en optrede getref het. Vroegaand was hierdie welaf, uitgedoste en luidrugtige jongmense duidelik al aangeklam en vulgêr.

Dit was nou seker al ‘n twintig jaar terug. In die tussentyd het ons een van die wêreld se grootste ekonomiese krisisse beleef. Die totale korrupsie in die besigheidwêreld het nie deur die mafia of die dwelmsmokkelaars ontstaan nie. Die wêreld se ekonomiese en finansiële sisteem het dramaties tot ‘n val gekom deur hoogs gesofistikeerde eerste-wêreld maatskappye en invloedryke individue wat miljarde dollars van hulle beleggers skaamteloos gesteel het en hulself ten koste van ander verryk het.

En die naakte, skaamtelose dryfveer agter hierdie witboordjie kriminaliteit was gierigheid en, nog dieper, materialisme.

Dit was ‘n ramp wat gedryf is deur die wêreld se hoogs opgeleide sakeleiers – vele van hulle seker produkte van ‘n sakeskool soos die HBS.

Daar is ‘n gees los in die sake-omgewing wat my herinner aan Openbring 18 as een van die beroemdste hoofstukke in wêreldliteratuur oor die promiskue en afstootlike materialisme van geïnstitusionaliseerde magsinstellings. ‘n Mens moet ver gaan om ‘n teks te vind wat met soveel afsku praat van die onderliggende materialisme wat skepsels van God van hul menslikheid ontneem en dit in ‘n demoniese magwellus omkeer.  

Die sake-omgewing kan ‘n plek wees waar mense groot opheffingswerk kan doen. Maar dit is ook ‘n ruimte waar onreg hoogty kan vier. En wat ‘n mens ‘n Openbaring 18 gevoel gee.

Dit alles kom by my op toe ek vandag hierdie artikel in die NYT lees. Dit gaan oor die assertiewe manier waarop die nuwe dekaan van die HBS begin het om die minderwaardige posisie van vroue in die skool en in die besigheidswêreld om te keer. Dit vertel hoedat vroue deur dosente in punte-toekenning benadeel is, hoe jong vroulike dosente deur manlike klaslede geïntimideer is, hoe vroulike studente deur hul manlike klasmaats benadeel is, maar dit vertel ook hoe in hierdie uiters mededingende omgewing die ultra-ryk studente ‘n geheime vereniging het waartoe net hulle behoort en hulle bevoorregte posisie op die manier verder versterk. Maar dit vertel ook van die weersin van die manlike studente in pogings om sake reg te stel. Maak nie saak hoe hulle oortuig is van die nodigheid van aanpassings nie, of moes hoor van die verhale van die uitgebuite groep in hulle midde nie. Die antenna om ongeregtigheid te herken, is nie daar nie.

Dit is ‘n artikel wat myns insiens in elke etiek-klas aan universiteite verpligtende leesstof moet wees. Dit is die moeite werd om dit versigtig deur te lees. Hier is die skakel daarna en dan ‘n enkele uittreksel.


Hier is enkele aanhalings:

BOSTON — When the members of the Harvard Business School class of 2013 gathered in May to celebrate the end of their studies, there was little visible evidence of the experiment they had undergone for the last two years. As they stood amid the brick buildings named after businessmen from Morgan to Bloomberg, black-and-crimson caps and gowns united the 905 graduates into one genderless mass.

But during that week’s festivities, the Class Day speaker, a standout female student, alluded to “the frustrations of a group of people who feel ignored.” Others grumbled that another speechmaker, a former chief executive of a company in steep decline, was invited only because she was a woman. At a reception, a male student in tennis whites blurted out, as his friends laughed, that much of what had occurred at the school had “been a painful experience.”

He and his classmates had been unwitting guinea pigs in what would have once sounded like a far-fetched feminist fantasy: What if Harvard Business School gave itself a gender makeover, changing its curriculum, rules and social rituals to foster female success?

The country’s premier business training ground was trying to solve a seemingly intractable problem. Year after year, women who had arrived with the same test scores and grades as men fell behind. Attracting and retaining female professors was a losing battle; from 2006 to 2007, a third of the female junior faculty left.

Some students, like Sheryl Sandberg, class of ’95, the Facebook executive and author of “Lean In,” sailed through. Yet many Wall Street-hardened women confided that Harvard was worse than any trading floor, with first-year students divided into sections that took all their classes together and often developed the overheated dynamics of reality shows. Some male students, many with finance backgrounds, commandeered classroom discussions and hazed female students and younger faculty members, and openly ruminated on whom they would “kill, sleep with or marry” (in cruder terms). Alcohol-soaked social events could be worse.
“You weren’t supposed to talk about it in open company,” said Kathleen L. McGinn, a professor who supervised a student study that revealed the grade gap. “It was a dirty secret that wasn’t discussed.”

But in 2010, Drew Gilpin Faust, Harvard’s first female president, appointed a new dean who pledged to do far more than his predecessors to remake gender relations at the business school. He and his team tried to change how students spoke, studied and socialized. The administrators installed stenographers in the classroom to guard against biased grading, provided private coaching — for some, after every class — for untenured female professors, and even departed from the hallowed case-study method.

The dean’s ambitions extended far beyond campus, to what Dr. Faust called in an interview an “obligation to articulate values.” The school saw itself as the standard-bearer for American business. Turning around its record on women, the new administrators assured themselves, could have an untold impact at other business schools, at companies populated by Harvard alumni and in the Fortune 500, where only 21 chief executives are women. The institution would become a laboratory for studying how women speak in group settings, the links between romantic relationships and professional status, and the use of everyday measurement tools to reduce bias.

The men at the top of the heap worked in finance, drove luxury cars and advertised lavish weekend getaways on Instagram, many students observed in interviews. Some belonged to the so-called Section X, an on-again-off-again secret society of ultrawealthy, mostly male, mostly international students known for decadent parties and travel.

Volg die skakel vir die res van die artikel:

Hier is een van die kommentare van ‘n leser op die artikel, wat, geresigneerd, wonder of die inherente vooroordele ooit uit die weg geruim sal kan word.

My girlfriend and I saw vastly different cultures at Harvard’s different schools. We took classes at the Law School and at HBS, as guest students from Harvard’s Kennedy School of Government (where the mission is to try to help make the world a better place; shucks). We were revolted by the materialistic, macho atmosphere at HBS. Neither of us hates business, or business schools, but HBS is without peer when it comes to elistist, starry-eyed kids lusting after titan-of-the-world status. Gosh, you get discombobulated in the presence of snobby social cliques, but you thought going to HBS would be a good move? Who are these shy HBS women who, on a quest for immense wealth, are shocked that aggressive class participation is required? We should worry for them?! Cure that place of gender bias? Please. Better to try curing cancer with a Band-Aid.

Ek is veral getref deur die een vraag: wie is dan in hierdie artikel van die NYT oor die HBS die skaam vroulike studente wat daar gaan aanmeld het?  Waarom is hulle per slot van sake daar?  En dan die kernopmerking: hulle is almal sekerlik “on a quest for immense wealth.”  Dit is nogal ‘n opmerking wat in alle geskryf regtig vassteek. Onthou van die wortel van alle kwaad?

Saturday, September 07, 2013

Hoe mense se gedagtes hul lewe kan verander


Daar is ‘n advertensie van mans wat gehipnotiseer word en dan vertel word dat hulle ‘n baba verwag.

Hulle begin dan onmiddellik loop soos ‘n vrou wat verwag. Hulle loop agteroor asof hulle gewig dra. Party kla van rugpyn. Ander is versigtig met wat hulle eet.

Ewe skielik is hulle versigtig hoe hulle loop en oor wat om hulle aangaan.

Dit is ‘n baie interessante voorbeeld van hoe ‘n mens se gedagtes jou gedrag bepaal.  As ‘n mens net anders kan dink, gaan jy ook anders optree.

Wanneer ‘n mens ingestel is op gevare, gaan jy oplet dat jy veilig leef. Wanneer ‘n mens uitgaan om te ontspan, is jy ingestel op die goeie en die mooie.

As jy op die geestelike dinge ingestel is, gaan ‘n mens op ‘n geestelike manier optree.

Daarom is geestelike oefeninge so belangrik: as ‘n mens jou innerlike inoefen om sterker te word in geestelike volwassenheid, gaan ‘n mens ook begin leef soos ‘n sterker mens.

Spiritualiteit het direk hiermee te doen:  wie eenmaal God se aanraking ervaar het, sal bly verlang na die vervulling wat dit bring. 

Wanneer die saad van God se liefde eers in ‘n mens ingeplant is, kom daar ‘n innerlike proses aan die gang wat ‘n mens se lewe in vele opsigte instel op die oes wat uit die saad moet groei. Versigtig, in allerlei oefeninge en deur vele dade word ‘n mens opgeneem in ‘n soektog om meer, en meer te vind van dit wat werklik saak maak. Gedagtes kweek dade. 

  

Friday, September 06, 2013

Die liefde wat geen vreugde bring nie



Ek hoor soms  musiek wat 'n mens kan blootstel aan intense geestelike lyding. Dit is nou al daardie swymelende, self-treiterende liefdesliedere waarvolgens een of ander siel vir sy meisie sing hoe sy "syne" is, hoe hy haar "myne" gaan maak en haar sal "beskerm," hoe hy onmiddellik gaan sterf as hy maar een sekonde sonder haar moet leef, hoe sy liefde die grootste van alle liefdes ooit is. 

Dit is ironies, dink ek dikwels, in 'n tyd waar ons egskeidingsyfer hoër as ooit tevore is. 

Daardie gedrewe, besitlike en opgetofte liedere laat my altyd wonder of die probleem met die liefde nie is dat ons dit met romanse en met rose verbind - terwyl die liefde juis deur die slegte, twyfelende, treurende, sukkelende tye sterk gemaak en veredel word.

Dus: die opvallende is steeds dat mense wat so hartstogtelik oor liefde sing skynbaar nie altyd regtig so gelukkig is nie....

(Met dank aan Pinterest)

Thursday, September 05, 2013

Hy stel nie in 16 000 miljoen rand belang nie, net in sokker.



Die familie van die vinnige sokkerspeler toe hy sy nuwe werk begin waarvoor hy R16 000 miljoen rand betaal is.


In Spanje het Real Madrid die Britse sokkerspeler, Gareth Bale, oorgekoop teen die bedrag van 16 000 miljoen rand (sestienduisend miljoen rand).

Reeds op skool het hy, behalwe vir rugby, ook sokker gespeel. Hy was so goed dat die afrigter spesiale reëls moes skryf dat hy nie ‘n wedstryd totaal domineer nie. Daarom is hy nie toegelaat om met sy linkervoet te skop nie. Toe hy nog eintlik onder sestien was het hy sy onder agtien skoolspan gehelp om kampioenspan te word. Daarna was dit net roem wat op hom gewag het. Jaar na jaar is hy as een of ander speler van die jaar aangewys. Die bekende Spaanse koerant, El Mundo (die Wêreld) beskryf hom as iemand wat die hoogte en bou van ‘n 800 meter atleet soos Steve Ovett het, die versnelling en direktheid van ‘n rugbyvleuel soos Brian Habana en iemand wat draaiballe skop soos ‘n Brasiliaan. Ander vertel hoe asemrowend sy talent is, hoe daar nie ‘n swak plek in sy mondering is nie, dat hy absolute balbeheer het, dat hy so sterk soos ‘n os is en kan hardloop, dribbel en skiet. Maar word dan bygesê: “hy is ‘n fantastiese mens.” 

Dit is maar net die bedrag wat hulle betaal om hom te laat oorkom uit sy ou klub.

Dan betaal hulle vir Bale verder ‘n jaarlikse salaris van 90 miljoen rand.

Hy verdien dus elke maand byna 7.5 miljoen rand. Dit is nou afgesien van borgskappe…

7.5 miljoen rand per maand.

Dit is nou in Spanje wat in ‘n diep put van ekonomiese ellende is en waar een uit elke vier mense sonder werk sit.

In vandag se Trouw word verwys na die webwerf “What Bale Earns,” waar elke paar minute uitgewerk word wat Bale kan koop sedert hy by Real Madrid aangestel is.

Elke vier uur verdien hy wat ‘n werker teen die minimum-loon in ‘n jaar se tyd betaal word.  Met daardie geld kan 3 700 Spanjaarde ‘n werk teen die minimum-loon kry.

Hy is vier-en-twintig jaar oud.

Maar, ontdek ek vanaand: sy onderwyser het van hom geskryf toe hy in matriek was dat hy altyd sy mede-spelers ondersteun en aangemoedig het.

“Hy is die onselfsugtigste persoon wat ek ken.” Sy familie sê hy stel nie in geld belang nie. Hy wou altyd graag vir Real Madrid gespeel het. Alles draai vir hom om sokker. Hy hou om by sy familie in Wallis te wees en is met sy meisie van skooldae getroud. Op ‘n keer het sy afrigter hom ‘n paar dae afgegee en gesê hy moet gaan vakansie hou in die buiteland. Toe sit hy af Wallis toe om by sy familie te wees.

Dit is vir haar dat hy sy hande in ‘n hart-teken maak elke keer as hy ‘n doel geskop het.

En hy hou van Nando’s….

Mooi woorde vir ‘n merkwaardige sokkerspeler.

Maar 16 000 miljoen rand?






Wednesday, September 04, 2013

Sorg dat jy mense net hierdie een ding skuld.


Vanaand is die onderhoud op Kyknet met Jaco Strydom by wie ver gevorderde kanker gediagnoseer is en wat nou behandel word as iemand wat in die laaste fase van die siekte is.

Die program fokus op sy ongekende energie. Hy is selfs as 'n baie siek man ‘n avonturier met ‘n lewensdrif wat menige een moeg sal maak net deur daarna kyk.

Vier jaar gelede het hy vir homself ‘n lysie gemaak van wat hy nog vir oulaas wil doen. Hy het byvoorbeeld met sy fiets al om Lesotho gereis en toe, onlangs, sy finale wens vervul om met ‘n fiets reg om Suid-Afrika te ry.

Die journalis vra hom uit oor sy emosies en reaksies op sy siekte. Nee, sê hy dadelik, hy is nie jammer vir homself nie. Hy kla nie eintlik nie. Hy is nie kwaad vir die Here nie en hy wil ook nie te filosofies oor sake praat nie.

Almal om hom en op die program is geroer deur sy inspirerende hantering van sy terminale siekte. Selfs die onderhoud-voerder sit met ‘n vol gemoed.

Dan vertel hy hoedat hy vrede gemaak het met die feit dat hy gaan sterf.  Hy het ook vir homself die bybelvers eie gemaak: wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê (Rom. 13:8).

Maar, en sy stem breek, die afgelope tyd het hy self afskeid van vele mense geneem wat voor hom gesterf het. En hy weet hoe voel dit om te moet leef sonder die nabyheid van mense vir wie jy lief is.

En dit is miskien al wat hom vir hom pynlik is: die feit dat sy geliefdes om hom sal ervaar wat hy ondervind wanneer hy sy dierbares mis. Dit is al wat hom pla: dat hulle hom gaan mis. 

'n Mens lees Romeine 13:8 nooit weer dieselfde nie.   



Tuesday, September 03, 2013

Oral in die alledaagse lewe vind 'n mens vreugde.

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees."  

Hierdie vers in Johannes 15:11 volg op Jesus se woorde oor die liefde wat hy met die dissipels deel.

Volkome blydskap - dit is waarna mense op soek is. 

Soms dink mense dat jy iewers blydskap moet gaan soek en dan sal die lewe gevul wees met vreugde.

Maar blydskap kom na mens dikwels op 'n heel ander en eenvoudige manier. Blydskap is, vanuit 'n spiritualiteitshoek gesien, juis nie iewers weggesteek nie, maar is deel van 'n mens se alledaagse, bestaande lewenservaring. Dit is reeds teenwoordig in 'n mens se gewone lewe en in die ervaring om te kan bestaan. Om te leef, eenvoudig net te wees, is reeds 'n bron van blydskap. Dit moet alleen maar ontdek en raakgesien word.

Vreugde kom veral na 'n mens deur die vreugde wat 'n mens het in die blydskap van ander mense oor wat hulle aan voorspoed en seëninge ervaar.  Vreugde kom wanneer mense  hulself op 'n onselfsugtige manier kan verloor in die spesiale oomblikke wat ander mense ervaar.

Wanneer 'n mens dit ontdek, ontsnap jy aan die greep van afguns. Dit neem 'n las weg, en laat 'n mens vry om die oomblikke saam met ander te waardeer. Die ander mens is nie meer iemand wie se lewe beny word nie of iemand wat beter af is nie. Hulle goeie tye is, onderstreep geestelike denkers, 'n simbool van die goedheid van die menslike lewe en bestaan.

Egte vreugde in ander se voorspoed bring juis meer as net vriendelike meelewing wat 'n mens met 'n verborge knorrigheid en teensinnig kwytraak.  Dit bring 'n stuk bevryding om net eenvoudig spontaan vir hulle ontwil bly te wees.

Maar om saam met ander bly te wees, bring meer as net bevryding. Dit bring ook geestelike groei tot meer volwassenheid en tot 'n lewe wat minder self-gerig is. 'n Mens ontdek hoe jou eie hart spontaan en sonder inspanning blydskap kan deel. Net omdat dit in ander mense se lewens voorkom, raak dit ook 'n mens se eie lewe aan. Die skepping, ontdek 'n mens, is gevul met goedheid wat ryklik oor almal uitgestort word.

Miskien word dit een van die belangrikste geestelike oefeninge wat 'n mens kan doen: om op te let hoe geseënd ander mense is, om vir hulle daarin te wys hoe bly 'n mens self daaroor is en om dan daardeur te ontdek hoe geseënd 'n mens se eie lewe word. Spiritualiteit gaan immers om gedeelde menslikheid: wat ander ervaar, spoel oor in 'n mens se eie bestaan en word 'n simbool van die volheid en goedheid van die lewe. 'n Mens se lewensreis word avontuurliker: vreugde is lank nie meer die gevolg van 'n rondgekrappery na die goeie dinge wat 'n mens net vir jouself ervaar en moet soek nie. Dit word gevind oral waar 'n mens kom en gaan, waar mense bly ontdek hoe goed dit is om te kan leef.

Blydskap is te vinde in die alledaagse - veel meer as wat 'n mens ooit verwag. En dit alles word gedryf deur die liefde: die verbintenis wat mense met mekaar het en wat gebou is op die goddelike liefde van omgee en diens.


Monday, September 02, 2013

Wanneer inspirasie mense en hul omgewing vanuit die stilte transformeer.


In Rapport is daar ‘n boeiende berig oor ‘n lelike muur in voorstedelike Johannesburg waar ‘n jong man wat sy doktorsgraad in argeologie aan die skryf is, saam met twee mede-kunstenaars ‘n kunswerk geskilder het.

Hier is die berig wat vertel hoe hulle hulself in die skilderwerk verloor en hoe hulle daardeur die vaal en verdrietige omgewing wil transformeer: 



In een dag het hulle die reuse skildery in al sy detail en veelkleurigheid klaar geskilder, vertel Linette Retief, die joernalis, met alles van die dikste buitelyn tot die fynste nuanse wat spreek van talent, absolute toewyding en aweregse humor. Voorbeelde van laasgenoemde is ’n haai wat grinnikend deur ’n golf bars en ’n seedrakie wat al jodelende uit die voorkop van ’n blasende, blou wind duik.  

Die volgende paragraaf vang my oog:

Gegewe die spoed en vernuf waarmee die muurmusketiers werk, is hulle merkwaardig rustig. Dié kalmte, verduidelik hulle, spruit uit wedersydse sinergie en vertroue. “As ons ’n opdrag kry,” vertel Jared, “besluit ons saam min of meer op ’n tema.” En wanneer hulle by die perseel opdaag, neem suiwer inspirasie oor. Raymond noem dit kollektiewe intuïsie; Jared beskryf dit as visuele probleemoplossing; Byron sien dit as aktiewe meditasie wat jou verstand tot stilstand bring. 

En dan veral die sin: "Al drie stem saam dit leer ’n mens van jouself en help jou groei."

"En hulle is dit roerend eens dit maak van die dikwels eensame, angstige stedelike omgewing ’n ietwat mooier plek."
 

Dit is 'n boeiende verhaal:  kalmte, inspirasie, ekstase, om jouself te verloor in skeppende werk, om te groei, om te transformeer. 

Klink baie bekend.


Sunday, September 01, 2013

Selfs 'n vertaling van die Bybel kan 'n onreg pleeg...


Ons wêreld is nie minder oppervlakkig en vulgêr as in die tye van ons voorgeslagte nie. Elke oomblik weer, dwarsdeur alle tye, is daar 'n intense stryd teen vlakheid aan die gang.

Deur die eeue heen het denkende mense gesoek om van maklike kits-denke bevry te word en om deur te dring na die dieper dinge. 

Kyk maar na die boek Spreuke. Op elke bladsy loop 'n mens daar dik stukke lewenswysheid raak. Uit ervaring van vele word aan die leser vertel wat regtig saak maak en wat nie. En die onderliggende teks is die intense soeke na wat 'n lewe vervullend maak. En in dieselfde boek lees 'n mens gedurigdeur van die "ander", van mense wat argeloos leef, rigtingloos en sonder belangstelling vir grense en vir 'n etiese lewe.

Dit is egter nie so maklik om te onderskei tussen wat vlak is en die dieper dinge nie. 'n Mens kan Shakespeare op 'n vulgêre manier bespreek. Net so ook die Bybel. Die massa-mark vir godsdienstige boeke is die duidelikste bewys van hoe die Bybel in die hande van sommiges vermink en gedregadeer word.

Maar, vervlakking kan soms subtieler wees:  in die vertalingswetenskap was daar vir 'n lang tyd 'n wetenskaplike benadering wat daarop gefokus het om die Bybel in verstaanbare formaat te vertaal. Die riglyn was: 'n skoolkind, hier om en by graad 10, moet die teks kan verstaan. Die betekenis moet dus duidelik gemaak word. En toe kry ons die 1983 vertaling.

Dit is sekerlik waar: skoolkinders moet ook die Bybel kan verstaan.

Tog is daar ook vrae wat 'n mens moet stel: die Bybel is in vele opsigte 'n teks met uiters subtiele nuanses, gevorm deur geslagte en dekades van gebruik in godsdienstige gemeenskappe waarin lewenswysheid in sy mees deurdringende sin van die woord die raamwerk was waarin hierdie tekse gekonsipeer is. Die Bybel is 'n klassieke teks wat bestaan uit boeke wat vele kerke die wêreld oor leer ken het as spesiaal, met 'n unieke karakter en met 'n tydlose formaat. Vir hulle was, weet ons te goed, elke woord gelaai met betekenis - direk, maar ook verborge en mistiek.

Dit het onder ander meegebring dat die Bybel vir mense 'n estetiese kwaliteit het wat dit nie sonder rede een van die mees invloedryke tekste gemaak het nie. Dink maar as een van vele voorbeelde aan die gelykenis van die verlore seun, wat in sy tydloosheid, dieptestrukture van die menslike denke onthul waarvan die impak nooit uitgeput raak nie.

Dit is 'n besondere kuns om die estetiese waarde van die Bybel te behou: daarvoor moet sy vorm en oppervlakte-struktuur steeds weer met sensitiwiteit benader word.

Dit is nie verniet dat Totius, die digter, die woord-kunstenaar aan die kerk en die gemeenskap onvoorstelbaar mooi vertalings van die Bybelse teks nagelaat het nie.

Hy, die digter, het die estetiese kwaliteit van die Bybel tot sy reg laat kom.

Ek lees dus in vandag se Rapport 'n essay van Leon Rousseau wat hieroor skryf en vertel van die impak wat die 1933 vertaling van die Bybel in Afrikaans op hom gehad het.  Hy vertel hoedat gedeeltes 'n mens soos 'n vuishou slaan wanneer jy dit lees of jou roer in die eenvoud en digterlikheid daarvan.

Bloot die taal wat 'n mens praat, gee jou al weg. Maar lees liewers die volgende artikel versigtig: daar sit 'n verskriklike aanklag verskuild in die terughoudende opmerkings.




Drie digters, twee skrywers en ’n teoloog...
Leon Rousseau.


Waar anders kry jy één boek met soveel goeie ­Afrikaanse letterkunde as in die 1933-Bybelvertaling, wonder Leon Rousseau.


Nie heeltemal heiden, Moor of Mohammedaan nie, maar dan ten minste almal vir wie die Afrikaanse taal en kultuur kosbaar is, kan vandag saam dankie sê vir een van die heel belangrikste dinge wat in die afgelope 350 jaar in verband daarmee gebeur het.

Ek bedoel die plegtige ontvangs van die eerste volwaardige Bybelvertaling op 27 Augustus 1933, net mooi 80 jaar gelede.

Ek was op daardie dag 30 maande oud, en ek raai ek het toe al frases uit die Nederlandse Statenbijbel van 1637 by my ouers gehoor. Die Statenbijbel was die vertaling wat Van Riebeeck saam met hom gebring het en die een waarmee my ouers en hul voorouers grootgeword het, in 1933 al byna 300 jaar.

Die 1933-vertaling het ’n ou tradisie gevolg. Soos die King James- vertaling van 1611, die Statenbijbel van 1637 (net 15 jaar voor die volkstigting) en soos Martin Luther se Duitse vertaling van die Nuwe Testament in 1521 is dit gegrond op die Textus Receptus, wat eeue lank as die standaard-teks beskou is.

Dertig jaar voor 1933 was daar nog groot verset teen die vertaling van Gods woord in ’n plat kombuistaal soos Afrikaans. Dié verset is tot groot hoogte afgebreek deur Afrikaanse digters en skrywers soos Eugène Marais, Leipoldt, Totius, Jan Celliers en ander wat bewys het Afrikaans is tot fyn segging in staat.

Tog was daar by baie mense steeds ’n sterk gevoel dat niks die Statenbijbel kon – en moes – vervang nie. Om dié rede is baie van die bekendste frases uit die Statenbijbel in die 1933-vertaling behou, ’n besluit wat ongetwyfeld bydra tot die poëtiese indruk wat groot gedeeltes van die vertaling wek.

Selfs toe ’n ligte hersiening van die 1933-teks 20 jaar later verskyn het, is ou vorme soos “maagd” en “herder”, wat in die 1933-vertaling “jongmeisie” en “skaapwagter” geword het, teruggesit – myns insiens ’n stap in die regte rigting.

Ek noem dit ’n stap in die regte rigting omdat ’n volwaardige taal plek behoort te hê vir sowel die omgangsafrikaans van die daaglikse lewe as vir ’n Bybelse Afrikaans. Dit is bekend dat groot kunswerke wat in diens van die geloof geskep is – kunswerke soos die Sixtynse kapel, die katedraal van Rouen, die King James-vertaling en die kantates van Bach – statuur en majesteit aan die geloof verleen en dit só versterk.

’n Wonderlike voorbeeld hiervan is die passasie uit Lukas, ’n teks uit die 1953-vertaling wat ek jare lank elke Oukersaand vir my gesin voorgelees het. Tot vandag kan ek dit nie sonder ontroering lees nie: “En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.”

Afrikaans is egter nie net deur die 1933-vertaling en sy voorganger, die Statenbijbel, beïnvloed nie, maar ook deur die Luther­bibel van 1534 en die King James van 1611. In die 17de eeu en later was daar aan die Kaap ewe of byna ewe veel Duitssprekende as Nederlandssprekende amptenare.

Die Duitsers was toe al meer as ’n eeu onder die invloed van Luther se vertaling.

Vir die meeste was dit die enigste boek wat hulle geken het en dus ook hul enigste riglyn vir korrekte taalgebruik.

Tog sou mens nie sommer dink die naam van ons plant die kruidjie-roer-my nie(t) kom uit die Lutherbibel nie. Dit lyk nietemin so. Volgens die groot Duitse Bybelkenner Heinz Schäfer was die herrese Christus se woorde aan sy moeder in Joh. 20:17 “Rühre mich nicht an” (moenie aan my raak nie), die oorsprong van die Duitse uitdrukking “Rühr-mich-nicht-an” vir ’n liggeraakte mens. Dat dit aan die Kaap op ’n plant toegepas is en die naam van die plant toe weer op mense, lyk nie na ’n groot sprong nie.

Soos Shakespeare die geesteslewe van Afrikaners beïnvloed het, is dit ook deur die King James beïnvloed, maar op ’n ander manier. My hipotese is dat ons klinkende frases uit die King James bewus of onbewus in Afrikaans oorgesit het. So het ek grootgeword met die frase “deur ’n ­spieël duister” (“through a glass darkly” in die King James).

Die 1933-vertaling sê in 1 Kor. 13:12 egter niks van duister nie, maar “deur ’n spieël in ’n raaisel”, wat eintlik mooier is.

Op dieselfde wyse het die ­Statenbijbel saam met die King James moontlik ook gehelp om die uitdrukking “keer die ander wang” in Afrikaans te help bewaar.

Verreweg die grootste invloed op Afrikaans was egter die Statenbijbel en een van die deugde van die ’33-vertaling was dat dit talle, moontlik honderde eeue oue frases uit die Statenbijbel bevestig en bewaar het.

Toe ek gevra is om hierdie artikel te skryf, het ek notas wat ek vroeër gemaak het, geraadpleeg en in ongeveer 16 bladsye van Matteus in die 1933-vertaling ­lukraak afgekom op meer as 30 Bybelse idiome en/of segswyses wat algemeen in Afrikaans bekend is (16 bladsye, wat maar ongeveer 1,3% van die Bybel se stuk of 1 250 bladsye verteenwoordig!).

Om enkeles te noem:

Addergeslag (Matt. 3:7), Om die kaf van die koring te skei (Matt. 3:12);

Die mens kan van brood alleen nie lewe nie (4:4);

’n Lig het vir iemand opgegaan (4:16);

Die sout van die aarde (5:13);

Om jou lig onder ’n maatemmer te verberg (5:15);

Om hoog en laag te sweer (5:34);

Uit die bose (5:37);

Waar jou skat is, is jou hart (6:21);

Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad (6:34);

Met die maat waarmee jy meet, sal jy gemeet word (7:2);

Die balk in eie oog (7:3-5);

Om pêrels voor die swyne te werp (Matt 7:6; hoewel die woorde nie presies só in die 1933-weergawe voorkom nie);

Soek en jy sal vind (7:7);

Om jou huis op sand te bou (7:24-27);

’n Geween en ’n gekners van tande (8:12);

Om [’n plek se] stof van jou voete te skud (10:14); en

Om iets van die dakke af te verkondig (10:27).

Terwyl ek met Matteus besig was (al die voorbeelde hierbo kom daaruit), blaai ek toevallig na die Bybelboek wat dit voorafgaan, die weinig bekende profeet Maleagi, waarmee die Ou Testament afgesluit word. En op die laaste bladsy van Maleagi sien ek die eerste sin van sy kort slothoofstuk: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond.”

Slaan daardie reël uit millennia gelede jou nie soos ’n vuishou nie?

Die teks vervolg:

“Dan sal al die vermeteles en almal wat goddelooshede doen, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek... Maar vir hulle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”

Op sulke prosa, op sulke poësie, kom jy dikwels af as jy deur die 1933-vertaling blaai.

Die Afrikaanse poësie word tereg hoog geskat, maar kry jy êrens in Afrikaans tussen die omslae van een boek literatuur van sowel die kwaliteit as die kwantiteit van die 1933-vertaling? Die hoogtepunte is te veel om aan te haal of selfs op te noem.

Ek wil niks teen latere Bybelvertalings sê nie; daarmee sou ek ewe veel bereik as wyle koning Knoet, wat die gety verbied het om in te kom.

Wat ek wel wonder, is of daar dalk plek is vir ’n hersiening van die 1933 deur ’n span bedrewe redigeerders wat die lomphede en die ergste vertaalfoute verwyder (want dié is daar ook), maar sorg dat die verhewe trant van die werk behou en selfs versterk word.

Blog Archive